1 PETRUS PREKE: (5) Rol op die moue van julle verstand! (1 Petrus 1:13-16)

Lees: 1 Petrus 1:10-16
Teks:”13DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. 14Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. 15Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:13–16)
Sing: Ps. 71:1, 2, 9; Ps. 77:5-7; Ps. 74:10-12; Ps. 71:12- 14
Opname (GK Carletonville, 2022-10-16):
Aflaai: 1 Petrus 1:13-16
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
By ʼn begrafnis van ʼn geliefde, vind ons beide die hartseer van die sonde en die gevolge daarvan, die dood, maar ook, in die woorde van v. 13, “(die volkome) hoop … op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:13), met die wederkoms.
En een van die mees treffende gebeure by ʼn begrafnis, is as die manne, soms ook vroue, nadat die ter aarde bestelling plaasgevind het, dan die graf toegooi, ja, hoop vir hoop wat as’t ware geskep word … midde die trane, midde die werklikheid van ʼn geliefde wat nou weg is … al is dit net vir ʼn tyd.
Die manne trek die baadjies uit, haal die dasse af, hulle rol die moue op, om daardie liefdesdaad te doen, gefokus, sonder dat enige iets hul aandag aftrek, om dit deeglik te doen, alles, met die hoop dat soos hul geliefde begrawe word, so, gaan elkeen wat in die Here gesterwe het, weer opstaan uit daardie grafte.
NOU geliefdes, dit is waartoe Petrus deur Gees en Waarheid oproep hier in ons teks vanoggend, in vers 13:
“DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter (ja, rol op die moue, raak ontslae van dit wat jou verhoed om die fokus van die geloof te behou… van alles wat jou verhoed om te) hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”, v. 13.
So, dit is dan ons tema geliefdes vanoggend:
Hoop volkome op die genade van Christus
in ʼn gehoorsame heilige lewe tot die einde toe
Nou, om hierdie opdrag uit te voer, naamlik om volkome op God se genade in Christus te hoop, ja, vir die ewige lewe, maar ook hier en nou op die pelgrimspad, gee Petrus verskillende opdragte. Dit alles vloei uit wat reeds in v. 1-12 geleer is, wat die gelowiges se nuwe identiteit, status en al die skatte is wat hul het in Christus, samevattend v. 4, “sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons”.
En, ‘daarom’, begin v. 13 met die woord ‘daarom’, dus o.g.v. alles wat vooraf geleer is, volg die opdragte, wat nie anders kan en mag wees nie:
Die eerste opdrag is om die lendene/heupe van hul verstand te omgord, en nugter te wees.
In die bybelse tye het mense lang kledingstukke gedra, en as hul fisiese werk moet verrig, of lang paaie stap, het hul mantels opgetel vanaf die knieë en boontoe om die heupe vasgebind, sodat hul met groter vryheid kan beweeg en kan werk, of hardloop as dit nodig was.
Ons moet geestelik ‘moue oprol en baadjies uittrek’ om ons denke gefokus te kry op die hoop van genade, geloof, die Here, die Bybel, dit wat saak maak in die lewe nou en vir die ewigheid.
Nie ons emosies, ervarings, gevoelens nie, maar ons denke geheilig deur die Woord moet ons lei.
DIT wat geleer is in v. 1-12, moet ons lewens bepaal, ons denke en verstand bepaal en lei.
In Rom. 12:1 lees ons, Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ʼn lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.
So, hier is die eerste toepassing wat ons nou leer vandag: uit die ware leer volg die ware denke, ons geloof is rasioneel, denkend, oorwegend, besinnend, peinsend, ons is Ps. 1 gelowiges:
“om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ʼn aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,” (Fil. 1:10)
En daarby sluit aan die woorde en opdrag: wees nugter!
Ja, dit is in die betekenisveld van om nie ʼn dronkaard te wees nie, maar beklemtoon veral geestelike nugterheid…. ʼn Dronk mens is onverantwoordelik, banaal, ken nie meer reg en verkeerd nie, maak verkeerde besluite, is lagwekkend maar tog so tragies, vernietig ander mense, sy verhoudings, hartseer tragies,
Kyk wat skryf Paulus in Ef. 5:14-18:
“Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. (sien ook Spr. 20:1; 23:29-36; Gal. 5:19-21)
Ons, die gelowige pelgrims, moet paraat wees, soldaat wees, wakker, besinnend, geen ‘Nike christene’ van ‘just do it’ nie!.
Die woord nugter wys op helder denkend, beheersdheid, ingetoeënheid, redelik, kalm oorwegend, onderskeidend… op grond van v. 1-12 se gevolge, ek glo, en dit beteken dit en dat vir my denkende en praktiese lewe:.
As God Skepper is, dan geen evolusie nie
As Jesus Verlosser is, dan nie ek of mens of staat kan my verlos nie
As die Gees red en verander … dan ek ook!
As God die hoop beloof, dan is die genade vas en ek kan lewe vir Hom en my naaste tot die einde toe
As God en Jesus Koning is, dan gehoorsaam ek in dankbaarheid, dan bepaal Hy wat reg en verkeerd is, en nie ek of die tydsgees nie.
(Jay Adams: wysheid is ‘waarheid toegepas’)
En daarom, ook die negatiewe opdrag in v. 15 wat nou volg:
Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
Ons was eers ongehoorsaam, verlore, boos, maar nou deur v. 1-12, gehoorsame kinders. Die besetene van Gadara, dan kom Jesus in sy bose lewe, en dan …. dan sit hy by Jesus se voete, luister en doen! (Mark. 5:15)
En wat is ware verandering, bekering? Nee, nie net afsterwe nie, nie net opneem nie, maar albei lewenslank:
Daarom, nou dat jy kind van God is, rig jy nie meer jou lewe in volgens die wêreld nie, nie volgens jouself, jou tye, mense, idees nie, maar:
Rom. 12:2, En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Geliefdes, nog ʼn toepassing: ja, ons gedenk vier weer einde van die maand die Reformasie, gered uit genade alleen, geloof alleen, sonder enige werke… ja en nogmaals ja, dit leer Petrus ook in v. 1-12.
Maar, jou lewe hier en nou, gehoorsaam of ongehoorsaam openbaar of jy in die Here is, sy evangelie reg verstaan vir nie net leer nie, maar ook lewe, regverdiging en ook heiligmaking.
Dit openbaar of jy werklik hoop en lewe en gefokus is op die hoop van genade, of jy jou verstand omgord het, of jy nugter lewe. Toets dit aan God se Woord, sy gebooie, leef ek al meer of minder daarvolgens, dit is ook Petrus se oproep later in 2 Petrus 1:10!
As Petrus noem van die onwetendheid van die verlore mens, dan is dit nie verontskuldiging nie, maar juis verdoemenis vir hulle wat God nie erken het nie, Rom. 1:18-32, Paulus beskryf dit as volg in Ef. 4,
“DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.” (Ef. 4:17–19)
Dit is die tweesnydende woord en evangelie wat Petrus hier leer, wat die ware kerk en ware predikers aanhou moet verkondig, vir almal ‘n oproep tot geloof en bekering!
As jy roem jy is kind van God, wys dit in jou lewe van dankbare gehoorsaamheid teenoor God en jou naaste, jy is nuut, wedergebore, jy kan nou en jy moet nou deur sy Gees en Woord!
En daarom volg die oproep van verse 15, 16:
Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1:13–16)
Hy wat jul geroep het, wys op die redding in Christus, toegepas deur die werk van die Gees, v. 1-12
Hier is die wese geliefdes van vanoggend se Woord aan my en u:
Petrus leer vir sy tye, vir ons, vir alle tye (v. 1-3) midde vervolging, in hierdie wêreld, kan en moet ons staande bly, want God het ons gered en geroep om heilig te wees, want Hy is heilig.
Deur die sondeval het ons hierdie heiligheid, andersheid, beeld van God verloor of beskadig (NGB art. 14,15). Maar in Christus is ons heiligheid in beginsel herstel, en moet ons, kan ons nou weer ‘afgesonder’ wandel vir Hom en ons naaste.
En, Wie bepaal hoe ons glo en lewe?… God wat Heilig is
Waar leer ons dit? … deur sy Heilige Woord.
Deur watter krag? … die krag van die Heilige Gees.
Dit wat ons reeds gehoor het daar in vers 2:
“uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: …
En, waar moet ons heilig wees, net Sondae, of eers as ek oud is, of …. eers eendag in die hemel?
Kyk wat staan geskrywe: 15, Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word.
Dus, persoonlik, gesin, gemeente, verhoudings, op elke terrein van ons lewens, ongeag die vervolging en teenstand, ons moet ‘anders’ lyk, praat en optree, die ‘anders’ bepaal deur die Woord, nie ‘anders’ soos in hoogmoed of askese nie, maar soos Jesus leer in Joh. 17:
“Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh. 17:14–17)
Ja, ons is ‘in’ die wêreld, maar nie ‘van’ die wêreld nie.
Dit is ʼn geestelike heilig, afgesonder wees, en ja, soms kan dit beteken ook fisiese skeiding van wat onheilig is (1 Kor. 15:33; Op. 18:4), maar in wese is dit ʼn geestelike skeiding of antitese wat lei tot fisiese heiliging op elke terrein van lewe en denke.
Dit is die gelowige, die ware kerk se lewe in ʼn neutedop geliefdes:
‘word’ wat julle reeds ‘is’ in Christus, deur die uitverkiesing van die Vader, die verdienste van Christus, deur die kragvolle toepassing van die Gees: Wees heilig, want Ek is heilig.
En daarom skryf Johannes ook vermanend vir ons:
“EN dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Joh. 1:5–7)
God is heilig, en die wat sê hulle is heiliges, moet wandel soos Hy heilig is.
En ja, as ons struikel, val, worstel en sukkel, dan vlug ons na Christus om ons onheilige optredes te bely, en reiniging en vergifnis by Hom te vind, Kom na My toe, Hy het gekom vir gebroke sondaars.
Laastens, hoe konkreet omgord ek my verstand, hoe bly ek nugter, hoe bly ek hoop tot die einde toe?
Niks nuuts nie geliefdes, altyd self-ondersoek terwyl ek volhard om al die genademiddele wat God geskenk het te gebruik en op te soek:
– ‘n lewe van gebed
– Bybellees en oordenking
– Erediensbywoning
Maar ook, goeie christelike boeke lees, bybelstudies gebruik, geeste te onderskei, dink, peins, soek my lewe lank, ‘saam’ ander gelowiges saam my op die pad, sien 2 Tim. 2:22; Hebr. 10:25.
Hoekom verloor ons hoop op die genade wat geopenbaar word?
Verskeie redes vir self ondersoek:
– ek besef nog nie die hoogte diepte en rykdom van v. 1-12 nie, gaan dan terug en bestudeer dit opnuut.
– ek is ongehoorsaam in sekere dele van my lewe, ek wil God en Mammon dien, vra die Here om jou hart deur sy Gees en Woord te ondersoek, ook saam met mede-gelowiges.
– ek is nie nugter nie, geestelik of fisies, dink ek kan plesiergod en heilige God dien, sien Jesus se woorde in Matt. 6:24.
– my eie begeerlikhede, tydsgees, gevoelens is bepalend vir my lewe, nie God wat heilig is nie, sy Woord is nie ‘n lig op my pad nie, lees weer Ps. 119.
– ek dink die gelowige se lewe moet net kroon wees, en nie ook kruis en pelgrimspad nie, bereken opnuut die kostes, sien Rom. 8:12-17.
– ek dink geloof is ʼn saak van gevoelens en nie denke nie, besef dat ons die Here met ons hele hart, siel maar ook ‘verstand’ moet dien, alles, Matt. 22:37-40.
Mag die Here ons help, om opnuut nugter te wees, ons verstande se moue op te rol, en te hoop op die genade wat ons nou reeds in beginsel troosvol het, en ten einde volkome sal wees met die wederkoms. Volhard tot die einde.
HOEKOM? Want, “… soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:15–16)
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment