TOTIUS: DIE WARE PATRIOT VOLGENS JESAJA 22

TOTIUS: DIE WARE PATRIOT VOLGENS JESAJA 22

Inleiding

In al die aanslae van ons doodsvyande, die Satan, die wêreld en die oorblyfsels van die sonde (sien HK Sondag 52, v/a 127), kan gelowiges, gemeentes, predikers gou moed verloor, veral as ons ons oof afhaal van vir Wie en wat ons geskape en gered is: die verheerliking van die HERE se Naam, deur Christus, in die krag van die Heilige Gees.

Lees hierdie kort en baie kragtige oproepende maar ook baie troosvolle oordenking van Totius uit Jesaja 22, waarin hy ons almal oproep, maar veral vir die Here se ware predikers, om te volhard tot die einde. Bly by wat jy geleer is, midde al die aanslae van orals, midde al die ‘bedieningsplanne en omkeerstrategieë wat nie altyd wil werk soos ons dit wil hê nie’ (2 Tim. 3 en 4).

Bid, wees lief vir God en die naaste, verkondig en leer tydig en ontydig die evangelie van Christus, in liefde, in waarheid, in krag, moenie moed te verloor nie, hou goeie moed! 

Die Here het opgestaan.

Hy regeer.

Hy kom weer.

‘N WARE PATRIOT

Lees: Jesaja 22

Moses word geroem as patriot, omdat hy liewer self uit die boek van God gedelg wou wees as dat sy volk verlore sou gaan. Ook Nehemia en Jeremia word om hulle vaderlandsliefde geëer.

Dis reg: maar ek moet Jesaja nie vergeet nie.

In hoofstuk 22:4 lees ek: “Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie“.

Onder watter omstandighede was Jesaja so troosteloos?

Hy het nou 40 jaar lank as profeet en staatsman opgetree, en in dié tyd het hy Juda lank en ernstig gewaarsku om nie ‘n verbintenis met Egipte aan te gaan nie.

Dit was pure verniet.

Die Egiptiese party in Jerusalem het die oorhand gekry. Met Egipte is ‘n verbond aangegaan.

Jesaja het vir hulle gesê: Egipte is te swak om julle teen Assirië help; maar hulle wou nie glo nie. Egipte kon sulke mooi beloftes maak, en daarmee is die Joodse volk gevang. Dit het baie jare so aangehou: eenkant die waarde van die profeet en anderkant die gedrag van Juda. Eindelik kom die dag van afrekening. Assirië trek regtig met sy leër teen Jerusalem op.

Wat het gebeur?

Sanherib, koning van Assur, het suidwes getrek en die stede van Sirië en Filistea ingeneem. Niemand was teen hom bestand nie. Net Ekron, omtrent 50 myl van Jerusalem af, het ‘n rukkie uitgehou. Die Ekroniete het rede gehad om vir Sanherib te vrees, want hulle het Padi, die Assiriese vors wat oor hulle aangestel was, weggejaag. Terwyl Sanherib Ekron beleër, kom Egipte met sy mag aan.

Een-twee-drie trek Sanherib verder suid en verslaan die Egiptenaars by Elteke. Nou kom hy terug, neem Ekron in en laat ‘n gedeelte van sy strydmag teen Jerusalem optrek. Sanherib sê in sy gedenkskrifte dat hy 46 stede van Hiskia ingeneem en hierdie koning soos ‘n voël in ‘n kou in Jerusalem vasgekeer het.

Wat ‘n toestand!

Die staatsmanne in Jerusalem maak planne. Party van die wat so ingenome met Egipte was, het al gevlug (vs. 3). Die ingenieurs bou skanse en versterkinge. Hulle sorg vir die watervoorraad. Huise en bome word rondom die stad platgetrek, sodat die vyand hom nie daarin kan versteek nie (vs. 9,10).

Nou vlug dit oor die kaalte na Jerusalem toe – boodskappers, amptenare en boere. Soldate, wat nie eens in die stryd verslaan is nie, kom eerloos aangeloop (vs. 2). Binne-in Jerusalem is daar rumoer, wanorde en skelmery.

In die lug word die korns van Sanherib afgeteken: bedags rook en snags vuurkolomme van brandende stede, borne en tuine. Van die dakke van die huise af sien hulle dat nou daardie en dan weer hierdie plek aan die brand is. Die gerig wat die profeet van God lankal voorspel het, het gekom (5:27-29).

Wat nou nou gedoen?

Daar is die tempeldiens. Hulle sal dit eers probeer. Hulle kom, maar die Here wil nie hoor nie, omdat hulle ‘n volk van huigelaars is. Hulle hart bly ver van God af, hoewel hulle lippe tot Hom nader (vgl. 1:10-15, wat blykbaar op hierdie tyd sien).

Nou ja, die Here help nie. Dan moet Egipte dit doen.

Hulle het mos nie verniet ‘n verbond nie. HuIle weet egter ook dat Sanherib teen Egipte opgetrek het. Met spanning is die uitslag afgewag. Maar hulle gewete sê al: Dis verkeerd. Jesaja het voorspel wat sou gebeur.

Nou ja, Egipte is verslaan.

Wat nou?

Laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (vs. 13; sien ook 1 Kor. 15, veral verse 31-34 – slc).

Môre vat Sanherib die stad, dan word ons gedood. Ons is ook maar een dood skuldig. Maak plesier! Die Here roep wel tot rouklag, maar hulle bedryf vreugde deur osse te slag en skape keel-af te sny, vleis te eet en wyn te drink (vs. 12, 13).

Wat sal nou blyk?

Dat Jesaja gelyk gehad het. Niemand op aarde kan hulle van Assirië verlos nie. Egipte is magteloos.

Die Here alleen kan help.

En Hy sal ook, het die profeet gesê. Meteens is dit nou die tyd, eindelik die tyd van Jesaja se triomf … Ja, maar ook die treurspel van sy lewe. Die Here sal in een nag 185,000 van die Assiriërs verslaan. Maar – die volk in Jerusalem is tog verlore! Hulle swelg en bras. Hulle voel niks meer nie. Dis te laat.

‘n Oorblyfsel sal wel met Hiskia gered word, maar die eervergete menigte is ten dode opgeskryf (sien Jesaja 6:1-13, veral vers 13 – slc).

Daarom moes die profeet op las van God verkondig: Hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie (vs. 1).

Die sonde teen die Heilige Gees is begaan, ‘n sonde waarvoor daar in ewigheid geen versoening is nie. Dis die sonde waardeur teen beterwete in, net om God te terg, gesondig word. Dis die sonde tot die dood, waarvoor nie gebid moet word nie (1 Joh. 5:16).

Die mense sê: Môre sterf ons (vs. 13).

En God sê ook: Julle sal sterwe (vs. 14).

Maar wat ‘n verskil!

Hulle dink: Môre is dit klaar, verby.

God sê: Julle sal sterwe: geestelik, liggaamlik, ewig!

Arme Jesaja!

Is dit die balsem vir jou patriothart, dit die loon op jou arbeid van 40 jaar?…

Hulle nooi hom om saam met hulle vrolikheid te bedrywe!  Maar hy weier. Hy wil ween oor die verwoesting van sy volk (vs. 2 en 4). Want daar is rumoer, vertrapping en verwarring, en dit deur die Here self! En dit in die dal van die gesig – in Jerusalem, waar alles deur God se profeet bekend gemaak is (vs. 1)

Die waens en ruiters is al voor die poort van die stad (vs. 6 en 7). Wel word die wapenhuis in Jerusalem reggemaak, wel word die mure nagegaan en vir water gesorg, maar hulle het waarlik vergeet om na Bo, na God op te kyk (vs. 7, 8 en 11)!

Arme dienaars van God!

Dit gaan met die dienaars van God amper soos met Jesaja. Op grond van die Woord van God word al die kwaad voorspel wat oor die sondaars sal kom, maar huIle wil nie luister nie (lees 2 Tiim. 3:1 tot 4:5, veral verse 4:1-5 – slc). Hulle soek krag in aardse planne en vertrou nie op God nie (sien ook die waarskuwing van Ps. 146:3-5 – slc). En as hulle sien dat dit verkeerd loop, dan begin die maaltyd!

Maar ons moet tog getrou bly en nie moed verloor nie.

Wat is ons smart vergeleke by die oneer wat God aangedoen is!

Dan, daar is altyd ‘n oorblyfsel wat, soos Hiskia en sy volgelinge, vashou aan die ware God. En die oorblyfsel kan dikwels heelwat groter wees as wat ons dink. Elia spreek net van homself, en tag was daar nog seweduisend (lees Rom. 11, veral verse 1-5, en dan veral die hele doel van ons bestaan, ons redding, verse 33-36 – slc).

As dienaars van God (lees die pastorale briewe oor en oor, tydens jou hele bediening, veral verse 1:15; 4:16; 6:11,12; 2 Tim. 1:7-11; 2:3, 15, 22-26; 3 Tim. 3:14-4:8; Tit. 2:11-15; 3:5-11 – slc) moet ons ween oor die verbreking van ons volk, oor die deel wat deur die sonde van ons wegdryf. Ons moet weier om getroos te word. Ons moet nie aan die vrolikheid meedoen nie (sien Neh. 1 en Dan. 9 gebede – slc).

Maar dis gelukkig nie net beroering en versteuring nie.

Daar is altyd oë wat oopgaan, ore wat wil hoor en harte wat verstaan (sien Hand. 13:44-52, veral vers 48, asook Paulus se gebed en oproep van 2 Tim. 2:10; ook Hand. 18:9-11 – slc).

Daarom moet ons ween saam met Jesaja, maar ons moet ook soos hy werk tot die einde toe (sien Matt. 24:13-14, 45-51, veral v. 46; 2 Tim. 4:6-8; Hebr. 12:1,2 – slc)

En nooit moed opgee nie! (sien 1 Kor. 15:57-58; Gal. 6:9 – slc)

Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. (1 Kor. 15:57-58)” (bygevoeg)

Bron: Het Kerkblad, no. 368, 1 Maart 1917.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑