Certissimus! Die sekerheid van die geloof

DIE LEER VAN CALVYN OOR DIE SEKERHEID VAN DIE GELOOF

deur Prof. P. J. Coetzee

“Ons is swak, sê Calvyn, maar die saligheid is vas.”

Inleiding – S. Le Cornu

Deel van die wese van die sondeval, was die twyfel en misleiding van die Satan, met die woorde, “Het God werklik gesê…” (Gen.3:1-5).  En dit is die vader van die leuen se misleiding deur die eeue, selfs al het Christus hom verslaan, hy loop nog rond soos ‘n brullende leeu opsoek na wie hy kan verslind (1 Pe. 5:7-8), deur ons ‘ongetwyfelde’ Christelike geloof en die volle inhoud daarvan soos geopenbaar in die Heilige Skrif, af te probeer maak as twyfelagtig, onwaar, onseker, ja, veral onder aanslag van valse leraars wat ons geloof probeer verander na ‘n twyfelagtige wankelbare onsekere (on?)geloof?

Twyfel dat die Vader in ses dae geskape het en nog alles onderhou en regeer?

Twyfel in sy wonders, en openbaring in natuur en Skriftuur?

Twyfel in Christus se Persoon?

Twyfel in Christus se eerste koms, volkome offer en werke?

Twyfel in die werk van die Heilige Gees?

Twyfel in die wederkoms, ewige lewe?

Ten einde twyfel en bevraagtekening van die hele Heilige Skrif, en vir die gereformeerde, soos saamgevat en geleer word nie net in die algemene nie, maar ook besonder belydenisskrifte?

Twyfel dat die Gees deur sy Woord genoegsaam is vir leer en lewe, ens?

Vandag nog, word so baie studies gedoen oor hoekom ons kerke so leeg loop?

Natuurlik kan daar baie redes wees, maar gee ons genoeg aandag aan hierdie wesentlike probleem, nl. dat so baie die sigbare kerk verlaat omrede twyfelagtige predikers en teoloë hul vir dekades leer om alles te betwyfel van die geloof, maar al meer in hulself en die wêreld se verlossers te glo, 2 Tim. 4:3,4?

As alles wat die Skrif leer nie meer in sy dele en geheel, die absolute onfeilbare foutlose Woord van God is nie, maar bloot mense menings en idees, waarom nog kerkwees en glo?

Dan word dit ‘n geval van om maar eerder vir Mammon te lewe, eet, drink en vrolik wees (1 Kor. 15:32), dan volg ons huidige samelewing soos beskryf word in 1 Kor. 15:33, want ja, as Christus nie opgestaan het nie, nie weer kom nie, dit alles wat ons in wese bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis nie vas en seker is nie, waarom nog omgee daarvoor, dan is dit inderdaad:

16Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (1 Kor. 15:16–19)

Wat nog erger is, is dat valse leraars twyfel en onsekerheid in Christus probeer afmaak as ‘n deug, as ‘goed’ opsigself, as sogenaamde ‘nederigheid’ en ons moet nie ‘dogmaties’ wees nie, wee hulle wat so verlei en mislei!

Nee, dit is waar dat gelowiges kan twyfel en worstel (soos ons bely in DL hfst. 5), maar dit is nie opsigself goed en reg of ‘n deug nie, nee, die Here se wil is dat ons seker sal wees, nie van onsself en eie kragte nie, maar in die Een in wie ons geloof, die Inhoud van ons geloof, deur sy Gees wat deur sy Woord tot ons spreek:

“AANGESIEN baie onderneem het om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is, 2soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het, 3het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe, 4sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.” (Luk. 1:1–4)

En daarom wil ek graag elke gelowige bemoedig en aanmoedig om hierdie artikel van oud-prof PJ Coetsee te lees (In die Skriflig, vol 14, no 54 (1980), daaroor te peins, daaroor te bid, en in die sekerheid van daardie geloof wat vir ons oorgelewer is te wandel, ook in ons tye ,waar daar soveel aanslae is teen die ‘sekerheid van ons geloof’.

Of die aanslag nou is teen ons persoonlike saligheid (Christus het reeds alles volbring vir ons redding), en of dit nou is teen die waarheid van sy Woord, sy hele Woord, van Gen. 1 tot Op. 22, luister opnuut hoe een van die Here se diensknegte (Hebr. 13:7, sien dit in die konteks van v. 6-9) vir ons vanuit die Skrif leer dat ons geloof, Hom in wie ons glo, en alles wat Hy geopenbaar het, volkome betroubaar, vas en seker is, en ons aanhou, deur sy genade en leiding van die Gees, op alles kan antwoord: Amen! (HK So. 7 en 52, en die hele inhoud in navolging van die Skrifte), al die dae van ons lewe:

Die leer van Calvyn oor die sekerheid van die geloof

Ja, dit is ‘n akademiese artikel, met heelwat Latynse aanhalings, maar prof. Peet vat Calvyn se bydrae oor die onderwerp pragtig saam, met verwysing heeltyd na die Skrif, gaan bestudeer daardie tekste, dit laat mens se hart brandend vir die Here, deur sy Gees en Woord.

Ek gee hier nou ‘n paar aanhalings uit die artikel, maar asb, gaan lees gerus die hele artikel (opskrifte en beklemtonings bygevoeg):

Inleidend en oorsigtelik

“Die Reformasie van die sestiende eeu het ten diepste ’n religieuse oorsprong gehad. Dit is uit die diepgevoelde behoefte aan sekerheid van die heil gebore. Baie duidelik spreek dit in die Belydenisskrifte wat die gees van die Hervorming adem. Vergelyk bv. antwoorde 1, 21, 26, 28, 32, 39, 44, 52, 54 en so meer van die Heidelbergse Kategismus. Daar word dan veral ook gevra na hierdie sekerheid vir die persoonlike lewe. S. van der Linde’ se aanvoeling is dat die Reformasie se kosbaarste bydrae die feit is dat die geloof „herontdek” is en dat die stryd vir die waarheid van God met die slagspreuk gevoer is: Sola fide!

Nou is dit veelseggend — aldus Van der Linde — dat Calvyn, wanneer hy oor die geloof handel, begin met juis aan die sekerheid van die geloof aandag te gee. L. Berkhof wys ook daarop dat Calvyn die sekerheid van die geloof as ’n kosbare pêrel op die voorgrond gestel het. Niemand het hom meer spesifiek rekenskap gegee van wat hierdie sekerheid behels as Calvyn nie. Dit het sy hart met blye hoop vervul. Volgens Calvyn is die geloof (seker) … Die Gees van God beseël die ware geloof in ons harte. 

Ons benader Calvyn se siening van die sekerheid van die geloof onder drie gesigspunte:

A. Die noodsaaklikheid van die sekerheid van die geloof
B. Die grond van hierdie sekerheid, en
C. Die vreugde wat die sekerheid bied”

Die grond van ons geloof
“Tereg bely Calvyn dat die sekerheid van die geloof in die openbaring van God in Christus gefundeer is. In die Ou Testament vind die betrekking van God se volk tot Jahwe, die God van die verbond, sy diepste vertolking in die woord „geloof”. Die Hebreeuse woord daarvoor is afgelei van ’n stam wat vastheid, betroubaarheid beteken. Nou verwant daarmee is die bekende woord „amen” wat die  Heidelbergse Kategismus weergee met: Dit sal waar en seker wees.

Jy ag ’n persoon betroubaar, waaragtig, en handel daarna. God word as betroubaar erken, vir Hom sê ons amen, met al die konsekwensies daaraan verbonde. Die betrekking waarin God Self Hom tot sy volk in bevele of genadebetoon stel, word geken en erken, om ten volle daaruit te lewe (Gen. 15.6). Die geloof omspan en stempel die hele bestaan. Dit rus in die betrekking waarin God Hom tot sy verbondsvolk gestel het. Dit sien dus op God se genadige verkiesing, sy guns en goedertierenheid. Om te glo is om daarop amen te sê, om dit ten volle te erken, jou ganse lewe daardeur te laat beheers, daaruit moed en vertroue te put selfs in die mees kritieke omstandighede”

“Ons bely dat die geloof wat alleen ons Christus en al sy weldade deelagtig maak, van die Heilige Gees kom (Heid. Kategismus, Sond. 25). Daarom kan Calvyn verklaar dat die geloof ’n inherente sekerheid het. Die Heilige Gees wat dit verseël, maak dit vas. Die Heilige Gees het by die lewende geloof wat nie kan sterwe nie, ’n vaste woonplek. Hy lê daarin onoorwinlike krag. Die geloof is ’n seldsame, besondere gawe van die Heilige Gees. Hy ontleen sy sekerheid nie aan iets van of in die mens nie, maar aan die Heilige Gees. Hier is sprake van die ware geloof, in onderskeiding van alle valse munt wat hulle as eg aansien. … Juis aan die Heilige Gees en sy verligting en verseëling is dit te danke dat die geloof ’n onoorwinlike sekerheid ken. Daar is vir God geen groter lof en eer as wanneer sy Woord so ’n vaste geloof vind nie. Sonder hierdie roem bestaan die Christendom nie.

Geloof is ‘n vaste sekere kennis
“Calvyn noem die geloof ’n vaste en sekere kennis’. Dit is ’n kennis van God se welwillendheid (benevolentia) wat, gegrond op die waarhe’d van sy genadige belofte in Christus, deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar word en in ons hart verseël word. Die kennis speel ’n belangrike rol in Calvyn se geloofsbeskouing.”

“Dit is ’n heilsame kennis wat ons na die beeld van God verander. Dit is ’n kennis wat ons harte laat ontvlam tot die liefde vir Christus. Dit is ’n kennis wat die hele mens in beweging bring wat die hart vanwaar die uitgange van die lewe is, beheers, nie ’n intellektualistiese, spekulatiewe kennis nie, maar ’n werksame, eksistensiële, bevindelike, religieus-etiese kennis. Dit is nie ’n vae kennis wat eintlik homself verloor in die newelbeelde van gevoel en aandoening nie, maar dit is gegrond, belynd, welbewus en welversekerd.

Dit is ’n kennis van God en sy beloftes. Die karakter van hierdie kennis hou in dat dit steeds hyg na  vermeerdering dat dit honger en dors na die Woord van die lewe. Hierdie kennis is ’n kennis van die hart. Dit is saligmakend omdat dit aan ons hart rus bring. Uit hierdie kennis volg die toestemming, dit wil sê die hartlike omhelsing en beaming van die hele waarheid van God in wet en evangelie”.

Geloof is ook vertroue

“Wanneer Calvyn oor die kennis en die oortuiging spreek, betrek hy onmiddellik die vertroue (fiducia) daarby. Die vertroue kom regstreeks uit die oortuiging voort. Uit die vaste oortuiging van die Vaderlike goedgunstigheid van God (paterna Dei benevolentia) vloei voort sowel die sekerheid aangaande ons behoud (salutis certitudo) as die ongestoorde vrede in ons gemoed. Die oortuiging en die vertroue is op dieselfde voorwerp gerig wat tegelykertyd albei se grondslag is: die waarheid van die goddelike Woord’’.

Die Heilige Skrif gebruik die woord „geloof” vir „vertroue” Hy wat die geloof van die vertroue skei, is soos een wat aan die son sy gloed en lig probeer ontneem, want nêrens word die geloof sonder sy vrugte gevind nie. … Die geloof verenig ons met Christus deur Wie ons die sekerheid besit van God se liefde en laat ons met Hom saam groei. Calvyn aarsel nie om te sê dat ons sekerheid moet word tot stoutmoedigheid wat selfs duiwels en engele uitdaag nie, omdat die gewete vas rus in die Woord en die belofte van God en daarin vrede en kalmte gewaarborg vind.”

Ons geloof kan wel swak wees

“Die geloof met die sekerheid as bestanddeel is in homself tog swak. Ons is swak, sê Calvyn, maar die saligheid is vas. Die geloof is meestal klein of middelmatig’, terwyl God dit tog die erenaam van geloof waardig keur. Die geloof bly onvolkome, want net so onmoontlik as wat dit is om ’n toring van water op te rig, is dit om ons geloof te vervolmaak. Maar dit sluit die sekerheid en die opregtheid van die geloof nie uit nie, maar al het die gelowige ’n voortdurende stryd met sy eie gebrek aan vertroue.

Die geloof is egter ’n palmboom wat teen alle moeilikhede in strewe en hom omhoog hef. Te midde van veelvuldige skokke ondersteun die geloof die harte van die gelowiges. Calvyn verwys na Ps. 46.6; 43.5; 31.23 en 116.7. Die  betrokkenheid op die Woord, op die waarheid self, gee aan die geloof sy vastheid. Die Woord is dan soos ’n spieël waarin die geloof God aanskou. Die Heilige Gees lê die verbinding tussen die gelowiges en die Woord wat die gewaad is waarin Christus tot ons kom. Daarom is die Heilige Skrif vir ons genoegsaam.”

Die geloof is in stryd met twyfel

Calvyn verklaar dat die geloof hier gemeng bly met ongelowigheid — dit is ’n siekte wat by ons diep ingewortel is. Hy beskou twyfel as die ergste wat ’n Christen kan oorkom. Twyfel het sy oorsprong nie uit die nuwe nie, maar uit die ou mens. Dit mag nie gekoester en aangekweek word nie, maar, sê Calvyn, die feit is dat daar in die gelowige nog velerlei twyfel en besorgdheid kan woon. Dit mag egter nie as normaal aangeprys word nie. Dit is altyd sonde en dit moet bestry word. Nie twyfel en vrees nie, maar vastigheid en sekerheid moet as die normale toestand van die geestelike lewe beskou word. Die geloof is volgens sy aard met alle twyfel in stryd die sekerheid word nie later van buite af daaraan toegevoeg nie.”

Die werklikheid van die geloofstryd teen twyfel

Dordtse Leerreëls V, 9, 10): “Intussen getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende twyfelinge van die vlees stry en, as hulle in sware aanvegtinge kom, nie altyd hierdie volle vertroue van die geloof en hierdie sekerheid van die volharding gevoel nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee (1 Kor. 10:13) en Hy wek in hulle die versekerdheid van die volharding deur die Heilige Gees weer op.

Die volharding van die ware ongetwyfelde geloof

“Geen wonder dat Martin Luther hierdie geloof nader aandui as ’n goddelike lig in die verstand en ’n goddelike krag in die wil nie. Dit is helder en duidelik, innig en diep. Dit bring martelare voort, dit is teen die skavot en die brandstapel bestand.

Dit gee volgens Calvyn die onuitroeibaarste sekerheid wat ’n blye oorwinningslied in die hart van die gelowige gebore laat word. So was dit met Calvyn self die geval en so geld dit deur die verbondsgeslagte van duisende en nogmaals duisende ander gelowiges…. toe Oliveanus op sy sterfbed gelê en Alsted hom gevra het: ‘Is u sonder twyfel seker van u saligheid in Christus, soos u dit aan ander geleer het?’ het hy geantwoord; „Certissimus!” (volkome seker!).

Hierdie ‘firma certitudo’ het Calvyn as begenadigde dienskneg van die Here in sy diepste binneste met blydskap en dankbaarheid vervul in sy lewe en in sy sterwe. Die sekerheid van die geloof was vir hom ’n onmisbare vereiste, dit was absoluut noodsaaklik, dit is ’n sekerheid wat op ’n onwankelbare grondslag rus en dit is ’n sekerheid wat vreugde, ’n diepe vrede en rus in die hart te weeg bring.”

____________________________________

Sien ook hierdie artikels oor geloofsekerheid teenoor ongeloofstwyfel:

Aan Julian Müller – ek twyfel ook ! 

Ongeloof onder die dekmantel van ‘heilige’ twyfel ?

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑