1 PETRUS 3 PREKE: (14) Vroue wat baie kosbaar is voor God (1 Petrus 3:1-6)

1 PETRUS 3 PREKE: (14)

VROUE WAT BAIE KOSBAAR IS VOOR GOD (1 Petrus 3:1-6)

Lees: 1 Petrus 2:21-3:8

Teks: 1 NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word 2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. 3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, 4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. 5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, 6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.” (1 Petrus 3:1-6)

Sing: Ps. 128:1, 2; Ps. 86:7, 8; Ps. 128:3, 4; Ps. 140:10, 11

Opname (GK Carletonville, 2023-04-30):

Aflaai: 1 Petrus 3:1-6

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Geliefde gemeente in Christus,

Die hele Woord van God, reg verkondig, sny diep, ook deur ons as gelowiges se harte, en dit wil ons opnuut hoor vandag.

Ons hoor die mooi woorde baiemaal op ‘vaders- en moedersdag’: ‘Die beste ding wat ‘n vader vir sy kinders kan doen is om hul moeder lief te hê.’

Goed so, maar hoor ons ook op moedersdae: ‘die beste ding wat ‘n moeder kan doen vir haar kinders, is om aan hul vader “in die Here” onderdanig te wees….?’

Dit is alles mooi, maar nie genoeg nie, en as dit deur beide feministe en chauviniste misbruik word, is dit eintlik baie gevaarlik.

Want, die teks van 1 Petrus 3:1-7, wil vir ons leer:

Die belangrikste, beste, mooiste ding wat jy as vader vir jou kinders kan doen, wat jy as moeder vir jou kinders kan doen, is om die Here jou God bo alles lief te hê en aan Hom onderdanig te wees, dan, ja dan sal ek waarlik my vrou lief hê en dien, dan sal ek werklik my man liefhê en dien (Ef. 5:21ev).

Selfs, al ‘verdien’ my man of vrou dit glad nie.

My optrede as vrou of man word bepaal deur wat dier Here leer, nie die tydsgees of my hart nie, daarom is ons tema:

Die vroue wat baie kosbaar is voor God, is hulle wat op God hoop en vertrou en in al hul verhoudings daarvolgens lewe

Nou gaan ons ‘n volgende keer stilstaan by die opdrag en oproepe wat na die man spesifiek gaan, vers 7, vandag staan ons stil by die opdrag en oproepe aan die vrou, verse 1-6.

Eerste vraag natuurlik: maar hoekom so baie verse net oor die vrou, en julle slegte ou mans kry slegs een vers?

Twee opmerkings, waaroor meer deur die res van die preek:

Want dit gaan, eerstens, in wese oor die kwessie van gelowiges, pelgrims (tema), wat hul in hierdie lewe in verskillende verhoudings bevind, en Petrus leer deur die Gees van God hoe gelowiges in hierdie verskillende verhoudings moet lewe, want dit is God se wil die verskillende gesagsterreine, sy verordeninge wat Hy oor die mens, ook gelowiges gestel het, dus ook die huwelik,

en dan, tweedens, volgens v. 1 lyk dit of die spesifieke konteks van Petrus se tye was: gelowige vroue wat met ongelowige mans getroud was, wat baiemaal die situasie was, en deur die eeue ook kan gebeur.

Daarom as vertrekpunt, die sleutelwoorde waarmee hfst. 3 begin… ‘Net so… moet julle vroue’.

Net soos alle gelowiges as burgers van ‘n land, hul aan die burgerlike regering, moet onderwerp, onderdanig wees, veral ons mans ook, sien 2:13-17,

net soos diensknegte en werknemers onderdanig moet wees aan hul base, here, werkgewers, v. 18-25, veral ons man,

‘net so’ moet jy die gesagsverhouding, die skeppingsorde wat God daar stel tussen man en vrou, erken, gehoorsaam en respekteer, al is jou man nie altyd ‘n Josef, Daniël of Jesus figuur nie, inteendeel.

HOEKOM?

En dit is die wese van al die oproepe tot onderdanigheid van verse 11 tot 3:8, in alle gesagsverhoudings.

Want dit is alles, dat:
– 2:12 hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking
– 2:13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here
– 2:15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring
– 2:16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.
– 2:19 Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.
– 2:21 Want hiertoe is julle geroep…

Net so… net so…

En dan in ons teksgedeelte self:
3:4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
3:5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,

Ja, maar dominee wat van die manne!

Wag vir volgende keer, kyk solank na vers 7, en dit is juis die groot les van die hele skrif, vir alle verhoudinge, vir alle onreg, vir alle gesagsdraers wat hul mag misbruik, en ek moet weet hoe om op te tree:

God se wil, sy eer, sy Woord bepaal my reaksies en optrede, midde die pelgrimspad, midde die stryd, nie ‘man of vrou’ opsigself nie, nie ‘staat of burger’ opsigself nie, nie ‘base of dienknegte’ nie.

Volgens v. 1 lyk dit of die spesifieke konteks van Petrus se tye was: gelowige vroue wat met ongelowige mans getroud was, wat baiemaal die situasie was, en deur die eeue kan gebeur.

Heidene was reeds getroud, en dan kom een tot geloof, en daarom skryf Petrus daaroor hier, so ook Paulus in 1 Kor. 7, en hul leer: wat eer God, wat is sy wil, nie jy nie, nie jou man nie, nie die chauvinistiese en/of feministiese tydsgees van alle tye nie, moet jou optrede bepaal.

So wat leer die Skrif dan: in beginsel, onderdanigheid, en dit moet tot uiting kom in gehoorsaamheid en respek toon.

Nee, nee … soos met burgerlike owerheid en baas en werker verhouding, alles binne die raamwerk van God se Woord, sy wet wat ‘goed’ bepaal, waartoe die vrou opgeroep word in al haar verhoudinge, sien v. 2 en 6.

Hand.4:19 en 5:29 beginsels geld vir alle gesagsverhoudinge, in alles gehoorsaam, behalwe as van my ge-eis word om te sondig, God ongehoorsaam te wees, ens.

Geen aardse gesag, mag, terrein, ook nie die man se afgeleide gesag, is absoluut nie, God alleen is die enigste Soewerein.

En daarom, soos ons in Efesiërs 5 se oproep aan die vrou om onderdanig te wees, heeltyd die volgende:

“VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” (Eph 5:21–24)

EN BEIDE MAN EN VROU…. en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God (v. 21).

Dus, vers 2 se inhoud is juis hierdie woorde.

Die vrou se onderdanigheid aan haar ongelowige man is en moet altyd ‘in die Here’ wees.

EN nou wil Petrus vir jou en ons almal oproep: die Koninkryk van God gaan nie soos die wêreldse vroue of wêreldse manne, BY die feminisme of die chauvinisme oor ‘jou’ geluk, ‘jou’ lewe, ‘jou’ doelwitte, ‘jou’ agendas en drome, ens nie (sien die vorige preek).

Maar, die woorde van vers 1b, ‘sodat’, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word
Die ‘ongehoorsames’ hier is hulle wat die evangelie verwerp, weier om te glo.

‘Sodat’ hulle gewen kan word, tot geloof kom, deur die vroue sonder woorde.

Die motief van v. 12 hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Die bedoeling is nie dat jy vanselfsprekend gered word deur ander se dade nie, maar dat jou lewenswandel, as dit die Here behaag, die struikelblokke uit die weg ruim, sodat die ongelowige man al meer luister, belangstel in die evangelie self, hfst. 1:18,19.

Hoe moet dit plaasvind, dit is wat Petrus dan op wys in verse 2-4 wat christenvroue moet wees en nie wees nie:

2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. 3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, 4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

a) eerstens en vanselfsprekend, sê die teks nie hier dat versiering opsigself verkeerd is nie, maar dat jou wese, jou waarde, jou fokus nie in uiterlike skoonheid moet wees nie. Jy moet nie uitspattig wees, obsessie met die uiterlike skoonheid hê nie, maar met die karakter, innerlike skoonheid wat juis ook sal lei tot dat daar mooi vroulike uiterlike behoorlike versorging en skoonheid is.

Albei uiterstes moet vermy word: net gees of net liggaam is belangrik, nee, die regte verhouding en balans in beide, sien die implikasies van 1 Kor. 6:20!

So sien ons ook, die Here versorg sy bruid, kerk, versier haar, sien Esg. 16:11-15; Jes. 3:16-23; die Openbaring boek, die bruid wat versier is, Hooglied, ens. Sien ook rom sien 1 Tim. 2:9,10.

Sien ‘wat kosbaar is voor God’, ‘n stil sagmoedige gees, ‘n Spreuke 31 vrou, veral verse 30,31.

Weereens, dit gaan nie oor ‘ekstroverte en introverte’ nie, maar oor hoe jy wandel, oorkom en gedra.

‘Stil en sagmoedig’ beteken nie, soos 1 Kor. 14 en 1 Tim. 2 ‘misbruik woord as absoluut niks sê of praat nie, want weereens, kyk vers 6, Sara praat van ‘heer’, gesprek voer in respek en liefde.

Dit wil op ‘n lewenswyse, ingesteldheid, oorkom, sout besprinkel woorde en getuienis, Kol. 4:6.

Nie die wêreldse feministiese lelik en onvroulik, bakleierig oorkom van vuiste swaai nie, ens.

Soek krag, waarheid, in vrede, in liefde in vrees vir God om so op te tree teenoor ou ongelowige of selfs ongehoorsame man, dat jy sy heil soek, en dat bo alles: jy soek God se eer in alle optrede en in jou huweliksverhouding.

Is dit alles altyd maklik?

Nee, maar dit is moontlik, hoekom, want hierdie teks wys wat ons omhels deur die geloof: in hoofstuk 2:21-25 reeds gehoor, maar luister maar weer… en dan, juis oor die OT vroue:

5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, 6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

a) heilige vroue in die verlede, het dit dalk in nog moeiliker tye gedoen, so ook deur die eeue!
b) goddelike versiering was God se wil van onderdanigheid, die bybelse onderdanigheid van gehoorsaam wees en respek betoon ‘in die Here’, nie die feministies of chauvinistiese verdraaide weergawe daarvan nie!

En daarom,

c) soos Abraham die vader van alle gelowiges is, so is susters wat in die geloof van Abraham, in daardie heil is maar ook in wandel en optree, ja, hul hoef nie te vrees nie, want ook hulle, en alle gelowiges wat dit nie maklik het nie, het hoofstuk 2:23 se groot troos vir nou en ewigheid, die Here sien, Hy regeer, Hy weet en is oppad!

So terloops, wat hierdie verse baie duidelik impliseer is, die ‘net so’ van beide OT en NT oor die huwelik en man en vrou wees: dat God se skeppingsorde in Christus se verlossing gered, geheilig en gehandhaaf word, tot eer van God en liefde vir mekaar, ook in die huwelik. Weë die feministiese chauvinistiese verdraaiings van die huwelik wat God se skeppings- en verlossingsorde aantas en probeer vernietig!

Slot
Geliefdes, ten einde,

Lees ook hierdie opdrag vir die vrou in die besonder (en die man, by implikasie) in konteks van die hele Bybel, in die lig van die vervulling in Christus, ook wat gelowige vroue mag doen, as manne hul mishandel: o.a die pad van vermaning, die kerklike tug, sake aangee by die burgerlike owerheide, egskeiding ogv owerspel, wettige bybelse egskeidings, ens., afhangende van elke geval.

En sien en verstaan dit ook in die lig van wat gaan volg, die volgende preek oor gaan, DV, 1 Petrus 3:7, ev:

“Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie. Broederliefde, geduld, verdrukking. En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.”

Amen.

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

One thought on “1 PETRUS 3 PREKE: (14) Vroue wat baie kosbaar is voor God (1 Petrus 3:1-6)

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑