DIE ONTSTAAN VAN DIE ‘In die Skriflig’ (IDS) GEREFORMEERDE TEOLOGIESE TYDSKRIF (1966): Die fondamentele karakter van alle ware bybels-gereformeerde teologie

IN DIE SKRIFLIG SE ONTSTAAN (1966)

Die fondamentele karakter van alle ware bybels-gereformeerde teologie

Sien die volledige eerste uitgawe hier: IDS VOL 1, NO 1 (1966)

Inhoud:
– Redaksioneel

Die nuwe moraal, S. P. van der Walt

De Heilige Schrift al Woord Gods, R. H. Bremmer

Boekbespreking: Dr. G.C. Berkhouwer. Dogmatische Studiën. De Heilige Schrift, S. C. W. Duvenage

Redaksioneel
“Met die erkenning van hierdie enigste principium (fondament) van die Teologie gaan onafskeibaar gepaard die erkenning van die uiteraard Goddelike gesag van die Skrif oor alles, besonderlik ook oor die Teologie en die teoloog. As God gespreek het, is alle twyfel op ‘n einde, en Sy sprake, as Woord of ook wel Openbaring kom met ’n gesag wat hoog bo alle ander gesag uitgaan, waarvoor juis alle ander gesag moet wyk. Vir die gereformeerde Teologie is die gesag van God se Woord onfeilbaar, absoluut en Goddelik en daarvoor wil en moet die Teologie onvoorwaardelik buig.”

“Omdat die Woord van God principium van die Teologie is, en omdat dit die middel is waardeur die Heilige Gees die geloof in die harte werk, en omdat die ware geloof in Jesus Christus die enigste kwalifikasie vir kerklidmaatskap is of behoort te wees (hier ook bedoel die instituut van die kerk), is daar ook ‘n bepaalde en belangrike band tussen die geinstitueerde kerk en die Teologie. Die beoefening van die Teologie geskied in persoonlike en gelowige verbondenheid aan die principium unicum en die band wat die teoloog aan die kerk bind, is die belydenis van die kerk wat deur hom gelowig aanvaar en onderskryf word.

“Met behoud van die gereformeerde beginsels vir die Teologie kan met die een hand vasgehou word aan ’n lang en imponerende ry teoloë van die verlede, en met die ander hand, gestuur deur die Woord van God en gelei deur die Heilige Gees, tastend afgesoek word in die hede om so ‘n bydrae vir die toekoms te lewer. So is bedoeling én optrede positief.”

“Dit bring mee dat IN DIE SKRIFLIG hom uit die staanspoor o.a. besig sal hou met die volgende groot en brandende vraagstukke: die kerkbegrip en verwarringe daarom heen, veral wat verhoudinge betref; die ekumene en die verhouding of selfs spanning waarheid-eenheid; die Skrif en sy gesag en die sg. ontmitologisering of verstaanbaarmaking van die Skrif: die Godsbegrip en die sg. onpersoonliking van God deur sommige eksistensialiste en ook die ontgoddeliking van die religie; eksegetiese probleme rondom die eerste hoofstukke van Genesis; Hermeneutiese beginsels; kerkregtelike sake en die kerkbegrip; die sg. nuwe moraal; die prediking, kategese en pastoraat en die “social gospel”, pastorale-psigiatrie, ens.”

Die nuwe moraal, S. P. van der Walt
“Biskop J. A. T. Robinson het vyf jaar gelede ’n klein boekie die lig laat sien onder die titel ‘Honest to God’, waarin hy poog om ‘n kopernikaanse omwenteling op die gebied van die Etiek teweeg te bring. Dit het hom in stormagtige vaarwaters laat beland en dadelik het daar pro’s en contra’s na vore gekom.”

“Ons het hier met ‘n teologie te doen van tersydestelling van die Skrif. Die proses van Skrifmiskenning het ’n nuwe fase betree. Waar dit eers gewoed het op die terrein van die Kanoniek en dit ’n krisis was wat die Skrifgesag wou aantas, het ons nou ’n krisis in die Hermeneutiek en geld dit Skrifverklaring. Eintlik word die Skrif slegs as uitgangspunt gebruik, maar van verklaring is geen sprake nie, slegs van duiding, van oorskrywing van die Skrif. Nie die Skrif verryk die lewe nie, maar die lewe verryk die Skrif.

Hier word afskeid geneem van Gods Woord en word die Skrif volkome tersyde gelê. Die Skrif is literatuur uit die verlede, onbeholpe uitinge wat streng tydsgebonde is. Na die Skrif word gekom met filosofiese konstruksies, met eksistensialistiese gedagtes en die eis dat Gods Woord moet beantwoord aan die eise van hierdie tyd en nie die tyd aan Gods Woord nie.

God is nie God nie, maar het ’n begrip geword, ’n dieptepunt van ons bestaan, ’n simbool. God is daadloos, werkloos en vind in die liefdesbegrip, wat ook geensins omskrywe word nie, sy teëbeeld. Hierdie liefde kan nooit objektiewe geldigheid verkry nie, maar is my subjektiewe eienskap, wat ek projekteer. My liefde tot my medemens is die dieptepunt en hierdie liefde is eintlik God. In die etiek verkry ons dieselfde subjektiwisme, ek is my eie norm en is vir myself tot ‘n wet. Ons verkry hier outonomie van die ergste soort. My beslissing is finaal en my liefde is my maatstaf. Liefde is tog nooit objektief nie.

Ons het hier voorts ’n sterk indiwidualistiese tendens, ’n atomisering van die lewe in verskillende omstandighede en elke konkrete geval het sy eie wet of norm. Vir elke mens is elke situasie ’n eie situasie, waarin sy optrede nie gemeet kan word aan iets anders as sy eie liefdesopenbaring nie. Nou is daar geen sprake van ’n geskiedenis van die Etiek nie. In hierdie sisteem word geen rekening gehou met die sonde nie, en wat ook die liefde sodanig aangetas en verderf het, dat ons buite Christus hoegenaamd nie kan spreek van enige liefdesopenbaring nie.

Ons het hier ’n aanslag op die kern van die teologie en al sy wetenskappe. Vir die sedelike lewe is alles funest (fataal), want dit is ’n poging om alle handelinge goed te praat. Almal wil altyd sedelik wees en niemand mag weer as onsedelik aangespreek word nie. En omdat die Skrif die beginsel is en die uiterste toetssteen, moet hy uitgeban word. Vir hierdie lewe word hier dus ‘n vrybrief gevra.

Jou teologie moet gepopulariseer word en om dit te bewerkstellig, moet alle beginsels opgehef word, die ganse Skrif onder die verdenking kom van supernaturalisme, moet ’n totale wysiging aangebring word by Skrifhantering, omdat dit nie meer deduktief maar wel induktief moet geskied. Op so ’n wyse sal die Christendom ondergaan in ’n Godlose, Skriflose en onchristelike nag.”

De Heilige Schrift al Woord Gods, R. H. Bremmer
AL met al: we zijn dankbaar voor dit boek. We zijn het niet eens met hen in onze kring, die een boek als dit terzijde schuiven, omdat er zoveel van ‘problemen’ gesproken wordt. Ze zouden gelijk hebben, indien het boek niet de weg in deze problemen wees. Een man als K. Schilder nam destijds de moeite exegetisch allerlei ‘problemen” rustig te bespreken, die in de Assertijd naar voren werden gebracht. In zijn ‘Hoornstoot” gaf hij waardevolle exegetische bijdragen. De vragen liggen nu weer anders.

Berkouwer nam de moeite er op in te gaan en de weg tot oplossing van de problemen te wijzen in de oude regel, dat de Schrift haar eigen uitlegster is. De vorige generatie onder de gereformeerden hechtte veel waarde aan de harmonistiek van allerlei verschillen in het spreken van de Schrift over bepaalde gebeurtenissen uit de geschiedenis van Israel en van de Here Christus. Ik vind het waardevol, dat thans de oplossing minder in de harmonistiek dan in de eigen aard van het spreken van de Schrift in de verschillende Bijbelboeken wordt gezocht. En het meest waardevol is, dat ook dit boek ons voor de goddelijkheid van de Schrift wil terugdringen naar haar inhoud. De wijze van lot stand komen, haar inspiratie, is immers beleden vanuit haar inhoud.

Daardoor komt er ook meer aandacht voor de Schrift als het zwaard des Geestes. De Schrift is aan de kerk gegeven om haar inhoud te verkondigen in de levende prediking van het Evangelie, waardoor de Heilige Geest het geloof werkt. De beste weerstand tegen de moderne aanvallen op de Schrift is een levende, krachtige prediking van haar inhoud, Jezus Christus en die gekruist.

Wat dat betreft deelt de Schrift in de ergenis, die deze prediking blijft wekken bij wie niet in geloof Christus als Borg en Verlosser omhelst. Het Woord werd vlees: de Geest bedient Zich van het door mensendienst vastgelegde Woord Gods: we leven in de bedeling van Pinksteren.”

Boekbespreking: Dr. G.C. Berkhouwer. Dogmatische Studiën. De Heilige Schrift, S. C. W. Duvenage

“Dit is opvallend dat Berkouwer in sy behandeling van die vraagstukke rondom die Skrif prioriteit gee aan die vraagstuk van die Heilige Skrif en sekerheid. Ander dogmatici gee voorrang aan sake soos inspirasie, die eienskappe van die Skrif, ens.

Genoemde benadering van Berkouwer is seker te verklaar uit een van die grondmotiewe van sy hele teologiese opset. nl. die korrelasie tussen openbaring en geloof. Vir hom is dit nie moontlik om oor die Heilige Skrif te handel buite die betrokkenheid op die geloof aan die Heilige Skrif om nie. Hy verwerp dan die kritiek dat hierdie uitgangspunt sou lei tot subjektivering van die Heilige Skrif want vir hom word die suiwere geloofskorrelasie juis beslissend bepaal deur die gerig wees van die geloof op God en sy Woord. Die Woord van God is dus nooit formeel-gesaghebbende bron van neutrale informasie oor God, mens en wêreld nie, maar dit is altyd die Woord van die lewende God, wat oproep tot geloof in Christus.”

“Verder verklaar Berkouwer, en dit is van beslissende betekenis, dat die belydenis van die getuienis van die Heilige Gees volgens die Nuwe Testament betrekking het op die waarheid en die heil in Christus. Skrifgeloof en Christusgeloof word deur die getuienis van die Gees onafskeidelik of, anders gestel: die geloof in die Skrif is deur die getuienis van die Gees nie los te maak van die geloof in Christus nie.”

“Na afwysing van die sg. pneumatiese eksegese, die teologiese eksegese van Barth en die ontmitologiserings-benadering van Bultmann, onderstreep hy die betekenis van die reformatoriese Skrifbelydenis, soos dit tot uiting kom in die unieke uitlegreël dat die Skrif sy eie vertolker is. Dit is ’n geweldige geloofsbelydenis in verband met die Skrif. Die Skrif word eers reg bely as ons dit sien as instrument van die Gees en sy bevrydende werk in hierdie wêreld.”

“Met hierdie stellingname, soos trouens in die hele boek, bewys Berkouwer dat hy, gerugsteun deur die Reformasie, perspeklief behou en die werklik goue middeweg bewandel tussen konservatisme en progressiwiteit. In ‘n tyd waarin die Bybel ‘n omstrede boek geword het en waarin selfs in gereformeerde kringe hardop geteologiseer word oor ‘reduksie’ en ‘relativering van gesag;’ is dit salwend om ‘n man van die formaat van Berkouwer pal te sien slaan met die belydende kerk by die betroubare en gesaghebbende Woord van God.”

Sien die volledige eerste uitgawe hier: IDS VOL 1, NO 1 (1966)

One thought on “DIE ONTSTAAN VAN DIE ‘In die Skriflig’ (IDS) GEREFORMEERDE TEOLOGIESE TYDSKRIF (1966): Die fondamentele karakter van alle ware bybels-gereformeerde teologie

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑