1 PETRUS PREKE: (4) Wat of wie is jy begerig om te sien? (1 Petrus 1:10-12)

1 PETRUS PREKE: (4) Wat of wie is jy begerig om te sien? (1 Petrus 1:10-12)

Lees:   1 Petrus 1:1-12

Teks: 10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, 11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. 12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien. – 1 Petrus 1:10-12

Sing: Ps. 8:1-4; Sing: Ps. 1:1, 2; Ps. 1:3, 4; Ps. 8:5-7

Opname (GK Carletonville, 2022-10-02):

Aflaai: 1 Petrus 1:10-12

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Geliefde gemeente in Christus,

Ons moet begerig wees, soekend, honger en dors na die onverganklike en onbesmette en onver­welklike erfenis …. wat in die hemele bewaar is vir ons”, in en deur die geloof in Jesus Christus, elke dag van ons lewens, midde die pelgrimspad wat ons bewandel.

Ons moet nie net sugtend wag daarvoor nie, maar ondersoek, peins, daarna jaag ons lewe lank!

In die woorde van Paulus, 13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.  14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.  (Fil. 3:13-14)

NOU, geliefdes, dit is wat Petrus nou verder hier doen in hoofstuk 1, v.10-12. Hy wil die pelgrimsgelowiges, ons versterk en bemoedig om die goeie stryd van die geloof te stry, deur vir ons te wys hoe opgewonde die engele is aangaande die saligheid wat a) eers van geprofeteer is in en deur die beloftes van die Ou Testament, b) en dan volkome vervul is, in Christus.

Dit moet ons dankbaar maak, nederig maak en laat volhard tot die einde toe.

SO, ons leer vandag, ʼn ondersoekende vraag:

“Is ek, is ons nog opgewonde oor die saligheid wat vir ons bestem is vir nou, en vir die ewigheid, hoe lyk my lewe, my fokus, my toekoms?”

Petrus skryf daar, dat die profete van die Ou Testament het geprofeteer in die Ou Testamentiese geskrifte, wat ook genoem is die ‘wet en profete, oor ‘hierdie saligheid’, v. 10

Wat is hierdie saligheid?

Die woord beteken: redding, bevryding, verlossing. Hy het dit uiteengesit in v. 1-9. Hoor opnuut van jou rykdom, jou identiteit wat jou opgewonde, dankbaar moet maak, dat jy sy uitverkore kind is:

“… uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

DAAR is die ‘saligheid’ wat jy deur die geloof in deel, dit moet ons so opgewonde maak, ja, midde die gebrokenheid van hierdie lewe!

En nou wys Petrus, hoe die Ou Testament se gelowiges, en dan veral die profete verlang het na hierdie tyd van vervulling, “en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het”, v. 11.

Hieruit leer ons baie geliefdes, ook vir ons tye.

Die Ou Testament is die belofte van redding in Christus, die Nuwe Testament is die vervulling van daardie belofte, ons kan nie die een sonder die ander nie.

Kyk mooi wat skryf Petrus deur die Gees hier vir ons.

Die Ou Testament (onthou, die Nuwe Testament wat nog bestaan het nie), maar die Ou Testament profeteer van Christus! Dit is wat ons noem ‘Messiaans’ van begin tot einde, dit word nie messiaans later nie, maar was van die begin af: van Genesis tot Maleagi is messiaans – na die sondeval, regdeur die Skrif word geprofeteer, deur die ‘Gees van Christus’ wat in die profete was, van die komende Verlosser, Redder, Saligmaker.

Jesus bevestig dit ook in Luk. 24: “En Hy sê vir hulle: o Onver­standiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:25–27)

Ons Kategismus (v/a 19) vat dit as volg ook saam, wat die ‘goeie nuus’, die ‘hierdie saligheid’ is van vers 10, in die volgende woorde:

(Waaruit weet jy dit = die evangelie?)

Antwoord: Uit die heilige evangelie wat God self eers in die Paradys geopenbaar het (a):

Gen. 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

en  daarna deur die heilige aartsvaders (b):

En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. (Gen. 12:3)

en profete (c) laat verkondig :

Jer. 23:5-6 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ʼn regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.

en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld het (d):

Heb. 10:1 Want die wet, wat ʼn skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.

en eindelik deur sy eniggebore Seun vervul het (e):

Gal. 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet

En dit is oor hierdie vervulling waaroor die OT profete nagevors en nagespeur het, hulle het geweet o.g.v. God se beloftes, van Gen. 3:15 en verder, daar kom ʼn Messias, maar nie die detail, presiese dag en datum en presies alles hoe nie.

Maar hulle is gered deur die geloof in die Belofte, verlangend na die vervulling, dink maar aan Simeon en Anna se verlange, as hy die baba Jesus in sy arms neem en uitroep, Luk. 2:29-32:

Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — ʼn lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Luk. 2:29–32)

Ja, die Ou Testamentiese profete het vir ‘ons’ menende, Nuwe Testamentiese tye gelowiges onder alle volke, die Ou Testament bedien, sodat die vervulling sou plaasvind in Christus, op die tyd wat die Vader bepaal het, deur die krag van die Gees.

En nou moet die pelgrims van Petrus se tyd, alle tye, ook ons, raaksien dat dieselfde Gees wat deur die profete gespreek het (Ou Testament), ook deur die apostels gespreek het (Nuwe Testament), daarom die woorde “Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is

Die goeie nuus van Jesus, dat Hy gekom het, en met sy hele lewe, maar aan die besonder aan die kruis vir al ons sondes gesterf het, God se regverdige oordeel gedra en betaal het: dit is volbring, dat Hy opgestaan het in heerlikheid en opgevaar het, en dan die toepassing van daardie redding deur die Gees, asook die wederkoms en die volmaaktheid wat kom.

ALLES ‘hierdie saligheid …. kom nie uit ʼn mens nie geliefdes, hoor mooi, dit is nie die werk van enige mensepogings nie, hoe swak is ons maar nie!

MAAR, hoor daar die troos wat u opgewonde moet maak, begerig soos die engele, wat opgewonde is daaroor, in die Gees wat van die hemel gestuur is. Ja, onse Vader wat in die hemele is, en (sy Seun) gaan sit aan die regterhand van God, en, die Gees wat van die hemel gestuur is.

Wat roep dit uit, hoekom maak dit my opgewonde, en vir die engele?

Want, hierdie saligheid, hierdie reddingsplan, kan nie misluk nie,  ja, in my sonde gebrokenheid worstel ek mee, die Satan loop soos ʼn brullende leeu rond, kyk hoe baie verslind hy baiemaal, deur sonde en misleiding, die wêreld met sy leuens.

Ja, dit is pynlike hakskeen bytplekke, maar die Satan, die sonde, is oorwin, sy kop is vernietig, volkomenheid is op pad!

Nou geliefdes, hier is ʼn diep roerende waarheid wat ons aanspreek in verootmoedigend.

Daar is geen versoeningswerk vir engele nie, die gevalle engele, onder andere Satan, gaan verlore weens hul opstand en haat teen God en sy Gesalfde en sy kerk, maar die uitverkore engele is en was bestem om twee dinge te doen:

– God te verheerlik en te dien van ewigheid tot ewigheid, sien die boek Openbaring, en

– om dienende geeste te wees vir die Here se kosbare kinders,

en hulle raak opgewonde oor een verlore siel wat gevind word, ‘n skaap wat gevind word, hulle is begerig, dienend (Hebr. 1:14), opgewonde oor mense wat gered word, hulle verlang daarna, hulle soek en ondersoek dit, hulle woon die eredienste by om te sien wie gaan tot geloof kom, wie gaan terugkeer van afvalligheid, wie gaan hul Vader verheerlik en dien, waar is ek en u?

‘Hierdie saligheid’, het ek dit werklik van harte, is dit wat ek naspeur, soek, deurvors, is dit wat my laat aangaan in die lewe, wat my bestaan bepaal, my geld, by tyd, my fokus, en as dit is, moet ek dan nie begerig opgewonde wees, dat ander ook in hierdie saligheid sal deel nie?

Deel hierdie saligheid, Christus se opofferende liefde, die Vader se liefde,  die Gees van Christus met ander… hoe?

Verkondig die Woord, deel die Woord, nooi uit, ondersoek, vra, besoek, gee om… terwyl u op die beproewingspad is, in die goeie stryd, elke dag, elke week, elke maand, elke jaar, totdat Hy kom om die saligheid wat ons besit, in volkomenheid te laat oorgaan.

Daarom sluit ons af met die woorde van Paulus, Ef. 3:8-13, vir ons oproep en bemoediging:

Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here, in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom. Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit is julle eer.

Amen.

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑