Prof. Willie Jonker oor Luther se dualistiese twee koninkryke leer en ‘NGB artikel 25 teonomie’ as antwoord daarop

‘N PAAR GEDAGTES OOR DIE BYBEL EN ETIEK

1) DR. WILLIE JONKER OOR LUTHER SE DUALISTIESE TWEE RYKE LEER … WAT SEKER DAN OOK GELD VIR DIE MODERNE ‘RADICAL’ TWO KINGDOMS SIENING VANUIT DIE VSA, WAT IN HIERDIE SAAK DUS MEER LUTHERAANS IS AS GEREFORMEERD?

Die Lutheraanse vs Gereformeerde ‘sola Scriptura’

Dr.. Jonker skryf o.a. as volg in sy etiese studie, Die Reformatoriese Sola Scriptura en die Skrifberoep in etiese vrae‘ (beklemtonings bygevoeg):

“Die probleem waarom dit hier gaan, was nie onbekend aan die Reformasie nie, en tog het dit gelei tot die mening dat die “sola Scriptura”-belydenis dus maar prysgegee moet word of altans net tot die spesifieke heilsvrae beperk moes word.

Binne die Lutherse tradisie was daar van die begin af ’n sterker neiging as by die gereformeerders (sic – GJD) om die betekenis van die Skrif tot die heilsboodskap en die persoonlike lewensheiliging te beperk. Dit hang daarmee saam dat Luther wel die Rooms-Katolieke natuurlike teologie verwerp het, maar tog nie heeltemal vrygekom het van die skolastieke tweedeling van natuur en genade nie, soos dit veral ook in sy leer van die Twee Ryke blyk.

Dit het meegebring dat daar in Luther se etiek ’n positiewe waarde geheg kon word aan die natuurreg en die rede as kernbronne van wat waar en goed is ook buite die Skrif om. Op grond van Luther se beïnvloeding deur die nominalisme van Occam het hy ’n teenstelling gesien tussen natuur en genade, en dus ook tussen rede en openbaring, wet en evangelie, reg en liefde, wetenskap en geloof.

Vir die kennis van alles wat tot die natuur, die wet, die reg en die wetenskap behoort, het die mens die Bybel nie nodig nie, maar vir die kennis van die genade, die evangelie, die liefde en geloof is die Bybel onontbeerlik. Binne die Lutherse denksfeer is daar nie ruimte vir die idee van die kerstening van die hele lewe in staat en samelewing nie, want die lewe na sy uiterlike en georganiseerde kant word gereguleer deur die ordeninge wat God daarvoor ingestel het en wat ook buite die Skrif om geken kan word.

Hoogstens kan ’n mens sê dat die evangelie ons leer om as individue anders om te gaan met die ordeninge – meer liefdevol en diensvaardig as nie-Christene – maar vir ’n direkte beroep op die Skrif om die samelewing in sy verskillende verbande te kersten, is daar binne die Lutherse opvattings geen ruimte nie. Die “sola Scriptura”-beginsel geld hier dus hoofsaaklik die heilsboodskap van die Skrif en hoogstens indirek ook die persoonlike instelling van die individu in die samelewing.

Dit is bekend dat Calvyn en die gereformeerde tradisie juis probeer het om ’n ander weg te gaan en vol te hou dat die Skrif noodsaaklik en genoegsaam is vir ons hele lewe, nie net vir die godsdienstige en personeel-etiese aspekte soos in die Lutherse opvattings nie. Vandaar ook die kenmerkend gereformeerde begeerte om in alle dinge die lig van die Skrif te soek.”

“… Die totale boodskap van die Skrif het ’n sedelike kant wat nie net vir die personeel-etiese nie, maar ook vir die sosiaal-etiese werklikheid normatiewe betekenis het.”

“… Ons lewe in ’n sondige, gebrekkige werklikheid. Selfs die insig van die wedergebore mens is relatief, feilbaar. Ons het die lig van die Skrif as die besondere openbaring van God nodig om ons stap vir stap op die weg te lei. Bowendien swaai die skaal by hierdie beskouinge in die rigting van die voorrang van die algemene openbaring bó die besondere, waarmee na ons mening meermale aan die unieke betekenis van Gods openbaring in Christus onreg gedoen word. Die verlossing in Christus is nie slegs aan ons gegee om ons oog te herstel vir die waarheid wat al van die begin af in die skepping opgesluit lê nie, maar dit het sy stempel afgedruk op die wil van God vir ons lewe, en die kontoere van hierdie stempel wat die geskiedenis van God met die mense deurleef het, is nie in die skepping nie, maar in die Skrif aangeteken.

’n Etiek wat alleen op ons natuurlike sedelike besef of op ons insig in die skeppingsbeginsels opgebou sou word, en die versoening en verlossing in Christus, die kruis en die opstanding (sic – GJD), die wederkoms en die vernuwing van alle dinge alleen as wegspringplek gebruik, sonder om die gebod wat daaruit tot ons kom, ten volle te hoor, kan geen volledige Christelike etiek wees nie.

Hoe waar dit ook is dat dit ’n delikate taak is om op die regte wyse met die Skrif om te gaan by die bepaling van wat die boodskap daarvan vir ons in allerlei konkrete sedelike kwessies is, mag ons tog die beroep op die Skrif nie dáárom prysgee nie. Die Skrif is natuurlik geen wetboek nie, en die poging om allerlei klaar geformuleerde, abstrakte “beginsels” uit die Skrif af te lei, kan – veral as die sentrale bedoeling van die Skrif nie voldoende in gedagte gehou word nie – tot ’n rasionalistiese, wettiese en selfs willekeurige hantering van die Skrif lei.

Tog kan ons nie daaraan verbykom dat die Skrif wél die bron van die suiwere waarheid is en derhalwe ook van die suiwere kennis van wat sedelik reg en verkeerd is nie. Die Skrif bevat grondwaarhede, motiewe en gesigspunte wat fundamenteel is vir ons kennis van die wil van God en nie buite die Skrif om geken kan word nie. Die Bybel gee nie aan ons voorskrifte en inligting oor elke spesifieke saak nie, maar lig ons tog op ’n gevarieerde wyse in oor die wil van God vir ons totale lewe.

Hoe ingewikkeld ons moderne problematiek ook al is, ten diepste is dit tog ’n menslike problematiek wat by die bodem van alle vrae by dieselfde dinge uitkom waarmee die mens van alle tye – ook in vroeëre, minder gekompliseerde kulturele fases – gekonfronteer was. Wanneer ons ons probleme onder leiding van die Heilige Gees tot op die bodem kan deurskou in die lig van die Skrif, sal ons ook in die lig van die Skrif die rigting kan peil waarin ons die oplossing moet soek.”

“… die Christelike oordeel oor sedelike kwessies is nie net iets vir die wetenskap nie, maar vir die gemeente self. Die gemeente van Christus leef met die Woord in die wêreld en ontvang onder leiding van die Gees die wysheid om die brug te slaan tussen die (historiese) Skrif en die moderne wêreld met sy problematiek. Die lig van die Skrif is nie maar net die resultaat van ’n goeie wetenskaplike hermeneutiek nie. Die waarheid is nog altyd magtiger as onsself. Die waarheid heers oor ons, en nie ons oor die waarheid nie. Daarom is dit ook ’n saak van gebed en gelowige verwagting dat God die gemeente fyngevoelig sal maak vir die dinge waarop dit werklik aankom in die doen van die wil van God in elke konkrete situasie (vgl. Filippense 1:9–11; Kolossense 1:9–10).”

“Die “sola Scriptura” hou in dat die Skrif betroubaar, genoegsaam, duidelik en noodsaaklik is vir ons kennis van God, sodat ons die saligheid deelagtig kan word en tot sy eer kan lewe (NGB, art. 2). Dit beteken dat die Skrif alleen aan ons die heilsweg in Christus toon, maar ook dat, in verband daarmee, aan ons die blywende wil van God vir ons hele lewe bekend gemaak word. Die Skrif alleen is die bril waardeur ons die openbaring van God in die werke van sy hande reg kan verstaan, en ten opsigte van ons kennis van die wêreldwerklikheid stel die Skrif ons alleen in staat om dit op die juiste wyse in verband te bring met ons kennis van God.”

Sien die volledige studiestuk van prof. Jonker, ‘Die Reformatoriese Sola Scriptura en die Skrifberoep in etiese vrae’, hier: https://williejonker.co.za/20110901-2/

__________________________________

2) DR. WILLIE JONKER: ‘N NGB ARTIKEL 25 TEONOMIS, OF TEN MINSTE “THEONOMY LIGHT?*

“Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ’n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. (Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 2 Pet 3:2,18.)” – NGB artikel 25 (Die seremoniële wet in Christus vervul)

Dr. Willie Jonker skryf in bovermelde etiek studie as volg oor die hele Woord, natuurlik reg verstaan in sy volle openbaringshistoriese en heilshistoriese konteks soos hyself in sy studie verduidelik, as die lig op ons pad, nie net vir heilsake nie, maar alle lewensake, dus leer en lewe, wat ek moet glo, wat ek moet doen, op elke terrein van lewe en denke (beklemtonings bygevoeg):

“Vanuit die oortuiging dat die Ou Testament in Christus vervul is, is dit dus duidelik dat die insettinge van die Ou Testament nie meer op dieselfde wyse op Christene van toepassing is ná die koms van Christus nie. Dit word duidelik in art. 25 van die NGB uitgespel.

Om duidelik te maak watter gebooie van die Ou Testament nie meer vir Christene geld nie, is gebruik gemaak van die onderskeiding tussen morele, seremoniële en burgerlike wette in die Ou Testament, waarby dit dan duidelik is dat die seremoniële en burgerlike wette in Christus hulle vervulling gevind het en daarom nie meer deur Christene onderhou hoef te word nie, terwyl die morele wette, hoewel ook in Christus vervul, nogtans vir die Christene bindend gebly het.

Dit wil nie sê dat die burgerlike en seremoniële wette glad geen betekenis meer vir die Christene het nie. Deur die prediking van dié wette word Christene nie alleen bewus van wat in Christus vervul is nie, maar leer hulle ook om te sien wat die waarheid en wese – in morele sin – van dié wette was, en daaraan is hulle nog steeds gebonde (slc – sien die ‘general equity’ beginsel in WCF 19.4) .

Hoewel daar aan die onderskeiding tussen burgerlike, seremoniële en morele wette ernstige besware kleef (soos byvoorbeeld dat dit onmoontlik is om dié elemente altyd duidelik te onderskei), het dié onderskeiding tog gehelp om aan die heilshistoriese voortgang in die openbaring van God reg te laat geskied, en so duidelik te maak dat daar nie maar na willekeur ’n beroep gedoen kan word op sommige Ou-Testamentiese insettinge, terwyl ander buite rekening gelaat word nie, maar dat hermeneuties onderskei moet word tussen wat wel en wat nie meer op ons van toepassing is nie. So alleen kan reg geskied aan die element van diskontinuïteit én die element van kontinuïteit tussen die insettinge van die Ou Testament en wat van ons in ons situasie gevra word.

(Voorbeeld: Ons is nie meer verplig om te offer of om ons “tiendes en offergawes” na die “skathuis” te bring nie – Maleagi 3:10 – maar ons is natuurlik wel verplig om onsself tot ’n lewende dankoffer aan God te wy met alles wat ons het en is, en dus onder meer ook na ons vermoë as rentmeesters van God by te dra vir die verkondiging van die evangelie en die instandhouding van die erediens.)

“… In ons omgang met die Skrif is dit duidelik dat daar in die Bybel bepaalde algemene gebooie en sedelike beginsels voorkom wat vir die mense van alle tye normatiewe betekenis het, maar dat hierdie algemene gebooie en beginsels nie in ’n abstrakte vorm aan ons gegee word nie, maar deurgaans in die vorm van konkrete voorskrifte aan bepaalde mense in hulle spesifieke historiese situasies. Dit hoort tot die taak van ’n verantwoorde vertolking van die Skrif om te onderskei tussen die algemene gebooie van God en algemene sedelike gesigspunte wat vir die mens van alle tye geld, en die konkrete toepassing of toespitsings daarvan in bepaalde gevalle, wat nie noodwendig net so vir ons geld nie, ten einde die gemeente van ons dag in staat te stel om in die eie tyd en situasie die algemene gebod van God opnuut te kan gehoorsaam.”

Bron: Die Reformatoriese Sola Scriptura en die Skrifberoep in etiese vrae, hier beskikbaar:
https://williejonker.co.za/20110901-2/ (Beklemtonings en kursief bygevoeg)

3) DIE BYBEL EN GOD SE WIL VIR ONS LEWE

Dr. Jonker skryf ook in sy boekie, Die Bybel en Gods wil vir ons lewe, as volg om bogenoemde verder te verduidelik (beklemtonings bygevoeg):

“So is daar in die Ou Testament ook wette wat spesifiek op die volksbestaan van Israel betrekking gehad het. Dit bevat bepalinge oor die verdeling van die land, oor die sabbatjaar, oor slawe, regspraak en dergelike sake. Toe die volksbestaan van Israel met die koms van Christus nie meer die bedding was waarbinne die stroom van Gods verlossingswerk gevloei het nie, het ook daardie wette hulle verbindende karakter vir die volk van God verloor. In Christus is ook die posisie wat die Israelitiese koning in die Godsregering oor die volk Israel beklee het vervul. Die koninkryk van God word sedert die Pinksterdag universeel van aard. Die volk van God lewe verspreid in baie volke en lande. Die burgerlike wette van Israel geld dus nie meer op dieselfde wyse vir die gelowiges in die Nuwe Verbond nie. ….

 Ook hier blyk dit dus weer dat ‘n mens nie sommer alle voorskrifte uit die Ou Testament op die Christen van toepassing kan maak nie. ‘n Mens moet die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament lees as jy wil vasstel wat daarin vir ‘n Christen nog geldig is. …

Ook hieruit is dit duidelik dat bepaalde konkrete voorskrifte in die Bybel nie bedoel was as algemene wette vir mense van alle tye nie. … Die groot kuns in die omgang met die Bybel is dus om te onderskei tussen die blywende wil van God soos dit in die algemene riglyne van die Bybel voorkom, én die eenmalige opdragte of tydelike reelings soos dit in die konkrete voorskrifte van die Bybel voorkom. …

Met die konkrete voorskrifte en opdragte van die Bybel is dit egter anders gesteld. Daarin kom ons in aanraking met die toepassing wat die blywende wil van God in ‘n spesifieke situasie in die lewe van ‘n bepaalde persoon, of in die lewe van Israel of die eerste Christelike gemeentes gevind het. Daardie toepassings het nooit willekeurig plaasgevind nie. Hulle agtergrond is altyd die liefdesgebod soos dit in die grondverhoudinge van die menslike lewe en in die lig van Gods verlossingsdade gestalte behoort te vind.

Tog gaan dit om konkrete toepassings in eenmalige persoonlike en historiese situasies. Daarom beeld sulke konkrete voorskrifte nie op presies dieselfde wvse vir alle mense van ander tye nie. Die blywende wil van God moet in gehoorsaamheid aan die leiding van die Gees in nuwe omstandighede opnuut “gekonkretiseer” word. Die Bybel self wys ons hierdie weg.

Dit beteken nou nie dat die baie konkrete voorskrifte en gebooie van die Bybel nie meer vir ons betekenis sou hê nie. Nee, hulle behou hulle betekenis vir ons, nie in die sin dat ons hulle letterlik moet uitvoer soos hulle daar staan nie, maar in die sin dat hulle ons op ‘n gesagvolle manier toon hoe God gewil het dat sy wil in bepaalde situasies gedoen moes word.”

“As ons die verskillende konkrete gebooie en opdragte van die Bybel noukeurig ondersoek, sal ons merk dat hulle altyd heenwys na die blywende wil van God wat óók vir ons geld en dat hulle selfs in hul konkrete vorm aan ons wil toon waarmee ons rekening moet hou in ons gehoorsaamheid aan die wil van God in ons eie situasie. Daarom moet ons die hele Bybel bly lees en nie te gou dink dat ons maar die wettiese gedeeltes van die Ou Testament kan oorslaan, of dat ons nie belang het by spesifieke opdragte wat aan bepaalde mense in die Bybel gegee is nie. Die Heilige Gees kan daardie gedeeltes gebruik om ons vandag nog te oortuig van wat Gods wil vir ons in ons eie situasies is.”

4) MET ONS VRAE NA DIE BYBEL

Wanneer ons wil weet watter lig die Bybel aan ons gee oor die wil van God vir ons lewe, kan ons op twee maniere te werk gaan, nl. die deduktiewe en die induktiewe manier. In die eerste geval bestudeer ons die Bybel en probeer vanuit die Bybelse boodskap die lyne deurtrek na ons eie probleme. In die tweede geval (die induktiewe metode) begin ons by ons probleme en gaan soek by die Bybel ‘n antwoord op die moeilike vrae wat ons in verband daarmee het. Albei hierdie metodes is geoorloof. Eintlik moet hulle ook voortdurend in verbinding met mekaar gebruik word.

Slegs wie voortdurend intensief met die Bybel omgaan, sal in staat wees om vanuit die Bybel die konsekwensies vir die praktyk te trek én vanuit die praktyk die regte weg na die Bybelse gebod te vind. Wanneer ons met ons vrae na die Bybel gaan, is dit van die grootste belang dat ons die juiste insig sal hê in ons vraag. Ons moet die situasie waarin ons die Bybelse gebod opnuut moet konkretiseer, reg verstaan. Ons moet die motiewe, die sake wat daarby op die spel is, die gevare wat ons daarin bedreig, die versoekings wat daarin aan die orde kom, op sodanige wyse deurskou, dat ons in staat sal wees om ons probleem te vertaal in die terme waarin die Bybel spreek. Alleen só kan die historiese afstand tussen die Bybel en ons oorbrug word.

Oor baie van ons probleme sal ons nie direkte uitsprake in die Bybel vind nie. Selfs as ons bepaalde woorde gebruik wat in die Bybel ook voorkom, kan dit nog wees dat daar in die Bybel iets anders mee bedoel word as in ons mond. Daarom moet ons die fyn kuns aanleer om nie op uiterlike woorde af te gaan nie, maar om ons probleme en situasies tot op hulle wesenlike kern af te tas en hulle dan in die lig van die Skrif te beoordeel. Dan sal ons vind dat die Bybel as geheel wél iets te sê het oor ons probleme en vrae en aan ons die regte weg kan wys.

Om ons situasie en probleme só te kan ontleed, het ons ‘n geoefende geestelike insig nodig, die wysheid waaroor ons tevore gepraat het. Qns moet verligte oë van die verstand hê. ‘n gevoelige gewete, ‘n groot sensitiwiteit vir die dinge waarom dit wesenlik gaan. Dit kan ons aíleen ontvang in ‘n voortdurende omgang met die Skrif en deur die werking van die Heilige Gees in ons lewe. Dit is ‘n wesenlike deel van ons heiligmaking dat ons in hierdie opsig tot geestelike  volwassenheid sal kom.

Dit is wat Paulus vir sy gemeentes begeer het. Hy wou hulle tot ‘n punt bring waarby hulself in staat sou wees om op grond van Gods Woord hul eie lewensituasie te beoordeel en te beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (vgl. Rom. 12:2; Filp. 1:9-11; 1 Kor. 7; 1 Kor. 11 ens.). Die gebod van God moet vir die gelowige nie iets wees wat van buite af op hom gelê word en wat hy as ‘n sware las ervaar nie. Dit moet deur sy omgang met die Skrif en sy innerlike vernuwing deur die Heilige Gees vir hom sy eie oortuiging en begeerte word, sodat die konkretisering daarvan in sy daaglikse lewe steeds meer spontaans word en steeds minder ‘n saak van ingewikkelde situasies.

Uiteraard behoort dit alles nie te geskied as iets van die individuele gelowige alleen nie. Dit is die bedoeling van God dat ons “saam met al die heiliges” (Ef. 3:18) nie net die omvang van die liefde van Christus moet leer ken nie, maar ook die wye implikasies van die gebod van God.”

Sien die volledige boekie, Die Bybel en Gods wil vir ons lewe, of hier: https://williejonker.co.za/wp-content/uploads/boeke/Godswil.pdf

_________________________________________

Nog artikels van en oor dr. Willie Jonker.

* Sien ook: ‘Theonomy’ and ‘theonomy’ in church history

One thought on “Prof. Willie Jonker oor Luther se dualistiese twee koninkryke leer en ‘NGB artikel 25 teonomie’ as antwoord daarop

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑