KREMASIE OF BEGRAFNIS
deur Bouwe van der Eems
(Bouwe is ‘n lidmaat van die GK Belville en het hierdie inleiding gelewer by die Bybelkring van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad. Sien ook die onlangse artikel oor hierdie onderwerp in Die Kerkblad van April 2014: “Lykverbranding en opstanding uit die dood”, deur prof. Paul de Bruyn; asook die volgende bronne om te raadpleeg oor die onderwerp: Kremasie)
INLEIDING
Kremasie is om die liggaam van iemand wat pas gesterf het te verbrand in plaas daarvan om dit te begrawe. Omtrent 30 jaar gelede was dit algemene praktyk onder gelowiges om te begrawe, maar nou het dit algemeen geword dat kerkmense hulle laat verras?
Voor die onderwerp van kremasie ondersoek word, moet die vraag gevra word of dit belangrik is om die saak te beoordeel. Beoordeel ons kremasie om ons nuuskierigheid te bevredig, of is dit ‘n saak wat noodsaaklik is vir almal om van kennis te neem?
Daar is verskeie redes waarom hierdie saak belangrik is vir gelowiges om van kennis te neem:
1) Alle gelowiges gaan uiteindelik sterf, en daarom moet almal ‘n besluit neem oor wat met hulle liggaam gedoen moet word as hulle sterf.
2) Volgens Sondag 1 van die HK behoort ek met liggaam en siel , in lewe en sterwe aan Jesus Christus. Dit impliseer dat ek met liggaam in MY sterwe ook aan Christus behoort, en dat dit ook deel is van my enigste troos.
3) Versorging van die dooie liggaam is ‘n saak waaraan die Skrif uitvoerig aandag gee. Belangrike voorbeelde hiervan is die begrafnisse van Sara, Josef, Saul en Christus.
4) Die dooie liggaam is belangrik vir God. As dit nie so was nie, waarom was daar dan ‘n woordewisseling tussen die Satan en die engel Migael oor die dooie liggaam van Moses, waarvan ons in Judas 9 lees?
IS KREMASIE ‘N MORELE SAAK?
DiT is die vraag. Is kremasie ‘n praktiese of middelmatige saak of is dit ‘n morele saak. As dit ‘n praktiese saak is, dan is dit ‘n saak wat op grond van nuttigheid beoordeel word. En praktiese sake word op grond van kostes, kwaliteit, effektiwiteit beoordeel. Sake soos watter motor voldoen die beste aan my behoeftes, ‘n Sedan of ‘n 4×4. Die antwoord op ‘n praktiese vraag is dus goed of sleg. Oor praktiese sake gee die Skrif nie vir ons antwoorde nie.
Morele sake daarenteen handel oor wat reg en verkeerd is. Menslike handelinge wat moreel verkeerd is, is handelinge wat met voorbedagte rade gedoen word in stryd met die Skrif.
Die Skrif het baie te sê oor kremasie. Daar word nie slegs voorbeelde gegee van gelowiges wat hulle dooies begrawe nie, maar ook bevele om te begrawe. As die Skrif ‘n uitspraak gee oor ‘n saak, dan is dit ‘n morele saak.
DIE GESKIEDENIS VAN KREMASIE
Vanaf die begin van die geskiedenis het mense begrawe en verbrand. Die Jode het hulle dooies begrawe. Die ou Germane, die antieke Grieke en die Romeine het hulle dooies verbrand.
Die redes vir verbranding was dikwels godsdienstig van aard. Die ou Germane het verbrand om die bose geeste met die vlamme te verdryf. Op grond van die filosofie van Plato het die Grieke ook lyke verbrand. Aangesien die liggaam beskou is as ‘n kerker van die siel, is die liggaam verband met die doel om die siel te bevry. In die oosterse boeddhistiese lande word lyke ook verbrand om die siel te bevry en te reinig met die oog op re-inkarnasie.
Die Christene het egter hulle dooies begrawe. Dit is hoe die katekombes ontstaan het in Rome. Soos Europa al hoe meer gekersten is, het begrafnis al hoe meer algemeen geword. Die dooies is dikwels by die kerk begrawe, en hieruit het die kerkhowe ontstaan. In die jaar 785 het Karel die Grote ‘n wet uitgevaardig waarvolgens die verbranding van dooies verbied is. Vir meer as ‘n duisend jaar was begrafnis algemene praktyk in Europa.
Eers in die laat 1800’s het daar stemme opgegaan wat verbranding gepropageer het. Die wat kremasie propageer, argumenteer vanuit ‘n materialistiese uitgangspunt en gee praktiese redes hiervoor, soos bv. voorkoming van siektes. Sedertdien het kremasie al hoe meer algemeen geword in westerse lande.
MORELE REDES TEEN KREMASIE
Christene is oorwegend van mening dat kremasie moreel verkeerd is. Hiervoor word argumente op grond van die Skrif en die belydenis gegee.
Skrifargumente
Die Bybel berig uitvoerig oor wat gelowiges met die dooie liggame van hulle geliefdes doen. Die eerste voorbeeld wat gegee word is Abraham wat sy vrou Sara in die grot van Magpela begrawe. Abraham self word ook daar begrawe asook sy seun Isak en sy vrou Rebekka. Jakob word al die pad van Egipte gebring om ook in die grot van Magpela begrawe te word. In die boek Konings is dit amper soos ‘n refrein wanneer vermeld word dat die konings by hulle vaders begrawe word.
Behalwe dat die gelowiges in die Bybel die voorbeeld stel dat hulle dooie liggame begrawe, stel hulle ook die voorbeeld dat hulle die dooie liggame by familie begrawe. Hulle doen selfs baie moeite daarvoor. Jakob word al die pad van Egipte vervoer na Magpela om daar begrawe te word by sy familie. Simson se familie het sy liggaam gaan soek tussen die duisende dooie liggame in die tempel van Dagon, om hom te gaan begrawe in die graf van sy vader.
Ons het nie slegs voorbeelde van gelowiges nie, maar ook bevele van God. In Deut 21:22,23 staan daar:
“En as in iemand ‘n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ‘n paal ophang, dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.”
As ‘n bevel gegee word om iemand wat ‘n halsmisdaad begaan het te begrawe, hoeveel te meer geld dit nie vir mense wat nie so ‘n misdaad begaan het nie?
Verder begrawe God self ook mense. Deut 34:5,6:
“Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die HERE. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.”
God sien ook toe dat Jesus se liggaam nie slegs begrawe word nie, maar ook dat hy in die graf van ‘n ryk man begrawe word.
Aan die ander kant is dit deel van groot sondaars se straf dat hulle nie begrawe word nie. Isébel se dooie liggaam word deur die honde opge-eet. God beveel ook dat mense wat ‘n baie erge sonde begaan het, verbrand moet word om die doodstraf te verswaar. Lev 20:14,
“En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.”
Die Skrif gee dus nie slegs die voorbeeld nie, maar ook die bevel dat gelowiges hulle dooies moet begrawe, asook die bevel dat diegene wat skandelike dade gepleeg het verbrand moet word.
Argumente vanuit die belydenis
Die historiese feit dat Christus begrawe is, staan in al ons belydenisgeskrifte. In die ekumeniese belydenisse asook die gereformeerde belydenisse. Hierin behoort gelowiges Christus na te volg.
Volgens Sondag 1 van die HK is dit deel van ons enigste troos dat ons liggaam in sterwe aan Christus behoort. Ons dooie liggaam behoort dus aan Christus, en daarom moet ons dit hanteer soos Christus voorskryf. Christus self stel die voorbeeld om die dooie liggaam te begrawe, en daarom behoort ons sy voorbeeld hierin te volg.
In 1 Kor. 15:37-39 word die liggaam wat begrawe word vergelyk met ‘n saadkorrel wat geplant word om op die laaste dag weer opgewek word. As die gelowige hom laat begrawe is dit ook ‘n getuienis dat hy hoop om weer opgewek te word en ‘n nuwe liggaam ontvang uit die saad van die ou liggaam wat vergaan het.
Uit die geskiedenis
Die kerkgeskiedenis toon aan dat die kerk die beginsels van begrafnis ook so verstaan het. Een van die kenmerkende eienskappe van die vroee kerk was dat hulle hul dooies begrawe het, terwyl dit algemene praktyk was onder die Romeine en Grieke om dooies te verras. In sy video “How should we then live?” begin Francis Schaefer om uit te wys dat die teenwoordigheid van grafte juis ‘n aanduiding was dat ‘n dorp Christelik was. Deel van die bekering van die vroeë Christene was dus om die praktyk van begrafnis in te voer.
MODERNE CHRISTENE SE REDES VIR KREMASIE
Baie hedendaagse Christene is egter ten gunste van kremasie. Kremasie het oor die laaste dekades algemene praktyk geword onder Afrikaners. Daar is verskeie redes wat hierdie Christene daarvoor aanvoer:
1) Grafskending : Grafte word dikwels geskend. Grafstene, kiste asook liggaamsdele word soms uit grafte gesteel, en herstelwerk aan grafte kan baie duur wees.
2) Veiligheid : Daar is dikwels ongure karakters wat in begraafplase rondhang. Soms is begraafplase ‘n plek waar okkultiese bedrywighede plaasvind. Dit maak dit onveilig vir naasbestaandes om die grafte te gaan besoek.
3) Kostes : ‘n Begrafnis is heelwat duurder as ‘n kremasie.
4) Omgewingsbewaring : Indien begraafplase nie deeglik beplan word nie, kan skadelike bakteries in onbindende liggame die grondwater besoedel.
Al hierdie redes is prakties van aard is, maar daar word ook geargumenteer dat hierdie argumente morele aspekte het. Daar word gevra of dit nie meer moreel verantwoordelik is om die menslike oorskot te bewaar op ‘n veilige plek nie? Is dit nie ook moreel reg om as rentmeester spaarsamig met ons geld om te gaan nie? Behoort ons nie God se skepping te bewaar nie?
Die Christene wat kremasie voorstaan moet ook redes gee waarom hulle nie die voorbeeld van die Skrif volg nie. Die redes wat hulle hiervoor aanvoer is die volgende:
1) In die Bybel word begrafnis beskryf as die wyse waarop die dooie liggaam gehanteer is in Bybelse tye. Alles in die Bybel is egter nie normatief vir Christene nie. Wanneer die Bybel gehanteer word, moet daar onderskei word tussen kernsake en bysake. Kernsake is dinge wat te doen het met die Drie-enige God en sy koninkryk en Jesus Christus. Kremasie is egter nie ‘n saak wat die kern van die Bybel raak nie. Daarom is dit wat die Bybel leer oor die hantering van die dooie liggaam nie normatief nie.
2) By die uitleg van die Skrif moet in ag geneem word dat dinge in die Skrif sekere kultuurhistoriese betekenisse gehad het in die tyd waarin dit geskryf is. Die metode waarmee gelowiges in bybelse tye begrawe is, is in baie opsigte verskillend van die metode waarmee Christene vandag begrawe word, en ons kan daarom nie die gebruike van daardie tyd as normatief beskou nie.
3) Ons kan nie die wyse waarop Christus begrawe is beskryf as navolging van Christus nie. Die navolging van Christus kan nie simplisties gehanteer word nie. Navolging van Christus is ‘n geloofsverbondenheid met, ‘n geloofsgehoorsaamheid aan Christus en ‘n geloofstryd saam met Christus.
ONGELOWIGES SE REDES VIR KREMASIE
Sekulêre westerlinge kies oorwegend vir kremasie vir die volgende redes:
1) Begraafplase is besig om vol te word en daar is ‘n skaarste aan grond beskikbaar vir hierdie doel.
2) Grafte in ‘n gebied wat ryk is aan ondergrondse water kan lei tot kontaminasie van die water. Verassing is meer higiënies as begrawe.
3) Begrafnis is duurder as verassing.
4) Begraafplase neem grond in beslag, wat gebruik kan word vir landbou om voedsel te verbou.
5) Grafte word in elk geval na 15 – 20 jaar opgeruim, en dan word die reste verbrand of in ‘n gemeenskaplike gat gegooi. Hoekom kan dit nie maar van die begin af gedoen word nie?
Daar is egter ook praktiese nadele verbonde aan verassing:
1) Dit kan soms gebeur dat dit na die dood van ‘n persoon nodig is om ‘n geregtelike doodsondersoek te doen om die oorsaak van die dood of die identiteit van die persoon te bepaal. Indien die dooie persoon verras is, is so ‘n nadoodse ondersoek heeltemal onmoontlik. Indien die persoon begrawe is, kan daar nog lank na die dood heelwat ondersoeke gedoen word en afleidings gemaak word.
2) Verassing het ook maar indirek ‘n invloed op die omgewing, aangesien heelwat energie gebruik word om liggame te verbrand.
OPSOMMING
Uit die voorbeelde en bevele in die Skrif kan afgelei word dat gelowiges hulle dooies behoort te begrawe. Gelowiges moet hulle egter vergewis van die argumente wat ongelowiges en ook Christene aanvoer ten gunste van kremasie.
[Pro Regno nota: sien in die besonder ds. Hendrik Hefer se boekie wat die praktiese redenasies ten gunste van kremasie beantwoord. Ek kan ook noem dat hier in my gemeente een van die lidmate wat probleme gehad het met die praktiese sake van begrafnis, hul eie familie begraafplaas op hul plaas begin het, waar ‘n paar van hul geliefdes nou al met begrawe is. So, ook wat praktiese kwessies betref, die gelowige (boer) maak ‘n plan om gehoorsaam te wees aan die Skrif volgens die belydenis.]
“Daarom kan verassing onder normale omstandighede niks anders as ongehoorsaamheid aan God beteken nie …. Een ding is seker: die smaad van die graf word nie deur verassing weggeneem nie, maar alleen deur die opstanding uit die dood van Jesus Christus vir ons bewerk het.” – prof. Paul de Bruyn (Die Kerkblad, April 2014, bl.19)
https://reformedperspective.ca/cremation-why-and-why-not/