GKSA SINODE 2026: Sinodekrasie of Christokrasie?

Ek plaas my artikel in antwoord op prof. Amie van Wyk se artikel, oor Sinode 2026 se vida besluit ook hier, soos dit op Netwerk24 hier aanlyn verskyn het:
Vroue in amp: ‘Sinode was lank geduldig, maar ons móés na Christus luister’ Netwerk24
Sondag, 5 April 2026
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het eers ná vier dekades se geduld en grasie hul besluit oor vroue in die amp geneem, skryf Slabbert le Cornu.
Prof. Amie van Wyk (https://www.netwerk24.com/stemme/menings/besluit-oor-vroue-n-growwe-vorm-van-sinodekrasie-20260330-0439) is in sy gewete “geskok” dat diegene wat ten gunste is van vroue in die amp “ongehoorsaam is aan Christus” en op ’n “dwaalweg” is. Hy vra verder of die GKSA-sinode se besluit (https://www.netwerk24.com/stemme/menings/dopper-dominee-gemeentes-het-n-jaar-om-vroue-losmaking-te-gee-20260116-1134) oor vroue in die amp neerkom op “growwe sinodekrasie”.
Is dit waar? Kom ek gee ’n ander perspektief daarop, as iemand wat ook deel was van hierdie saak die afgelope twee en ’n half dekades. Ek wil daardeur aantoon dat die besluite van die GKSA, wat geneem is oor ’n baie lang tydperk, nie geneem is op grond van sinodekrasie (sinode regeer) nie, maar op grond van Christokrasie (Christus regeer), deur sy Gees én Woord.
Eerstens, ná vier dekades se geduldige luister na mekaar, baie studies (reeds sedert die 1980’s), gebede, lankmoedigheid en geduld word kerke met vroue in die besondere amp van predikant en ouderling nou opgeroep tot bekering en gehoorsaamheid aan die Skrif. Dus, wat Christus as die Koning van die Kerk, deur sy Gees en Woord bepaal vir sy kerke (Christokrasie).
Dit word saamgevat in die Nederlandse geloofsbelydenis, art. 30, waaraan al ons kerke gebonde is op grond van die Skrif:
“Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word (Christokrasie). Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee.”
In die brief aan Timoteus leer ons dan dat Paulus, as geroepe apostel van die Here (”volgens die bevel van God”, 1 Tim. 1:1,2) duidelik beveel (Christokrasie) wie moet amptelik leer, regeer en preek in die gemeentes, naamlik geroepe, gelowige, bekwame manne, nie godsvrugtige, bekwame vroue nie, en hy begrond dit in God se skeppingsorde en bevel (1 Tim. 2:11-3:2), nié in sy tydsgees of omstandighede nie.
Op grond hiervan en ander Skrifgedeeltes (Christokrasie) het die GKSA-sinode reeds in 2009 besluit om te bly by wat ons Here ons in sy Woord leer oor die kerkregering. In verdraagsaamheid, vredeliewendheid, welwillendheid en Christelike liefde is toe verskeie beswaarskrifte en beskrywingspunte wat teen 2009 se besluit ingebring is, deeglik behandel en afgewys deur baie sinodes. Dit het alles op grond van Skrif, belydenis en kerkorde plaasgevind (sien die Handelinge van 2015, 2016, 2018, 2023 hier (https://gksa.org.za/#), met die laaste liefdevolle oproepende besluit in 2026: “Kerke word opgeroep om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus (Christokrasie) sinodebesluite te handhaaf.”
Tweedens, prof. Van Wyk beroep hom op Jesus se woorde in Joh. 17:21 om die belangrikheid van kerkeenheid te beklemtoon. Daarmee stem ek volmondig saam, en, só glo ek, ook sinode 2026. Maar ons moet na ál Jesus se woorde luister, want in Joh. 17:17 sê Jesus die eenheid moet in waarheid wees, “heilig hulle in u waarheid, u Woord is die waarheid”, wat vanselfsprekend ook Jesus se bevele deur Paulus vir die kerkregering insluit (onder meer 1 Tim. 2 en 3). Alle kerke in een kerkverband is saam gebonde aan Christokrasie; elke gemeente kan nie in leer en kerkregering besluit om te doen net wat hulle wil nie (1 Kor. 14:33,36).
Derdens, daar beroep prof. Van Wyk hom op wêreldbekende teoloë deur die eeue, Augustinus, Calvyn en Bavinck, om tereg die belangrikheid van eenheid van die kerk van Christus te beklemtoon. Tog moet vermeld word dat, op grond van Christokrasie (Christus wat regeer deur sy Gees én Woord), hulle al drie sterk gekant was téén vrouepredikante en -ouderlinge.
Calvyn skryf in sy Institusie IV, xv, 20 :
“En Christus het die opdrag om te doop trouens nóg aan vroue nóg aan mense na willekeur gegee … Tertullianus sê dat vroue nie toegelaat word om in die kerk te praat nie; ook nie om te onderrig of te doop of te offer nie om te voorkom dat hulle hulle enige deel van die manlike amp, om nie eens te praat van die priesterlike amp nie, sou toe-eien …. (dat) in die geval van doopbediening deur ’n vrou baie swaarder gesondig word terwyl die reël wat deur Christus gegee is (Christokrasie), openlik daardeur geskend word. Ons weet immers dat dit sonde is om dit wat God saamgevoeg het, uitmekaar te skeur.”
Bavinck op sy beurt skryf:
“Die sonde waaraan die mens, kort ná sy skepping, homself skuldig gemaak het, het die gesin in geen geringe mate geraak nie. Die derde hoofstuk van Genesis vertel ons dat die vrou eerste verlei is. Paulus lei vanuit hierdie feit, en dat Eva ná Adam geskape is, die gevolgtrekking af dat die vrou nie as leraar binne die gemeente mag optree nie en oor die man moet regeer nie (1 Tim. 2:12 tot 14; vgl. 1 Kor. 14:34).” (Het Christelijke Huisgezin)
Vierdens, een van die GKSA se gerespekteerde kerkregtelikes, dr. Jan Visser, het reeds lank voor sinode 2026 geskryf oor kerke wat hulself buite kerkverband plaas:
“Om eensydig en eiewillig sulke besluite te ignoreer en te maak asof dit geen regskrag het nie, is onordelik en onaanvaarbaar. In wese is dit nie gereformeerd nie, maar independentisties. Dit kom prakties neer op verbreking van kerkverband.” (Kerkorde in Praktyk , 2006, bl. 131)
Vyfdens, die Gereformeerde Teologiese Vereniging se boek Manlik en vroulik in die Kerk (2008), waarna prof. Van Wyk verwys om ’n pleidooi te doen om vroue in die amp te akkommodeer, is ongelukkig misbruik in sy bedoeling. Een van die redakteurs, prof. Gert C. Jordaan, het oor daardie misbruik gesê:
“Die boek Manlik en vroulik sê nie dat al die verstaansmoontlikhede wat voorgestel word, waar of ewe waar is nie. Die boek sê ook nie dat kerke nou maar vanweë verskillende verstaansmoontlikhede in hierdie verband kan doen wat hulle wil nie. As kerke nogtans hierdie reaksie op die boek sou hê, sou die water inderdaad dieper wees as wat ons vermoed. Daarom moet onderstreep word wat in 17.3.1 (p. 202) van Manlik en vroulik geskryf is: ‘In hierdie studie word aanvaar dat God se Woord sy openbaring van die vasstaande, onveranderlike waarheid oor Homself, sy wil en ons verlossingsweg bevat. God weerspreek Homself nie in sy Woord nie, en gee daarom ook nie twee teenoorstaande ‘waarhede’ oor ’n saak nie.’ Dit geld ook die waarheid wat God in sy Woord bekend maak oor sy wil oor die rol van manlike en vroulike lidmate van sy kerk. As hierdie aanvaarde standpunt in Manlik en vroulik nie duidelik genoeg na die lesers oorkom nie, roep ook hierdie saak om hersiening.”
Die GKSA-sinode 2026 se besluit oor kerke wat susters as ouderlinge het, is dus nie geneem op grond van sinodekrasie of enigsins oorhaastig afgedwing nie, maar dit is alles gedoen op grond van Christus se gesag deur sy Gees en Woord (Christokrasie), ná baie dekades se verdraagsaamheid, vredeliewendheid en Christelike liefde teenoor ons broers en susters wat ten gunste van vroue in die amp is.
Ons hoop en bede is dat hulle, en prof. Van Wyk, by wie ek klas gekry het en by wie ek baie geleer het, deur ’n terugkeer na Christokrasie hulle oor hierdie saak sal bekeer en weer gehoorsaam sal wees aan Christus, soos die sinode ook in liefde en waarheid oproep in sy amptelike besluit: ”Die Sinode roep kerke wat hulle nie aan die Sinodebesluite insake vroue in die amp hou nie op om die eenheid in die kerkverband te soek en te beleef.”
Ja, om ware eenheid in waarheid te soek en beleef saam in ons kerkverband, soos Jesus ons en al sy kerke leer, met die belofte van ons kerkverband se Bybelse logo:
“… en op hierdie rots (Christokrasie) sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18)
– Ds. Le Cornu is ’n emeritus predikant van die GKSA.
_____________________________________
Verdere artikels oor die onderwerp: VIDA
BOEKE BESKIKBAAR BY:
https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Leave a comment