Aan Julian Müller – ek twyfel ook !

AAN JULIAN MULLER – EK TWYFEL OOK ! 

“In Om te Mag Twyfel beskryf ek my geloofsreis vanaf klein seuntjie deur die strikke op die geloofspad – soos evangeliese geloofsekerheid, Christelike nasionalisme en kerklike sekuriteit – en hoe ek Goddank daarin geslaag het om nie by een van dié strikke vas te haak nie, tot hier waar ek die mistieke grens van 65 nader en ek binnekort ‘op pensioen’ moet gaan.”

So sê Julian Müller, NG teoloog, in ‘n gesprek wat met hom gevoer is oor sy nuwe boek, en in die By-Beeld van 2011-04-23 gepubliseer is onder die titel: “Ongelowige Thomas ? Juis nie …”

Müller het ‘n groot probleem met teologie wat “dogmaties, sistematies en argumentatief” is, soos hy dit … dogmaties en argumentatief … stel dat teologie volgens hom eerder “spontaan en verhalend” moet wees.  Hy verwerp in sy eie ‘dogmatiese’ woorde, die “skyn van geloofsekerheid” en “die konsep van geloofsekerheid”, op ‘n baie sterk wyse.

Müller meen ons moet die Skrif so verklaar:

“… Ons moet die huidige konteks verstaan en probeer om die gaping te oorbrug tussen die antieke boek en die situasie van vandag om die Bybel se boodskap vir vandag relevant te maak. Ek veronderstel dit is wat Sondae in alle kerke gebeur.”  

Müller meen ons moet die Bybel in die huidige konteks lees, en nie andersom nie, naamlik die huidige konteks in die lig van die Bybel lees nie.  Sodoende moet ons die Bybel ‘relevant maak’ vir die huidige konteks.

Daarteenoor glo gelowiges dat die Boek (die Bybel) nie relevant ‘gemaak’ moet word nie, maar dat die Woord van God relevant ‘is’ omdat dit die ewige Woord van God vir alle tye, plekke en mense ‘is’ (Ps.119:160; Matt.5:18; 1 Pe.1:24,25). Die Bybel is in die tyd gegee (tydsgerig), maar is nie tydsgebonde nie.  Ons taak is om die Bybel deur die Gees en Woord, deur gebed reg te verstaan en toe te pas vir ons tye. Dit is nie maar net nog ‘n ‘antieke boek’ nie.  Ons moet verander, ons harte en denke moet vernuwe word (Rom.12:1,2) om die Waarheid reg te sny (2 Tim.2:15) én toe te pas (2 Tim.3:16,17): explicatio et applicatio Verbum Dei = die verklaring en toepassing van die Heilige Skrif in en vir ons ‘huidige konteks’.

Müller verwys mense na die boek van Harvey Cox, The Future of Faith, om sin te maak van die geloof vandag, en in die boek verwys Cox na ons tye, in die woorde van Müller:

“Maar Cox noem die hede die ‘age of the Spirit’ waarin Christene van dogma begin wegstuur, spiritualiteit begin omarm en oop is vir ander gelowe.”

En, net nadat Müller dit gesê het, vervolg hy “… dit (gaan) in die kerk nie oor ‘ ’n vasgestelde, korrekte manier van doen nie. Dit gaan bloot oor Christenskap.”

Nou ja, Müller meen die kerk en teologie moet wegbeweeg van ‘dogmatiek’ en ‘evangeliese geloofsekerheid’ en van ‘n ‘vasgestelde korrekte manier van doen’ … maar dan, ironies genoeg, beveel hy mense (dogmaties?) aan om ‘spiritualiteit’ te begin omarm en oop te wees vir ‘ander gelowe’ ?

So, die een ‘dogma’ (Joh.14:6) word verruil vir ‘n ander ‘dogma’: ‘n godsdienstige twyfelagtige sekerheid in onsekerheid en ander gelowe ?  Jerusalem is ‘verkeerd’ (Hand.1:8), maar Athéne is ‘reg’ (Hand.17:16) ?

Verder, die Heilige Gees het gekom (‘Age of the Spirit’) om ons in alle waarheid (wat dogma tot gevolg het) te lei, en nié een of ander spirituele mistisisme en ongelowige onsekerheid wat deur ‘n paar new age guru ‘kenners’ vir die kerk voorgehou word nie:

John 14:16-17 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

John 14:26 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

John 16:13-14 13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Müller is op ‘n (neo-fundamentalistiese) wyse ‘seker’ ‘n mens mag twyfel, en daarom skryf hy:

“Die titel van sy boek is met ’n rede nie Om te Twyfel nie, maar eerder Om te Mag Twyfel. Om te mág twyfel.’Daar’s ’n groot verskil, want dit staan teenoor die boodskap dat dit verkeerd is om te twyfel en dat alles presies in kanne en kruike moet wees.’ Nee, beklemtoon hy, hy wil nie twyfel saai of dit aanmoedig nie. Inteendeel, hy wil eerder die ruimte – die moontlikheid – vir vertwyfeling erken en ontgin.”

Dus, terwyl Müller meen dat hy oor baie dinge twyfel, is daar by hom een groot ‘sekerheid’, een duidelike ‘dogma’ waaroor hy nie ‘twyfel’ nie, en dit is naamlik dat die kerk van Christus vir duisende jare verkeerd was, dat daar nie ‘n duidelike reg en verkeerd is nie, dat ‘twyfel’ eerder ‘n deug is, en dat ‘ongelowige twyfel’ beter is as om met sekerheid te glo. 

Maar, as ons die Heilige Skrif lees, kry ons ‘n ander beoordeling van ‘twyfel’:

Rom.14:23  23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.

Jak.1:6-8  6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie —  8 so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

En, wat sê Christus aangaande die ‘reg’ om te twyfel asof dit ‘n deug is, om te roem in jou ongelowig wees ?

John 20:27-29  27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!  29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Ja, Christus veroordeel Thomas se ongeloof, omdat hy nie wou glo in die liggaamlike opstanding van Christus nie, terwyl Christus voor Hom staan … soos Julian Müller wat die hele Skrif het wat teen sy ongelowige twyfel getuig, Luk.16:31 ?

“Maar Hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie (tot geloofsekerheid kom nie?), al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

Nee, as ons ongelowig begin twyfel (wat met enigiemand van ons kan gebeur, 1 Kor.10:12), moet ons mekaar deur Gees en Woord versterk om te bly glo, om Christus se beloftes aan te gryp, om in ons swakheid weg van onsself op te kyk na Hom (Kol.3:1) en te vra vir die versterking van ons geloof:

Mark 9:23-24   23 En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.  24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!

Dit bring my by die punt van my opskrif hierbo: ek twyfel ook !

Müller sê ook die volgende in sy onderhoud oor die feit dat mense kan twyfel, waarmee ons kan saamstem:

“Die boek is geskryf vir mense soos ek, mense wat soms sukkel met geloof en nie elke dag ewe goed glo nie. “Dis geskryf vir mense soos ek wat hul geloof beslis nie as ’n prestasie kan aanbied nie, wat soms verras is dat hulle tóg nog glo en wat soms ontsteld is dat hulle so ongelowig is.  En dis vir dié wat onthou hoe ons as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar nou sukkel om steeds so naïef te vertrou.”

Ja, ek twyfel ook, baiemaal in myself as ek in die woorde van die Nagmaalsformulier, “nog baie gebreke (het): gebrek aan geloof, aan ywer in God se diens, aan liefde tot God en ons naaste.”

Ja, ek twyfel in my medemens, in mense wat God probeer wees deur self te besluit wat is reg en verkeerd; wat God probeer wees deur self te besluit watter dele hul van die Bybel gaan glo en watter nie; in teoloë wat geloofsekerheid soek in hulself en hul eie twyfelagtige denkvermoë; in mense wat meen hul weet beter as God oor die ontstaan van die wêreld, hoe ons gered word en hoe ons moet lewe; in mense wat ons probeer red deur politieke of ekonomiese magte; in die humanistiese staat en valse kerk wat redding en sekerheid in en deur hulself wil aanbied, wat God se Woord betwyfel maar menslike idees ten volle vertrou. Ja, verseker ek twyfel in myself en my medemens !

Die Skrif leer ons juis om te twyfel in onsself, in die mens:

Psalm 146:3-4  3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.    

Jer.17:5,9  5 So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk … 9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Psalm 147:10 Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie

Joh.2:24-25   24 Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het  25 en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.

En daarom moet ons nie in onsself vertrou nie, ja, moet ons oor onsself twyfel, maar op God vertrou, en op sy Woord.  Ons mag nie in Hom twyfel nie, soos Jer.17 ons ook oproep:

Jer. 17:7-8   7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.  8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.

Die opvolgende vers (v.11) van Ps.147:10 wat hierbo genoem is:

“Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.”

Wanneer die aanslae van die eie sonde, die wêreld en Satan kom, om ons te laat twyfel in God en sy Woord en op onsself te vertrou en sekerheid by onsself en die mens te soek … dan vlug ons na Christus en sy Woord, in die woorde van die Nagmaalsformulier:

“Tog kom ons nie na die nagmaal omdat ons onsself sondeloos en volmaak ag nie; inteendeel, ons kom juis omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek. Daarmee erken ons dat ons van nature deur die sonde dood is. … Ons het egter deur die genade van die Heilige Gees van harte berou oor ons sondes en begeer opreg om volgens al die gebooie van God te lewe. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank.”

Dus, die gelowige twyfel in homself en die mens se vermoeë, maar nie in God se Woord en Gees nie (Joh.14:1; 17:17).

Ja, dit is tragies dat iemand so dogmaties seker kan wees van sy ongeloof, maar wat nog erger is, is dat hy na dese nog steeds deel is van die NG Kerk, en toegelaat word om slange en klippe vir toekomstige predikers te voed, terwyl hul vir vis en brood vra (Matt.7:9,10).

In die NG kerke se belydenis word daar openlik ‘n ‘evangeliese geloofsekerheid’ volgens die Heilige Skrif bely, teenoor ‘ongelowige gelowig’ wees, of die roem in onsekerheid:

NGB Artikel 5 – Die gesag van die Heilige Skrif

Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

NGB Artikel 35 – Die Heilige Nagmaal

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons in hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werk van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is.

HK, Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?

Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

 (a) Jam 2:19.

(b) Heb 11:1; Heb 11:7; Rom 4:18-21; Rom 10:10; Eph 3:12; Heb 4:16; Jam 1:6.

(c) Gal 5:22; Mat 16:17; 2Co 4:13; Joh 6:29; Eph 2:8; Phi 1:19; Act 16:14.

(d) Rom 1:16; Rom 10:17; 1Co 1:21; Act 10:44; Act 16:14.

(e) Eph 2:8; Rom 3:24; Rom 5:19; Luk 1:77-78.

(f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10; Heb 10:38; Gal 2:16.

HK, Sondag 9

Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan (f) en ook as ‘n getroue Vader wil doen (g).

(a) Gen 1 en 2; Exo 20:11; Job 33:4; Job 38; Job 39; Act 4:24; Act 14:15; Psa 33:6; Isa 45:7.

(b) Heb 1:3; Psa 104:27-30; Psa 115:3; Mat 10:29; Eph 1:11

(c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Eph 1:5.

(d) Psa 55:22 (Ou Vert. Vers 23); Mat 6:25-26; Luk 12:22.

(e) Rom 8:28

(f) Isa 46:4; Rom 10:12.

(g) Mat 6:32-33; Mat 7:9-11.

DL 1.17

 Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is.  Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is.  Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7Act 2:39; 1Co 7:14).

DL 5.2.5

Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer:  ‘n Mens kan in hierdie lewe geen sekerheid van die toekomstige volharding sonder ‘n besondere openbaring besit nie.

Die Sinode leer:  Deur hierdie leer word die vaste troos wat die ware gelowiges in hierdie lewe het, weggeneem en die twyfel van die pousgesindes weer in die kerk ingevoer.  Die heilige Skrif lei egter hierdie sekerheid nie telkens uit ‘n besondere en buitengewone openbaring af nie, maar uit die kenmerke wat aan die kinders van God eie is, en uit die standhoudende beloftes van God.  Dit kom veral na vore by die apostel Paulus in Romeine 8:39:  Geen skepsel sal ons skei van die liefde van God wat daar in Christus onde Here is nie en by Johannes:  Hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom en Hy in hom.  En hieraan weet ons dat Hy in ons bly:  aan die Gees wat hy ons gegee het (1Jo 3:24).

DL 5.2.6

Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer:  Die leer van die sekerheid van die volharding en van die saligheid is, kragtens sy eie aard en wese, ‘n kussing vir die sondige natuur en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en ander heilige handelinge.  Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om daaraan te twyfel.

Die Sinode leer:  Daarmee wys hulle immers dat hulle die krag van die Goddelike genade en die werking van die Heilige Gees wat in ons woon nie ken nie.  Ook weerspreek hulle die apostel Johannes wat met uitdruklike woorde die teendeel in sy, eerste brief leer:  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, wanneer Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.  En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1Jo 3:2-3).  Buitendien word hulle weerlê deur die voorbeeld van die heiliges van die Ou en Nuwe Testament.  Hoewel hulle van hulle volharding en saligheid seker was, het hulle nogtans in die gebede en ander geloofshandelinge volhard.

Dit is duidelik dat Müller met sy betwyfeldende ongeloof, die geloof wat bely word in v/a 22 verlaat het:

Vraag 22: Wat moet ‘n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

(a) Joh 20:31; Mat 28:19; Mar 1:15.

Vraag 23: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en ‘n ewige lewe.

En, nou word die vraag al meer vir die Christen gelowiges in die NG Kerk wat nog waarlik glo volgens die ongetwyfelde Christelike geloof: mag ek met my lidmaatskap en bydraes hierdie ‘betwyfelde ongeloof’ aanhou subsidieër ?  

Wanneer word dit tyd om 1 Tim.6:3-5 te gehoorsaam, in liefde tot God, sy Kerk en tot eer van Sy Naam ?

____________________

– Gaan lees gerus ook die belydenisskrifte en veral die Dordtse Leerreëls, spesifiek hoofstuk 5, oor geloofsekerheid.

8 thoughts on “Aan Julian Müller – ek twyfel ook !

Add yours

  1. Goed gestel, Slabbert. Een van die uitstaande kenmerke van die aanhangers van postmodernisme (‘n goeie vriendin van my praat van postmortemiste;)))) , is die verheerliking van Nie-weet-kunde. Die uitspreek van onsekerhede, wegskram van wat die waarheid is en ontkenning, word tot die oulikste eierdansies verfyn, soos mens dikwels in Jullian Müller en enersdenkendes se skrywes raaklees. Die enigste ding wat hulle van harte weet, is dat hulle nie weet nie …. Volgens hulle is Christene arrogant om te sing : “Ek weet verseker, dat Jesus leef!”

  2. Hallo Henrietta, nes jy daar sê, hierdie ouens ontken in wese wat ek noem die “epistemologiese evangelie” van 1 Joh.5:20. Christus het juis gekom sodat ons nie meer hoef te twyfel nie, maar kan ‘weet’ en Hom waarklik kan ‘ken’. Joh.1:18 is die ‘kennis sleutel tussen God en mens’, en hierdie ouens probeer (arrogant?) die volle implikasies van om Hom waarlik en met sekerheid te ken, te ontken met hul dogmatiese geloof in onsekerheid/twyfel, ‘n nuwe valse (on)geloof.

    Sien ook Luk.1:4. Dit is ons troos, ons kan uit genade, deur die geloof ‘volle geloofsekerheid’ hê.

    Goed gaan daar.

  3. Ek kan nie glo mense word so maklik gevang met misleiding en vals leraars nie! Maar die Bybel waarsku ons daarteen. Julle is veronderstel om soos kinders te glo en nie die Bybel (die Woord van God) te verdraai en misintepreteer nie! Die waarheid is in die Bybel, nie in mense se breine nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: