DIE ‘GROTE’ GELEERDE MAAR OOK
DIE WARME GEMOEDELIKE ‘KLEINE’ KUYPER!
“Hy is nie alleen die groot geleerde en skerp denker nie maar ook die man wat ons gemoedslewe toespreek soos niemand anders dit kan doen nie.” – Totius
Inleiding
Daar is ook ‘n groot ‘gevaar’ om baie gawes te hê, soos ‘n Abraham Kuyper (1837-1920), want dan doen en skryf jy baie, en is die gevaar natuurlik ook dat mense net sekere aspekte of deel van jou nalatenskap gaan waardeer of weer ander gaan ignoreer en net raaksien wat as problematies beskou word en net daarop fokus.
In die ‘grote’ of ‘geweldige’ Kuyper is dit die geval met ‘n deel van sy bydrae tot die Christelike geloof en lewensbeskouing (dr. Robert Godfrey beskou hom as die grootste denker van die moderne tyd). Baie hak vas by bv. net drie sake waarin hy redelik ‘kontroversieël’ was en is onder ander gereformeerdes gelowiges (vir goeie en slegte redes) en nie met hom kon saamstem nie.
Daardie drie sake was sy sienings oor veronderstelde wedergeboorte, algemene genade en sy kritiek en verwerping van die sogenaamde ‘berugte 21 woorde’ van NGB artikel 36 wat volgens hom en baie wat gevolg het, nie meer in ons ‘moderne tye’ aanvaarbaar is nie, naamlik ‘n bybels-gereformeerd teokratiese siening van ‘kerk en staat’. Ek het elders daaroor geskryf, kyk maar onder daardie trefwoorde hier op my blog.
Nou daardie drie onderwerpe is geweldig belangrike onderwerpe, en dit is goed om met Kuyper daaroor in gesprek te gaan ook vir ons tye, en saam of teen te stem, geslyp te word. Maar, moenie sy geweldige ander (belangriker?) bydraes veral in die teologie, prediking, belydenisverklaring, erediens, onderwys, ens. ens. miskyk of ignoreer nie. Veral dan nie, volgens die resensie skrywer hier onder se aanbeveling: Kuyper se ‘groot en geweldige’ bydrae as ‘meditasie skrywer’ as ‘n skrywer vir ‘gesonde mistiek … vir warme, godsdienstige gemoedslewe’.
“Bepeinsinge, oorpeinsinge, meditasies … hierin lê die groot betekenis van hierdie werk van dr. Kuyper. Van sy meditasieskrywe. Van sy week-na-week preek, nog preek vir ’n gehoor wat oor drie, vier wêrelddele versprei is. En dit is so nodig, hierdie lektuur.”
Sien ook hierdie artikel oor Kuyper se meditasie bydraes:
History and Nature of Kuyper Meditations
Volgens die resent, kan ons gerus Kuyper se baie Skrifoordenkings en verklarings lees vir persoonlike opbou van ons geloof, wat ons warm in die harte, denke en totale lewe sal laat, om van Christus te hoor, my Redder en Koning vir my totale lewe (Luk. 24:32 en vergelyk met Luk. 6:46,47 en bid en peins daaroor!).
Hier onder vermeld ek ‘n paar bronne oor die onderwerp van Kuyper meditasies en Skrifverklaring, wat in Nederlands en Engels beskikbaar is, volgens my kennis nie iets in Afrikaans oor sy meditasies nie?
Ek stel die resent(e) aan die woord:
KUYPER AS MEDITASIESKRYWER
– Dien die HERE met hoof én hart –
’n Tyd gelede het die uitgewer Kok van Kampen aan ons drie ,,volksuitgawes” gestuur. Dit was drie bundels meditasies (geestelike oordenkinge) van dr. A. Kuyper, getitel: Nabij God te zyn, Zijn uitgang te Jeruzalem en In Jezus ontslapen.
Prof. Cachet, wat gewoonlik die resensie-eksemplare ontvang het, het hulle ’n bietjie deurgeblaai en hulle dan aan skrywer hiervan oorgegee, maar het in hierdie geval gesê: ,,Hierdie kry jy nie; hulle is te mooi; ek wil hulle vir myself hou.”
Wel het prof. Cachet vroeër heelwat in Nabij God te zijn gelees, maar hy het hom nog nie so besonder tot Kuyper as meditasieskrywer aangetrokke gevoel nie. Nou het hy meteens — dit mag ook in verband met sy eie lewenstoestand wees — onder die bekoring gekom en daaronder gebly tot die dag van sy dood.
En, ag, Kuyper kan so uniek-mooi mediteer, oordenkinge skryf. Daar is op die oomblik niemand wat hom dit kan nadoen nie.
Hy is nie alleen die groot geleerde en skerp denker nie maar ook die man wat ons gemoedslewe toespreek soos niemand anders dit kan doen nie.
Veertig jaar lank skryf hy dan ook vir sy Heraut, week na week, hierdie bepeinsinge en oorpeinsinge en bereik daarmee ’n skare soos geen prediker deur sy gesproke woord nie.
Nie net in Holland nie maar ook in Amerika en Suid-Afrika stig hy, ook nadat hy tot ’n ander lewenstaat oorgegaan het, sy groot en oral verspreide gemeente.
Dit is nodig dat hierdie gemeente onder ons groter word.
Godsdiens is tog ’n saak van die hele mens. Van die hart, van die hoof, van die hand. Allereers wel van die hart, die gemoed.
Met u hart, met u gemoed, ,,geniet u u God”.
En daardie ,,u-God-geniet” is die mistiek, die verborge omgang.
Hierdie element mag in u godsdiens nie ontbreek as dit nie in verstandelikheid of in die doen van ’n paar goeie werke moet verloop nie.
En Kuyper weet en sê dit. Hy sê dit ook in sy Voorrede in Nabij God te zijn.
In die naby lê die grens mos afgeteken.
“Net soos,” sê Kuyper van hierdie meditasies van hom, ,,in alles wat hulle in die diepte van die mistiek waag, skuil ook hier in die oorpein sing onteenseglik gevaar. So vanself neig die siel wat God soek, daarheen om die grens, deur die ,naby’ God gestel, te oorskry en tot die wese van God te wil indring. Vir hierdie gevaar was die oog van die begin af oop, en ek meen dat ek daaraan ontkom het.
“Maar,” so vervolg hy dan, “omgekeerd mag vrees vir hierdie afdwaling nie terughou van die innigheid van die gewaarwording en daardie geestelike warmte wat dan eers ons siel verkwik as gevoel opgewek is en verbeelding wakker word nie. Net denking is die oordenking nie.”
Natuurlik is die denke onontbeerlik. Die godsdiens is daarom tewens ’n saak van die verstand.
Veral in ons tyd is dit nodig om dit te sê.
Die wetenskap wil ons nou meer as ooit van die liefde van God vervreemd. Daarom moet ons teenoor daardie ongelowige denke en ongelowige stelsels die gelowige denke en gelowige wetenskap stel. Gedurig tog word vir ons, ook deur jong Afrikaners, vertel dat die vooruitgang van die wetenskap die een kerklike leerstelling na die ander laat verouder. En dat ons nou moet begin soek na ’n “populêre kerk”, dit is, ’n kerk wat na die mense se smaak is en wat hom plooi na die grille van die sgn. wetenskap!
Denke teenoor denke, stelsel teenoor stelsel is die wagwoord hier. Ons jongmanne word anders Christene met die hart maar heidene met die hoof.
Tog is daardie denke sonder die “verborge omgang”, sonder die “innige lewe’’, sonder die geheimsinnige verkeer met God — nie genoeg nie.
“Bepeinsinge, oorpeinsinge, meditasies,” so sê hy in sy Voorrede aan die leser, “bedoel om die siel van die afgetrokkene in leer en lewe na die wese van die religie (godsdiens) terug te trek; bedoel om hom by alle waardeskatting van die skeikundige ontleding van die geestelike waters terug te lei na die lewende Bron self, waaruit die waters vloei.”
Bepeinsinge, oorpeinsinge, meditasies … hierin lê die groot betekenis van hierdie werk van dr. Kuyper. Van sy meditasieskrywe. Van sy week-na-week preek, nog preek vir ’n gehoor wat oor drie, vier wêrelddele versprei is. En dit is so nodig, hierdie lektuur.
Want, om nog eens met dr. Kuyper te spreek, “klem in die belydenis sonder om te drink uit die waters wat vloei uit die lewende bron, verloop in dooie ortodoksie, net so stellig as wat trillende innigheid sonder helderheid in die belydenis in die moeras van sieklike mistiek laat wegsink.”
Waarteen ons by die weeroplewing van die gereformeerde lewe moet waak, is juis die ,,dooie ortodoksie” en ook die “sieklike mistiek”. En nie minder as vir ’n “suiwere belydenis” nie, moet ons daarom sorg vir ’n “gesonde mistiek”, vir ’n warme, godsdienstige gemoedslewe.
Hy, die meester van die bepeinsing en daarom ook die meester in die beskrywing van wat onder ons ou gereformeerdes die vita spiritualis genoem is.
En hierdie meditasies, hierdie oordenkinge, is die oordink en oorlees werd.
Het Kerkblad, 1 November 1912. (Vertaal.)
(Versamelde Werke, deel 8: Onderwys, boekbesprekings, biografieë, bl. 337-339 [Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977])
______________________________________________
https://sources.neocalvinism.org/archive/
LEARNING FROM THE FAITHFUL MEDITATIONS OF ABRAHAM KUYPER
The Ascent of the Son–The Descent of the Spirit: Kuyper Meditations
Kuyper’s Devotions on Women of the OT
Particular Grace: A Defense of God’s Sovereignty in Salvation
Leave a Reply