Verslag van die GPTS Instituut: Die Skepping

Verslag van die GPTS se Somer Instituut 2011 – Die Skepping

deur Louis Cloete

 Louis Cloete is gebore in Pretoria en het grootgeword in Suid-Afrika. In 1993 trek hy en sy vrou as pasgetroudes na die VSA, waar beide hulle kinders gebore is. Na etlike jare van rebellie bring die Here hom tot bekering in 1996. Louis is tans `n vierdejaar student aan die Greenville Presbyterian Theological Seminary, waar hy gedurende die 2009-2010 studiejaar as president van die studenteraad (Student Body Association) gedien het. Hy dien huidiglik as ouderling op die kerkraad van Covenant Community Orthodox Presbyterian Church in Taylors, South Carolina, VSA        

Die debat aangaande die sesdaagse skepping het gedurende die laaste vyf jaar na die voorgrond verskuif binne Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke in die VSA. Greenville Kweekskool is een van ‘n handjievol Gereformeerde kweekskole wat openlik hou by `n letterlike sesdag skepping. Dit is met hierdie agtergrond wat GPTS hierdie weeklange seminaar aangebied het. Dit is bygewoon deur verskeie predikante, studente, en ander belangstellendes. Die fokus van die aanbieding was op beide die wetenskap en die teologie van die sesdaagse skeppingsleer, sondeval en vloed. Slegs enkele van die besprekingsonderwerpe sal hier genoem word.

Dr. Jonathan Sarfati

Die eerste gedeelte is aangebied deur dr. Jonathan Sarfati. As chemikus het hy waardevolle insig gegee aangaande die oorsprong van die evolusieteorie, en gevolge daarvan. `n Interessante  tendens is besig om plaas te vind in die wêreld. Soos meer ontdekkings gemaak word op die gebied van genetika en elders, duik daar meer vrae op wat nie deur evolusie beantwoord kan word nie. Evolusie berus op `n voorveronderstelling dat mutasies kan plaasvind wat die minder komplekse wese na `n meer komplekse wese spontaan kan verander. `n Vermeerdering van genetiese informasie is noodsaaklik om van `n minder komplekse wese te verander na `n meer komplekse wese.Voorbeelde van spontane vermeerdering van genetiese inligting tydens mutasies is afwesig. Met mutasies blyk daar eerder `n vermindering van genetiese informasie te wees. Die bewyse dui dus daarop dat meer komplekse genetiese stukture na `n minder komplekse strukture verander. Dit is dus presies die teenoorgestelde as wat die evolusieteorie voorhou.

Dr. Sarfati het die bestaansrede van `n kreatuur verduidelik deur dit te vergelyk met `n vliegtuig. `n Vliegtuig, wat minder kompleks is as `n lewende wese, is gemaak met `n maklik definieërbare gebruiksrede. Oorweldigende bewyse van ordelike beplanning en aanmekaarsit van onderdele is ook waarneembaar met die ontstaan van `n vliegtuig. Hoe kan iemand dan aanvaar dat `n vliegtuig deur `n `n intelligente beplanner ontwerp is, terwyl hy die bestaan van `n meer komplekse struktuur aan spontane self-generasie toeskryf? Genesis 1 gee ons `n antwoord wat perfek strook met die werklike bevindings. God het diere, voëls en visse volgens hulle soorte gemaak.

            `n Ander vraag wat die voorstaanders van `n spontane evolusie nie kan antwoord nie is: “Hoe het lewe in die eerste sel gekom”. Die absurde verklarings wat sekere skynbaar intelligente mense gee sou lagwekkend gewees het as dit nie so `n ernstige saak was nie. Spekulasis van weerlig tot groeiende kristalle is al voorgehou. Natuurlik is God self die oorsprong van lewe. (Gen. 2:7) Die evolusieteorie kan nie met sekerheid wetenskaplik bewys word nie. Dit word egter geglo deur miljoene mense asof dit die onteenseglike waarheid is.

            Verskeie ander onderwerpe insluitende fossiele, die ouderdom van die aarde en rotsformasies is bespreek. Fossiele en rotsformasies is maklik verklaarbaar as `n mens die Bybelse rekord van `n katastrofiese wêreldvloed inreken. Trouens, `n  wêreldvloed bied `n meer geloofwaardige oplossing van hoe fossiele neergelê is as wat die ou aarde teorie voorhou. Diere is waarskynlik skielik begrawe in `n vloedgolf modder, wat dan die oorblyfsels bewaar het. Moddervloede tydens Mount St. Helens se vulkaniese uitbarsting in die 1980’s het ook bewys dat rotslae en diep klowe in `n kwessie van ure kan vorm. Dit staan natuurlik in skrille kontras met die ou aarde teorie dat riviere oor miljoene jare klowe deur berge maak.

            Verskeie voorvalle van bedrog deur evolusievoorstaanders is ook uitgewys. Een van die bekendstes hiervan is Ernst Haeckel se sketse van embrios waarin hy verskeie wesens, insluitende mense as feitlik identies voorgestel het. Hierdie voorstelling is dekadeslank al in biologie handboeke as onbetwisbare waarheid voorgestel. Die skeppingsleer word sterk ondersteun deur eerlike wetenskaplike navorsing. Dit is egter op hierdie punt waar `n reuse probleem lê, want baie wetenskaplikes  begin met die vooropgestelde geloof dat die evolusieleer waar is. Die doelwit is dus nie om te gaan waar die bewysstukke lei nie, want dit kan die geloof in evolusie afbreek. `n Goeie voorbeeld hiervan is die ontdekking gemaak deur Mary Schweitzer, wie rooibloedselle ontdek het in dinosaurierbene wat kwansuis 65 miljoen jaar oud was.[1] Sagteweefsel gaan baie vinnig tot niet. Enige persoon wat forensiese speurwerk doen sal dit kan beaam. Sy was dus verkeerd dat sy sagte weefsel gekry het, of die bene was slegs `n paar duisend jaar oud. Sy het die eksperiment om vas te stel of dit sagteweefsel is 17 maal uitgevoer.

            Dr. Sarfati het ook aandag verleen aan die Christen oorsprong van wetenskap. Onder andere is uitvindsels gedurende die Middeleeue bespreek. Dit was nie so `n donker tydperk as wat ons in vandag se geskiedenisboeke lees nie. Het u geweet dat die brille wat baie van ons dra `n Middeleeuse uitvindsel was? 

            Gevolge van die evolusieleer is ook bespreek. `n Interessante erkenning kom van Richard Dawkins, die bekende ateïstiese apologeet: “Darwin made it possible to be an intellectually fulfilled atheist”.[2]  

Spontane evolusie word as bewys gelewer dat God nie bestaan nie. Die evolusieleer vorm ook die basis van eugenetiek, wat met fanatiese ywer in Nazi Duitsland toegepas is.[3]

Charles Darwin se seun, Leonard Darwin was `n leier van die eugeniese beweging in Brittanje.

Margaret Sanger was ook `n kampvegter vir rasverbeteringsleer in die VSA. Met hierdie doewit in gedagte het sy Planned Parenthood begin. Planned Parenthood is een van die mees bekende ondernemings in die Amerikaanse aborsieindustrie. Meer as 50 miljoen ongebore kinders het al die lewe gelaat in die VSA sedert aborsie gewettig is.

Dr. Joseph Pipa

Die tweede gedeelte van die weeklange reeks lesings is aangebied deur dr. Joseph Pipa. Sy lesing het begin met `n oorsig oor die teologiese debat aangaande die skepping. Dit is gevolg deur `n voëlvlug oor die kerkgeskiedenis. Volgens hom is die eerste lang tydperk interpretasie van Genesis 1 aangeteken by Princeton Kweekskool in 1830. Dit was gedoen om die Bybelse rekord aan te pas by die ou-aardeteorie. Die nie-letterlike interpretasies van Genesis 1 is vervolgens bespreek.

            Baie tyd is gespandeer om Genesis 1 eksegeties te analiseer. Sommer by die intrapslag kan `n mens die klassieke styl van Hebreeuse verhaal-vertelling opmerk. Om hierdie hoofstuk as poësie te interpreteer is duidelik `n fout. Moses se taalgebruik laat weinig twyfel daaroor, en dit word verder versterk deur die opeenvolgende gebeure wat beskryf word soos die skeppingsverhaal opbou. Die klimaks kom by die skepping van die mens as heerser oor die skepping. Daar kan geen twyfel wees dat die eerste hoofstuk in Genesis vertel van `n skepping wat afgehandel is in ses dae nie. Hierdie was 24 uur dae, met `n aand en `n oggend, genommer soos ons `n gewone week sou aftel. Daar is ook geen rede om te twyfel dat God alles funksioneel volwasse gemaak het nie. Bome is dus moontlik met jaarringe gemaak asof hulle al dekades oud was.

            Hierna is aandag geskenk aan die aanvullende skeppingsbewyse uit die res van die Skrif. Die getuienis uit die res van die Bybel is oorweldigend.[4] Min ander bybelse leerstellings word so sterk ondersteun soos die skepping.

            Met hierdie kennis in gedagte is kritiek gelewer op die verskeie nie-letterlike interpretasies van Genesis 1. Telkens het dit na vore gekom dat daar probeer is om wetenskap met skriftelike openbaring te verenig, soos die Biologos[5] beweging doen.  Andere het foutiewe eksegese gedoen. Soms is logiese redenasiefoute begaan, en ander kere is dit bloot `n foutiewe siening aangaande die outoriteit van die Bybel as God se Woord. Die stelling gemaak dat sommige van hierdie nie- letterlike sienings slegs allegoriese interpretasies is. Dit moet `n mens laat sidder as die Middeleeuse Roomse interpretasies in ag geneem word. Allegoriese verklarings was baie algemeen.

            Die volgende sessies het gehandel oor die verslae aangaande die skepping van die Presbyterian Church in America[6] en van die Orthodox Presbyterian Church[7] Hierdie is beide lang dokumente om deur te lees, maar baie behulpsaam om ons `n idee te gee van hoe om die debat te hanteer. Die laaste sessie was `n bespreking van maniere om die idee van `n sesdaagse skepping te verkondig. Dit wil voorkom asof dit `n besprekingsonderwerp is wat deur baie predikante en ouderlinge vermy word. Dit is egter `n deel van die heilsopenbaring wat nie oor geswyg mag word nie. Predikante is aangeraai om deur Genesis te preek, en as dit nie moontlik is nie, fokus dan op die eerste 11 hoofstukke van die boek. `n Kommerwekkende tendens by Christen kolleges en universiteite in die VSA is ook kortliks bespreek. Dit blyk algemeen te wees dat fakulteitslede in die harde wetenskap rigtings sesdag skepping, jong aarde voorstaan. As `n mens dan na die teologiese fakulteite kyk van daardie universiteite, is dit die uitsondering wat glo die aarde is gemaak in net ses dae! 

Die skepping, sondeval en vloed is nie leerstellings wat na die kantlyn verskuif kan word nie. As die eerste 11 hoofstukke van Genesis allegories geinterpreteer word, verswak dit die krag van evangelieprediking. As ons nie `n letterlike skepping, sondeval en vloed kan glo nie, hoe kan ons die kruisiging en opstanding van Jesus Christus glo? Die krag van evangelieprediking lê juis daarin dat dit in radikale opposisie is met die wêreld en sy dwaashede. Dit moet ons nie afskrik nie. Die evolusieteorie is bankrot. Selfs die term “evolusie” is `n bewegende teiken. Daar is steeds verskille onder die voorstaanders van evolusie wat die definisie moet wees. Dit is gebou op `n vals aanname dat God nie bestaan nie. Dit is slegs een van die baie vestings waarvan ons in 2 Korintiers 10:4 lees. Ons kan ons berus dat ons wapens in die stryd nie vleeslik is nie, maar kragtig om al hierdie skanse af te breek, en om elke gedagte gevange te neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.

As u meer wil lees oor hierdie onderwerp, die boek Did God Create in 6 Days? (Joseph Pipa & David Hall, Tolle Lege Press 2005 www.TolleLegePress.com ISBN: 0-9754864-0-5) sal u baie meer inligting kan gee.

Kyk ook gerus na By Design. (Jonathan Sarfati, Creation Book Publishers, 2008 www.creationbookpublishers.com ISBN: 978 0 94990672 4)  

Dr. Jonathan Sarfati se besonderhede is beskikbaar by: 

 http://creation.com/dr-jonathan-sarfati 

Dr. Joey Pipa se besonderhede is beskikbaar by:

http://www.gpts.edu/faculty/joseph_pipa.php

 


[1]    http://www.smithsonianmag.com/science-nature/dinosaur.html

[2]    Richard Dawkins, The Blind Watchmaker: Why the Evidence of Evolution Reveals a Universe Without Design, (New York: Norton, 1996), 6.

[3]    Youtube, “Smoking Gun Proof Nazis were Evolutionists.”, http://www.youtube.com/watch?v=LiO_c5-6_Hw (besoek 6 Augustus 2011). Hierdie is `n kort grepie uit `n Nazi propagandafilm met Engelse subtitels.

[4]    Ps. 33:6,9; 148:1-6; Johannes 1:1-3; Matt 19:4; Markus10:6; 13:19; Jes. 42:5; 45:18 Daar is ook baie verwysings na spesifieke dae van die skepping. Hier volg slegs enkele voorbeelde. Dag 1- 2 Kor. 4:8. Dag2- Ps. 102:25,26. Dag 3- 2 Pet. 3:5 en Job 38:27. Dag 4- Ps. 33:6,9. Dag 5- Ps. 8:8. Dag 6- Ps. 8:7 en 1 Kor. 11:8-10.

One thought on “Verslag van die GPTS Instituut: Die Skepping

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: