BOEKBEKENDSTELLING: Dogmatiek, prof. dr. PJ Coetzee
Volgens my kennis, bestaan daar nie ‘n een volume uitgewerkte sistematiese teologie oftewel gereformeerde dogmatiek handboek (soos bv. Louis Berkhof se ‘Systematic Theology‘) deur ‘n GKSA teoloog nie, vanaf 1859 tot op hede nie. Daar is natuurlik wel heelwat artikels deur verskillende dopper teoloë en predikante wat die verskillende dogmatiese onderwerpe (loci theologici) aanspreek, sien bv. al Totius se artikels wat in sy ‘Versamelde Werke’ verskyn, ‘Kosbare Goud’ deur ‘n aantal gereformeerde teoloë en predikante, asook die ‘klein dogmatiek’ van B. Duvenhage, ‘Gereformeerde Geloofsleer’.
Daarom was ek dankbaar dat ek op prof. PJ Coetzee se ‘Dogmatiek’ afgekom het, uitgetik in bladsye, wat sy klasaantekeninge was vir die dogmatiek klasse wat hy gegee het by die GKSA se teologiese skool in Potchefstroom, waar hy geleer het vanaf 1970-1980.
Na my mening is die drie belangrikste dogmatiek teoloë en hul belangrikste dogmatiese werke wat die gereformeerde Afrikaner se teologiese denke gevorm het of behoort te vorm, die volgende:
Johannes Calvyn, Die Institusies van die Christelike Godsdiens.
Wilhelmus a’Brakel, De Redelijke Godsdienst.
Herman Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek.
In my lees van prof. PJ Coetzee se Dogmatiek, vind ek die lyne van veral Calvyn en Bavinck gereeld in sy werk. Sy werk sal daarom as goeie oorsigtelike inleiding dien om opnuut al die oorspronglike gereformeerde bronne te herontdek waarin ons gereformeerde voorvaders gevoed is.
‘n Baie groot woord van dank aan Willem Swanepoel wat sy gawes en diens gratis beskikbaar stel om hierdie kosbare werk (asook baie gereformeerde werke wat al uitdruk gegaan het), weer vir ons en ons nageslag beskikbaar te stel in elektroniese formaat.
Mag hierdie elektroniese bekendstelling en beskikbaarstelling van prof. Coetzee se werk vir alle predikante, teoloë en lidmate ‘n kosbare (stukkie) goud wees om ons te bevestig in die bybels-gereformeerde geloof wat ons ontvang het.
Slabbert Le Cornu