TIEN STELLINGS OOR DIE VREDERAAD EN GENADEVERBOND VAN GOD

TIEN STELLINGS OOR DIE VREDERAAD EN GENADEVERBOND VAN GOD

deur prof. dr. SJ van der Walt

[Bron: Geloofsleer en Sedeleer, Pro Rege Pers, bl. 92-98. nota: ek plaas hierdie (en ander) artikels hier nie omdat ek noodwendig met al die detail saamstem nie, maar wel die basiese grondtrekke, soos met alle artikels, preke, boeke, bronne, ens, moet dit gelees word in die raamwerk van Hand. 17:11.]

1 Wat ons verstaan onder die Vrederaad (pactum salutis)

Ons kan dit ook noem die heilsraad van God. Dit sien dan op die ewige besluit en plan van God Drie-enig om die wêreld te verlos van sonde en dood en die ewige Vrederyk te bewerkstellig. Hierin sou die Vader dan op die gesette tyd Sy Seun stuur om die wêreld te verlos deur die sondes aan die kruis te versoen. Die Seun het van Sy kant weer vrywillig onderneem om as Borg en Middelaar in te tree en Sy lewe te gee as ‘n rantsoen vir die sonde, en die Heilige Gees het onderneem om die versoeningswerk van Christus toe te pas en uit te voer in die heiligmaking en heerlikmaking van Gods kinders en van die wêreld. Hierdie ooreenkoms of vredeverbond is in die ewigheid deur die drie Persone gesluit, voor daar nog ‘n wêreld geskape was. Dis ‘n algeheel vrywillige, selfbeplande liefdesdaad van die drie-enige God.

2 Die heilsraad is ewig

God het ons in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om kinders van Hom te wees (Ef. 1:4-6; vgl. ook 2 Thess. 2: 13; 2 Tim. 1; 9; 1 Petr. 1: 2, 20). Net soos God as ‘t ware die skepping met Homself beplan en beredeneer het (Gen. 1: 26) so het die drie Persone in die Goddelike Wese ook die heil en redding van die wêreld beplan in federale verband en ooreengekom wat elkeen sal doen tot redding van die wêreld. Die verlossing en saligheid is dus nie dinge wat van toevallige faktore en moontlike ontwikkelinge in die toekoms afhanklik is nie, maar lê vir ewig vas in Gods heils­raad.

3 Die vrederaad en Christus

As Skeppingsmiddelaar was Christus — so kan ‘n mens sê — aangewese om ook Herskeppings-middelaar te wees. Christus was die Woord (Logos), deur wie God geskep het (Joh. 1: 1, 3, 14). Daarom kon Hy dan ook sê: „Voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8: 58). Terwyl Hy aan God gelyk was, dit wil sê self God was, het Hy Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem (Filp. 2: 6, 7). En dit het Hy geheel en al vrywillig op Homself geneem (Ps. 40: 8, 9). As Seun van God het Hy die Kneg van die Here geword (Jes. 42: 1) en is Hy volgens die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer om gekruisig te word (Hand. 2: 23). Die redding van die uitverkorenes is dus in Christus vasgestel van voor die grondlegging van die wêreld af (Openb. 13:8).

4 Christus deur die Vader gestuur

In die vrederaad was dit bepaal dat Christus in die volheid van die tyd deur die Vader gestuur sou word om die wêreld te red (Gal. 4: 4; Joh. 6: 38-40). Hy het gekom om die werk wat die Vader Hom gegee het, te doen (Joh. 17; 4). En hierdie werk is deur die Trooster, die Heilige Gees, afgerond en gefinaliseer (Joh. 14: 26; Jes. 61: 1-3). As gestuurde van die Vader noem Christus die Vader Sy God (Joh. 20: 17). Al is Hy kneg van God, het Hy nogtans geheel vrywillig Sy lewe afgelê (Joh. 10: 17, 18). En God het onderneem om Hom ryklik te beloon vir Sy werk (Ef. 1: 20-22; Fil. 2: 9-11; Ps. 2: 8; Hebr. 1: 5, ens.).

5 Christus het dadelik na die sondeval as Verlosser ingetree

Waar Christus Homself in die ewige vrederaad van God verbind het om as Verlosser in te tree, het Hy dit dan ook gedoen onmiddellik na die sondeval. Hy het dadelik, as die tweede Adam, die plek van Adam ingeneem (Rom. 5: 12-21; 1 Kor. 15: 22) .God het die genadeverbond met Adam opgerig in Sy „saad”, dit is die beloofde Christus (Gen. 3: 15). En op grond van hierdie beloofde saad wat die kop van die slang sou vermorsel, is Adam en Eva gered, omdat hulle geglo het. En so het Christus prolepties (voor-uitgrypend) reeds in die Ou Testament opgetree as die Engel van die Here, die Verlosser van Israel (Ex. 3: 2e.v.; 32: 34; Jes. 63: 8, 9; Joh. 8: 56; 1 Kor. 10: 4). Christus het dus die Middelaar van die genadeverbond geword (Hebr. 8: 6; 7: 22; 9: 15; 2 Kor. 5:20).

6 Vir Christus was die genadeverbond ‘n werkverbond

Toe Adam in die sonde geval het, het God nie daarmee Sy eis van geregtigheid laat val nie. Die mens sou en moes nog deur gehoorsaamheid die ewige lewe verwerf. Maar omdat Adam daartoe nie in staat was nie, sou Christus dit doen. Vir ons is die saligheid dus enkel onverdiende genade, maar vir Christus was dit ‘n loon wat Hy verdien het. Die eis wat aan Christus gestel is, was dat Hy vlees sou aanneem (Hebr. 2: 14, 15). Verder moes Christus Hom onder die wet stel (Ps. 40: 8; Matt. 5: 17, 18; Joh. 8: 29) en moes Hy die Ias van die toorn van God teen die sonde dra (Jes. 53; Joh. 1: 29; Kol. 2: 14) en deur Sy Gees Sy volk reinig en toeberei vir die heerlikheid (Joh. 36: 1.3-15; 17: 19-22). Aan die ander kant weer het die Vader Hom ‘n ryke loon belowe op Sy werk (Ps. 2:8; Jes. 53: 10-12; Joh. 17:4, 5, 24; Ef. 1:20e.v.; Fil. 2: 9e.v.).

7 Verskil tussen vredeverbond (raad) en genadeverbond

AIhoewel die genadeverbond wat God met Abraham opgerig het, gedra en bepaal word deur die ewige vrederaad, moet ons die twee tog nie identifiseer nie. Die vredeverbond of heilsraad van God is iets wat tot God beperk bly tussen die drie Goddelike Persone. Die genadeverbond is ‘n verbond tussen God en Sy skepsel, naamlik die mens. As Christus in die vrederaad onderneem om die wêreld te verlos, dan doen Hy dit as Seun van God, as God self en nie as die vleesgeworde Woord nie. In die genadeverbond tree Hy egter op as die tweede Adam.

Ons moet hier fyn onderskei, al mag ons nie skei nie. As ons dit nie doen nie, maak ons eenvoudige die ewige vrederaad tot die genadeverbond, Dan is Adam eintlik geskape om te val, sodat Christus as die ware Adam geopenbaar kan word. Dan is die heie wêreldgeskiedenis eintlik  Christus geskiedenis en is die hele skeppings- en verlossingsprogram niks anders nie as ‘n proses waarin God Homself teen Homself afset. Dan is God se openbaring of vleeswording in Christus sonder meer versoening en verloor die kruis sy betekenis. Dis bepaald ongerymd en gevaarlik om te sê, soos sommige doen, dat die genadeverbond reeds in die ewigheid met Christus gesluit is en alleen na die val in werking getree het. Weliswaar is die genadeverbond gesluit met Abraham èn sy saad, sodat die ganse Israel (geestelike saad van Abraham) in Christus inbegrepe is, maar Christus hier dan as Middelaar van die genade­verbond, die vleesgeworde of nog vlees te worde Christus (Gal. 3: 16).

8 Wie onder die genadeverbond ingesluit is

Die vraag is of almal wat uiterlik tot die verbondskring behoort en die verbondseël (besnydenis of doop) ontvang het, nou ook werklik verbondskinders is? So het byvoorbeeld Ismael, Esau, ens., tot die verbonds­kring behoort (tent van Abraham, Isak) en tog weet ons dat hulle weggedwaal het. Alle gedoopte kinders word tog seker nie salig nie.

Hoe moet ons dit dan beskou: Is dit net die uitverkorenes of wedergeborenes wat aan die verbond behoort en hoe weet. ons of hulle uitverkore of wedergebore is? Of moet ons maar veronderstel dat hulle dit is, tot die teendeel blyk?

Ons weet dat God Sy verbond gesluit het met Abraham en sy saad (Gen. 17: 7; Hand. 2: 39). Ook die kinders is dus almal ingesluit. Tog weet ons dat almal nie Israel is wat uit Israel is nie (Rom. 9:6). Die uiterlike verbondsteken is nie altyd ‘n waarborg van innerlike verbondsgenade nie (Rom. 2: 28, 29). Alle gelowiges is geestelike kinders van Abraham (Rom. 4: 9-17; Luk. 3:8). Dis alleen Gods verkiesende genade wat die verskil maak tussen ge­lowiges en ongelowiges (Rom. 9, veral v. 8). In Christus word die saad van Abraham gereken (Gal. 3: 29; vgl. daarenteen Matt 8: 10-12; Joh. 8: 39, 40). Ons het hier met ‘n moeilike vraagstuk te doen.

Ons mag nie praat van ‘n uitwendige en inwendige verbond of selfs van twee sye van die verbond nie. Die Skrif weet nie van so ‘n onderskeiding nie. God hou Sy verbond in stand (Deut. 7: 9; 2 Kron. 6; 14; Ps. 103: 17 , 18). Uit 2 Tim. 2: 19 kan ons sien dat die fondament van God vas staan met die seël: „Die Here ken dié wat syne is.” As bondelinge is ons verplig om afstand te doen van  ongeregtigheid. Ons moet God se verbond en Sy insettinge onderhou en bewaar (Gen. 26: 5; Deut. U: 1; Eseg. 18: 9; Ps. 25: 10; Eseg. 37: 24; Joh. 8: 51; 1 Joh. 2: 3-5). Tog is God se verbond nie afhanklik van wat ons daarmee doen nie, maar van wat God doen. Nieteenstaande verbondsbreuk en die Goddelike verbondswraak voer God tog Sy verbond deur, selfs al moet Hy uit klippe vir Abraham kinders verwek. Daarom praat Christus van Sy soendood as „die nuwe testament in my bloed” (Matt. 26: 28). Hy het nie tevergeefs gesterwe nie (Joh. 17: 12). Hy het vir die uitverkorenes gesterwe en sal hulle red deur wedergeboorte en geloof. In Christus word „die wêreld” gered (Joh. 3: 16), nieteenstaande die feit dat baie verlore gaan.

In sekere sin moet alle goddeloses beskou word as verbondsbrekers, omdat God Sy verbond met Adam opgerig het. Ons weet nie wie uitverkore of wedergebore is nie, maar hou ons aan Gods verbondsbeloftes en doop alle kinders van gelowiges in die oortuiging dat God Sy belofte aan hulle sal bevestig, nieteenstaande daar baie mag wees wat verlore sal gaan. Dis God se verborgenheid, en Hy weet wat Hy doen. Ons moet maar net ons plig doen. Die genadeverbond is ten diepste gegrond in Christus as Hoof van Sy gemeente of, soos dit ook soms genoem word, Christus mysticus. Dit omvat Sy hele volk in Hom.

9 Die genadeverbond is ten diepste onvernietigbaar

In Gen. 17: 19 noem God dit ‘n ewige verbond (vgl. ook 2 Sam. 23: 5; Hebr. 13: 20). God het die verbondsbelofte met ‘n eed bevestig, om daardeur die onveranderlikheid van Sy raadsbesluit te beseël (Hebr. 6: 13-20). Daarom word die verbond in die Nuwe Testa­ment dan ook ‘n testament genoem (Hebr. 9: 16, 17), om aan te dui dat dit kragtens die soendood van Christus soos ‘n erfenis toeval, wat vas en seker is. In sekere sin is die verbond dus een-sydig, alhoewel dit nie die menslike aandeel insluit nie, soos ons nog sal sien. Die eise of voorwaardes wat God in die genadever­bond aan ons stel, is ten diepste gewortel en gewaarborg in die belofte wat Hy gee, nl. om ons God te wees en ons vir Hom as Sy volk aan te neem.

Omdat God Sy verbond steeds gedenk, daar­om bly dit van krag (Ex. 2: 24; Lev. 26: 39-42; 2 Kon. 13: 23; Ps. 105: 8-11; Jes. 54: 10). Selfs wanneer God die bondsvolk straf vir hulle ontrou, is daar altyd ‘n oorblyfsel of kern wat gered word en in wie God Sy verbond bevestig (Jer. 44; 28; Eseg. 16: 60-63; Jes. 59: 20, 21; Jer. 31, veral v. 31-34; Eseg 36: 22-28; Hebr. 8: 10-13; Jes. 1: 8, 9; Jer. 23: 3; Miga 2: 12, ens.). Dal die droë ranke afgeruk en In die vuur gegooi word, maak nog nie God se wingerd tot niet nie.

10 Verskillende bedelinge van die verbond

(a) Die Adamitiese verbond: Ons praat hier nou van die genadeverbond, soos dit ook met Adam en Eva bevestig is (Gen. 3:15), alhoewel die woord verbond daar nie gebruik word nie. In die straf het God ook genade. aan die mens bewys. Die straf is die dood, en alhoewel Adam en Eva nie  onmiddellik dood neergeval het nie, mag ons nie sê dat die straf uitgestel of verswak is nie. God het ook nie gesê dat hulle onmiddellik sou sterf nie. Die dood is ‘n proses, en Adam en Eva het gevolglik begin sterwe vandat hulle gesondig het, al het hulle skynbaar nog bly lewe. Ewewel het God in die straflyde („die slang sal jou in die hakskeen byt”) ook die Messias belowe wat die kop van die slang sou vermorsel. Eva sou met smart kinders baar; tog sou die lewe daardeur op die aarde voortgeplant word. Adam sou in sweet en moeite worstel met dorings en distels, maar arbeid adel, en daardeur sou die wêreld tog gekultiveer word en sou die mens sy brood verdien.

God het hier dus in beginsel Sy genadeverbond met Adam op-gerig en deur hom ook met die ganse mensheid, wat seer seker nie beteken dat alle mense gered word nie, soos blyk uit Abel en Kain en die gelowige geslag van Set teenoor die goddelose Lameg-geslag.

(b) Die Noagitiese verbond: Dit vind ons in Gen. 8: 20-9: 17. Ook hierdie verbond was universeel in sy strekking. Noag het tot die hele mensheid van daardie dae gespreek voor die sondvloed, en daarna het die hele mensheid uit die Noagitiese verbondskring uitgegaan en was dus bekend met God en Sy beloftes. Noag staan as gelowige nog in die krag van die Adamitiese genadeverbond. En ter beskerming en ontplooiing van die genadeverbond sluit God met Noag die algemene natuurverbond. Die menslike bestaan word beskerm deur die natuurelemente te beteuel (Gen. 8: 22), die diere te bedwing (9: 2, 3) en die moordenaar te straf deur die instelling van die gereg (Gen. 9: 5, 6), die mens opnuut te seën met vrugbaarheid (9: 7) en die goddeloosheid te temper deur ver-korting van die menslike lewe (6:3) en deur splitsing van die mensdom in taal- en rassegroepe (11: 1-9). God het so Homself aan geen enkele mens onbetuig gelaat nie (Hand. 14: 17; 17: 26-28; Rom. 1: 19; Joh. 1:9).

(c) Die Abrahamitiese verbond (Gen. 15 en 17): Die bedding van God se genadeverbond word hier vereng en loop nou deur die gesins- en volkslewe van Abraham en Israel. Alhoewel die verbond skynbaar betrekking het op ‘n groot nageslag en die besit van die 3and Kanaan, is dit in sy diepste strekking dieselfde as die verbond met Adam en beteken dit dat uit Abraham die beloofde saad (Christus) gebore sou word, waardeur die hele wêreld geseën sou word (Gen. 12: 2, 3). Die kern van die verbond is vervat in v. 7: om vir jou ‘n God te wees en vir jou na­ geslag na jou”.

Hierin lê die hele evangelie van verlossing deur Christus. Abraham (en Israel) het dan ook gedurig kontak gehad met die omringende heidenwêreld, en daar het ‘n sterk getuienis uitgegaan na die verskillende volke. Die verkiesings- en afsonderingsgedagte kom hier ewewel sterk na vore, en daarom gee God ‘n spesiale verbondsteken, naamlik die besnydenis. Daarin lê die idee van heiliging en toewyding aan God en Sy diens.

(d) Die Sinaitiese verbond: Hierdie verbond is ingestel by Sinai, waar God die volk van Israel aan Hom verbind het (Ex. 19). God se bevele en insettinge wat Hy in Ex. 20-23 gegee het, word genoem die boek van die verbond (Ex. 24: 7), en in v. 8 word gepraat van die bloed van die verbond. In hierdie verbond word talle wette en voorskrifte gegee rakende ook die persoonlike, huislike en volkslewe van Israel.

Hierdie verbond vertoon uiterlik ‘n meer wettiese karakter as die met Abraham. Hier staan op die voorgrond die eise van God en nie die beloftes soos dit die geval met Abraham was nie. Dit dra skynbaar ‘n meer voorwaardelike karakter as wat ons dit by Abraham gevind het (Ex. 23: 22, 25). Tog is dit in wese niks anders as ‘n genadeverbond nie. Dit is alleen in ‘n wettiese vorm gegee om die volk hulle verantwoordelikheid des te sterker te laat voel en hulle pedagogies op te voed na Christus toe. Hulle moes sien en leer dat die wet hulle nie kon salig maak nie (Gal 3, veral v. 24).

Daarom is die versoening van sondes simbolies afgeteken deur die dierebloed. Daarom is die heiligmaking voorgestel deur die Levitiese reinheid en die saligheid deur ‘n lang lewe in Kanaan. Tog is hierdie verbond in wese dieselfde as dié met Abraham (Ex. 6: 6; Num. 15: 41; Deut. 26: 17). Hier waarsku God egter met alle mag teen verbondsbreuk (Lev. 26: 15; Deut. 31:21, ens.). Die menslike sy word sterk beklemtoon. Maar onder dit alles lê die offerbloed as simbool van die Lam van God, in wie se bloed die verbond ewig vas is.

(e) Die vervulling van die verbond in Christus: In Christus val die skaduwees weg en staan ons voor die volle, diepe sin en werklikheid van die genadeverbond. In Christus is al God se beloftes van ouds af vervul en is voldoen aan al die eise van Gods verbond. En daarom word ook die nasionale grense deurbreek en kom. die universele betekenis en krag van die verbond weer na vore (vgl. Hebr. 1: 1, 2 en Hebr. 8 en 9). Daarom verval nou ook die seremoniële en wettiese vorm van die genadeverbond (Kol. 2: 17; Gal. 4: 1-7; Joh. 4: 20-23). En nou blyk dat Christus die eintlike Middelaar van die genadeverbond is (Gal. 3; 16-18; Hand. 2: 38; 1 Kor. 15: 22; 45-49).

En om Middelaar te kan wees, moes Hy in die plek kom van die eerste Adam, die hoof van die menslike geslag (Rom. 5: 12-21; Ef. 1: 10). Daarom is daar dan nie die minste teësteliing tussen Ou en Nuwe Testament of Verbond nie, maar is die Nuwe alleen die vervulling van die Oue. Daar is nie *n verskii soos van letter en gees nie, maar alleen ‘n ontsluiering van wat in die Ou Testament gegee is (2 Kor. 3). Die belofte is dieselfde (Jer. 31: 33; Hebr. 8: 10). Dis dieselfde evangelie (Gen. 3: 15; Gal. 1: 8; Hebr. 13: 8). Almal is deur die geloof geregverdig (Gen. 15: 6; Rom. 4: 9-25; Gal. 3: 7-9). Daar is geen ander naam onder die ganse hemel gegee waardeur ons gered word nie, as dié van Jesus Christus (Hand. 4: 12).
________________________

Nog deur dr. SJ van der Walt

Nog oor die verbond

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑