Preek: Ware verootmoediging – Jer.7:1-15

cropped-sonsondergang-varkenskraal-sept-2013.jpg

Lees Jeremia 7:1-15

Prediker: Ds Gustav Oppperman (GK Matlabas)

Teks 7:3  So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.

Tema: Verootmoediging voor verootmoediging

Sing Pss 97:1,6,7; 51:1,4; 86:3,6; 51:5,8

Geliefdes,

Van die Afrikaanse kerke het vir vandag – die 15de September – ‘n dag van verootmoediging uitgeroep.

In die verlede is dae van verootmoediging nie sonder rede uitgeroep nie.

Net baie ernstige droogtes,

ernstige natuurrampe,

of oorlogstoestande kon tot so-iets lei.

Niemand het meer enige twyfel dat hierdie land baie,

baie ernstige probleme in die gesig staar nie …

en as ek sou begin om hierdie probleme op te noem,

sou ek sekerlik meer as die helfte van hierdie preek daaraan kan wy.

Hierdie dreigende stormwolke oor die land

wolke wat uit alle oorde opsteek,

laat verskillende mense verskillend reageer.

Die regering, so lyk dit,

maak meerendeels of daar geen probleem is nie.

Hulle staan soos die spreekwoordelike volstruis

wie se kop in die vullishoop begrawe is.

Ander (in die trant van die gepeupel van die destydse Romeinse ryk)

sien weer eerder uit na die volgende skouspel in die arena:

die sokkertoernooi of die volgende Curriebeker-eindstryd,

of wat ook al die aandag sal aflei.

Hulle trek hulle terug na hulle geëlektrifiseerde eilande

en slaan hulle skotteloë hemelwaarts …

vanwaar hulle DSTV-sein sal kom.

Ander vlug na die Nieu-Seelandse eiland.

Dan is daar diegene, soos reeds vermeld,

diegene wat sê:

Ons moet ons verootmoedig …

Ons moet maak soos ons vaders van ouds gemaak het.

Ons moet ons voor die Here, die lewende God, verootmoedig.

Ons moet ‘n dag van verootmoediging uitroep soos Israel destyds gemaak het

en ons moet optrek na die tempel,

om die enige ware God in ons nood aan te roep.

Vandag word die wat haastig wil verootmoedig,

wreed ontnugter,

want kyk daar in die tempelpoort staan die profeet Jeremia

om almal wat na die tempel optrek, te waarsku,

te waarsku dat hierdie nie so ‘n ligtelike saak is nie,

dat die volk hulself as’t ware eers moes verootmoedig

voor hulle hul kon verootmoedig,

want die HERE van die leërskare sê:

Maak julle weë en julle handelinge goed,

dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.

En dis wat die volk so nodig gehad het!

En dis wat ons ook vandag so nodig het!

God se vriendelike aangesig in God se woonplek …

Dis juis daarvoor dat die volk na die tempel toe opgetrek het

om te aanbid.

Dis ‘n spesiale dag in ons Skrifgedeelte,

want ons het gelees dat die hele Juda betrokke was.

En wanneer ons vertaling die woord aanbid gebruik,

beteken dit in die Hebreeus

dat die volk hulle voor God sou neerbuig,

dat hulle hul selfs op die vloer sou uitstrek,

om hulle te verootmoedig.

Dit was dus ‘n dag van verootmoediging,

‘n samekoms by ‘n baie besonderse plek,

‘n samekoms by die HERE se huis.

Juda was ook toe in die moeilikheid.

Dinge het sleg gegaan in die land.

Die land van melk en heuning,

die land waar die meetsnoere vir hulle vaders op lieflike plekke geval het,

daardie land het onveilig geword.

Oral het die onweerwolke begin saampak.

Die vorige koning, Josia, het gesneuwel.

Aan die eenkant van Juda was daar die Egiptiese oorheersing

en aan die anderkant die opkomende mag van die Babiloniërs

en Jojakim die nuwe koning was eenvoudig net nie opgewasse vir sy taak nie.

Daarvoor was hy te selfversekerd … te onvolwasse.

Gou vergete was sy vader, Josia, se hervorminge.

Gou was die gly terug na die heidendom.

Glad en gerieflik was die weg agter die ander gode aan.

Tussen Jerusalem en Egipte was daar nou by wyse van spreke ‘n pad

soos breed en so oop soos die nuwe snelweg tussen Johannesburg en Pretoria,

om Juda uiteindelik tot ‘n Egiptiese provinsie te reduseer,

om die volk uiteindelik terug te lei na Egipteland.

Terselfdertyd lees ons in die Koningsgeskiedenis van die Aramitiese bendes

wat die land binnegeval het

en die Ammonitiese bendes

en die Moabitiese bendes.

In ons tyd vandag hier in Suid-Afrika:

transitorowers,

plaasaanvallers,

huisbraakbendes.

stakende werkersbendes …

Jojakim moes Juda destyds lei,

maar die HERE se wetboek was vergete,

daardie wetboek wat die Koning Josia weer in ere herstel het.

Vergete was die HERE se verlossing,

die verlossing uit Egipteland se slawehuis.

En daar was genoeg priesters en profete

om die jong man, om Jojakim, te ondersteun.

Daar was genoeg stemme,

stemme wat opgegaan het om te sê:

Die HERE se tempel!

die HERE se tempel!

die HERE se tempel is dit!

Ja, Juda is mos die HERE se uitverkore volk.

Kyk, ons het die HERE se woonplek hier in ons midde

en met die HERE in ons midde is daar mos geen probleem nie!

Ons geniet mos die HERE se beskerming,

ongeag wat die politiek van die dag,

ongeag die rowerbendes en die verkragters.

Ons het die HERE se huis in ons midde.

Bedrieglike woorde!

so beskryf Jeremia hierdie uitsprake.

Bedrieglike woorde uit die mond van die dominees van die dag.

Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier

deur te sê: Vrede, vrede!

Telkens hoor ons hierdie klag van Jeremia.

Telkens in hierdie profesieë van hom lees ons dit …

sy klag teen die valse profete:

Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier

deur te sê: Vrede, vrede!

terwyl daar geen vrede is nie.

So het hulle ons gepaai

toe hulle in 1992 ‘n Kodesa-vrede sonder Christus gesluit het.

Toe die professore van ons teologiese skole saam met Moor en Mohammedaan,

saam het Hindu en Jood gebid het …

vir vrede in hierdie land gebid het …

‘n Christuslose vrede!

En nou, 20 jaar later, is hierdie volk in die noute.

Nou het die stormwolke begin saampak.

Kom laat ons optrek na die tempel, sê hulle.

Kom ons roep ‘n dag van verootmoediging uit.

Die HERE se tempel!

Die HERE se tempel is dit!

Ons is mos ‘n gedoopte volk!

Ons kan mos in die skaduwee van die doopvont skuil.

Ons is mos die volk van die Gelofte en van Bloedrivier.

Ons is mos Calviniste.

Ons glo mos in God se uitverkiesing.

Hy het ons mos uitverkies.

Maar kyk wie staan daar in die tempelpoort!

Dis Jeremia.

Hoor die HERE se woord, Juda,

Juda wat optrek

om julle voor die HERE te verootmoedig,

voor julle ingaan.

Maak julle weë en julle handelinge goed,

dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.

Jeremia, Jeremia,

die ou spelbreker.

Jeremia die ou doemprofeet!

Sy naam het in die Afrikaanse taal in die woord “Jeremiades” beslag gekry,

“Jeremiades” is die gekla en die gekerm van diegene

wat maar eenvoudig net nie die positiewe in die lewe wil raaksien nie.

Vir hulle is daar geen silwer randjies nie,

net donker wolke.

Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde, mense,

so roep Jeremia,

woorde wat nie baat nie.

Jerema verwys na die aardsondes van die volk:

steel, doodslaan, owerspel bedrywe, vals sweer.

Sal julle die Here se tyd en die HERE se geld steel?

Dit gebeur aanmekaar met ons omgang met die eredienste!

Dit gebeur met ons kerklike bydraes.

Dit gebeur dat ons mekaar met woorde en gedagtes en gebare doodslaan!

Sal julle met julle sodomie en lesbianisme en saamblyery en hoereerdery owerspel bedrywe

(hierdie is dinge, Broeders en Susters,

wat in sommige gevalle openlike sanksie kry in ons Afrikaanse kerke,

in ander gevalle ooglopend deur ouers en ampsdraers toegelaat word).

Sal julle vals sweer, valse beloftes as ampsdraers en doopouers en belydende lidmate

hier voor die kansel kom aflê?

(Ek belowe om die eredienste getrou by te woon …

Ek belowe om my kind te katkiseer

en te laat katkiseer …

Ek belowe om my diensbaar te stel …

Ek belowe om die tug toe te pas …)

Sal julle agter ander gode aan loop,

die geluksgodin, die geldgod, die plesiergod, die sportgod,

en dan kom staan voor die HERE se aangesig in hierdie huis,

hierdie huis waaroor sy Naam uitgeroep is, en sê:

Ons is verlos.

Ons is beskut.

Ons is geborge.

Ons soek tempelveiligheid, sê Jeremia,

maar ons voel vere vir tempelheiligheid!

En as dit die geval is,

dan word hierdie tempel niks anders as nog ‘n bende-wegkruipplek nie,

‘n spelonk van moordenaars,

‘n rowersnes.

Dis hoe die HERE Jesus die tempel in sy tyd beskryf het, Geliefdes.

In die woorde van Jeremia het Hy dit as ‘n rowersnes beskryf.

En daardie tempel het geval.

Net soos die tempel in Jeremia se tyd geval het

en Jerusalem is verwoes

en die volk is weggevoer in ballingskap.

Daardie tempel het onder God se oordeel gestaan.

Net soos die Afrikaner se gereformeerde strukture in hierdie land onder God se oordeel staan!

Hierdie kerkgebou is beslis geen plek van veiligheid nie.

Die banke wat Sondag na Sondag leeg staan …

die banke wat Sondagaand na Sondagaand leeg staan …

sal nie op die dag van besoeking enige skuiling bied nie.

Jeremia herinner die volk en ons aan die gebeure in Samuel se tyd

toe die ark en die heiligdom nog in Silo was.

Toe Eli se twee hoererende priesterseuns gereken het

dat hulle met God se ark in hulle midde die Filistynse bendes die hoof kon bied.

Hofni en Phineas en Eli het almal op een dag gesterf.

En die ark was daarmee heen,

weggevoer as Filistynse buit.

Sonder ware … ware verootmoediging,

sal ‘n dag van verootmoediging ook nie help nie.

Trouens, u weet dit al.

Ek is seker u het dit al gehoor.

Waar begin God se oordeel?

Dit begin by die huis van God!

As ons die vrees vir die HERE verloor het,

as ons daardie vrees nie meer het nie, Geliefdes,

dan moet ons nie verbaas wees

dat ons lewens deur ander vrese oorheers word nie.

Dan moet ons die aanslae verwag

van die Aramitiese bendes

wat die land binnegeval het

en die Ammonitiese bendes

en die Moabitiese bendes.

Iets het verander met die koms van Christus

en dit wat die HERE se profete, Jeremia en die ander die heel tyd gesê het,

dit het helder en duidelik geword.

Die HERE kan nie in strukture vasgevang word nie,

of dit nou tempelstrukture is,

of watter ander strukture daar ookal is.

Die tempel of die kerk gaan nie hierdie land en hierdie volk red nie.

Net die HERE kan ons red

en julle … dis hoe die apostel Paulus dit aan die Korintiërs stel,

julle, die gelowiges, julle is nou die tempel van God.

Dis in julle dat God se Gees woon

en as julle en julle liggame nou God se tempel is,

dan moet julle heilig leef!

Julle is nou lewende stene in God se tempel,

so skryf die apostel Petrus in sy eerste brief.

Laat julleself opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom.

Julle is duur gekoop deur die kosbare bloed van Christus

en soos Hy wat julle gekoop het, heilig is,

só moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word.

Met ander woorde:

Moenie Christus se bloed deur julle gedrag minag nie.

Moenie Christus se bloed deur julle gedrag goedkoop maak nie.

So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel:

Maak julle weë en julle handelinge goed,

dat Ek julle kan laat woon in hierdie huis.

ook in die land wat aan julle vaders gegee het,

van eeu tot eeu.

As ons nie daaraan steur nie,

as ons nie aan Jeremia steur nie,

as ons voortgaan om die HERE van die leërskare te terg

met bedrieglike woorde,

as ons voortgaan om die HERE van die leërskare te terg

met ‘n valse verootmoediging,

dan kan ons ook voor Sy aangesig weggewerp word,

dan kan ons ook onder Sy tugtende hand kom.

U weet dat hierdie God ons lief het, Broeders en Susters,

u weet dit.

Ons bely dit elke Sondag,

maar ons lees ook,

ons lees ook in Hebreërs 12

dat hierdie God sy kinders tugtig,

soos ‘n Vader sy kinders tugtig,

juis omdat Hy hulle liefhet.

Wil u weet hoe God sy kinders kan tugtig?

Dink u

dat hulle sal wegkom met ‘n ligte vermaning?

Dink u

dat hulle sal wegkom met ‘n raps op die boud?

Gaan lees asseblief die Klaagliedere van Jeremia,

‘n kort boek van vyf hoofstukke in die Bybel.

Lees hoe die HERE sy ongehoorsame kinders getugtig het!

Lees hoe maak die HERE met die volk wat Hy liefhet.

Dan sal u saam met my sidder en beef.

Daar is net een silwer randjie in daardie groot en swaar donker wolk,

wat Jeremia beskryf .

Dis die profeet se gebed aan die einde van Klaagliedere:

Bekeer ons tot U, HERE,

so bid Jeremia.

Bekeer ons tot U,

dan sal ons ons bekeer … (Klaagliedere 5:21).

Mag dit ook ons gebed vandag wees.

Amen.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑