Die Heilige Drie-Eenheid by SJ Du Toit

Die Heilige Drie-Eenheid – die Hart van die Openbaring

by SJ Du Toit

Sien die Voorwoord, Inleiding, Inhoudsopgawe, en Samevatting van hierdie boek met hierdie belangrike tema, hier:

Die Hart van die Openbaring

Die skrywer is dr. PJ Loots, hier kan meer oor hom gelees word.

‘n Paar aanhalings uit die bron (beklemtonings bygevoeg):

“Die vyftien boekdele van die beroemde kerkvader van die 4de eeu, Aurelius Augustinus, oor die Heilige Drie-eenheid, het begin met die woorde:

“Hierdie dissertasie oor die Drie-eenheid is geskrywe om te waak teen die valshede van diegene wat daarvoor terugdeins om met kinderlike geloof in God te begin, terwyl hulle hulleself bedrieg met ’n perverse liefde vir die verduisterde rede van die mens wat selfs die Godheid wil probeer verstaan.”

In hierdie persuitgawe gaan dit om Ds. S.J. du Toit (1847-1911) se onbekende
maar waardevolle Calvinistiese benadering van die leer van die Heilige Drie-eenheid – die soewereine God van hemel en aarde, van die Bybel en van die ganse Christendom, die Vader, die Seun en die Heilige Gees as één Drie-enige God in ons, sonder Wie ons vir ewig verlore sou wees en die hemel ook nie meer sou wees wat dit is nie.

Daarom moet die tragiek van die eeue eintlik wêreldwyd betreur word dat dié
leer omtrent die inwonende, Drie-enige God nog altyd ’n meer bestrede as
belede leer was (T.N.Hanekom).

Die enorme belangrikheid van die Drie-eenheidsleer is dat God Homself juis so
aan die mensheid geopenbaar het: “Gott der ist als der er sich offenbart”! (sien die bewoording van HK Sondag 8! – slc)

In sy selfopenbaring kom die God van almag en liefde langs twee weë na ons
toe – die weg van sy natuur en die weg van sy Skriftuur; die algemene en besondere openbaring. Albei is bonatuurlik want dit spreek van ’n bonatuurlike Wese, wat Hom in die natuur en in die Skrif openbaar. Daar is variasie maar geen skeiding nie (Augustinus), omdat die één Goddelike Wese met drie absoluut gelykwaardige Persone en Werk (Warfield) – die Skepper, Herskepper en Voleinder van alles is.

Dit is die Calvinistiese siening volgens die Skrif. Rome skei natuur en genade,
die natuurlike lewe van die godsdiens. Dit doen die skrifgetroue Calvinisme
nie.”

“Hy onderskei wel tussen wat dieselfde Drie-enige God op die gebied van die natuur aan alle mense wil doen en wat Hy op geestelike gebied kragtens sy
soewereine, besondere genade aan die mens as verloste sondaar wil doen.

Hierdie belydenis van die God van die Skrif “uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is” (Rom. 11:36), Wie se heerskappy met algemene en besondere genade oor die ganse linie van die lewe strek, was ook die belydenis van Ds. S.J. du Toit, ‘n Calvinis van formaat, wat in sy tyd ’n byna eensame kampvegter vir die oorgelewerde, gereformeerde leer van die vaders was en in alles “God geërbiedig” wou sien – in kerk, staat en maatskappy – soos ons o.a. in die laaste hoofstuk sal aandui.

Met hierdie allerbeste, verhewenste en aangrypendste onderwerp waarmee ‘n nietige mens besig kan wees naamlik, die Drie-enige God in ons, wil ons in die geselskap van Ds S.J. du Toit besig wees om te probeer vasstel hoe hy, onder invloed van die Skrif, die Belydenisskrifte en van sommige van die grootste gereformeerdes van alle tye gestalte daaraan gegee het.”

“Onder die soewereiniteit van God word verstaan dat Hy met sy eie, absolute
selfstandigheid en skepperswil die Skepper en Onderhouer van alles in hemel en op aarde is en dat Hy oor alles opperheerskappy voer. Hierdie vrymagtige soewereiniteit van God was die uitgangspunt van Calvyn se denke en daarin het S.J. du Toit, soos ons kon vasstel, by Calvyn aangesluit.

Aan hierdie almagtige en soewereine God wat alles van oomblik tot oomblik in Sy hand hou, wou Du Toit hom spontaan toewy en daarom was hy ook ‘n lojale, uitgesproke eksponent van die fundamentele leerstuk van die uitverkiesende genade van God, waaromtrent hy ’n pennevrug gelewer het, wat die hoogagting van Leon Cachet weggedra het.

Hierdie vertikale dimensie van S.J. du Toit se denke het nie net met die soewereiniteit van God te doen gehad nie, maar met die volsalige Wese van die Godheid self.

… ‘n Suiwere Calvinistiese Drie-eenheidsleer kan alleen ter sprake kom as daar,
soos in die geval van Calvyn, op voetspoor van die Skrif en Christus Jesus self, ook volle erkenning aan die Godheid en die Persoon van die Heilige Gees sowel as dié van die Vader en die Seun, gegee word. En dit het S.J. du Toit met oorgawe gedoen, soos ons dit vasgestel het.

In aansluiting by Calvyn het hy voortdurend ook volle erkenning aan die Persoon en werk van die Heilige Gees gegee. Derhalwe kon hy ook met die grootste pontaneiteit erkenning gee. In suiwer gereformeerde tradisie het hy die wesenseenheid van God sowel as die openbaringsverskeidenheid, met absoluut gelykwaardige, relatief-selfstandige persone en werke van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gehandhaaf.

Daarby het hy ook veelvuldig melding gemaak van die Woord en die Gees wat hy op eg-gereformeerde wyse, as onlosmaaklik verbonde aan mekaar beskou het. Ook vir hom was die Heilige Gees die Auctor Primaris gewees, wat die hele Skrif geïnspireer het.

Saam met Luther kon Du Toit ook sê: soos die asem en die stem of die woord
van die mens, onlosmaaklik aan mekaar verbonde is, so is die Pneuma, of die
beademing van die Heilige Gees, ook onlosmaaklik aan die Woord van God en die verkondiging daarvan verbonde.

Soos Christus self, op die spontaanste wyse ook die Persoon van die Vader en die Heilige Gees erken het, toe Hy byvoorbeeld aan Filippus gesê het: ‘Wie My sien, sien die Vader’ (Joh. 14:9) en die ‘Gees van die Here is op My’ (Luk. 4:18), het Du Toit dit ook gedoen.

Ons kon vasstel dat hy deurgaans op sinvolle wyse die volheid van die onderskeie maar nooit geskeie Persone en werk van die Vader, die Seun en die Heilige Gees,  in die kader van die Drie-eenheid erken het.  Dit alles het hy gedoen met die oog op die verheerliking van die voIheid van die Heilige Drie-eenheid, aangesien  praktiese godsaligheid ook nie sonder die werk van die Heilige Gees, in die hart van die uitverkorene, gerealiseer kan word nie: Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here nie’, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor. 12:3).”

“Maar, net soos John Owen, wat van “a personal inhabitation of the Holy Spirit”
geskryf het, het S.J. du Toit ook aan die Persoonlike inwoning van die lewende
God, erkenning verleen, en ‘n werk oor “De Bedeeling des Geestes” die lig laat sien. Daarby moet egter ook gesê word dat selfs ‘n persoonlike inwoning van die Heilige Gees in die hart an ‘n gelowige, sonder lewende kontak en kommunikasie met die geredde siel, onbevredigend sou wees.

Daarom is dit merkwaardig dat S.J. du Toit met diepte van insig, tegelykertyd ook die noodsaaklikheid van regstreekse gemeenskap tussen God en mens, soos Calvyn en Kuyper dit sterk beklemtoon het, aangedui het.”

Die uitverkiesingsevangelie

“Dit was vir ons verrassend om te kon vasstel dat die geheimenisvolle
uitverkiesingsleer vir Ds. S.J. du Toit ‘n uitverkiesingsevangelie geword  het. Volgens hom was die Kruis van Christus op Golgota juis die vrug van die  uitverkiesing van die soewereine God. As Hy niemand uit die verdorwe menslike geslag gekies het om gered te word en deel van Sy bruidskerk op aarde te word nie, dan sou Christus ook nie aan die Kruis vir sondaars kom sterf het nie, want niemand sou dan gered word nie.

Dus, geen verkiesing – geen verlossing van die sonde van enigiemand nie.

Die genadige verkiesing van sommige tot die ewige lewe, terwyl andere net gelaat word in die toestand waarin hulle hulle self laat beland het, is soos wanneer die God van geregtigheid in die Persoon van Christus Jesus deur die kerkhof van die sondige verlore mensheid stap en as soewereine God van liefde tog hier en daar en oral uit vrye genade en uit vrye beweging. sommige dood-verlorenes, soos ‘n Lasarus van ouds toeroep: “Lasarus, kom uit!” (Joh. 11:43)

Terwyl niemand verdien om tot die ewige lewe opgewek te word nie, red Christus absoluut net wie Hy wil. Daarom kan elke uitverkorene met wie se Gees die Heilige Gees getuig dat hy God se kind is (Rom 8:16) net weet dat hy bestem was vir die ewige lewe en daarom gelowig geword het. (Hand. 13:48).

Du Toit en die verantwoordelikheid van siele

Toe Christus met ‘n harde stem tot Lasarus in die graf geroep het: “Kom uit!” (Joh. 11:43), het Hy tegelykertyd ook aan Lasarus die vermoë, die geloof, die wil, die gawe en die verantwoordelikheid gegee om self uit te kom uit die graf. Ook dit was maar net ‘n genadegawe.

Volgens Paulus het hy as uitverkorene ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ander uitverkorenes gehad, want hy skryf: “Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God tot die geloof te lei en tot kennis van die waarheid. (Tit. 1:1)

Net soos Paulus het Ds. S.J. du Toit ook in dié opsig sy verantwoordelikheid
so sterk aangevoel dat daar van hom getuig kon word dat hy die beste opwekkingsprediker van Sy tyd was.

Hy was sterk skriftuurlik leerstellig maar ook vurig-evangelies ingestel.

Saam met Spurgeon het hy ‘n goue middeweg probeer volg. God roep deur sy Gees en Woord, maar die uitverkore siel moet en sal daarop antwoord (Joh.
6:37).”

“Ds. du Toit was in sy tyd ‘n byna eensame kampvegter vir die oorgelewerde
gereformeerde leer van die vaders en het teen alle afdwalinge daaromtrent probeer optree. S.J. du Toit het ten opsigte van die sentrale waarheid van die inwoning van die Heilige Gees in ware wedergeborenes, ‘n hoë sintese tussen Spurgeon, John Owen, Calvyn en Kuyper, se beklemtonings omtrent dié waarheid raakgesien en beklemtoon.

Hierdie sintese wat S.J. du Toit raakgesien het, naamlik die inwoning van die
Drie-enige God van die hemel in ‘n geheiligde sondaarshart, en ‘n persoonlike,
ewigdurende regstreekse gemeenskap tussen God en mens, kan en moet as die verbysterendste van die hele Pneumatologiese grondgedagte (Jodocus van Lodensteijn) en as ‘n heerlike “geweldige werklikheid” (Berkouwer) aangeteken staan.

Soli Deo Gloria.”

_______________________________

Behalwe die Bybel en die kerklike belydenisskrifte deur die eeue oor die leer van die Drie-eenheid, sien ook hierdie bronne:

5 Recommended Resources on the Trinity

Lees en bestudeer gerus ook hierdie twee klassieke werke van oud-prof. Victor d’Assonville, snr., oor die aangrypende lewens en geweldige impak van SJ Du Toit, en sy seun, JD Du Toit (Totius). Dit is nie net insiggewende reis deur hierdie twee groot figure se lewens nie, maar tegelykertyd ‘n besinning oor ons kerklike en volksvorming in die 19de en 20ste eeu, kosbare leesstof:

SJ Du Toit van die Paarl

Dit is Totius

By Marnix Uitgewers beskikbaar.

My lesing oor Totius by die GTV Konferensie 2022:

Genade, alles genade: die lewe, werke en betekenis van Totius

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑