Prof. Hendrik van der Wateren (1938-2024)

Prof. Hendrik van der Wateren (1938-2024)

Met erkenning aan Boermedia, plaas ek die volgende huldeblyk van prof. van der Wateren, deur Andries Breytenbach:

“Met die heengaan van prof. Hendrik van der Wateren op Donderdag 28 November het die Afrikanervolk van nog een van sy adel uit die vorige era afskeid geneem. Hendrik is op 19 September 1938 in Johannesburg gebore. Hy het in 1956 aan die Voortrekker Hoërskool in Pietermaritzburg gematrikuleer, en návoortgesette studie ʼn doktorsgraad in Volkekunde aan die destydse Potchefstoomse Universiteit vir Christelik Hoër Onderwys verwerf, waar hy ook vir etlike jare dié vak gedoseer het.

Hy was getroud met Martie, wat hom vroeër vanjaar ontval het. Uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore. Sy belangstelling in die wel en weë van volke, en in besonder ons eie volk, het ná sy aftrede voortgeduur. Dit was daarom vanselfsprekend dat hy tot aan die einde van sy lewe ten nouste betrokke was by die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikanervolk en ʼn leidende rol in dié verband gespeel het. Benewens sy belangstelling in ons kultuurgeskiedenis, was hy ook tuis met sy hande en het hy sy praktiese aanleg in ʼn liefde vir en belangstelling in houtwerk uitgeleef.

Hendrik se lewe was gekenmerk deur geloof in God soos dit verstaan en uitgelê is in die gereformeerde leer (slc: prof. Hendrik was met sy sterwe, lidmaat van die GK Waterberg,  Nylstroom, waar hy vanoggend begrawe word).

Geloof was vir hom ʼn oortuiging wat in die praktiese lewe van elke dag neerslag moes vind. Daarom was sy elke dag se lewe gekenmerk deur diensbaarheid en roepingsgerigtheid, wat nie plek gehad het vir ʼn soeke na eer, eie-ekkerigheid en eiebelang nie. Hy het homself nie op die voorgrond gedring nie, nogtans het hy nie gehuiwer om leiding te neem wanneer hy daartoe geroep is, of die omstandighede dit vereis het nie. Voorbeelde hiervan was:

1. Sy betrokkenheid by Radio Pretoria, waarvan hy ʼn geruime tyd as lid van die direksie gedien het.

2. Voorts sy optrede as trustee van die Majuba Boerevolktrust. Hier het hy ʼn suksesvolle fondsinsameling gereël om die verband op die Majuba Gedenkplaas af te los. Daarmee is ʼn groot skuldlas finaal van die Trust se nek afgewerp en het Majuba weer sy regmatige plek in ons volk se geskiedenis ingeneem waar die wonderbaarlike oorwinning wat die Here in 1881 aan die Boerevolk gegee het, jaarliks luisterryk herdenk word.

3. So ook het Hendrik met die nadering van die 100-jarige herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog die leiding geneem met die stigting van die Volkskomitee om daardie historiese gebeurtenis op ʼn paslike wyse landswyd te herdenk.

4. Na afloop van die herdenking, het hy die Volkseie Museumraad op die been gebring om ʼn bewaarplek te skep vir erfenisgoedere wat individue aan die Volkskomitee geskenk het om vir die nageslag bewaar te word. Terselfdertyd het hy die museum by die Gereformeerde Kerk in Nylstroom tot stand gebring en ingerig.

5. Met F.W. de Klerk se verraderlike oorhandiging van die politieke mag in Suid-Afrika aan die ANC, het die toenmalige Afrikaner-Volksfront ʼn Volksrepubliekwerkkomitee in die lewe geroep, in die waan dat hulle daarin kon slaag “om ʼn soewerein onafhanklike republiek vir die Boerevolk te beplan en te verkry.” As een van 18 werkgroepleiers van dié Komitee het Hendrik ook sy kennis en kragte daar ingewerp.

Benewens die voorgenoemde, was Hendrik by verskeie ander kultuuraksies en -organisasies betrokke. Verskeie vak- en kultuurhistoriese publikasies en radiopraatjies het uit sy pen die lig gesien (nie ʼn volledige lys nie):

• Kultuur Kleed van die Mens, 1979.
• Diensbaarheid van die volkekunde, 1981.
• Die 100-jarige Herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog (1998).
• Die pad na herstel (17 radiopraatjies nadat ons ons volksvryheid verloor het, 2001).
• Gebed (2014).
• ʼn Eeu van Bloedstryd 1815 – 1914 (2016).
• Rigting: Woord en Tydsgees (April 2024).

In hierdie laaste werk ontleed hy die denke en strominge wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog oor die wêreld gespoel en ook ingewerk het op ons volk se geskiedenis en lewensbeskouing. Hy trek parallelle tussen die onsekerheid en rigtingloosheid wat in Israel geheers het in die tyd van die rigters en die hedendaagse wêreld. Uiteindelik bly daar vir ons net één van twee keuses: gehoorsaamheid aan God se Woord of meegaan met die tydsgees. Die twee is onversoenbaar en kan nie saam gehandhaaf word nie.

Ons dank God vir Hendrik en die goeie invloed wat hy deur woord en daad op vele volksgenote uitgeoefen het. Hy het sy talente, middele en kragte met toewyding aangewend om sy roeping op aarde soos hy dit verstaan het, uit te leef tot eer van God en tot heil van ons volk. Met sy verhuising na die hemelse koninkryk van Jesus Christus het hy sy lewensdoel bereik.”

Lig in Duisternis Uitgewers het prof. Hendrik se laaste boek uitgegee, sien hier:

Rigting – Woord of Tydsgees

“Tydsgees dui op die verskynsel dat daar in sekere tye bepaalde idees of oortui­gings inslag vind om die algemeen heersende denke oor die lewe diepgaande te beïnvloed.

Die lewensbeskoulike denke van ons tyd is ’n woelende vermenging van idees en invloede. Ten einde die huidige wydlopende lewensidees te orden, word die tydsgees in die rigtertyd ontleed. Dit is nie ’n blote voorbeeld of vergelyking nie. Die rigtergeskiedenis werp lig op die ontstaan en groei van ’n tydsgees en so dien dit as beligting vir idees en gebeure in ons lewe. Want dit openbaar Skrifwaarhede waarop steeds geldende beginsels gefundeer kan word. Dan bied dit ’n maatstaf waarteen die denke en dade, die tydsgees van ons tyd, gespieël kan word.

Daar is een deurlopende krag wat altyd in gedagte gehou moet word: die groot stryd tussen God en Satan. Die tydsgees is Satan se een magsmiddel waarmee hy sy mag op aarde wil vestig. Dit was die dryfveer van die tydsgees in die rigtertyd; dit is steeds die dryfveer in die moderne tydsgees. Want dit is die ewige groot stryd tussen die almagtige God en die magte van die duisternis. Ofskoon die tydsgees wêreldwyd kan uitkring, word in hierdie boek gefokus op die neerslag en invloed daarvan op Suid-Afrika en veral op ons Afrikanervolk.”

Sien ook die boekbekendstelling en onderhoud met die skrywer hier:

Hierdie boek (asook die wat hierbo vermeld is, veral ook ” ‘n Eeu van Bloedstryd, 15 Des 1815 – 20 Desember 1914’) is belangrike leesstof vir gereformeerde Afrikaners, veral jongmense wat nie al die 20ste eeuse rewolusies beleef het nie, en verward is buite maar ook binne die kerk oor hul roeping in beide hul kerklike en volkslewe.  Met verwysing na oom Paul se bekende woorde, prof. Hendrik se boek sal ons help besin oor die verlede, om daaruit te neem wat goed en edel is, en daarop te bou die toekoms in. 

Hier is ‘n paar aanhalings uit twee van prof van der Wateren se boeke:

1) “Oor eeue heen het ‘n bloedstryd gemoedere gaande gemaak. Om bloot kil neutraal daaroor te staan het nog nooit bevredig nie. Selfs nie in ons huidige lewe waar mense verkies om van stryd, veral bloedstryd weg te skram nie. Nou is dit nie die bedoeling om ‘n bloedstryd te verheerlik nie. Dit is tydsgewys – ons tyd – en vanuit beginseldenke onaanvaarbaar. ‘n Koue kliniese veroordeling daarteenoor bevredig ook nie. Dit is volstruispolitiek om te dink dat stryd, bloedstryd, nie  bestaan nie. Die werklikheid leer anders. Die Woord leer anders.

Sentraal staan die ewige bloedoffer van ons Saligmaker Jesus Christus. Die Woord verbeeld by die kruisiging die liggaamlike pyn en fisiese vernedering van Christus. Sy werklike geestelike wroeging word nie omvattend beskryf nie – dit is onbeskryflik omdat Godverlatenheid onbeskryflik is. Sy uitroep waarom  God Hom verlaat het, bied aan ons genoegsaam die antwoord. Met ons verstande kan ons dit nie bevat nie. Dit berus slegs op geloof: dat Jesus Christus sy bloed gestort het as  versoening vir ons. Dis die hart van die Evangelie. Daaroor val nie te redeneer nie.

Diegene wat dit glo hou in alles van die volle lewe daaraan vas; diegene wat dit in ongeloof verwerp, handhaaf ‘n radikaal ander lewensbeskouing. Daar is geen middeweg nie: dit is of die een of die ander. Want dit berus op geloof of ongeloof. Hieruit volg dat die gelowige binne die voorsienigheid van God leef. Dit bely ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus en Art. 13 van die Nederlandse Geloofsbelydenis; dat God, nadat Hy alles geskape het, dit na sy heilige wil bestuur en regeer sodat niks toevallig gebeur nie.

Die praktiese uitvloeisel van die teenstelling tussen gelowiges en ongelowiges is dat laasgenoemde die geskiedenis beskou as ‘n reeks toevallige gebeurtenisse en die resultaat van willekeurige optrede van mense – veral van leiersfigure. Die gelowige daarteenoor beskou die geskiedenis as die resultaat van die Here se regering van alle dinge – die voltrekking van God se voorsienigheid. En dit wentel om die ewige bloed van ons Saligmaker Jesus Christus.”

By Pinkster word die volkstale nie deur die Evangelie opgehef nie. Dit bly.

Maar nou word juis die volkstale in God se voorsienigheid gebruik om die Evangelie in die volke en lande te versprei. (Hand 2:8) Want die taalwonder by Pinkster was nie ‘n deurmekaar gebrabbel van woorde nie maar helder tale (Hand 2:17) waarin die groot dade van God verkondig is. So staan Pinkster in skerp kontras met die Babeltoring; so word ‘n taalverwarring om mense uitmekaar te dryf, ‘n heilsame taalwonder om volke in Christus te groepeer. By Pinkster is die verband tussen taal en godsdiens duidelik. Daarom kan Paulus dit in Athene prakties toepas wanneer hy volk en taal en land (woonplek) aan mekaar verbind (Hand 17.26) en dit juis in Christus onder God se voorsienigheid stel. (Hand 17:28-31, vgl ook Deut. 32:8). So beskou word dit dan ook duidelik dat taaldwang, taalverknegting, taalverwaarlosing magtige instrumente is om volksidentiteit én geloof te ondermyn.”

In die onderskeiding van versetmatige en revolusionêre optrede lê ‘n Woordgefundeerde waarborg omdat dit direk ingryp in die gesagsorde van God. Die wese van die ingrype wortel in die skepping van die mens. Want God het die mens goed en na sy Beeld geskape met ‘n sin vir God, ‘n sin vir spraak en ‘n sin vir kreatiwiteit in sy kultuurarbeid. Maar weens die sonde tree daar ‘n wilsbotsing in. God se wil oor volke, nasies en tale seëvier maar die mens wil telkens God se Woord aan homself toets, God se eer deel, God se soewereiniteit vervang met sy eie mag en heersug. Die gevolg is ‘n deurlopende bloedstryd op aarde.

Al wil die mens eiegeregtig optree kan hy nie God se wil oorheers of selfs beïnvloed nie. Dit ontbloot die  magteloosheid en vrugteloosheid van die Revolusie. Versetmatige optrede daarteenoor spruit uit God se genade. Dan is dit dankbaarheidswerke, getoets aan die Waarheid van die Woord.

In sv voorsienigheid regeer God en word die uitverkorenes in genade uitverkies om met dienswerk te volhard. Deur taal en kultuurvermoë word hulle toegerus om hulle roeping en verantwoordelikheid met die waarmerk van Christus te dra. Dit is sin van die lewe; dit is die sin van die mensheids-geskiedenis; dit bied perspektief op die bloedstryd oot die eeue heen.”

Bron: ‘n Eeu van Bloedstryd, 15 Des 1815 – 20 Desember 1914 (Nylstroom: Spera Uitgewery, 2016: bl. 2, 10, 18)

2) Uit sy boek, Afrikanertoekoms, wat ek klomp jare gelede aangehaal het in ‘n artikel oor “Die Tragedie en Hoop van Apartheid SA“:

Prof. Hendrik van der Wateren skryf oor die verskillende reaksies teen volke as volg:

“In hierdie na-oorlogse atmosfeer is die Afrikanervolk se volksgevoel, sy nasionalisme, tot ‘n hoogtepunt gevoer en het ons die muishond van die wêreld geword. Met skeldwoorde soos Naziisme, Fascisme, Kolonialisme is ons gebrandmerk as die stroomop volk wat die wêreldvrede bedreig. Deurgaans was die strewe om ons volksnasionalisme en volksverband te vernietig.

En weer het die ,,filosowe” na vore getree — nou op voetspoor van die na-oorlogse versoeningsfilosofie beweer sommige Suid-Afrikaanse geleerdes dat volkskap betekenisloos is — solank ons net Christene is. Daarmee is ‘n breuk geslaan tussen volksnasionalisme en godsdiens. Volk en kerk is as teenoorstaandes beskou.

Andere het weer beweer dat jy volk, sonder afgrensing, net in sy taal en kultuurverband kan behou. Die regeermag moet egter onder alle inwoners gedeel word. Dan, in die sogenaamde verbreding van demokrasie plus kulturele selfbehoud speel die Afrikanervolk ‘n versoenende rol. Daarmee is die volksgrens afgetakel en moes alle sogenaamde apartheidswetgewing verwyder word.

Die noodwendige reaksie het nie uitgebly nie. Teenoor die minagting van volksbestaan en volksgrens is daar foutiewelik geredeneer dat volke vaste skeppingsordeninge van God is en daarom as geslote eenhede bewaar moet word. Hierop het andere selfs verder gegaan en beweer dat nie volke nie, maar rasse-onderskeiding die beginpunt van die probleem is. Met die aksent is die vooroorlogse filosofie van superrasse en sogenaamde modderrasse weer opgeroep.” (Afrikanertoekoms, Orkney: Spera Uitgewers, 1996, bl.2)

Prof van der Wateren se antwoord op al hierdie skeeftrekkings, is: “Om volk te wees, is nie alleen ‘n voorreg nie, maar ‘n reg deur God gegee en dáárom is die handhawing daarvan ‘n roeping.” (ibid, bl.3)

Tolle lege! 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑