HG STOKER: DIE CHRISTELIKE GELOOF EN WETENSKAP BELY ‘HIPERDOKSE’, NIE ‘PARADOKSE’ NIE

HG STOKER: DIE CHRISTELIKE GELOOF EN WETENSKAP BELY ‘HIPERDOKSE’, NIE ‘PARADOKSE’ NIE

“Die beoefenaar van Christelike wetenskap beoefen wetenskap in die vrese van die Here. Hy stry teen alle menslike hooghartigheid en eiewaan (ook van homself). Hy aanvaar die kreatuurlike genoegsaamheid en grense van sy kenne en denke en sal aan die een kant alle outonomie van die rede (redeverheerliking) en aan die ander kant alle irrasionalistiese denaturering van die rede bestry.

Waar hy voor (nie PARADOKSE nie, maar) HIPERDOKSE te staan kom, d.w.s. waarhede wat sy menslike verstand te bowe gaan, maar waarvan hy die samehang kan deursien nie, sal hy nie die een ter wille van die ander verwerp nie, maar albei in die geloof aan Gods openbaring aanvaar. Ook uit hierdie wyse van wetenskapsbeoefening toon hy sy geloof.”

[Stoker verduidelik in twee voetnotas]:

“ ‘n Paradoks is een of meer menings (oortuigings, oordele) wat vir die menslike rede teenstrydig is. Die term ‘paradoks’ hoort eintlik by rasionaliste tuis, omdat hulle in die menslike rede die maatstaf vir die waarheid soek. Ons spreek nie van paradokse nie, maar van hiperdokse: wat die menslike verstand te bowe gaan en wat die mensmet sy onselfgenoegsame kreatuurlike verstand nie kan versoen nie; hulle is vir die mens skynbaar teenstryding, nie vir God God nie. Voorbeelde van hiperdokse is dat God alles bestuur, maar dat die mens tog vir sy dade verantwoordelik is; of dat Christus tegerlyk God én mens is.”

Hy skryf verder:

“Dit is hier nie die geleentheid om bostaande in besonderhede te adstrueer nie. Bowendien bied Gods Woord nog ander voorwetenskaplike fundamentele beligting op mens en kosmos, waarmee die Christenwetenskaplike rekening moet hou. Waar dit hier op aankom, is drieërlei:

Eerstens, dat die beoefenaar van Christelike wetenskap uit sy werke sy geloof moet toon. In die tweede plek dat die beoefening van wetenskap ,in U lig’ in vergelyking met ander wetenskapsbeoefening — ‘n verskil maak. In die derde plek dat die waarhede wat Gods Woord vir die wetenskap van fundamentele belang bied, nie (of nie so of in elk geval nie beslissend nie) buite Gods Woord om gevind kan word nie.

Dit is noodwendig dat die Christen met hierdie waarhede rekening hou; want hy handel onwetenskaplik as hy nie hierdie relevante gegewens met sy vorming van wetenskap aanvaar en gebruik nie – net soos mutatis mutandis ‘n regverdig onregverdig handel as hy nie met alle relevante getuienisse in ‘n betrokke saak rekening hou nie.”

Bron: HG Stoker, Christelike wetenskap – ‘n noodwendigheid, in: Die Atoomeeu -in U lig, Potchefstroom, IBC, 1969:250-253)

OPMERKING:

Om by prof. Stoker aan te sluit, sien hoe ons in navolging van die Skrif, die ‘hiperdoks’ van geloof, en nie ‘paradoks’ van rasionalisme nie, aangaande die leer van die Drie-eenheid bely in NGB artikel 8:

“Ons word op al hierdie plekke (in die Skrif – slc) baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand VER TE BOWE, glo ons dit nou tog DEUR DIE WOORD, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.”

Nie ons verwarde, onvolmaakte ‘rede of verstand’ nie, maar die volmaakte God wat onfeilbaar deur sy Gees en Woord spreek, Godsopenbaring, die Heilige Gees-uit-uitgeasemde Goddelike Skrif (NGB. art. 2-7) is die hoogste, finale en onfeilbare standaard van leer en lewe, van alle wetenskapsbeoefening, van elke terrein van lewe en denke, in alles waaroor dit spreek.

Daarom lewe alle gelowiges op alle terreine en denke van hul lewens, en beoefen gelowiges alle wetenskap, vanuit die ou PU vir CHO leuse, IN U LIG (Ps. 36:10; sien ook Matt. 4:4; Joh. 17:17; 2 Tim. 3:15-17), soos ons ook bely oor die fondament en wese van ons HELE ongetwyfelde Christelike geloof:

“HK Sondag 8 vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees? Antwoord: OMDAT GOD HOM SO IN SY WOORD GEOPENBAAR HET dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: