1 PETRUS PREKE: (6) Wandel in vrees vir die Here gedurende jul vreemdelingskap (1 Petrus 1:17-21)

Lees: 1 Petrus 1:13-21
Teks:”17En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; 18omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, 21julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.” (1 Peter 1:17–21)
Sing:Ps. 107:1, 9, 10; Ps. 119:18, 19, 20; Ps. 112:1-4; Ps. 128:1,4
Opname (GK Carletonville, 2022-11-13):
Aflaai: 1 Petrus 1:17-21
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Deur Petrus se pelgrimsbrief, geïnspireer deur die Heilige Gees, word ons dringend in ons teksgedeelte opgeroep, om op grond van alles wat ons geleer het in v. 1-16, te “… wandel … in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;” (1 Pet. 1:17).
Die oproep om te wandel, is ʼn sterk beklemtoning, ʼn dringende bevel.
Ons moet aktief wees, ons moet leef, ons moet doen, besig wees, nie sit nie, nie lê nie, nie opgee teen die wêreld, Satan en sondige oorblyfsels nie, maar wandel!
Die woord wandel is breed, dit wys op ons woorde en dade, ons gedrag, optrede in alle omstandighede en tye.
En wanneer moet dit plaasvind?
Ten tyde van ons vreemdelingskap, ons pelgrimspad hier op aarde, voor die nuwe hemel en aarde kom, dus heeltyd en altyd tot die einde toe.
Hoe moet ons wandel, in vrees!
In eerbied en ontstag teenoor die Here, want Hy leef, Hy regeer, Hy bepaal alles.
En, daarom wil ons uit ons teks, v. 17-21 die volgende 3 sake leer op ons pelgrimspad deur die lewe:
- Waarom ons wil wandel in vrees
- Waarom ons moet wandel in vrees
- Waarom kan ons wandel in vrees
Ons tema is, saamgevat: Wandel in vrees vir die Here in die tye van julle vreemdelingskap, deur die krag van Jesus Christus
- Waarom ons wil wandel in vrees
Waarom wil die kind van God, die uitverkorenes in die vrese van die Here, wandel?
Ons hoor dit in die woorde van v. 17 daar in die begin:
“En as julle Hom as Vader aanroep …”
Menende, julle het nou die rykdom van v. 1-16 se weldade, julle wil nou jul Vader in die hemel verheerlik met julle hele lewe. Julle wat eers verlore was en nie God en die naaste behaag het nie, wil dit nou doen wat reg is, want julle is lief vir julle Vader. Sy eer, Hy wat julle liefhet, is nou die grootste motief vir julle wandel in vrees, julle eerbiedig Hom, julle wil doen wat Hom behaag, nie meer julleself nie.
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Mat. 5:16)
Hy is nou die belangrikste een in jou lewe wat jy wil behaag deur jou woorde en dade en optredes, midde hierdie wêreld.
“En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” (Kol 3:17)
So, my grootste motief, is liefde tot God, kyk wat het Hy alles vir jou gedoen, v. 1-16, antwoord daarom met ‘n Godverheerlikende dankbaarheidslewe!
MAAR, dan ook:
- Waarom ons moet wandel in vrees
“En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;” (1 Pet. 1:17)
Daar is die tweede motief, ons liefdevolle Vader, waarsku ons dat Hy ook nog altyd ʼn heilige Vader is, en ewig sal bly. Hier word gesê dat Hy ook nog sy kinders sal oordeel volgens elkeen se werk. Wat beteken hierdie frase geliefdes, word ons gered deur ons werke? Verdien ons werke enigsins iets, moet ons werke saamwerk om ons te red?
Nee, genadiglik nie … as dit hier dit beteken, dan sal dit a) v. 3-9 weerspreek, en b) wat volg juis in vers 18 en 19, naamlik dat Christus se bloed alleen ons red, ook weerspreek.
So, wat beteken hierdie woorde?
Dit beteken 2 sake geliefdes:
Onthou Petrus skryf hier vir gelowiges, om hulle te bemoedig oor God se ewige en tydelike sorg, maar ook vermaan om nou juis omdat hulle gered is, dankbaar te lewe en hul werke moet ʼn bewys wees daarvan, nie om hulle te red nie, dit kan nie, maar as vrug van hul redding, op die pelgrimspad.
Die woorde beteken juis dit, nou dat jy gered is, die heilige God jou vergewe het, beteken dit nie jy kan lewe soos jy wil nie, inteendeel, wat het ons nou net geleer in v. 15, 16 … ja, wees heilig, want die Here is heilig, leef in heligheid. Jy is nie gered tot losbandigheid nie, maar tot ‘n eerbiedige goddelike dankbare vrees in alles wat jy doen (Ef. 1:4).
So, as jy meen jy is gered, maar volhardend losbandig lewe sonder ware opregte bekering, sal God jou oordeel.
Dit kan dus beteken, dat jy nooit gered was in die eerste plek nie, maar, dit kan ook beteken, dat as jy sondig, die Here jou sal tugtig in sy liefde as sy kind, sien Hebr. 12:5-13. ‘Oordeel’ moet nie net gesien word in terme van die ewigheidsbestemming nie, maar ook in terme van hier en nou, die Here sal ook tydelik oordeel en bestraf. Dink aan Moses, Dawid wat vergewe is, nooit verlore gegaan het nie, maar wel getugtig is. Ja, sonde het tydelike gevolge.
So, vir die ongelowige, goddelose wat, vers 18 in hul ydele lewenswandel volhard, aan ‘naam-christene’, sê hierdie teks: bekeer jou, glo en bekeer as jy nou nog wandel in ongeloof en bose dade en lewenswyse.
Moenie dink as Jesus jou red, Hy word ongeheilig en daarom kan ek in my sonde bly lewe en misbruik maak van sy genade nie.
Jesus is ons regverdiging en heiligmaking. Hy gaan ook jou wat sê jy is gelowig, maar soos die duiwel lewe (1 Joh. 1:5-7), jou sondes probeer regverdig en goedpraat, regverdig oordeel: .
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Kor. 5:10)
So geliefdes, saamgevat: eerstens is dit liefde tot ons Vader en God, wat ons aanspoor om te wil wandel in sy weë, sy gebooie, Hom behaag, in vrees te wandel al ons dae.
Tweedens, omdat Hy heilig is, is ons oud en jonk, almal, elke lidmaat, besorg oor hoe ons lewe, en daarom dat ons mekaar onderling en saam tug (sien die drie kenmerke van die ware kerk, NGB art. 29).
En hierdie werklikheid van God se oordeel, ironies, as ek so beklemming daaroor op my hart kry, weens my gebrokenheid en val in sonde, dan getuig dit juis dat ek hierdie saak ernstig opneem, dat hoe ek wandel vir my belangrik is, en dan kom die troosvolle, maar ook bevrydende waarheid van vers 18-20 nou na my toe, om my te troos maar ook aan te moedig om:
a) te volhard in die vrees van die Here wandelinglewe, en/of
b) my vanoggend te bekeer en die ware Bron, oorsaak te omhels wat my konkreet prakties gaan help, om nou in liefde tot God en my naaste te wandel en te leef.
Dit sien ons in die derde punt, dit is alles omvattend noodsaaklik, om bevry te word van a) ʼn valse gerustheid in my sonde … en/of b) troos daar is vergifnis en hulp vir elke arme ellendige worstelende soekende sondaar in hierdie aardse jammerdal wat nog onvolkome is en ek nog op daardie pelgrimspad is.
So wat is die ‘geheimenis van die lewe’?
Wat het ds. Slabbert ontdek wat vanoggend my hele lewe gaan radikaal verander, nou as ek dit hoor, en elke dag tot in ewigheid?
Hier is dit geliefdes, in die 3de plek:
- Waarom ons kan wandel in eerbiedige vrees ons lewe lank in vreemdelingskap, dus tot ek sterwe of die nuwe hemel en aarde kom
Ek lees dit vir u, dink daaroor, peins daaroor, soek dit, vra na dit, dit is alles bepalend vir u en u kinders en ons gemeente se hele lewe, nou, môre, en elke dag tot in ewigheid:
“omdat julle weet …”
Weet beteken = vaste kennis, onfeilbare waarheid, geloofsbelydenis, ʼn rots waarheid, onverganklik, vas en seker, teenoor die ydele nietige lewensbestaan.
Wat ‘weet’ ons met sekerheid?
“…. dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ʼn lam sonder gebrek en vlekkeloos”.
DAAR is dit geliefdes, dieselfde goeie nuus, die evangelie van Christus, maar sien u die fokus hier In v. 1-19 het Petrus die basis van die hele brief gelê, die Vader se raad en liefde, Christus se offer, die Gees wat wedergeboorte werk.
Maar hier wil hy nou die direkte konkrete toepassing maak van, dat ek en jy kan in die vreemdelingskap, in die nuwe SA, in die gebroke wêreld, in tye van onreg en boosheid, kan ons in vrees wandel, want ons is vrygekoop deur Christus se bloed!
Nie my positiewe denke nie, nie enige guru planne nie, nie ‘self-fix’ planne nie.
Christus en Christus alleen. Dit is wat Hy hier opnuut ons leer!
Jou verganklike nietige lewe is en word verander deur die kosbare onfeilbare bloed van Christus. Dit is volkome sonder gebrek en vlekkeloos werk van God, sodat jy alles het wat nodig is, sien 2 Pet. 1:3 (lees dit!) vir leer en lewe, vir hoe om te lewe as man, vrou, gesin, gemeente, werk, gemeenskap, volkslewe, ens.
Moet daarom nie aanhou dink soos die ydele (nietige, leë, doellose, siniese, kragtelose) wêreld om jou nie, jou gedagtes daarmee vol pomp deur sosiale media en ander maniere nie.
Waarmee moet ons lewenslank gevul word?
MAAR word gevul met die Gees van God, met Hom, v. 22-25 wat ons ‘n volgende keer verder gaan leer (sien ook Ef. 5:17-21)
Hier moet nou gesien word, waarom jy kan leef as kind van God, nou reeds, want die bloed van Christus, vergewe, reinig, herstel, bou op.
As jy volhard en bly in sondes, nie wil bekeer en groei in heilig wees nie (v. 15,16), dan is jy dalk geen kind van God nie, dan moet jy weer terug na verse v. 1-19, en vra die Here om jou hart te ondersoek in die sake.
As jy worstel en struikel, dalk baie onkunde is, moet jy toegewyd soek en leer om met vastheid te ‘weet’, sodat jy meer toegerus kan word om te oorwin, te bekeer, deur die werk van Gees en Woord (sien Matt. 6:19-33).
Ja. kinders van die Here sondig baiemaal nog, nie omdat ons nie anders kan nie, of gedwing word nie … maar omdat, tot ons skaamte ons dit nog baiemaal ongelukkig wil doen (sien die Romeinde 7 preek).
En daarom moet ons lewenslank aanhou bekeer, vrees, groei in die geloof.
Ja, ons het sekerheid:
… wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,” (1 Pet. 1:18–20)
Vanuit die ewigheid het God ons gekies, red ons in sy Seun, sy reddingsplan kan nie misluk nie, en daarom juis die troos van die volharding van die heiliges, dat Hy die werk in ons sal volbring tot op die laaste dat (Filp. 1:6; sien ook DL hoofstuk 5).
Laastens, ons het geleer hoekom ons wil wandel in vrees, moet wandel in vrees, kan wandel in vrees, en dan laastens:
Die troos van die uiteinde van die wandel in vrees, wat nou so gebroke is, so worstelend is, maar die goeie stryd is: “julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.” (1 Pet. 1:21)
Deur die geloof het ons ʼn ware sekere Hoop geliefdes, ons weet deur die geloof dat hierdie aardse jammerdal nie die laaste sê het nie, ook nie my sonde worstelinge nie.
As Petrus vanaf hfst. 2 en verder oor al die onreg ook begin spreek in hierdie ‘aardse jammerdal’, teenoor owerhede, huweliksverbrokkeling, ongeloof, werksprobleme, verdrukking, ens. dan het dit ook nie die laaste sê nie, want Jesus het opgestaan sodat elkeen wat in Hom glo tot die ewige lewe sal opstaan.
Daar is ʼn toekoms vir jou en my, maar hoor dit opnuut vandag: vir julle wat deur Hom glo (v. 21), en daarom in Hom wandel.
Glo in Christus, sy kosbare bloed, glo elke woord en belofte van die Here, soek sy vrees en sy gebooie en groei daarin.
Vandag as jul sy stem hoor, kom na Hom toe.
Of, as ek afgedwaal het, Hy verwelkom terug verlore seuns en dogters.
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment