DEUR EEN DIE DOOD VIR ALMAL
DEUR DIé EEN DIE LEWE VIR BAIE
Skriflesing: Josua 7 en Romeine 5:12-21
Preekteks: Josua 7
Preekopname (GK Carletonville, 2016-06-05):
Aflaai: Josua 7
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Die tema is: Deur een se ongehoorsaamheid het die dood en oordeel tot almal deurgedring, maar dank God, die Een se gehoorsaamheid lei tot die lewe en genade vir baie !
Met die verowering van Jerigo,
gee die Here ook spesifiek opdragte wat die volk moet nakom.
Dit het ons vorige keer gehoor daar uit Jos.6:
16 En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. 17 Maar die stad met al wat daarin is, moet ‘n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. 18 Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. 19 Maar al die silwer en goud en die koper– en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom.
Hul moes alles in die stad met die ban tref, behalwe Ragab,
en die silwer en goud moet aan die Here toegewy word.
Dit gebeur egter nie, want in vers 1 van ons tekshoofstuk,
lees ons dat Agan van die bangoed geneem het, en daarom:
“… (het) die toorn van die HERE ontvlam … teen die kinders van Israel.” (v.1)
Onthou nou, ons die lesers, weet wat agter die skerms gebeur het,
van Agan se verbondsoortreding,
maar Joshua en die hele Israel weet hier nog van niks.
In verse 2 tot 4 lees ons dat Joshua voorberei het vir die slag teen Ai …
maar, “hulle moes vlug voor die manne van Ai”,
en 36 man is doodgeslaan.
Die gevolg op die gemoed van Israel: v.5, “die volk se hart het versmelt en soos water geword.”
Dit gaan nie so erg oor die getal man wat verloor is nie,
maar daaroor dat die Here die belofte gegee het van die land,
en dat hul dit sal inneem,
dat Hy sy vyande in hul hand sou gee, bv 1:5 (lees)
maar nou die vernederende neerlaag.
Ja, daar was:
die oorwinning oor Jerigo
God se seën
En nou skielik dit … ?
Het God hul dan verlaat ?
‘n Wrede lokval vir hul gestel ?
Hulle is verward, verslane, platgeslaan.
En Joshua wend hom tot die Here met een groot vraag: WAAROM ?
Wat gaan aan ?
Is ons nie in verbond met U nie, u beloftes ?
Ons lees daarvan in vers 6 ev:
6 Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi. 7 En Josua het gesê: Ag, Here HERE, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? Het ons tog maar besluit om oorkant die Jordaan te bly! 8 Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? 9 En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen?
Maar nou belangrik, Joshua verootmoedig hom voor die Here, wys op hul ellende,
maar bo alles vra hy: wat van die eer van God se Naam ?
En dan openbaar die Here vir Hom die probleem:
10 Toe sê die HERE aan Josua: Staan op; waarom tog lê jy op jou aangesig? 11 Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg.
Ja, daar is sonde onder die volk
Agan het die verbond oortree.
En omdat die volk saam verantwoordelik is vir mekaar,
daarom lei almal onder die ongehoorsaamheid van die oortreding van slegs een man, een gesin.
Joshua is daarom dadelik stil, en besef dit is nie God se skuld nie.
Die volk word bymekaar geroep,
en Agan en sy familie word aangewys as die oortreders.
En Hy erken dit dan ook:
20 Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen. 21 Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.
Agan, sy familie (vermoedelik hom gehelp) en al sy besittings word gestenig, vuur verbrand, klippe op hul gegooi.
En dan eers lees ons, na Agan sy familie geoordeel is, v.26:
Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn.
Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe.
Die resultaat: in Josua 8 (volgende preek) gaan ons lees hoe Israel Ai verslaan het, en ingeneem het, 12 000 verslaan en die stad is met die ban getref.
Toepassing
Geliefdes, wat moet ons vandag uit hierdie heilsgeskiedenis leer.
Ek wil u wys op 3 sake:
Eerstens,
Die erns van die sonde en dat God sonde (nogsteeds!) ernstig opneem
Een man, een gesin het oortree, maar die Here het nie verby dit gekyk nie.
Dit het sonde vir die hele volk geword,
en veroorsaak dat die hele volk in ellende ge-eindig het.
Onthou hoe die sondeval plaasgevind het: ‘onskuldige’ vrug ge-eet, dit was nie moord, godslastering, verkragting nie.
Maar dit was verbondsverbreking, nie God se bevel gehoorsaam nie,
en dit het God se troon oor hul gebring.
Vandag is die vraag: hoe ernstig vat ons sonde, in ‘n tyd wat dit bespot en afgelag word ?
Of kyk ek maar net verby my eie sonde, en blaas my medemens se sonde op ?
Dink ons: ag, ons is mos kinders vd Here, ons is mos kerkmense, die Here kyk verby ons sondes waarin ons volhard, moedswillig is nie van wil bekeer nie:
‘groot sondes’ soos egbreek, wellus, dronkenskap, sodomie, diefstal aanspreek,
‘klein sondes’ soos bitterheid, haat, onvergewensgesindheid, skinder, onverantwoordelikheid, leuens … akkomodeer ?
Tweedens,
Leer hierdie gedeelte, dat daar nie so iets is soos ‘individualisme’ in die gelowiges/ kerk van Christus nie.
M.a.w., wat ek doen by die huis of my eie verhoudingslewe, of daar by die werk, raak my gesin en gemeente.
As ek iets verkeerd of sondig wil doen, dan raak dit nie net vir my nie.
Die Here hou die hele volk verantwoordelik vir een van hulle se optrede:
12 En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self ‘n ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie. 13 Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE, die God van Israel: Daar is ‘n ban in jou midde, Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie.
‘n Man kan nie maak wat hy wil in sy lewe nie, want dit raak sy vrou en kinders se lewe. ‘n Lidmaat kan nie maar lewe soos hy of sy wil nie, want dit raak die hele gemeente.
Paulus skryf in die NT gemeente, Korinthe, 1 Kor.5:
6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? 7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
En een hoofstuk later skryf Paulus dan juis waarskuwend, in 1 Kor.6:
10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
Slegte gesprekke bederf goeie sedes, 1 Kor.15:33!
Daarom die belangrikheid om mekaar aan te spreek, vermaan in liefde,
vermanende prediking, die onderlinge én kerklike tug is nodig = ware liefde!
Lees ook KO art.71 en verder oor die wyse.
Derdens,
Dit bring ons juis by die laaste saak wat ons moet leer, God is ook genadig, barmhartig en vergewensgesind:
Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie. V.13
en, vers 26: Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn.
Ons was almal van nature, onder die ban, die vloek, omdat ons gesondig het, ons verdien om verdelg te word deur God se oordeel oor ons sonde, nie net van verlede nie, maar elke dag.
Dit wat Agan en sy gesin getref het, verdien elkeen van ons weens ons sonde (lees 7:25).
Maar, die wonderlike nuus, Christus het gekom, om die ban, die vloek in ons plek te dra, DIT WAT ONS LAASWEEK GEHOOR HET IN DIE WOORD/PREDIKING, MAAR OOK GEDENK HET AAN DIE HERE SE TAFEL.
Soos die sonde van een, Adam/Agan, meer getref het,
vir meer gevolge gehad het as net hulself,
Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is … (Rom.5:20a),
so is die wonderlike troos van die genade, die Evangelie:
…. so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word !
Wat ‘n wonderlike troos, wat ons alleen deur die geloof ontvang (Ef.2:8-10).
Christus ons enigste troos en redding van God se regverdige heilige banvloek oor al ons sondes (Gal.3:13; 2 Kor.5:21).
Maar belangrik, laastens, geliefdes,
Ons word gered van die banvloek deur Christus,
sodat ons nou afstand kan doen van alles wat sleg is,
nie daarin voorlewe nie, maar deur die geloof deur die krag van die Heilige Gees teen die sondes te stry, dit wat ons ook gelees het in Rom.5:21:
…. sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.
Mag die Here ons help om deur dié Een in dankbaarheid te lewe !
Amen.
Leave a Reply