Gereformeerde Skrifverklaring: Openbaringshistories of Sosio-histories ?

Gereformeerde Skrifverklaring: Openbaringshistories of Sosio-histories ?

deur prof. GJC Jordaan

(Lesing gehou op 11 September 2003, gelewer by die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Suid.  Prof. Jorrie Jordaan is professor in Nuwe Testament by die Teologiese Skool, Potchefstroom. Hierdie lesing het verskyn in die Esra Verslag, Jg.11 nr.54, 2003)

1. Inleiding

Die wonder en die problematiek van die Bybel word m.i. pragtig saamgevat in Jesaja 55:8-11:

                “My gedagtes is nie julle gedagtes nie  en julle weë is nie my weë nie, sê die HERE.  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër   as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes … Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie … so sal die woord wees wat uit my mond uitgaan.”

  • Wat sê dit oor die problematiek van die Bybel?  Dit sê dat die dinge van God vir ons sondaarmense onbereikbaar en onbegryplik is (“soos die hemel hoër is as die aarde”).
  • Wat sê dit oor die wonder van die Bybel? Dit sê dat God sy onbegryplike weë en gedagtes tog in sy Woord verstaanbaar aan ons bekendmaak.

Die wonder en problematiek van die Bybel gaan dus oor die twee eienskappe wat dit besit: enersyds dat dit helder en duidelik is (die sg. Perspicuitas van die Skrif), andersyds dat dit die onpeilbare dieptes van God bevat.

Die groot wonder hiervan is dat dié twee  –  die helderheid en die onbegryplikheid van die Bybel   –  nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar aanvul. Die Bybel is so duidelik dat selfs klein kindertjies dit kan verstaan (Matt.11:25), maar dit bly steeds soos ’n onuitputlike goudmyn waarin elke gelowige moet bly delf om die rykdom van God se weë en gedagtes al beter te begryp.   Hierdie wonder van die Bybel bring ons te staan voor die noodsaak van Skrifverklaring.

2. Grammaties-historiese grondslag

Die vraag deur die eeue is dus nie óf Skrifverklaring vir die gelowige nodig is nie, maar hóé dit gedoen moet word.  Oor die hóé van Skrifverklaring is daar deur die eeue tot vandag toe debat gevoer  –  bekend as die hermeneutiese debat.  Om u nie met al die besonderhede te vermoei nie, vat ek die debat deur die eeue in twee hooflyne saam, nl. die grammaties-historiese lyn en die allegoriese lyn.  Van die begin van die Christelike kerk se geskiedenis, kom ons sê van die 3e en die 4e eeu af, het Bybelverklaarders een van hierdie twee gedagtelyne gevolg.

Die grammaties-historiese lyn:  Die grammaties-historiese benadering soek die boodskap van die Bybel in die teks self.  Dit wil sê: dit wat daar geskryf staan ( die “grammatiese“) is die verklaarder se uitgangspunt.  Hy moet die “grammatiese” egter lees binne die historiese verband waarin dit gegee is (dus: “grammaties-histories”).  En só, deur die teks binne sy verband te lees, word die on verstaanbare verstaanbaar en die onbegryplike begryplik.

Die allegoriese lyn:  Die allegoriese benadering soek die boodskap van die Bybel nie in die teks nie maar agter die teks.  Dit wil dat die verklaarder ’n ander (dieper, verborge) betekenis aan die teks moet heg as dit wat daar geskryf staan (die woord “allegories” beteken juis “om anders te sê”).

Hierdie twee lyne het deur die eeue die kern van die hermeneutiese debate gebly.  Onnodig om te sê, die Gereformeerde teologie se Skrifverklaring het die grammaties-historiese rigting nagevolg.  By die hervorming het Calvyn die allegoriese benadering verwerp omdat dit ’n spanning plaas tussen die duidelikheid (dit wat daar geskrywe staan) en die diepe betekenis van die teks.  Die diepe betekenis van die teks is nêrens elders te vinde nie as in die teks self.  Juis deur dit wat daar geskrywe staan as uitgangspunt te neem en dit noukeurig te lees binne die konteks waarin God dit gegee het, kom ’n mens daartoe om God se openbaring van sy hoë weë en onbegryplike gedagtes te verstaan.  Natuurlik deur die krag van die Heilige Gees, wat immer in en deur die Woord werk.

Van die hervorming af tot vandag toe het die gereformeerde kerke die grammaties-historiese manier van Skrifverklaring gevolg.  Met verloop van tyd het daar egter bepaalde aksente na vore getree wat eensydighede in die Skrifverklaring tot gevolg gehad het en die wonderlike balans van die Skrif versteur het.  Die gevolg was dikwels ’n eksegese wat meer verduister as wat dit verduidelik.  Hoe het dit gebeur?

3. ’n Blote historiese lees van die Bybel

Kort na die Reformasie het ’n groep teoloë begin om die Bybel as ’n blote historiese geskrif te lees. Dit het gebeur op aandrang van geleerdes van die 17e en 18e eeu wat onder invloed van die filosofie van die Rasionalisme en die Historisme gestaan het.  As uitvloeisel hiervan het daar in Duitsland gedurende 19e eeu die sogenaamde histories-kritiese skool van denke ontstaan.  Die Historiese Kritiek beskou die Bybel as

  • ’n blote historiese boek (nie Woord van God nie),
  • wat bloot deur mense tot stand gekom het (nie geïnspireer deur die Heilige Gees nie)
  • en wat vandag niks meer is nie as maar net ’n bron vir geskiedskrywing (nie God se openbaring met ’n boodskap aan die mens nie).

Met so ’n beskouing word die Bybel tot ’n tydgebonde boek gereduseer en word die uniekheid en die gesag van die Bybel  –  en daarmee ook die uniekheid en die gesag van God  –  verwerp.  Daarom het die Gereformeerde teologie van die begin af die histories-kritiese benadering verwerp.  Die Gereformeerde antwoord op die Historiese Kritiek is kortliks:

  • Die Bybel is nie ’n menslike produk nie aangesien die Heilige Gees die Bybelskrywers geïnspireer het sodat dit uiteindelik ’n boek van God is.
  • Die Bybel is ’n unieke boek aangesien dit die Woord van God is waarin Hy met Goddelike gesag sy openbaring aan mense bekend maak.
  • God het sy Woord in ’n spesifieke tyd in die geskiedenis gegee en daarop gerig, maar dit nie daartoe beperk nie (dit is tydgerig maar nie tydgebonde nie).

Die bekende Duitse teoloog van die eerste helfte van die 20e eeu, Rudolf Bultmann, is as student geskool in die Historiese Kritiek.  Hy het egter daarteen gerebelleer, aangesien hy nie kon vrede maak met die gedagte van ’n boodskaplose Bybel nie.  Soos die Bybel daar geskrywe is, het Bultmann (getrou aan sy histories-kritiese skoling) geredeneer, is dit in die geskiedenis vasgevang en is dit vir die moderne mens betekenisloos.  Om by die (eintlike) betekenis daarvan uit te kom, sê hy, moet die Bybelboodskap uit sy historiese omhulsel uitgehaal word, daarvan “bevry” word en moet die boodskap gesoek word “agter” dit wat daar geskrywe staan.  Hiermee het Bultmann die grammaties-historiese benadering vaarwel toegeroep en hom as ’t ware by die allegoriese metode van Skrifverklaring geskaar, wat ’n boodskap soek nie in dit wat daar geskrywe staan nie, maar verborge êrens agter die teks.

5. ’n Geskiedenislose lees van die Bybel

’n Ander reaksie teen die histories-kritiese benadering het gekom van teoloë wat die historiese aspek van Bybel eenkant geskuif het en ’n oormatige klem op bloot grammatiese analise geplaas het.  Daarmee het hulle in praktyk die grammaties-historiese metode omskep in ’n grammaties(-historiese) metode.  Hierdie manier van uitleg, wat myns insiens tipies is van die beskouings wat as “fundamentalisme” bekend staan, hanteer die grammatiese besonderhede van die geskrewe teks geskiedenisloos (a-histories), dit wil sê buite konteks.  Dit hou nie rekening met die historiese gerigtheid van die Bybel nie.  Enkele voorbeelde:

  • Die Here se opdrag aan Moses en Israel om uit Egipte te trek word net so op die roeping van gelowiges vandag oorgeplaas, sonder inagneming van Israel se besondere omstandighede en hulle buitengewone roeping as verbondsvolk van die HERE in die Ou Testament.
  • Jesus se opdrag aan die melaatse wat Hy gesond gemaak het: “Gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging” (Luk.5:14) kan nie begryp word as dit net so sonder inagneming van die destydse Joodse gebruike gelees word nie.
  • As ’n mens Openbaring 12:3 lees asof dit blote geskiedenis is sonder om rekening te hou met die aard van die Openbaringboek, kan jy tot die gevolgtrekking kom dat daar regtig ’n draak in die hemel sal verskyn wat met sy stert ’n derde van die sterre van die hemel sal wegsleep aarde toe.

Teenoor so ’n benadering wat die Bybel buite sy (historiese) konteks lees, staan die Gereformeerde Skrifverklaring op ’n grammaties-historiese Skrifverklaring.

5. Sosio-historiese verklaring – Goue middeweg?

Gedurende die laaste dekades van die 20e eeu het verskeie teoloë probeer om die wanbalans wat deur ’n “geskiedenislose” lees van die Bybel ontstaan het, weer reg te stel.  Juis omdat die gereformeerde teologie uitgaan van ’n grammaties-historiese Skrifverklaring, het hierdie teoloë probeer om die historiese deel van die Skrifverklaring weer tot sy reg te laat kom.  Ek noem die name van Suid-Afrikaanse teoloë soos Du Plessis (Applying the results of social-historical research to narrative exegesis. Neotestamentica 30(2), 1996: 335-385), Van Rensburg (’n Metodologiese verkenning na die verdiskontering van soio-historiese gegewens in die bestudering van vreemdelingskap in 1 Petrus, In die Skriflig 30(1), 1996:37-56), Combrinck (A social-scientific perspective on the parable of the `unjust’ steward, Neotestamentica 30(2), 1996:281-306) en Du Toit (God’s beloved in Rome (Rm 1:7); the genesis  socio-economic situation of the first generation Christian community in Rome, Neotestamentica 32(2), 1998:367-388).  In hulle poging het hierdie teoloë gaan leen by ’n nuwe belangstelling wat by sommige eksegete in Europa en die VSA posgevat het, naamlik ’n studie van die sosio-historiese konteks van die Bybel.  Wat hulle gedoen het, was om die resultate van die sosio-histo-riese (en sosiaal-wetenskaplike) studies oor te vat en deel van grammaties-historiese eksegese te maak.  In ’n sekere sin is hierdie pogings nie te versmaai nie aangesien dit daadwerklik probeer het om ’n saak in die kalklig te stel wat nog altyd ’n wesentlike komponent van die grammaties-historiese Skrifverklaring was, naamlik die kultuur-historiese oftewel sosio-historiese konteks van die Bybelboeke.

Soos met elke nuwe onderneming, loop ook die sosio-historiese benadering egter die gevaar om eensydig te raak.  In pratyk het ’n sosio-historiese benadering dan ook die grammaties-historiese benadering so toegepas dat dit inderwaarheid ’n (grammaties-)historiese model geword het.  Met ander woorde: hulle het die pendulum te ver laat terugswaai en het nader beweeg aan die Historiese Kritiek.  Lategan, (Current issues in the hermeneutical debate.  Neotestamentica 18 (1984): 1-16) waarsku teen eensydighede waaraan die sosio-historiese benadering blootgestel is.  Die grootste gevaar  waarop hy wys is dat hierdie benadering die historiese aard van die Bybel reduseer tot die sosio-historiese situasie waarin die boeke van die Bybel ontstaan het.  Laat ek verduidelik:

  • Die eksegeet word deur die sosio-historiese benadering verlei om te begin dink dat hy deur die sosio-historiese konteks van ’n Skrifdeel te bestudeer, die eintlike historiese deel van sy eksegese afgehandel het.
  • Die eksegeet begin die sosio-historiese gegewens van die teks hanteer as die eintlike sleutel tot die verstaan van die teks.  Tot sy uiterste gevoer, word buite-Bybelse (sosio-historiese) gegewens dan ingevoer om die “eintlike” betekenis aan die teks te verleen en om selfs dit wat in die teks staan, te “veto” – in die lig van sosio-historiese gegewens is dit wat daar geskrywe staan nie geldig nie!
  • In sy heel uiterste vorm word die Bybel as blote produk van sy sosio-historiese konteks beskou.  Die Heilige Gees as eerste Skrywer van die Bybel word in teorie miskien nog erken, maar in praktyk het die Bybel maar sy beslag gekry vanuit die destydse samelewing.  Wat buite rekening gelaat word is die feit dat die Heilige Gees dikwels die Bybelskrywers laat skrywe het in weerwil van die sosio-historiese situasie of as korrektief op die sosio-historiese situasie.

Voorbeelde van so ’n sosiologiese lees van die Bybel is die volgende:

  • Die teoloog Jonathan Draper vind die sleutel tot die verstaan van Romeine 13:1-7 (“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is …”) in wat hy noem die tradisioneel-sakrale gesagstrukture wat by die Jode gegeld het.  Hy sê dat Paulus inderwaarheid hierdie gesag-strukture verwerp het.  Maar vanweë die besondere politieke omstandighede van sy tyd gee hy nogtans die opdrag  –  nie om Christene se houding teenoor die staat vir alle tye uit te spel of om staatsgesag prinsipieel te begrond nie, maar “om ’n gemeentetjie pragmaties te oriënteer in ’n spesifieke situasie, ter wille van voortbestaan van die gemeente in Rome (vgl. Jan Botha, Semeion, 1988:71-72).
  • Desgelyks word gehandel met 1 Timoteus 2 (veral vers 12: “Ek laat die vrou nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.”) in die debat oor die plek van die vrou in die kerk.  Sosio-historiese verklaarders wil dit hê dat 1 Timoteus 2 nie geneem kan word as ’n Skrifverbod op vroue wat in die erediens die leiding neem en die woord neem nie.  Waarom?  Omdat Paulus (of wie ook al volgens hulle 1 Timoteus geskryf het!) nie bedoel het om ’n altyd geldende prinsipiële reëling m.b.t. vroue in die erediens te gee nie. Dit lei hulle af uit die Hellenistiese denke van die destydse samelewing wat, onder invloed van die Stoïsynse filosofie wat deur Marcus Aurelius gepropageer is, gestreef het na ’n algehele harmonieuse bestaan.  En nou word gesê: Die skrywer van 1 Timoteus was eintlik ten gunste daarvan dat vroue in eredienste die leiding kan neem en selfs die woord kan neem.  Nogtans verbied hy dit in sy brief, omdat hy geweet het daar groot onmin in die kerk gaan kom as hy dit sou toelaat.  En sulke onmin sou in stryd wees met die Hellenistiese strewe na algehele harmonie.  Wat die skrywer dus in 1 Timoteus 2:12 reël, is nie die plek wat vroue in die erediens behoort te beklee nie maar dat dinge in die kerk so moet verloop dat dit, na gelang van omstandighede, die minste weerstand ontlok.  Hoe weet hulle dit?  Nie uit die Bybel nie, maar uit die buite-Bybelse omstandighede.  Die sosio-historiese konteks word dus so ingespan dat dit die Bybel laat buikspreek om iets anders te sê as wat daar geskrywe staan.  “Iets ander sê”  –  die uiteinde is dus ’n soort allegoriese Skrifverklaring.
  • Desgelyks is verlede jaar in ’n artikel in Die Skriflig beweer dat geen gesagsreëling wat in die Bybel vir die huisgesin en vir die kerk gegee word, vandag ernstig opgeneem kan word nie.  Motivering: Die Bybel is die produk van die patriargale, androsentriese samelewingstrukture van daardie tyd  –  strukture wat vandag nie meer geldig is nie.  Met sulke argumente word die Bybel gereduseer tot die blote produk van die destydse samelewing en word die Heilige Gees as eerste Skrywer en as bron van die Skrifgesag hoegenaamd nie in berekening gebring nie.

Die basiese probleem met die sosio-historiese metode is dat dit, in sy ywer om van enige sweem van fundamentalisme te ontkom, ’n halfpad-ontmoeting tussen die Gereformeerde Skrifverklaring en die Historiese Kritiek word, En, soos met elke “goue middeweg”-poging, bevind die sosio-historiese Skrifverklaring hom op die ou einde op ’n vlakte waar dit nog kant nog wal raak.  Hoogstens sou ’n mens daarvan kon sê dat dit die proses van grammaties-historiese Skrifverklaring onvoltooid laat en daarom nie in sy doel slaag nie. Dit vra immers net na die historiese konteks waarop God elke Skrifuitspraak gerig het en nie óók na die historiese konteks van God se openbaring nie.  Dit ignoreer die openbaringshistoriese konteks van die Bybel.

6. Wat is die Openbaringshistoriese konteks?

Die heel belangrikste en omvattende historiese konteks waarbinne God elke Skrifwoord gestel het, is die konteks van sy openbaring in en deur die geskiedenis.  Die Duitse Gereformeerde teoloog Oscar Cullman (Christ and Time.  SCM. 1952:27), wat ’n voorstander van die Heilshistoriese benadering is, sê uitdruklik dat “revelational history (Offenbarungsgeschichte) is still more comprehensive.”  Hoe so?

God het sy openbaring aan die mens in die geskiedenis gegee  –  tydgerig, soos die Gereformeerde Skrifbeskouing dit het.  Maar daarmee word die Bybel nie gereduseer tot ’n aantal onsamehangende tydgerigte openbarings nie.  Nee, elke boek, elke Skrifwoord  –  in watter tyd en omstandighede God dit ook al gegee het  –   vorm deel van die groot geheel van God se Skrifopenbaring aan die mens.  In die Gereformeerde Skrifleer praat ons van die eenheid van die Bybel.

Die eenheid van die Bybel het tot gevolg dat die Skrifverklaarder duidelikheid moet kry oor hoe die voorhande Skrifwoord inpas in die geheel van die Gods-openbaring.  Ons moet onthou dat God sy openbaring oor ’n lang historiese tydperk (ongeveer 3000 jaar) gegee het. Die openbaring het nie eensklaps volledig tot die mens gekom nie.  Daar was voortgang. En Goddelike beplanning.  Daarom kan ’n mens praat van groeiende openbaringslyne wat soos goue drade deur al die boeke van die Bybel loop.  En hoe verder die tyd aangestap het, hoe vollediger, duideliker het die lyne van openbaring geword  –  juis omdat die eerste dele die later dele ondersteun en die latere dele die eerste dele belig (vgl. Heb 1:1).

Die groeiende openbaringslyn kan vergelyk word met ’n gordyn voor ’n verhoog wat gelig word.  Eers sien ’n mens net klein, oënskynlik onsamehangende dele van die dekor en miskien die voete van die akteurs.  Maar namate die gordyn verder gelig word, word alles al duideliker in konteks gesien en word die betekenis daarvan al duideliker.  Die eerste dinge raak nie later onbelangrik nie, maar eers in die lig van die latere kry dit hulle volle betekenis.  Vergelyk Jesus se woorde in Matteus 5:17: “Ek het nie gekom om die wet en die profete te ontbind (kragteloos te maak nie), maar om dit te vervul (hulle volle betekenis te gee).

Die taak van Openbaringshistoriese Skrifverklaring is dus om uiteindelik die vraag te beantwoord : Hoe pas hierdie besondere Skrifdeel binne die geheel-geskiedenis van God se openbaring in?  Is dit die “voete”?  Is dit die “hande”?  Los daarvan staan dit nooit.  Wat is dan die openbaringshistoriese verband ?

Die hermeneutiese sleutel tot die gereformeerde prediking is dus nie geleë in sosio-historiese gegewens of in enigiets anders nie as die openbarings-historiese lyn(e) van die Skrif.  Dit bied immers die mees omvattende vertrekpunt, wat inklusief van sowel die verbondshistoriese en die heilshistoriese lyn is. Die Skrifboodskap kan dus voorgestel word as inklusiewe konsentriese sirkels, waarvan

  • die heilsopenbaring van verlossing in Christus, in die sentrum staan,
  • aangebied binne die ruimer raamwerk van God se verbond;
  • maar in die mees omvattende sin is dit openbaring van God, wie Hy is, sy werke, sy wil, sy koninkryk (waarby sy verlossing en sy verbond van genade ingesluit is).

Coetzee (Kernmotiewe in die Godsopenbaring van die Nuwe Testament, 1982:48) stel dit soos volg: “Die term `Openbaringsgeskiedenis’ omvat God se Selfopenbaring, sy weg en sy werke met die ganse skepping, en  –  sover dit die mens aangaan  –  sowel sy heilswerk as sy oordeelswerk oor gelowiges én ongelowiges.”  Voeg hieraan toe: En hierdie weg wat God volg ontvou Hy van Genesis tot Openbaring soos ’n pragtige historiese tafereel voor die mens se oë.

Enkele voorbeelde van openbaringshistoriese Skrifverklaring:

Kom ons begin met ’n Skrifuitleg van die Here Jesus self in Matteus 19:8-9.  Dit doen Hy n.a.v. die strikvraag van die Fariseërs oor egskeiding.  Hulle probeer Jesus vasvra op grond van Deuteronomium 24:1.  As dit dan heeltemal verkeerd is om te skei, waarom het Moses volgens Deuteronomium 24:1 beveel dat ’n skeibrief gegee word?  Jesus antwoord: “Omdat Moses vanweë die hardheid van julle harte julle toegelaat het om te skei.”  Daarmee sê Hy:

1.)  Indien Deuteronomium 24:1 gelees word sonder inagneming van sy historiese situasie, kan dit verkeerd verstaan word as ’n goedkeuring van egskeiding.  Die historiese situasie was egter dat die Israeliete, in weerwil van die Here se uitdruklike verbod, hulle aan egskeiding bly skuldig maak het.  Ten einde die Israeliete binne so ’n sondige situasie daarvan te weerhou om by die sonde van egskeiding nog verdere onreg te pleeg, het Moses aan hulle voorskrifte gegee oor hoe om dan ten minste verdere onreg te vermy as hulle dan volhard om te skei (“ … ’n skeibrief gee”).

2.) Jesus voeg egter dadelik by: “ … maar van die begin af was dit nie so nie”. Daarmee wys Hy dat Deuteronomium 24 in ’n ruimer konteks gelees moet word.  Dit moet verstaan word binne die breë openbaringshistoriese raamwerk van God se instelling van die huwelik by die skepping (“In die begin”).   Deuteronomium 24 se “wettiging van egskeiding” staan dus nie op sy eie nie, maar staan binne die groter raamwerk van God se bedoeling met die huwelik uit die staanspoor.  Met verwysing na Genesis 2 onderstreep Jesus drie aspekte aangaande die huwelik soos God dit in die begin ingestel het:

  • Hy het hulle man-en-vrou gemaak;
  • die man sal sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef;
  • hulle sal een vlees wees.

Uit hierdie (openbaringshistoriese) oorwegings toon Jesus aan dat God man en vrou in die huwelik saamgevoeg het en dat hulle daarom glad nie mag skei nie.

3.) Jesus trek die openbaringshistoriese lyne verder deur vanaf die Ou Testament na die Nuwe Testamentiese bedeling.  Nadat Hy die perspektief van Genesis 2 gestel het, voeg Hy daarby: “Maar Ek sê vir julle: wie van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Mt 19:9).  Hy trek die openbaringshistoriese lyn dus vanaf die skepping, reg deur die Bybel tot by Homself, die Christus. Hoe moet die saak gesien word nou dat Christus self gekom het?  “Ek sê vir julle …”

Vir ’n tweede voorbeeld gaan ons weer na 1 Timoteus 2:12.  Wanneer Paulus die (gewraakte?) swygopdrag vir vroue oplê, dan plaas hy die opdrag binne die geheel van die Skrifverband:

  • Ook hy trek die lyn terug tot by die skepping: “Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva” (2:13).
  • Daarvandaan na die sondeval: “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom” (m.a.w. by die sondeval het beide man en vrou hulle misgaan deur die leiding van die vrou te laat uitgaan) (2:14).
  • Uiteindelik trek hy die lyn weer deur tot by die verlossing in Christus: “Maar sy sal gered word as die een wat kinders baar (d.w.s. met behoud van die besondere plek wat God by die skepping/sondeval aan haar toegeken het), as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking (wat van alle gelowiges verwag word).

Hieruit is dit duidelik dat die sogenaamd swyggebod nie maar op sosio-historiese omstandighede berus het nie, maar dit gegrond word op die breë openbaringshistoriese lyne wat reg deur die Skrif tot by Christus loop.

7.  Prinsipiële vertrekpunte van ‘n Openbaringshistoriese studie

7.1 Skrif as Godsopenbaring

Hiermee word as prinsipiële vertrekpunt geneem die konfessie dat God Homself en sy dade in die Skrif openbaar. Die Bybel word dus bestudeer as Gods-openbaring.  Hiermee word ’n bewuste keuse gemaak teenoor die histories-kritiese Skrifbeskouing wat die historiese karakter van die Bybel wel erken, maar wat die Godsopenbarende aard daarvan misken.  Ook teenoor daardie sosio-historiese studies wat die klem so swaar op die historiese laat val dat die woorde wat daar staan nie meer as komende van God erken word nie.

7.2 Die historiese karakter van die Godsopenbaring

Die benaming “Openbaringsgeskiedenis” gaan ook uit van die veronderstelling dat God sy openbaring in en deur die geskiedenis gee.  Die doel van openbaringshistoriese studie is dan ook om die Skrifgeopenbaarde dade van God in die geskiedenis te bestudeer. Ook word hiermee ’n prinsipiële keuse gemaak teenoor ’n fundamentalistiese Skrifbeskouing wat die Skrif wel as Godsopenbaring erken maar die historiese aard daarvan misken. Deur die historiese karakter van die Godsopenbaring as uitgangspunt te neem, word openbaringshistoriese studie gegrond op die aanname dat daar in die Godsopenbaring ’n historiese voortgang is en dat hierdie voortgang ook in die te-boek-gestelde openbaring, die Bybel, weerspieël word.

7.3 Die eenheid van die Kanon

Dat daar ’n onderlinge samehang van die 66 boeke van die Bybel is en dat daar so-iets soos ’n geheel-prediking van hierdie 66 boeke bestaan, is  –  weer eens ’n konfessionele aangeleentheid.  Die konfessie van die eenheid van die Kanon, soos dit in artikel 25 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sy neerslag vind, vind die fundamentele eenheid van die Ou en die Nuwe Testament in Jesus Christus.  God se koninklike heerlikheid en gesag, sy geregtigheid en sy genade, sy wese en sy werk het as openbaringsmiddelpunt die persoon van Jesus Christus.

Die handhawing van die eenheid van die Kanon hang ten nouste saam met die erkenning van die Heilige Gees as Eerste Skrywer van die Kanon.  Die aanvaarding dat al 66 boeke van die Kanon uiteindelik na die één Outeur toe terugherlei kan word, maak dit moontlik om van ’n onderlinge samehang en geheel-prediking te praat.

7.4 Verskeidenheid te midde van die eenheid

Openbaringshistoriese eksegese berus op die veronderstelling dat die Godsopenbaring in die Skrif  –  te midde van die inherente eenheid daarvan  –  ook ’n besliste diversiteit vertoon. Deel van die historiese diversiteit van die Skrifopenbaring, is dat God sy een Skrifopenbaring in 66 verskillende boeke laat opteken het deur ’n verskeidenheid van skrywers met verskillende invalshoeke, met gebruikmaking van verskillende literêre genres en tegnieke, onder verskillende sosio-historiese omstandighede.  Die historiese karakter van God se geskrewe openbaring vind juis gestalte in die diversiteit van geskrifte waarin dit geboekstaaf is.

8. Ten slotte

Heelwat sou nog gesê kon word oor die metodes van en vereistes vir die hantering van Openbaringshistoriese gegewens in die eksegese.  Tyd en ruimte ontbreek egter.  Die doel van hierdie voordrag was egter bloot om te verduidelik waarom Gereformeerde Skrifverklaring in die volle sin van die woord nie anders kan nie as om te kom tot ’n Openbaringshistoriese uitleg van die Skrif.  Grammatiese (sintaktiese, stilistiese, strukturele, ens.) studie is onontbeerlik.  Ook is die studie van die sosio-historiese omstandighede van die menslike skrywer en die eerste lesers uiters belangrik.  Maar waarsonder die grammaties-historiese eksegese nie kan eindig nie, is om die verband van die Skrifwoord met die res van die Godsopenbaring te vind.  Dit vra vir Skrif-met-Skrif-vergelyking.

Die verskillende stappe van Skrifverklaring kan vergelyk word met ’n huis wat gebou word.

  • Die fondament wat gelê word, waarop alles berus, is die grammatikale ontleding van die teks.
  • Die mure wat daarop gebou word, is die studie van die historiese situasie (sosio-historiese gegewens) waarop God die Skrifwoord gerig het (ook bekend as die besondere kanoniek van die Bybelboek).
  • Die dak waarin alles tot ’n eenheid saamkom, is die openbaringshistoriese studie.

Immers, uiteindelik is die belangrike vraag wat beantwoord moet word:  Wat sê God vir ons hier, in hierdie Skrifwoord as deel van sy openbaring?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: