UIT EEN BLOED: STUDIE VAN RASSEVERHOUDINGE IN DIE LIG VAN DIE HEILIGE SKRIF

Inhoud:
- Die Skrifgegewens ten opsigte van rasseverhoudinge: Ou Testament, prof. S. (Fanus) Du Toit), bl. 1
- Die Skrifgegewens ten opsigte van rasseverhoudinge: Nuwe Testament, prof. W.J. (Willie) Snyman, bl. 15
Met erkenning, word hierdie twee afdelings geneem uit die GKSA se Handelinge van Sinode 1961, bl. 51-85.
Die hele studie, is ook in boekformaat uitgee, onder die titel: Uit een Bloed – ‘n Rapport aan en ‘n Besluit van die Algemene Sinode van die GKSA oor Rasseverhoudinge (Potchefstroom: Pro Rege-Pers Beperk, 1961). Beklemtonings is ingevoeg in die teks wat ek verwerk het.
Hierdie twee artikels, is ‘n Openbaringshistoriese Studie van die onderwerp van ras, volk, nasie en ook hoe dit verband staan met die kerk, waarin van Genesis tot Openbaring relevante Skrifgedeeltes verklaar word en toegepas word op ‘rasse vraagstukke’, wat vandag nog wêreldwyd aktueel is, en dalk nog meer, met al die ekstreme sienings van ‘links tot regs’, en partymaal alles tussen-in, ook in kerke en gelowiges wat daarmee worstel.
In die woorde van prof. S. (Fanus) Du Toit (gereformeerde Ou Testamentikus),
“Die Ou Testament verwerp sowel rasse-chauvinisme, en, “Herrenvolkisme” as ʼn dweepsieke kosmopolitisme op die basis van ʼn wêreldburgerskap. Die een beteken ʼn hartstogtelike op-die-spits-drywing van eie ras of volk, met minagting van almal wat nie daartoe behoort nie, en die ander uitwissing van die grense tussen rasse en volke. Rasse-chauvinisme word o.m. aangetref by Israel self (die ander volke is gojim, met ʼn veragtelike bysmaak!) asook by Nimrod, Sanherib, Nebukadnesar ens., en die profete spreek hulle baie sterk hierteen uit.
Die kosmopolitisme wil met menslike middele ʼn bo-volkse wêreldryk stig met nivellering van die differensiasie. Dit is in stryd met die skeppingsplan van God, soos by die toringbou van Babel geblyk het. God alleen kan ʼn ryk tot stand bring wat oor die hele wêreld strek, maar dit is nie uit die aarde aards nie en beskou die volkse differensiasie nie as iets wat uit die bose is nie. Tot aan die einde sal daar volke en nasies en tale wees.”
En in die woorde van prof. WJ (Willie) Snyman (gereformeerde Nuwe Testamentikus):
“Liefde tot God sluit liefde in die verskillende menslike samehange nie uit nie, maar in, en bewaar dit vir verafgoding; so ook sluit die liefde tot die eie (familie, volk, ras) liefde tot die naaste (andere en andersoortige) nie uit nie en omgekeerd, as mede van Goddelike oorsprong en voorwerpe van sy liefde in Christus. Terwyl dit kenmerkend is van die werke van God in die skepping en die herskepping volgens die Nuwe Testament, dat die eenheid en verskeidenheid steeds bewaar bly, is die kenmerkende van Babel die verabsolutering van die besondere (volk of ras) en die vernietigende oplossing van die verskeidenheid in ʼn gedwonge wêreldomvattende eenheid en enersheid.”
Alhoewel hierdie studies al gedoen is in 1961, is die verklaring van bepaalde tekste nog net so aktueel, omdat vandag nog deur baie, gelowig of ongelowige, kerke of kultusse (bv. Brits-Israelvisie dwalinge), of aan die eenkant alleen die ‘verskeidenheid’ van die mensdom erken word, en ander weer aan die anderkant net die eenheid ‘eenheid’ van die mensdom erken word. En alle dwalinge, kundig of onkundig wil a) of die eenheid ten koste van die verskeidenheid handhaaf, of die verskeidenheid ten koste van die eenheid handhaaf, of in vyandskap met mekaar stel, ens.
Sommige in die kerke, wil net die geloof erken en meen dit vernietig taal, volk en kultuur, hul verabsoluteer kerk teenoor volk (ander verabsoluteer weer volk teenoor kerk), en meen ‘taal en kultuur’ is nikseggend (‘baiemaal gesien in goedbedoelde maar valse sentimente soos: kom ons praat nou maar almal net engels terwille van die geloof… solank ons net glo, is al wat belangrik is’), en ander weer verabsoluteer die volk of die ras, wat weer eindig in volksverheerliking, in sentimente soos: “ja, swart, bruin, geel volke kan ook gered word, maar ek wil niks met hul as mede-gelowiges van ons Here Jesus Christus te doen hê nie, hulle moet my uitlos en ek sal hul uitlos” , ens.
Hierdie OT en NT studies deur twee kundige gereformeerde verklaarders help werklik baie om beide volksverafgoding en/of volksveragting te vermy:
– soos dit ook baiemaal in ons tye na vore kom in die (dispensasionalistiese) Zionisme, Judaisme wat een volk verheerlik bo ander in die NT tye;
– die moderne marxistiese-wokisme agendas aan te spreek wat verskeidenheid verag en as verwerplik beskou,
– maar ook die rassistiese, anti-semitiese nazi-agtige gedagtes te verwerp wat weer in rasseverheerling eindig.
Gelowiges en kerke moet bybels-gereformeerd en verbondsmatig glo en dink oor die ganse lewe, nie net individueel, gesin en gemeente nie, maar ook oor volke, wat almal opgeroep word om Christus te dien in die ganse lewe:
“1LOOF die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke! 2Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die Here is tot in ewigheid. Halleluja” (Psalm 117)
“27En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, 28het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: 29Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, 30omdat my oë u heil gesien het, 31wat U berei het voor die oë van al die volke — 32’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Lukas 2:27–32)
Die twee studies kan hier afgelaai word as ‘n PDF dokument:
Uit een Bloed: Studie van Rasseverhoudinge in die lig van die Heilige Skrif
Hier volg ‘n paar aanhalings uit die dokument, maar gaan lees en bestudeer dit in die volle konteks van die hele teks, dit is nie al wat daar staan nie, daar is soveel meer wat baie behulpsaam is vir besinning oor die verhouding kerk/geloof en volk, ook vir ons tye:
Uit die OT studie:
1) Nie ‘ras’ nie, maar ‘geloof’ was allespbepalend in die verhouding tussen Israel en die ander heidense volke:
“Dit alles klink nie in stryd met Lev. 19:19 en Deut. 22:9-11 nie as in gedagte gehou word dat die beding is “dat hulle by die HERE aansluit” (Jes. 56:3, 6), d.w.s. hulle moet religieus een met Israel word, geestelike kinders van Abraham word.
As daar in die Pentateug streng teen vreemde volke opgetree word, dan is dit nie omdat hulle van ʼn ander ras is nie, maar omdat die maat van hul ongeregtigheid vol geword het en/ omdat hulle vyande van die saak van die HERE is, (Vgl. bv. die uitroeiing van die Kanaäniete). Dat rasseoorweginge nie ʼn rol speel nie, blyk bv. uit Deut. 23:3, 8. Van die Ammoniet of Moabiet (wat uit rasseoog-punt baie naby aan Israel gestaan het) mag selfs die tiende geslag nooit in die vergadering van die HERE kom nie, maar van die Egiptenaar wat ver weg staan, sal wel die derde geslag hierdie voorreg smaak.”
2) ‘Rasse suiwerheid’ het nog nooit bestaan nie:
“Ter afsluiting van hierdie gedeelte kan daarop gewys word dat reeds blykens die verhale van die Pentateug die volk Israel uit ʼn rasseoogpunt nie heeltemal “suiwer” was nie:
Moses tree byvoorbeeld in die huwelik met ʼn Midianitiese vrou, (Ex. 2:16 v.) en selfs met ʼn Kusitiese (Num. 12:1). Daar bestaan verskil of onder “Kusities” hier verstaan moet word “Ethiopies” dan wel of met die woord ʼn lid van ʼn sekere Arabiese stam bedoel word. Meestal sien die woord in die Ou Testament egter op die gedeelte van Afrika wat tans “Soedan” genoem word. As die vrou van Moses uit hierdie streke afkomstig was, het sy ongetwyfeld ʼn swart gelaatskleur gehad.
Sy kon dan een gewees het van die “menigte mense van gemengde bloed” wat volgens Ex. 12:28 v., Num. 11:4 v. saam met Israel uit Egipte opgetrek het. Josef trou met ʼn Egiptiese vrou,uit wie die twee stamme Efraim en Manasse gespruit het (Gen. 41:45,50v.). Dit spreek vanself dat die vermelding van hierdie gemengde huwelike nie bedoel is om vir ons ʼn norm aan te gee nie. Dit gaan vir ons hier slegs om die feit dat Israel self ʼn volk met gemengde bloed was — ʼn feit waarmee rekening gehou moet word in verband met ons onderwerp.”
3) Huwelike met die heidene is verbied op grond van hul valse geloof, nie hul ‘ras’ nie:
“Huwelike met die Kanaäniete word deur die Here verbied, maar dit geskied uit religieuse oorweginge. Dit gaan om die gevaar van verbastering van die ware godsdiens. Dat rasseoorweginge hier nie ʼn rol speel nie, blyk bv. uit. Deut. 21:10v. Die Israeliet mag wel trou met ʼn vrou uit die heidense volke teen wie Israel oorlog gevoer het.”
“Met die oog op die heel besondere posisie van Israel kan egter ook hierdie feite nie gebruik word as argumente vir skeiding van die rasse nie. Dit blyk dat vermenging van Israel met die volke van sy omgewing maar gedurig voortgegaan het. Volgens Rigters 3:5,6 het die Israeliete ondertrou met Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Simson trou met ʼn Filistynse vrou. Dawid tree in die huwelik met Maaga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur, Of Batseba, die vrou van Uria, die Hetiet, ook ʼn Hetiet was, word nie uitdruklik gesê nie, maar dit is hoogs waarskynlik. Uit haar is Salomo gebore, wat baie vreemde vroue gehad het. Deur Isébel het selfs die koninklike geslag van Juda vreemde bloed in hul are gehad.”
“Nou is dit ʼn bekende feit dat die HERE nie altyd die oordeel uitgespreek het oor wat in stryd met sy ordinansies gedoen is nie. Uit die ellende wat dikwels op hierdie gemengde huwelike gevolg het, kon duidelik genoeg gesien word dat dit die HERE mishaag het. Die saak waarom dit hier gaan, is egter dit: Israel self was alles behalwe ʼn “suiwer” ras of volk, sodat dit ook om hierdie rede nie as voorbeeld van rasseskeiding gebruik kan word nie. ʼn Onbevooroordeelde leser moet opmerk dat waar daar werklik goddelike afkeuring oor gemengde huwelike uitgespreek word, dit daarom gaan dat Israel sal verheidens en nie omdat die huweliksgesel(-in) van ʼn ander ras of volk is nie.”
4) Esra-Nehemia kan nie gebruik word as begronding vir ‘rasse-skeiding’ nie:
“In die boeke Esra en Nehemia word deur sommige – net soos by Ester — oordrewe partikularisme en rasse-chauvinisme gevind, en die bevel om die heidense vroue weg te stuur word selfs as ʼn argument vir rasseskeiding aangevoer. Dit gaan egter by Esra en Nehemia nie om rasseoorweginge nie, maar om die behoud van die ware Godsdiens (vgl. Esra 9:1, 2, 11, 12; Ex. 34:15 v.). Dit was abnormale omstandighede waaronder Esra en Nehemia as reformatore optree. Daar moet op gelet word dat onder die vreemde vroue ook Ammonitiese en Moabitiese voorgekom het, vroue uit, volkere wat aan Israel na verwant is.”
5) Die OT verwerp beide ‘rasse-chauvinisme’ en ‘kosmopolitisme’ wat weer volke verag:
“Die Ou Testament verwerp sowel rasse-chauvinisme en “Herrenvolkisme” as ʼn dweepsieke kosmopolitisme op die basis van ʼn wêreldburgerskap. Die een beteken ʼn hartstogtelike op-die-spits-drywing van eie ras of volk, met minagting van almal wat nie daartoe behoort nie, en die ander uitwissing van die grense tussen rasse en volke. Rasse-chauvinisme word o.m. aangetref by Israel self (die ander volke is gojim, met ʼn veragtelike bysmaak!) asook by Nimrod, Sanherib, Nebukadnesar ens., en die profete spreek hulle baie sterk hierteen uit.”
Uit die NT studie:
1) Jesus is die Beloofde Messias vir beide Israel en al die volke:
“Hoewel die nadruk by Lukas, geheel in ooreenstemming met die universele strekking van sy evangelie, op die betrekking van Christus tot die mensheid val, word sy besondere betrekking tot Israel tog nie uit die oog verloor nie. Hy is die Beloofde Verlosser van sy volk Israel uit die geslag van Dawid (vgl. 1 ; 32, 1:68).
Maar Hy is ook die beloofde Saad van Abraham. in wie die belofte toekom nie alleen aan Israel nie maar aan alle geslagte (Gen. 12:3) en nasies (Gen. 22:18. Vgl. Hand. 2:39; 3:25, 26; 10:35). Die in Christus verloste “mensheid” kan dus nader omskryf word: die mensheid in al sy vertakkinge (geslagte, volke, rasse). As die geslagsregister dan teruggaan van Abraham tot by Adam, dan laat dit sien dat die verbond met Abraham ʼn reële grondslag het in afstamming en dat dit ʼn nadere uitwerking is van die verbond met die hele menslike geslag. in Adam (Gen. 3:15), wat deur die verdeling van nasies heen van krag gebly het.”
2) Christus se koms herstel volke, dit vernietig nie natuurlike verwantskap van o.a. volkskap, taal en kultuur nie:
“Die stamboom by Lukas, wat teruggaan tot by Adam (oor Dawid en Abraham) teken Christus dan as Behouer van die hele menslike geslag, ook in dié sin, dat die verskeidenhede daarin behoue bly, die boom met sy vertakkinge.”
“Die betekenis van die – gebroke geslagsregister van Matthêüs met die feit dat Christus nie van ongemengde afkoms is nie moet in die volgende gesien word:
Ten eerste: Jesus behoort nie net tot die Jode nie maar ook tot die volke. Inderdaad word hiermee ʼn middelmuur van afskeiding afgebreek: die begrensing van die genade tot die Jodendom en diegene wat hulle by die Jodendom voeg met uitsluiting van die nasies. Lukas toon dit aan deur te herinner aan die bloedverwantskap van alle mense, ook van Christus met alle mense na sy menslike natuur. Matthêüs doen dit deur sy herinnering aan die feit, dat Christus nie van ongemengde afkoms is nie. Dit het met uitwissing van grense as sulks niks te doen nie.
Ten tweede: Vir die Jode bevat dit die herinnering dat hulle self as nasie nie vry is van vreemde bloed nie, selfs nie in hulle koningshuis nie, en in die algemeen en vir alle tye, dat rassesuiwerheid in absolute sin iets is wat nie bestaan nie en ook nie gestel kon word as absolute eis nie. By Lukas is dit uitgedruk in die boom en sy takke — die mensheid uit een bloed, (vgl. Hand. 17 ..:. 26). By Matthêüs in sy gebroke. stamboom. Jesus nie van ongemengde Dat Jesus nie van ongemengde afkoms is nie, staan hier as betekenisvolle feit teenoor alle oordrewe nasietrots en rasseverheerliking.
Ten derde: Dit bevestig die feit dat dit in die Ou-Testamentiese verbod op vermenging nie gegaan het om suiwerheid van bloed nie, maar om die suiwerheid van die Openbaring. Die verbod op vermenging was suiwer godsdienstig gefundeer. Nie-Israeliete is opgeneem in die volksgemeenskap van Israel, soos ook blyk uit die geslagsregister. Hierdie godsdienstige apartheid van die Ou Testament vind sy toepassing in die Nuwe Testament in geestelike apartheid tussen kerk en wêreld, gelowiges en ongelowiges, al is dit van dieselfde ras of volk (2 Kor. 6:11 vv.).
Dit beteken egter nie dat natuurlike verwantskappe (familie, ras, volk) hulle betekenis vir die Nuwe Testament verloor het nie. Al het die volksgedagte van Israel oorgegaan op die Kerk as die volk van God, die betekenis daarvan, dat God ʼn volk uitgekies het onder volkere om draer van die besondere Openbaring te wees moet nie onderskat word, soos meestal geskied, nié. Daar sit ʼn gedagte in wat deurloop: In die doopbevel bv. Matt. 28:19, gaan dit nie om geïsoleerde indiwidue nie, maar om nasies. Dit sluit direk aan by die belofte aan Abraham, Gen. 12:3; 22:18.”
3) Daar moet duidelik onderskei word tussen ‘uitwissing van grense’ en ‘vermenging wat nuwe verskeidenheid’ kan bring onder volke:
“In verband met voorgaande moet nog daarop gewys word, dat die begrippe “eiesoortigheid” en “andersoortigheid” nie statiese begrippe is nie. Deur wedersydse bevrugting ondergaan kulture verandering, en deur vermenging kan nuwe vorme ontstaan. Daar moet onderskei word tussen uitwissing van grense as beginsel, en vermenging waardeur nuwe verskeidenhede ontstaan. Die eerste lei op die weg van Babel. Die laaste word deur die Skrif nie verbied nie.”
“Dit bestaan nie in ʼn uitwissing van grense tussen Israel en die volke en tussen volke en volke (sodat alle grense in die kerk uitgewis is nie), of in ʼn “Begründung eines Gottesvolkes ohne Blutmassige Bindung” nie (vgl. E. Stauffer: Die Theologie des Neuen Testament, p. 289), maar in ʼn kring-vorming binne Israel deur die doop, nl. die gelowiges as die ware Israel. Dit is die heilshistoriese betekenis van Johannes die Doper.”
4) Die grootste nood en gevaar vir alle volke, is nie die bestaan van hul volkslap nie, maar is die ‘dood en sonde’:
“Die universele lyn lê hier duidelik. Reeds in sy aanvangsprediking hou Hy dit aan Israel voor dat dit nie gaan om nasionale nood en politieke verlossing nie, maar om die nood van die mensheid, om siekte, dood en sonde (Luk. 4:16 vv.).
5) Jesus roep alle volke en nasies op tot nie net nasiediens, maar ‘ook’ naastediens van alle ander volke:
In die Bergpredikasie gaan dit teen legalisering en teen nasionalisering van godsdiens: naastediens wat nie beperk mag word tot nasiediens nie maar ook vyande insluit (Matt. 5:44), hoeveel te meer nog mense van ʼn ander ras of volk, soos Jesus ook leer in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en self ook toon deur die grense tussen Jode en Samaritane nie te reken nie en teen alle Joodse volkstradisie in met ʼn vrou, en boonop ʼn Samaritaanse, te spreek. Hy gaan ook buite die grense van die Joodse land na Tirus en Sidon. In die Koninkryk van die hemele val die grense ook weg tussen Ooste en Weste (Matt. 8:11). Dit kom slegs aan op geloof (Joh. 3:16); ʼn heidense hoofman is hierin ʼn voorbeeld (Matt. 8 ; 10). Jesus is Wêreldheiland (Joh. 4:42). Alles loop uit op die universele bevel van Matt. 28:19. Ons gaan nie te ver as ons oordrewe nasionale trots sien as ʼn sonde wat Jesus eindelik aan die kruis gebring het nie. Die “woede” van Lukas 4:29 is gekrenkte nasietrots waar nasionale vooroordele deurbreek word. Diegene wat hieruit egter ʼn opsy setting van alle nasionale grense aflei, moet daaraan herinner word dat hierdie lyn deurgetrek kan word tot alle natuurlike verhoudinge, ook die mees fundamentele; die huislike (Matt. 10:37; 12:50; Luk. 11:27, 28).
Hier sou dan geleer word dat sulke betrekkinge nie alleen van “minder belang” is nie maar geheel en al onverenigbaar en strydig met die liefde tot God. Liefde tot God sou dan ook nie familieliefde gedoog nie, so min as volksliefde, ens. In die bogenoemde tekste gaan dit egter daarom as daar ʼn keuse gedoen moet word. Dan geld selfs die innigste familiebande nie. Die verdeeldheid wat Jesus bring, gaan ook deur die familielewe heen (Matt. 10:34). Dit is egter geheel iets anders as dat dit daardeur opgehef word. Dat hiervan geen sprake kan wees nie, vgl. Matt. 15:4. Die eer aan vader en moeder wat hier gevorder word, sluit eerbetuiging in van alle natuurlike bande, ook hoogskatting van vaderland en moedertaal.”
6) Die Evangelie veroordeel nie die ‘nasionale’ nie, maar ‘n ‘genasionaliseerde verafgoding van die nasie’:
“Wat in die evangelies veroordeeld staan, is ʼn genasionaliseerde godsdiens en verafgoding van die nasie en alle natuurlike bande, nie hierdie verbande self nie, ook nie die nasionale nie. Dit is terreine waarin God werk, en waarin God gedien moet word, net soos in die persoonlike lewe.” … “Deur die Goddelike verbod word die mensheid nêrens in die Skrif in twee (of meer) soorte verdeel op grond van natuurlike verskille nie; maar wel op grond van godsdienstige verskille (2 Kor. 6:14-18, vgl. Gen. 6:4) ook in soverre dit op nasies (Christelike en onchristelike; betrekking kan hê.”
7) Die Evangelie bevestig ‘elkeen in sy eie taal’ tot heerlikheid van Sy Naam:
” (i) Sprekend is die feit dat elkeen oor die groot dade van God in sy eie taal hoor spreek. Dit beteken: die eenheid van die Gees sluit die verskeidenheid van volkere nie uit nie en staan uitdruklik teenoor die eenheid van Babel. … Die verskeidenhede word in die Kerk van Christus nie opgehef nie (1 Kor. 7:17 w.; 11:2; 14:34 v.; Kol. 3:18 vv.). So bly die volkere-verskeidenheid in die mensewêreld ook in die Kerk bestaan …
(ii) Dit gaan nie alleen om die “oorblyfsel” nie maar om die “volheid” van Israel (11 ; 12, 26), d.i. die volle getal uitverkorenes. Dit is die groot verborgenheid (11:25). Die ander verborgenheid is die toetrede van die heidene (Ef. 3:3 v.). Hulle gaan eers in nadat die “volheid van die heidene”, nie as massa nie maar as “volkere”, ingegaan het (11:25), So is Israel eerste en ook laaste (vgl. Jes. 19:23 v.). Hier is dus geen sprake van uitwissing van grense tussen Israel en die nasies onderling in ʼn “geestelike Israel” nie, ook nie van ʼn aparte toekoms vir Israel naas die kerk nie (so word die probleem Israel hier dikwels verkeerdelik gestel) maar van Israel naas en onder die “nasies” as die volk van God. “Israel van God” word onderskei van die gelowiges uit alle nasies (Gal, 6:16). Die volk van God (die kerk) is die gelowiges uit alle nasies, sonder onderskeid, Israel ingeslote, sonder dat die onderskeidinge wegval. So staan Rom. 9-11 in ʼn lyn met die belofte aan Abraham (Gen. 12:3; 22:18), Johannes die Doper (Matt. 3:9 w.), die doopbevel (Matt. 28:19).
8) Gal. 3:28 hef nie natuurlike onderskeide op nie, maar leer dat in die weg tot saligheid daar geen onderskeid is nie, die Here red wie Hy wil onder alle geslagte, tale en volke:
“Galasiërs 3:28, ens. In hier die lig moet die universele tekste besien word. In Galasiërs 3:28 en Kol. 3:11 is nie sprake van opheffing van verskille nie maar van opneming sonder onderskeid. Om in die volk van God opgeneem te word maak dit nie verskil of iemand Jood of Griek is nie. Hier is dan ook sprake van man en vrou. Die onderskeid tussen man en vrou bly in die gemeente (1 Kor. 11:3 vv., 1 Tim. 2:9vv.). “Geen onderskeid” (Rom. 2:22 en 10:12) beteken nie dat almal eenders is nie maar ewe skuldig en verdorwe en dat almal deur die geloof salig word, om die ewe wie hy is. Daar is fyn beskaafde (ook nie-Christelike) en ook laagstaande volke en rasse, maar almal is wesenlik ewe verdorwe, die een meer die ander minder fyn miskien, maar daar is geen onderskeid nie en vir almal maar een weg tot saligheid, nl. deur die geloof in Jesus Christus.
Dat die onderskeidinge tussen volk en volk nie wegval in die kerk nie, word uitdruklik uitgespreek in 1 Kor. 7:17-24.”
9) Teen Zionisme van ons dae:
“Galasiërs 2:11-14. Die stryd in Gal. 2 gaan teen die Joods-Christendom. Die teëstelling is nie ʼn Christendom waarin verskille wegval nie, maar ʼn Christelike Jodedom en Christennasies. Hy veroordeel hier die “loudaizein”. d.w.s. die verjoodsing van die heidene (vgl. Hand. 15:25), en tree daarvoor in dat hulle “ethnikos” sal lewe, wat nie beteken “heidens” nie maar ooreenkomstig hulle eie aard. Wat wel hieruit afgelei moet word, is dat die Christendom en die kerk, hoewel dit die nasionale nie vernietig nie, nie nasionaal- of rasbepaald is nie.
Die gevaar waarteen Paulus in Gal. 2 optree, is nog aktueel. ʼn Voorbeeld. daarvan kan gesien word in die “Etiopianisme”, soos “Sionisme” afkomstig uit Amerika, wat beskryf kan word as ʼn Bantoe-sinchretisme, ʼn vermenging van Bantoe-animisme met die Christendom, “a blend of old magic and new Christian ideas” (B. G. M. Sundkler, “Black man Church” in Libertas, Sept, 1945, aangehaal deur Rev. A. Hewson in The Christian citizen in a multiracial society, Rapport van die Rosettenville-Konferensie, 1949).
Hier is ʼn verheidensing van die Christendom soos die judaïsme ʼn verjoodsing daarvan is. Daar moet duidelik onderskei word tussen die inpas-sing van die Christendom en die kerk by die eie aard van nasies en rasse enersyds (in die sin het Paulus vir die Jode ʼn Jood geword en vir die heidene ʼn heiden, (1 Kor. 9:20-23) en andersyds ʼn aanpassing van die Christendom wat uitloop op versmelting. Hierteen staan Paulus onverbiddelik. Terwyl op rasse- en kultuurgebied nie van. eiesoortigheid en andersoortigheid in absolute sin gespreek kan word nie, moet dit gehandhaaf word ten opsigte van die Christendom. Dit is absoluut eiesoortig en andersoortig. Teenoor nasionalisering van die Christendom moet gestel word Christianisering van die nasie, juis met behoud van die nasionale soos van alle natuurlike verban-de. Die natuurlike verbande word dan die terreine waarop die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak word tot sy verheerliking (Ef. 3:8 vv.). In plaas daarvan dat die godsdiens en kerk in diens staan van die nasie en sy verheerliking, moet die nasie staan in diens van God om Hom te verheerlik.”
10) Teen Anti-Semitisme en ‘anti-volk’ gesindhede van ons dae:
“Hier teenoor moet veral gewys word op Rom. 9-11, ʼn gedeelte waarin Paulus uitdrukking gee aan sy innigste verbondenheid aan sy volk (9:1), soos Moses (Ex. 32:32, Jer. 9:1) en soos Christus self (Luk, 19:41, 42), en van hulle spreek as sy “stamgenote na die vlees” sy “broers” ook in hulle ongeloof, “uit wie Christus is na die vlees”. Hy bly aan hulle verbonde in verlange en gebed. Hulle nood is sy nood. Selfs in die heidensending gaan dit vir hom om die redding van sy volk (11:4). Die teëstelling is so skerp dat inderdaad gevra kan word, soos ook gevra is: Is dit dieselfde Paulus? Of het ons hier met ʼn innerlike teenstrydigheid in Paulus te doen wat dan (dialekties) gesien moet word as ʼn noodwendige teëstelling in hierdie tydelike bestaanswyse, of waaruit daar eers hiernamaals verlossing sal wees, die volksverbondenheid wat moet wees en tog ook nie moet wees nie. Paulus toon ʼn ander weg in Rom. 9-11.
“Dit is die beklemtoning van die universele ten koste van die partikuliere. Die partikuliere gaan in die universele op, die indiwidu en die indiwiduele in die gemeenskap (vgl. 9:1 w.). Die alternatief moet nie gesoek word in die omkering hiervan, nl. in die benadrukking van die partikuliere ten koste van die universele of van die indiwiduele ten koste van die gemeenskap nie.
Die uitroep is gerig tot die gelowiges maar in die gelowiges tot nasies, omdat die gelowiges nie losstaan van verwantskappe nie. Die verwoesting van die laaste Babel beteken dan net soos die eerste om die mensheid weer in sy verskeidenheid tot openbaring te bring. Die wederkoms van Christus beteken nie alleen verlossing van indiwidue nie maar ook van nasies uit die greep van Babel (vgl. hier veral 11:15)”
10) Die triomferende kerk getuig van beide die partikulere en verskeidenheid van hulle wat gered word onder alle volke, stamme, tale en nasies:
“Saamgevat leer Johannes dat ook in die triomferende kerk die verskeidenheid nie wegval nie — in beginsel sien ons dit in die kerk op aarde, volkome hierna. Die leidende beginsel in die Nuwe Testament is dat by die universele die partikuliere nooit uit die oog verloor word nie en omgekeerd. As hieraan gehoorsaam word, sal dit ʼn getroue wegwyser wees aan die probleem van die rasseverhouding.”
_________________________________________
Sien ook die volgende bronne: Gereformeerde Volkekunde