REPUBLIEKDAG-BESINNING (31 Mei 1961): Nie die Franse Rewolusie se volksoewereiniteit nie, maar God se Soewereiniteit vir die hele lewe
Teenoor die Franse Rewolusie se humanistiese ‘volksoewereiniteit en staatsabsolutisme’, moet die Soewereiniteit van God vir die totale lewe (redding, gemeente en gemeenskap) gehandhaaf word, soos ook gesien word in die ‘soewereiniteit in eie kring’ beginsel vir die hele samelewing, alles volgens die Skrif
‘Soewerein… die woord is ontleen aan Oud-Franse souverain, wat uiteindelik afgelei is van die Latynse superānus, wat ‘bo’ beteken.’
‘Die woord soewereiniteit beteken een wat bo alles is. Dit is die opperste en hoogste mag. Die Christen definieer die Soewereine Here as onbeperk, onafhanklik, met oorspronklike gesag. … Calviniste beperk dikwels die soewereiniteitsleer tot ‘n sistematiese teologiese definisie van God. Baie meer werk is nodig om die implikasies van soewereiniteit vir die Koninkryk van God en die toepassing daarvan in terme van die wet-woord van God te ontwikkel.’ – RJ Rushdoony (Sovereignty)
1 Inleiding
Dit is vandag 62 jaar gelede wat die Republiek van Suid-Afrika gestig is, 51 jaar na die Unie van SA gestig is (1910), en 59 jaar na die val van die twee Boerepublieke onder die Engelse heersug en magspolitiek (1902). SA, veral die Afrikaners is bekend vir hul republikeinse strewes, wat gewortel is in die Christelike-westerse beskawingsidee, lees/luister meer daaroor hier in ‘n kort reeks wat ek so paar jaar gelede gedoen het: Pro Regno Radio: Wortel van ons Christelike Republikeinse Verset- en Vryheidstryd.
Vir vandag wil ek ‘n paar aanhalings hier plaas van Totius, asook ‘n aanhaling uit die boek Republieke en Republikeine (1960), om aan te sluit by wat ek in die PRR artikel hierbo vermeld het, naamlik dat een van die redes waarom ons die republikeinse stryd verloor het, is omdat ons die onderliggende gereformeerde geloof en lewensbeskouing verlaat het, of verdraai het, of afgewater het, sodat God se soewereiniteit in beide ‘wet en evangelie’ (Matt. 5:1-20; Joh. 14:15; Op. 12:17), in redding én in ‘n dankbaarheidslewe, nie meer in ons harte, lewenswyses, kerklike lewe, ekonomie, staatkunde denke, volkslewe ens. geheers het en vir ons kosbaar was … en nog is nie?
In die praktyk het dit neergekom op ‘n variasie van die geleidelike verskuiwing of vermenging (sinkretisme, sien Stoker se Oorsprong en Rigting boeke) van mense-idees, menslike soewereiniteitsplanne in ‘samewerking’, en nie in totale onderworpeneheid aan God se soewereiniteit deur sy Gees en Woord nie, Hy wat die enigste absolute is wat alles is en moet bepaal van ons lewens, ons hoogste en finale Gesag: ja, ons redding maar ook ons hele lewenswyse op elke lewensterrein in ‘n begenadige dankbaarheidslewe deur sy Gees en Woord (en dus ook ons republikeinse strewe as volk).
Te veel was en is daar, bewustelik en/of onbewustelik, in die verlede en nou, die vermenging met die Franse Rewolusie se ‘vryheid, gelykheid en broederskap’ humanistiese ‘volksoewereiniteits’-gedagtes, wat vir alle praktiese doeleindes neergekom het op die ‘volk is absoluut’ en bepaal dan wat ‘reg en verkeerd’ is, oorheers die hele lewe van die volk, ens. Ek het destyds geskrywe:
“Dalk is een van die redes waarom die Christen Afrikaner sy vryheid verloor het, omdat ons ons christelike roeping versaak het, dat die volgende aspek wat dr. GD Scholtz noem, nie meer ons lewens en roeping beheer nie. Dr. Scholtz skryf as volg: ‘Hierdie twee leerstellings (die soewereiniteit van God en die leer van die uitverkiesing) het die lewe van die Calviniste beheers. Dit het by hulle die besef gewek dat God groter en magtiger is as enige vyand en dat wie deur God uitverkore was, niks hoef te vrees nie.’ Ja, die vraag van ons roeping hier in Suid-Afrika, word bepaal deur wie ons vrees, God of mense (Spr. 29:25; Matt. 10:28).”
Vandag in hierdie Republiekdag-besinning wil ek ‘n aanhaling uit die volgende bron hier plaas, wat daarby aansluit, wat wys op die wesentlike vraag:
Wie of wat is ons hoogste Soewerein wat alles van ons lewe bepaal, in tyd en ewigheid?
En dan ook ‘n paar aanhalings uit Totius oor die soewereiniteit van God volgens die Bybel, in uitverkiesing, en die gevolge wat dit het vir ons hele lewe, en dan ook die kwessie van ‘volksoewereiniteit’, hoe dit reg verstaan en gebruik moet word (as middel en instrument, as ‘orgaan’) maar ook hoe dit nie gebruik moet word nie (as standaard of bron van reg en verkeerd in stryd met God se wil en wet), en wat behels die politieke gebruik van ‘soewereiniteit in eie kring’, ens (opskrifte en beklemtonings bygevoeg).
2 WIE IS EN BEHOORT SOEWEREIN TE WEES IN ONS REPUBLIKEINSE VOLKSLEWE?

“… die gesag van die volkstem soos dit deur die Nederlandse en Kaapse Patriotte gehuldig is, dit wil sê, hiervolgens is die volk die bron van alle staatsgesag, en deur middel van die volkstem wou die Afrikanervolk hom in die Boere-republieke handhaaf, en het hy dit ook gedoen.
Dit is egter ook van wesenlike belang om nie die feit uit die oog te verloor nie dat die Voortrekkers en hul nasate in die twee Boere-republieke aan die begrip “volk” nie dieselfde betekenis as die Patriotte of die liberaal-rewolusionêres geheg het nie. Dit is juis hulle besondere opvatting van die volksbegrip wat die gedagte van die oppergesag van die volkstem by die republikeinse Afrikaner van die 19de eeu enigsins temper. Vir hulle was die volk, soos dr. A.J.H. van der Walt dit stel, “die Voortrekkersvolk, sy stamverwante en diegene wat sonder skade in die volksverband opgeneem kan word”, of nog nader omskryf: “’n Protestants-Christelike volksgemeenskap wat in sy gewete gebonde en deur die Christelike Godsopenbaring gelei is.”
Dit is die stem van so ‘n volk wat Paul Kruger as die stem van God erken: “In de stem van het Volk heb ik gehoord de stem van God, den Koning der Volken, en ik gehoorzaam,” of in „de stem des Volks . . . (meen ik ook) de stem Gods te herkennen”.
Uit hierdie woorde is dit duidelik dat die opvatting dat die hoogste en finale gesag by die volk berus, nie onvoorwaardelik deur die Afrikaner aanvaar is nie, maar dat die Calvinistiese leerstuk dat alle soewereiniteit en dus ook alle gesag in die eerste en laaste instansie by God berus, erkenning verkry. Ten spyte van hierdie besondere beskouing wat die Afrikaner oor die begrip “volk” gehad het en waarmee die gedagte van die oppermag van die volk enigsins versag word, is dit nog nie met die suiwer Calvinistiese staatsbeskouing van die goddelike herkoms van die owerheidsgesag te versoen nie. Hierdie poging tot versoening, wat egter nog steeds op ‘n teenstrydigheid uitloop, sou nie net kenmerkend vir die Boere-republikanisme wees nie, maar vir die ganse Christelike republikeinse strewe.
Die spreuk vox populi, vox Dei (die stem van die volk is die stem van God), wat by herhaling deur Nederlandse Calviniste in die 16de en 17de eeu gebruik en ook in Suid-Afrika oorgeneem is, wou as volkstem-idee die soewereiniteit van God beklemtoon in dié sin dat ‘n goddelike gesag die volkswil beheers. In sy staatsregtelike sin is hierdie spreuk ook nie Calvinisties nie en sou dit alleen wees as dit gelui het dat Gods wil die wil van die volk moet wees.
Dr. A. Wypkema toon in sy werk De Invloed van Nederland op Ontstaan en Ontwikkeling van de Staatsinstellingen der Z.A. Republiek tot 1881 op gesag van ander aan dat waar die Calvinistiese of presbiteriale kerkregering die kerkraad kies onder leiding van Christus, wat deur die Heilige Gees Sy gemeente, in onderworpenheid aan God, regeer, die stem van die gemeente met die stem van God geassosieer is.
Volgens dr. Wypkema is hierdie gedagte op die politieke terrein oorgedra, veral omdat Kerk en Staat vroeër in Nederland so na aan mekaar gestaan het, en Kerk en Staat in die lotsgeskiedenis van die Afrikaner in die 18de en 19de eeu altoos ‘n diepere geestelike eenheid uitgemaak het.
Op dié wyse het die Calvinistiese opvatting van die volkstem-idee, waar daar alleen sprake is van ‘n goddelike gesag wat die volkswil beheers, ook in die Boere-republikanisme tot uiting gekom.
Dit is hierdie opvatting van die volkstem-idee wat dus op ‘n paradoksale wyse aan die diepgewortelde Patriotte-beskouing van die oppergesag van die volkstem ‘n Christelike inhoud probeer gee het.
Ons kan dus met dr. Wypkema saamstem dat “volksoewereiniteit nie deur die Trekkers en hul nasate tot ‘n rewolusionêre strydkreet verheerlik sou word nie, maar ‘n eg Afrikaanse stempel sou dra”, en dit impliseer dat dit ook ‘n Christelike karakter sou dra.”
Bron: MCE van Schoor & JJ van Rooyen, Republieke en Republikeine (Bloemfontein: Nasionale Boekhandel, bl. 130-131).
3 TOTIUS OOR GOD SE SOEWEREINITEIT, VOLKSOEWEREINITEIT EN SOEWEREINITEIT IN EIE KRING
Totius, op verskeie plekke in sy Versamelde Werke, skryf ook oor die kwessie van soewereiniteit van God wat die Skrif openbaar en hoe dit ‘volksoewereiniteit’ behoort te bepaal, wat ons ook help om ‘soewereiniteit’ reg te verstaan vir ons hele lewe:
3.1 DIE SKRIF GETUIG VAN GOD SE ABSOLUTE SOEWEREINITEIT
“U ken die Skrif. Jesaja spreek dit so roerend uit, juis wanneer daar vir Israel ‘n tyd van verblyding aanbreek: ‘’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld.’ Die Skrif is hier die orrel van God se soewereiniteit, en sy geluid beef deur ons hart. Maar kyk, ook ‘n ander geluid dring in ons binneste in. Aan die een kant staan daar: Die gras verdor, en die blom val af, maar aan die ander kant ook: Die woord van onse God hou stand tot in ewigheid.” – Het Kerkblad, no. 298, 15 November 1913 (Totius verwys hier na Jesaja 40:6-8 en 1 Petrus 1:24,25 wat Jesaja aanhaal)
”Die Openbaring in die Skrif bring, soos aangetoon is, kennis van God en kennis van die mens. Egter dit nie alleen nie: dit bring ook kennis aangaande die dekreet van God, d.w.s. aangaande die verhouding waarin God as Skepper Hom stel teenoor die skepsel. In sover nou as wat hierdie besluit oor die mens gaan, word dit in die Gereformeerde Teologie die dekreet van die predestinasie genoem, waarvan die ryke inhoud die absolute soewereiniteit van God en die volstrekte afhanklikheid van die mens is, sodat daar nêrens, hetsy in hemel of op aarde, enige skepsel bestaan wat die onmiddellike inwerking van God op die mens in die weg sou kan staan nie.” (Totius in sy proefskrif oor die Metodisme)
3.2 GOD SE WOORD BEPAAL WAT SOEWEREINITEIT BETEKEN
“… In verband met hierdie uitsprake wil ons alleen dit vasstel. Vir die Calvinis geld alleen die omskrywing van soewereiniteit wat die Skrif aan ons openbaar: ‘Na sy wil handel Hy (nl. God) met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê nie: Wat doen U? (Dan. 4:35). Die Here is God en niemand anders nie. Ons stem saam met prof. Kuiper as hy skrywe: ‘Die regering van God alleen is totaliter’. – Die Kerkblad, no. 975, 20 Augustus 1943.
3.2 DIE REDDING VAN MENSE WORD BEPAAL DEUR DIE SOEWEREINITEIT VAN GOD
“Die Heilige Gees is vrymagtig in sy werk, nes die wind waarvan ons die oorsprong nie kan verklaar en waarvan ons die einddoel nie kan aanwys nie. Ons, leser, leef in die gemeente van gedooptes, in die kring waarin die Heilige Gees woon en werk sedert die dag van eerste Pinksterviering. Die soewereiniteit van die Heilige Gees openbaar hom daar vanweë die verdienste van Christus.” – Het Kerkblad, no. 465, 16 Mei 1921.
“In verband meit Rome se genadeleer wens ons nog een punt na vore te bring. Teenswoordig word meermale van Roomse kant gevra of daardie magtige sinspreuk van die Reformasie, nl. ‘deur die geloof alléén’, nog wel teen die Roomse genadeleer gehandhaaf kan word, terwyl tog al meer blyk dat Rome niks wil afdoen van die soewereiniteit van die Goddelike genade nie… Met enkele sitate uit die werk van prof. Berkouwer kan volstaan word. Daaruit blyk dat die Rome van die Reformasie maar nog die Rome van ons tyd is.
Prof. Berkouwer se: ‘Daar is in die Reformasietyd wel gesien dat hierdie Roomse verdienstebegrip in daardie genadeleer ingebou is… Ondanks dit alles wou die Reformasie nooit enige konsessie doen nie en sal ons dit ook nou nie kan doen nie, omdat in die diepste grond die Bybelse loonbegrip en die Roomse verdienstebegrip nie identies (dieselfde) is nie maar teenoor mekaar staan’ (ons kursiveer). Ook van ons kant blyk dus institutêre samewerking met Rome ‘n onmoontlikheid te wees.” – Die Kerkblad, no. 1108, 3 Junie 1949.
“Nadat hierdie kant van die Skrifwaarheid nadruklik deur dr. Bavinck erken en verduidelik is, gaan hy daartoe oor om die ander kant ons voor te hou. Hy sê: Hoe seer egter die verwerping enersyds met volle reg by die predestinasie gereken mag word, tog is dit nie in dieselfde sin en op dieselfde manier inhoud van God se besluit soos die uitverkiesing nie. As dit gaan om die soewereiniteit van God, om die feite van die geskiedenis wat nie weggesyfer kan word nie, dan was die voorstanders van die verwerpingsleer net so onverbiddelik as die apostel Paulus; dan het hulle somtyds tot harde uitsprake gekom wat die Pelagiaans-gesinde hart van die mens kan hinder. Maar al kan ‘n oomblik so gespreek word teenoor iemand wat meen om God van onreg aan te klaag, amper alle Gereformeerdes het ten slotte ‘n absolute heerskappy, volgens die gewone valse voorstelling van teenstanders, verwerp.” – Die Kerkblad, No. 567; 3 November 1925.
3.3 DIE SOEWEREINITEIT VAN GOD MOET TYDIG EN ONTYDIG GEPREEK EN GELEER WORD
“Ons ken net een metode van prediking, nl. Skrifverklaring en toepassing van die verklaarde gedeelte. Nie ons wil nie, maar die wil van God, sy soewereiniteit, beslis ook in hierdie saak. Hy weet hoe Hy sy kudde moet vergader. Die stip-Skriftuurlike weg is hier ook die regte. Dan, laat ons in gedagte hou dat die samestelling van ‘n preek ‘n uiters moeilike en spannende arbeid is. Soms gebeur dit selfs dat na al die geworstel die preek nie heeltemal gereed is as dit gelewer moet word nie. Meermale gebeur dit ook dat die prediker moet sê: Nou dat die preek uit is, nou eers sien ek hoe dit moes gewees het!
Mag ons dienaars maar trou bevind word. Ons het dan ook in die laaste tyd, natuurlik ook vroeër, uitnemende predikasies beluister. Die Here is nog met ons. Mag ons daarvan oortuig wees met die oog daarop dat die antitese, die stryd tussen geloof en ongeloof, nader kom ook in Suid-Afrika. Dan alleen is ons veilig as ons vasklem aan die Woord van God.” – Die Kerkblad, no. 1113, 19 Augustus 1949.
3.4 ‘VOLKSOEWEREINITEIT’ IN DIE KERKREGERING MOET VERWERP WORD, ALLEEN CHRISTUS AS KONING VAN DIE KERK IS SOEWEREIN
Die Independente gaan uit van groepe van gelowiges, wat kongregasies genoem word en wat as groepe absolute selfstandigheid (outonomie) besit. Van kerkverband, van algemene vergaderings en sinodes kan by hulle geen sprake wees nie. Hulle sê: ‘Dis weer net ‘n tweede pouslike heerskappy.’ Ja, selfs in die groepe of gemeentes bestaan by hulle geen besturende of kerkraadsgesag nie. Die gesag berus by die gemeente self. Daarom moet dit (die gemeente) self oor alles oordeel en moet dit in alle sake by stemming beslis. Die kerkraad voer net die wil van die gemeente uit maar regeer dit nie. Die beslissing van die gemeentevergadering gaan dan ook by die Independente oor alles: erediens, belydenis en tug.
Aan so ‘n stelsel kon Calvyn sy goedkeuring nie heg nie. Hy het gou gevoel dat dit lei tot ‘n soort van volksoewereiniteit in die kerk, wat weer (op ‘n ander manier) aan menselike insettings die oorhand gee. Volgens Gods Woord (kyk Matth. 18:17 e.a. plekke) het Calvyn geleer dat die kerklike mag wat in Christus se naam uitgeoefen word, by die kerk self berus, dit is by die gelowiges wat die kerk uitmaak. Maar die mag word nie deur almal saam uitgeoefen nie, want Christus het daarvoor bepaald kerklike dienste of ampte ingestel: Dié moet in sy naam en volgens sy opdrag die werk doen. …
So het Calvyn gekom tot die instelling van ‘n kerkraad, wat die gemeente moet regeer. Die gemeentelede moet hulle daaraan onderwerp en gehoorsaam wees. Nie ter wille van die persone van die kerkdienaars nie maar omdat Christus se woord deur hulle bedien en sy wil deur hulle uitgevoer word. Die kerk is dus ‘n koninkryk en wel in die mees absolute sin van die woord. Daarin geld alleen sekere Skriftuurlike grondreëls wat nie verander mag word nie, terwyl Christus alleen die koning is. Wie daardie koninklike gesag nie erken en homself aan Gods Woord nie gebonde ag nie, hoort in die kerk nie tuis nie.” – Het Kerkblad, No. 400, 15 Julie 1918.
“Prof. Rutgers sê in sy diktaat-kerkreg dit: ‘Hoe moet geoordeel word oor vergaderings van die plaaslike kerk? By Rome en die Episkopale ens. is so ‘n vergadering onmoontlik. In die Independentistiese stelsel is dit die vergadering. Daar is volksoewereiniteit in die kerk (die volkswil is baas!). In die Gereformeerde Kerke word die ampte erken as instellinge van Godsweë. Ewenwel is die kerkraad tog alleen in oorleg met die gemeente bevoeg om te handel.” – Het Kerkblad, no. 406, 15 Oktober 1918.
“En as daar maar teen hierdie gees kragtig gewaarsku is, maar De Hope het hierdie beweging eerder in beskerming geneem. Hoewel dit aan die een kant bedroef het, het dit andersyds duidelik laat blyk van watter kant die wind gewaai het. Dan word daar ook gedurig gekla dat in die Reformed Church (VSA), op loflike uitsonderings na, die leer van die uitverkiesing, waarin die grootheid en soewereiniteit van God so heerlik uitkom, doodgeswyg en in die prediking gemis word. En dat dit nie uit die lug gegryp is nie, getuig baie wat, goed onderlê in die Gereformeerde waarheid, ‘n tyd lank in die Reformed Church was of nog is. En in die algemeen kla ons kerkrade daaroor dat die meeste lidmate wat die Reformed Church verlaat het en by ons onderdak gesoek het, bedroewend swak staan indien nie beslis onwetend is ten opsigte van die leerstuk van die uitverkiesing nie. En waar hierdie spesifiek gereformeerde leerstuk, hierdie „cor ecclesiae” (hart van die kerk – slc) op die agtergrond gedring word, sê my, kan daar dan sprake wees van ‘n dam opwerp teen die dwalinge van ons tyd?” Waarlik, ‘n behartigenswaardige woord. Daarom het ek ds. Van der Meij in ‘n lang sitaat self laat spreek.” – Het Kerkblad, no. 140, 15 Februarie 1904.
3.5 GOD SE SOEWEREINITEIT SOOS GEOPENBAAR IN DIE WOORD MOET GEHANDHAAF WORD TEEN DIE REWOLUSIONERE VOLKSOEWEREINITEIT OP STAATKUNDIGE EN VOLKSTERREIN
“Ten laaste is daar die geval van die koloniste in Noord-Amerika wat in 1776 alle verbindings met die Britse kroon tot niet gemaak het. Uit hierdie vryheidsbeweging het die magtige Verenigde State gegroei. Die ou Pelgrimvaders en Puriteine het ook as seuns van Calvyn in hierdie opsig hulle gehandhaaf. Selfs kan hierby genoem word die Vryheidsoorlog van die Transvalers in 1880-81 toe hulle aan die verknegting deur Brittianje ‘n einde gemaak het. Kuyper spreek in hierdie verband van die ‘byna heilige saak van die Boere.’
Die gronddwaling van die rewolusies van 1789 en 1848 is dat die soewereiniteit of gesagshoogheid van nature by die volk en by die volk alléén berus. Bo die volk is daar niks nie.
Soos die vorige keer uiteengesit is, kom die rewolusionêre gesag deur ‘n onderlinge verdrag of kontrak tot stand. In dié verdrag of kontrak is dit die mens alleen wat die beskikking het. Dit noem ons ‘n staatkundige leuen, want die Skrif leer ons duidelik dat alle mag van God uitgaan en dat geen skepsel hom sonder God kan beweeg of roer nie. Ook staatkundig lewe die mens nie vir homself nie maar vir God, terwyl die rewolusie dit daarop toelê dat die gesag van God neergewerp en die Almagtige uit die ganse menslike samelewing uitgeskakel word.
Wanneer dan ook die volk deur God gebruik word om ‘n gesaghebber aan te wys, dan word die volk alleen as orgaan gebruik. Die diens van die mens is dus enkel instrumenteel of ministerieel, d.w.s. die mens moet as instrument of as dienaar optree om die werk van God te doen.
Om die saak op te helder, kan ons as voorbeeld bybring wat in die gemeente van Christus plaasvind. Die gemeentelede moet as organe optree om die ampsdraers te kies. Daarom staan daar in die formulier vir die bevestiging van leraars, ouderlinge en diakens: ‘Gevoel u in u hart dat u wettig deur die gemeente van God, en daarom deur God self, tot hierdie heilige diens geroep is?’
‘n Leraar word deur die gemeente geroep ooreenkomstig die Woord van God en volgens die bepalinge van art. 4 en 5 van die Dordtse Kerkorde; maar daaruit volg nie dat die gemeentelid nou aan die leraar kan sê nie: Ek het jou aangestel, jy is my huurling en moet doen wat ek verlang! (Hierdie woorde is werklik teenoor die skrywer van hierdie reels gebesig!) Nee, God self het die leraar geroep. Daarom is hy geen slaaf van die gemeente nie maar ‘n dienaar van God.” – Die Kerkblad, no. 1082, 23 April 1948.
“As ons dink aan ons volkslewe, dan is elkeen deurdring van die lewendige besef dat ons in die laaste tyd op ‘n krisispunt staan, wat vir ons ‘n beslissende karakter dra. Ons moet een kant toe uit. En dan het ons veral in die oog die vraag of ons ‘n Christelike volk sal bly of nie. Ons kultuurlewe word bedreig deur die ongeloof. Op staatkundige gebied moet ons kies tussen die rewolusionêre beginsel, die volksoewereiniteit, en die vraag of ons volk sal buig onder die gesag van Gods Woord. Dan is daar ‘n skreiende behoefte aan volksleiers wat die durf het om met God alleen te gaan staan en die volk toeroep: “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15). ‘n Josua moet die Here ons gee, ‘n volksheld en nie maar ‘n volksman nie, ‘n man met ‘n geheiligde ystere wil, wat ons almal toeroep: “Hier is die pad, loop daarop!” Nie maar ‘n man wat sy man kan staan nie, maar ‘n man wat in sy isolement met die Here kan staan.” – Die Kerkblad, no. 479, 1 Februarie 1922.
Onder ons word daar gedurig en ten opsigte van byna alle politieke vraagstukke gedweep met die leer van die volksoewereiniteit. As maar aan die wil en sin van die volk voldoening geskied, as maar die helfte plus een vir ‘n saak is, dan is volgens die populêre opvatting die saak in orde. Daarom is daar van ons kant altyd gewaarsku teen die toetsing van ‘n saak deur die volkswil sonder meer. As die martelare hulle laat lei het deur wat die volksmenigte verlang, dan het hulle sekerlik nie die brandstapel beklim nie.
Die vraag is in eerste instansie: Wat wil God?
Is dit aan ons bekend gemaak, dan word van die Christelike volk verwag dat hy hom daarmee eenswillend sal betoon. Die volkswil moet dus gedra word deur dieper beginsels wat in die Woord van God vasgelê is.
Hierdie argument van die volkswil het vir ons geen waarde nie, ook nie ten opsigte van lotery nie, wanneer God anders wil. Laat ons as Calviniste hieruit die les leer dat ons baie versigtig moet wees met ‘n beroep op wat die meerderheid verlang. Ons het ‘n hoër maatstaf, en daaraan moet ons gedragslyn, ook in politieke opsig, beantwoord.” – Die Kerkblad, no. 759, 21 Maart 1934.
“Nou moet erken word dat Da Costa, geoordeel na die meerdere lig wat ons op die bewuste vraagpunte verkry het, soms baie reaksionêr geoordeel het. Van die regte van die mens soos die Rewolusie dit verlang en van volksoewereiniteit het die Bilderdijkse skool ‘n grondige afkeer, ja, afsku gehad. Die gees van die Franse Rewolusie het dan ook so stormenderhand aangeval dat die Skrifgelowiges hulle moes verset. Later ewenwel het Da Costa self besware gehad teen sy Bezwaren. Ongeveer dertig jaar later skrywe hy: ‘By onveranderde en onveranderlike afsku van die volksoewereiniteit . . . het my oortuiging aangaande die wyse van bestryding ‘n baie belangrike, ‘n wesenlike wysiging ondergaan. Nie deur terugkeer tot ‘n vroeëre toestand kom ‘n mens die bestaande ellende te bowe nie … Nie deur eensydigheid vir wat oud is, sal ‘n mens die nuwe meester word nie … Die leiding van God sinds dertig jaar het ons oortuig … dat die vyand oorwin en dat só die weë van God voorberei word wat nimmer die verlede as sodanig herstel nie maar by wyse alleen van herlewing dit in ‘n nuwe toekoms laat terugkom.” – Die Kerkblad, no. 1081, 9 April 1948.
“Wat verstaan ons onder demokrasie? Dit bedoel tog dat ‘n volk as sodanig pligte en regte teenoor sy owerheid het. Maar as die volk reken dat hy die enigste heer en meester is en dan volslae volksoewereiniteit proklameer; of as die owerheid nie meer erken en prakties laat blyk dat hy ‘n dienaar van God is nie, wat baat dan so ‘n demokrasie?
Om die Kommunisme te wil bestry, is hopeloos. Dit is soos dr. Masselink vra: „Het die demokrasie dan nie ‘n paskwil (spotterny—Red.) geword nie? Natuurlik is daar kragtens God se algemene genade ‘n draaglike praktyk moontlik; maar as bolwerk teen die Kommunisme lyk ‘n demokrasie sonder positiewe Godsgeloof vir ons ‘n weinig betekenende bastion (vesting) waarop onverwags die vlag kan staan van die volksoewereiniteit of van die staatsabsolutisme” (d.w.s. die staat alleen is baas).
Inderdaad, as ons na die staatsregeringe kyk, lyk dit of ‘n armoedige en uitgeleefde of gans verkeerd aangewende demokrasie teenoor die uitdagende Kommunisme gestel word. Van die Calvinistiese spore van ‘n republiek of koninkryk is daar nie meer veel te sien nie.
… Ons kom nou tot twee ander punte wat verband hou met die voorafgaande, naamlik die soewereiniteit van God enersyds en die totalitêre staat andersyds, dit wil sê die staat wat in sy seggenskap al die funksies van die volkslewe saamsnoer.” – Die Kerkblad, no. 1091, 3 September 1948.
3.6 DIE SKRIF OPENBAAR OOK DIE ‘soewereiniteit in eie kring’ BEGINSEL VIR DIE HELE SAMELEWING
“Maar die Here het ook, benewens die vryheid van gewete vir die enkeling, aan sekere kringe in die samelewing ‘n selfstandigheid verleen wat deur die staatsarm nie onderdruk mag word nie. Bekende voorbeelde is die huisgesin, die kerk en die staat self. Ons stem ook saam as prof. Kuiper bepaaldelik ten opsigte van die staatsmag sê dat ‘n noukeurige studie van die Skrif nodig is om duidelik die grense van die staatswerksaamheid te bepaal.
Dit mis hy in die boek waar ons oor handel. Hier lê die moeilikheid. Sal die hoop van ‘n nuwe wêreld op die onverganklike beginsels van die Woord van God gebou word? Sal dienvolgens deur die wêreldregeerders die verhouding van kring tot kring nagespeur word? En sal dienvolgens die verhouding van volk tot volk vasgelê word? Waar ons hart na hunker, is nie net sosiale en politieke geregtigheid nie maar ook internasionale geregtigheid. Ons vrees egter dat die wêreld in sy vaart geen tyd sal hê om Skriftuurlike beginsels na te speur nie of dit nie die moeite werd sal ag nie. En dan? … Ja, dan sal die Skrifte vervul moet word en sal dit van oordeel tot oordeel gaan.” – Die Kerkblad, no. 975, 20 Augustus 1943.
“Tereg word die agtste gebod genoem die beskermgebod van die soewereiniteit van die maatskaplike kringe, wat God self in die skepping gele het. Hierdie gebod verdedig die besitreg van mense of kringe van mense en daardeur hulle reg op besit. … Dit neem nie weg nie dat die bestryding van die eiendom ingaan teen die agtste gebod, en daarom moet hier vooraf die heilige reg van die soewereiniteit van die indiwidu en van alle kringe van die maatskaplike lewe verdedig word. Hierdie verdediging moet geensins aangemerk word as ‘n eensydige voorspraak van wat in ons tyd Kapitaal genoem word nie, want geld of grond of myne is nie die enigste besitting nie. Ook arbeid en arbeidskragte is eiendom, wat net so goed deur hierdie gebod beskerm word.” – Die Kerkblad, no. 483, 15 Maart 1922.
“Die moeilikste vrae in verband met die hoofonderwerp kom voor op die terrein van die volkereg. Prof. R. wys dan op die tragiese paradoks, die bevreemdende feit, dat owerhede wat gelyklik geroep word tot handhawing van die reg deur die swaard in hulle eie kring, op hulle beurt dié swaard gelyklik trek om mekaar te beoorlog! Was daar nou één wêreldmag bo al hierdie owerhede, dan sou die saak anders staan. Die Openbaring van Johannes laat ons profeties die gevaar van so ‘n konsentrasie van mag sien. (Prof. Rutgers wys op dieselfde Skrifuitspraak as wat bo reeds vermeld is.) Die feitlike bestaan van soewereiniteit, wat die kenmerk is van ‘n staat, is dan ook onverenigbaar met die opkoms van so ‘n hoër mag. En die naas mekaar bestaan van baie onafhanklike state, elkeen met sy eie owerheidswaard, sal dan ook steeds die moontlikheid van misbruik van die swaard ooplaat.” – Die Kerkblad, no. 723, 17 Augustus 1932.
“Die beginsel van verdeling kan verskillend wees: hetsy volgens belange, byvoorbeeld: boerdery, handel of bepaalde professie; of volgens nasionaliteit: Afrikaner, Engelsman, Duitser ens.; of selfs volgens belydenis: Gereformeerd, Anglikaans, Wesleyaans ens. Natuurlik wil ons nie te veel splitsing hê nie. Ons eis net „soewereiniteit in eie kring” of, om duideliker te spreek, die vryheid waarmee God ons vrygemaak het. ‘n Boom is een en gebonde in sy stam maar verder velerlei en vry om hom volgens skeppingsdrang in takke, wye en blare te ontplooi. So kom die ryke maatskappy tot sy reg.” – Het Kerkblad, no. 376. 2 Julie 1917.
___________________________________________________
Sien ook hierdie Pro Regno artikels oor soewereiniteit:
Leave a comment