Skrifoordenking: Geen toevlug buite Christus (Joh.6:68)

skape

Lees: Job 28:20-28

Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” – Joh.6:68 

Dit is goed dat die Evangelie ons nie alleen voor Jesus se vraag stel nie, maar ook voor Simon Petrus s’n: “Here, na wie toe sal ons gaan?”

Kom ons maak nou maar soos die geleerdes en die wetenskaplikes.

Kom ons deursoek die heelal en beproef die lewende wesens en stoflike dinge.

Kom ons deurskou ons eie harte en ontleed ons eie behoeftes.

Ons raadpleeg die sielkundiges en die wyses van die wêreld. Ons gaan soek die dokters en spesialiste op. Daar is mediese deskundiges en tegniese deskundiges en godsdienstige deskundiges en wysgere en digters en skrywers en dromers. Hulle almal het hulle dissipels. Men­se stroom na hulle met hulle honger na kennis en rus.

Psigiaters se spreekkamers is vol en senuweeklinieke is te min en te klein. Filosowe stig hulle skole en tel hulle volgelinge by miljoene. Filosofiese denkrigtings spring op soos paddastoele en verdwyn ook net so vinnig. Die sonstrale van die werklikheid brand dit tot stof en dit ver­dwyn in die vergetelheid… Die sterrekykers en waarsêers is ook in ons tyd in besondere aanvraag…

Kom ons gaan met ons diepste hartenood na hulle toe. Ons noem dit frustrasie. Die Bybel praat liewer van honger en dors na die innerlike mens. Terapie of ontvlugting of wat u dit ook al wil noem, kan soms welkome verligting bring. Verdowing en bedwelming skep hallusinasies en sinsbedrog… Ons kom egter nie uit die ellendige kringloop nie.

“Na wie toe sal ons gaan?”

Die volkere van die ou wêreld het skimme aanbid in hulle afgode.

Die moderne mense doen nog presies dieselfde.

Hulle bou hulle hoop en ideale op hersenskimme… Die haat en selfsug en agterdog en eieliefde bly… Dit groei aan tot ‘n afskuwelike monster wat die mensdom wil verteer.

Só gaan dit met die mens wat die rug op God gedraai het… “Here, na wie toe sal ons gaan?” Sien u miskien êrens iets of iemand wat Hom kan vervang?

In ons eeu sien ons duidelik dat die mens buite God op ‘n doodlooppad is.

Ten spyte van tegniese hoogvlugte en eeue van kultuurbou bly die mens eensaam en gejaagd – alleen met die vraag sonder ant­woord in die hart. Troosteloos is die uitsig vir hierdie lewe. Afgryslik is die verwagting vir die lewe ná die dood.

Na wie toe sal ons gaan? Jesus alleen het die ewige lewe, omdat Hy die dood oorwin het.

“U het die woorde van die ewige lewe.” (Joh. 6:68)

Daar het u die enigste antwoord op die nood van die mens van alle eeue – ook die mondige mens van die laat twintigste eeu. Het ons die antwoord op die dood, dan het ons geen nood meer nie. En Jesus het die antwoord, sê Petrus. En waar anders kry ons dit? Ondanks al die mediese wonders, staan die dood nog voor elke mens, soos ‘n afskuwelike spook… een of ander tyd haal hy jou in.

Wie leef daar wat die dood nie eenmaal sal aanskou nie?

En dit is selfs nie die ergste nie. Indien die dood, wat ons dood noem, tog maar rus en vergetelheid bring… Die mense wat in die selfbedrog lewe, dat met die dood alles verby is, word egter wreed ontnugter. “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie…” (Openb. 14). Vir die mense is die rus van die dood geen rus nie – hulle sterwe vir ewig son­der om ooit klaar te kry…

“Na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.”

Daar het ons die enigste antwoord op alle mense se diepste nood.

Hy, Jesus, vertel van die ewige lewe. Hy preek dit. Maar Hy doen veel meer as dit. Hy gee dit. Hy gee dit selfs deur te spreek. Sy woorde is lewewekkend. Dit laat mense opstaan uit die dood van sonde en misdade.

Die krag van die gepredikte Woord blyk duidelik uit ‘n visioen wat die profeet Esegiël sien. Hy sien ‘n dal vol dor en bleekgebrande doodsbeendere. Dan kry hy die opdrag om vir hulle te preek. “En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk – ‘n beroering! En die bene het nadergekom, elke been na sy been …”

Die uiteinde was dat die volk van die Here lewend voor Esegiël staan… Daarmee illustreer die Here die krag van sy Woord … Sy Woord wek lewe in dooie harte. Mense kom tot ‘n nuwe lewe – die ewige lewe.

Daarom kan Paulus later roem: “Ek skaam my nie oor die evan­gelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elk­een wat glo” (Rom. 1:16).

Die Evangelie is ‘n krag wat werk in elkeen wat glo. Soos ‘n mens voedsel inneem en daardeur lewe, só is die Woord van Jesus Christus vir ons spyse vir ons siel.

Deur sy Woord kom Jesus tot ons en maak woning in ons en ons het die ewige lewe.

Mense wat dood was in die misdade en die sondes, staan op in ‘n nuwe lewe.

Hy het gesê dat ons moet lewe en kyk, ons leef tot in alle ewigheid.

Deur sy Woord, bevestig deur die Heilige Gees, werk Hy die lewe in ons. Waar sy Woord verkondig word, is sy Gees ook aanwesig, want die Woord is die swaard van die Heilige Gees.

Moet tog nooit die verkondiging van sy Woord ligskat nie.

Maak erns daarmee, want dit beteken vir ons die ewige lewe.

Bron: ds. MJ Booyens, Elke dag in die Lig, dagstukkies uit die Evangelie volgens Johannes

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: