Posted by: proregno | December 3, 2007

Waarom sing die Gereformeerde Kerk alleen die Psalms ?

Waarom sing die Gereformeerde Kerk alleen die Psalms?
deur prof. dr. JD Du Toit (Totius) & prof. Jan-Lion Cachet

(‘n vertaling vanuit die Nederlands deur ds. S Le Cornu, van die 1919 gepubliseerde verweerskrif: ‘Waarom zingt de Geref. Kerk alleen de Psalmen?’ Die eindnotas is bygevoeg – SLC)

Inleiding
Daar is twee redes, wat ons aanleiding gegee het om hierdie skrywe tot u te rig en daardeur kortliks die vraag te beantwoord:

Waarom sing die Gereformeerde Kerk alleen die Psalms?

Die eerste rede is dat die staatskole op verskillende plekke gebruik word as ‘n gerieflike middel om ons kinders aan die sing van die Evangeliese Gesange te wen, en so, indien moontlik van hul ouers se standpunt af te trek. Dit gaan hier soos dit in Nederland gaan. Daarom roep ons ook saam met Op’t Holt uit:

“Gereformeerde volk van Nederland (lees Suid-Afrika), wees op u hoede en wees bewapen! Vroeër het mense probeer om die evangeliese gesange aan u op te dring in die kerk, tans is dit op die skool.”

Die ander rede is, dat ‘n inleidingsartikel in die Vereeniging, die offisiële orgaan van die Ned. Herv. of Ger. Kerk, gerig is teen die standpunt van die Gereformeerde Kerk, i.v.m. Psalmsang; opnuut hierdie ou stryd weer aangewakker het, en verskillende korrespondensies in ons Kerkblad uitgelok het, sodat die vraag weer vanself opgestaan het:

Waarom sing die Gereformeerde Kerk alleen die Psalms?

Van verskillende kante word met aandrang die versoek tot ons gerig om opnuut die standpunt van die Gereformeerde Kerk in hierdie opsig aan die lig te stel, omdat ook die jonger geslag, met die stryd van die vadere min of meer onbekend is, en daarom moet verneem wat die Gereformeerde Kerk as haar standpunt gehandhaaf het en as haar oortuiging bely het.

Allereers sal ons die geskiedenis oproep om in hierdie kwessie getuienis te gee, en daarna sal ‘n paar argumente aan die leer ontleen word.

In die geskiedenis
“Die Gereformeerde Kerk word onder Psalmgesang gestig.”

Dit is die woorde van Prof. Doumergue, Calvyn se bekende lewensbeskrywer, woorde wat so waar is. Luther voer die gesange in die kerk in, maar Calvyn volg hom nie daarin nie. Die gesange wat Calvyn invoer, was die Psalms, en daarvoor gee hy die volgende redes:

“Wat Augustinus gesê het is waaragtig, dat iemand slegs iets kan sing wat God waardig is, wat hy ook van God moes ontvang het. Daarom sal ons ook na ons orals gesoek en nagespeur het, geen beter liedere vind, wat meer geskik is as die Psalms van Dawid, wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. As ons dit sing, is ons seker dat God self die woorde in ons mond lê, asof Hy in ons sing, om sy eie eer te verhoog.”

Hierdie keuse van Calvyn was dan ook beslissend vir die Gereformeerde Kerk in Holland. Die sinode van Wesel 1568 besluit dat hul “zou onderhouden de Psalmen van Dathenus overgezet” (berymd) en geen andere beryming sou gebruik nie. So ook die sinode van Dordrecht 1574 en 1578. Ook die van Middelburg 1581 en ‘s Gravenhage 1586 besluit dat in die kerke geen gesange gesing sou word wat nie in die Skrif gevind word nie. Die groot sinode van Dordrecht 1618/19 kry met die eintlike gesangekwessie te doen. In die noorde van die land sing mense allerlei gesange en in Utrecht poog sekeres, onder Remonstrantse invloed, ‘n bundel gesange in te voer. Daarop besluit die Sinode:

“In de kerken zullen alleen de 150 Psalmen Davids, Tien Geboden, het Onze Vader, de 12 Artikelen des Geloofs, de lofzangen van Maria, Zacharias en Simeon gesingen worden. Het gezang: ‘O God, die onze Vader zijt,’ wordt in de vrijheid der kerken gelaten, om het te gebruiken of niet. Alle andere gezangen zal men uit de kerken weren en waar er reeds enige ingevoerd zijn, zal men ze met de voeglikste middelen afskaffen,” (D.K.O. art.69.)

“Hiermee is,” sê Prof. Biesterveld, “vir ons wat onder die Dordtse Kerkorde lewe, hierdie kwessie beslis, tensy ‘n sinode anders besluit, wat egter nie te verwag, of hopelik verwag word nie.” (Gereformeerde Kerkboek, bl. 50).

Aangesien hierdie besluit nie deur ‘n latere nasionale sinode verander of vernietig is nie, hou die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika haar daaraan:

“De Synode der Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika stelt vast, overeenkomstig art.69 harer (Dordtse) kerkenorde, dat bij de openbare godsdienst alleen zullen gezongen worden de 150 Psalmen Davids en de gezangen waarvan de tekst in Gods Woord staat uitgedrukt, nl. de berijming van de Tien Geboden tot en met de gebed des Heeren. Wel te verstaan, de berijming van 1773 door de Gereformeerde Kerk in Nederland vervaardigd en in gebruik genomen.” (Sinode Bepaling, p.92)

Wat die beryming betref, het die Gereformeerde Kerk hier die gebruik van die 1773 beryming goedgekeur. En daartoe het sy die vryheid en reg, aangesien die Dordtse sinode haar tereg aan geen bepaalde beryming gebind het nie. Die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika is hier tewens van alle sogenaamde bekrompenheid vry te spreek, deurdat sy die beste beryming van die Psalms aangeneem het, hoewel dit van die nuwere tyd was. Ons sien dus dat die standpunt van die Gereformeerde Kerk nie so bekromp en onhoudbaar is, as die Vereeniging (ix, 3) dit graag probeer laat deurstraal nie, geen ‘ongegronde vooroordeel’ is nie, maar inteendeel die enigste geskiedkundige moontlikheid vir ‘n Gereformeerde Kerk is.

Dit is opmerklik dat die vier kerkgroepe wat in Holland, Amerika en Suid-Afrika in die 19de eeu tot die Dordtse Leer en Kerkorde terugkeer, offisieël die Gesange afskaf; terwyl die sogenaamde Gereformeerde kerkgroepe, wat die Dordtse Kerkorde vaarwel sê en losser omgaan met die Gereformeerde Leer, ‘de Gesange behielden.’ Prof. Biesterveld se woorde is waar:

“Het is altijd een slecht teken te achten, dat de warme voorstanders van gezangen gewoonlik werden gevonden in de kringen van hen, die niet of minder zuiver waren in de leer.”

Ja, die geskiedenis het meer om te bewys. Haar onwraakbare getuienis is dat geen kerk streng gereformeerd gebly het, wat die gesange gebruik het nie. Daar was steeds ‘n wisselwerking. Die losheid in de leer roep om die gesange, en die gesange roep om die losheid van die leer. Die geskiedenis het dus die keuse van ons vaders geregverdig, en ons treur nie met soveel ander, wat meen dat die ou vaders ons ‘n grote ondiens aangedoen het nie, deur beslis te kies vir die Psalms en teen die Gesange. Inteendeel, bewonder ons die diepe insig wat hul gehad het tot in die verre, verre toekoms. Ons bewonder die profetiese blik van ‘n Calvyn; van ‘n Filips van Marnix, wat reeds in die 16de eeu hom teen die invoering van Gesange verklaar het, uit “vrees dat deur die invoering van feilbare mensewerk skadelike dwalinge in die kerk sou kan insluip.”

Psalms en gesange
Teen hierdie oortuigings van ons vaders, word verskillende bedenkings ingebring:

Die Gereformeerde Kerk beweer dat die Psalms van goddelike oor-sprong is, en daarom kry dit die voorkeur. Toe een van ons dit by ‘n feestelike geleentheid van die Gereformeerde Kerk aanraak, kom die Vereeniging daarteen in verset met die volgende woorde:

“Maar die Gesange is ook van goddelike herkoms, elke evangeliese gedig is dit. Dit is die Heilige Gees wat die digter die waarhede ingee wat hy in sy lied opneem” (LX, 9).

Hier is dus die hoogste woord uit. Om die Gesange te verdedig, word beweer dat dit deur die Heilige Gees ingegee is. Gevolglik staan die Gesange gelyk met God se Woord! Want, let wet, die Gereformeerde Kerk het nooit geleer dat die Psalmberyming ingegee (geinspireerd) is, maar alleen die Psalms self. Ons maak ‘n onderskeid tussen ingewing (inspirasie) wat alleen aan die Bybelskrywers ten dele geval het, en verligting (illuminasie), wat ‘n gawe is wat aan alle gelowiges geskenk is.

So kom mens dan daartoe om die Gesange selfs hoër as die berymde Psalms aan te slaan, want terwyl die Psalms self deur die Heilige Gees ingegee is, vra ons vir die beryming geen hoër eer as dat dit onder verligting van die Gees tot stand gekom het nie. Die Gesange, volgens die Vereeniging, is egter ingegee en staan dus gelyk met die Bybelboeke!

Die leerling gaan egter gewoonlik verder as sy leermeester. Terwyl die versamelaars van die Evangeliese Gesange in hul voorrede nog erken dat: “die Psalms dit boven alle andere dichtstukken vooruit hebben, dat zij van goddelike herkomst zjn,” sê hul volgelinge tans: “neen, de Psalmen hebben dit niet boven alle andere dichtstukken vooruit, want de Gezangen zijn ook van goddelike herkomst”! Sou die redakteur van die Vereeniging bogenoemde geskryf het, as hy eers die voorrede van die Gesange gelees het?

lnderdaad is die verheffing van die Gesange bo die Psalms ‘n treffende bewys van die groot geestelike oppervlakkigheid van ons dae. Nie eers die invoerders van die Gesange self, dink so daaroor nie. Dr. Bennink Janssonius, ‘n verdediger van Gesange, sê:

“Het psalmboek bleef steeds volgens hetgeen er door mannen als Jorissen, Van den Berg, Feith geschreven werd, de plaats der ere behouden. De gezangen zouden bij de openbare Godsdienst gebruikt worden maar – nevens het boek der psalmen. Bij het aanbieden van het gezangboek verklaarden de afgevaardigden dat de psalmen dit boven alle andere dichtstukken vooruit hebben dat zij van goddelike herkomst zijn en zij gaven hiermee hun overeenstemming te kennen met de voorgangers die de voortreffelikheid der psalmen boven alle andere liederen op deze grond zo sterk hadden uitgesproken.” (Gesch. Kerkgezang, bls. 238).

Tog ook hierdie les het die geskiedenis ons geleer, dat orals, ook in Suid-Afrika, waar gesange ingevoer word, “die Psalms eers teruggedring en daarna opsy gesit word,” soos prof. (W) Heyns dit gestel het. En daarom verwonder ons ons nie veel oor die buitensporige hulde, wat die
Vereeniging aan die Gesange bring nie. “De vraag is, “ zo gaat prof Heyns voort,

“of wij de gouden kleinooden van David er voor missen willen, of wij ze daarvoor willen inruilen, want de geschiedenis heeft genoeg bewezen dat het daarop neerkomt… En buiten dit alles, waar is nog de Gezangenbundel, die het bij de Psalmen halen kan in die toon des geloofs, die uiting van godzaligheid, van diepe verootmoediging, hooggestemde jubel en verheerliking Gods, van de diepten van het gemoedsleven?” (Liturgiek, bl.129)

Die ‘Christelikheid’ van die Psalms
Verder bekla die Vereeniging dit dat “de Gereformeerde Kerk nog zingt niet christelik, niet nieuwtestamenties is; het is israelieties en oudtestamenties. Waar het NT over Christus roept: Hem zij de heerlikheid in alle eeuwigheid, is het Psalmboek stom.”

Ag ja, ons vaders was tog sulke eenvoudige mense, dat hulle volgens die Vereeniging, nie daarvan bewus was nie! Maar nee, dit was manne wat opgevoed was in die lydingskool wat waarlik nie nodig het om by ons goddelose 20ste eeu te leer nie! Datheen, die oue berymer van die Psalms, sê in sy voorrede dan ook:

“dat alles wat tot het rechte geloof, tot een godzalig leven, tot geduld en lijdzaamheid van node is, in Davids psalter is te vinden, zodat deze met recht een kleine Bijbel mag genaamd zijn.”

Datheen beroep hom verder op die woord van die kerkvader Athanasius, wat leer:

“dat al die artikels van ons christelike geloof, naamlik van die enige, ewige, oneindige, goddelike Wese, van die drie-eenheid van die Persone, van die ware goddelike en menslike natuur van Christus, van Sy lyding, sterwe, begrafnis, neerdaling na die hel, ens., in die Psalms van Dawid grondig, klaar geleer, en bevestig word.”

Wie dus sy Psalmboek ken, weet maar te goed hoe van al hierdie dinge heerlik gesing word in die ‘klein Bybel.’ Hoe vreemd was dit dan nie ook gewees om van die redakteur van die Vereeniging te moes lees nie: “Als men de Gereformeerde Kerk zou toeroepen: Gij verbiedt dat men de Christus ‘Gods love’ – wat zou zij kunnen antwoorden?”

Wat sou ons antwoord? Wel, dat die redakteur wat so ingenome is met sy Gesange, hom blykbaar nie herinner aan die bekende verse van Ps.118:13 nie:

Gezegend zij de grote Koning,
Die tot ons komt in ‘s Heeren naam!
Wij zeegnen U uit ‘s Heeren woning;
Wij zegenen U al te saam.

Maar die Vereeniging gaan nog verder en dig ons toe: “Gelijk in de hemel gezongen wordt, wil de Gereformeerde Kerk niet.” Die redakteur sou dit nie geskryf het nie, as hy maar sy Bybel oopgemaak het en daarin ondersoek het wat wel in die hemel gesing word. Wat word in die hemel gesing? Die kort inhoud daarvan vind ons in Op.15:3: “Hulle het die lied van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, gesing.” Is dit nie ook te Ou Testamenties en te Joods nie? Want Moses is die middelaar van die Ou Testament en ‘n Lam laat ‘n mens tog te veel dink aan die Mosaiese offerdiens! Lees egter verder wat daar staan in Op.15:3,4. Die woorde van die lied van Moses en die Lam word daar gegee:

Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtig;
regverdig en waaragtig is u weë,
o Koning van die heiliges!
Wie sal u nie vrees nie, Here,
en u Naam nie verheerlik nie?

En waaraan is hierdie woorde ontleen anders as aan die sogenaamde ‘ouderwetse, Israelitiese, nie-Christelike’ Psalms (111:2;139:14;145:17) !

Sal die Vereeniging nou nog wil volhou, dat ons nie sing wat in die hemel gesing word nie? En sal die blad nou nog enige waarde heg aan sy ander teenwerping, wat soos volg geformuleerd is: “De enige naam ons gegeven – Jesus Christus – komt in de Psalmen niet eenmaal voor?”

Immers, in die hemellied van Op.15, kom die naam ook nie voor nie, alhoewel dit ‘n lied is van die Lam. Ewemin vind ‘n mens die naam in Op.5. Ons lees alleen van die Leeu uit Juda se stam, van die wortel van Dawid, van die Lam! Is hierdie liedere dan nou ook te oud-testamenties en te Joods, sodat die Evangeliese Gesange nou ‘n onmisbare hulp moet aanbied?

Die Psalms en die Martelare
Dit moet egter duidelik gesien word dat die hele redenering van die Vereeniging uitgaan van die veronderstelling dat daar deur die mens ‘n liederebundel saamgestel kan word, wat God se eie liederebundel – die Psalms – oortref. En dit is immers onmoontlik. Die boek van die Psalms is onoortrefbaar, want dit is die werk van God se Heilige Gees.

Vandaar ook dat Christengelowiges van alle eeue en die martelare van alle nasies in hierdie heilige woorde uitdrukking gesoek het van hul doodsbekleming of hul wonderlike verruimde gemoed.[1] Tereg kan prof. Wichelhaus sê: “Geen boek der wereld is zoveel gelezen geworden en mel zoveel tranen van smart en vreugde benat.” Die boek van RE Prothero, The Psalms in Human Life, waarin hy aanwys hoe die Psalms alle eeue die troosboek by uitnemendheid was vir alle worstelende siele, is hierin baie leersaam. Wat hy meedeel aangaande ons Hugenote voorvaders, is ook baie leersaam; hoe hul geleef en gely het met die Psalmboek en daarmee genoegsaam was. Ons gee ‘n paar aanhalings uit hierdie boek, omdat ons as kinders van die Hugenote moet leer om ons Psalms te waardeer en dit nie te laat verdring deur latere ingevoerde en ongereformeerde liedere nie. Met de Psalmen, zegt Prothero o.a.,:

“is saamgevlochten de geschiedenis van het Frans Protestantisme…. De vergadering van de verbannen en vervolgde Hugenoten werden samengeroepen door het zingen der Psalmen; in wouden en grotten, in kerkers, in ballingschap in Amerika, klonken de Psalmen nog van de lippen den stoere Protestanten. … Om de Psalmen Davids te kunnen zingen verlieten mensen hun vaderland en zochten de afgelegen schuilplaatsen der aarde op. Francois Leguat en zes metgezellen zochten een tehuis op het eiland Rodriquez in de Indiese Oseaan, opdat zij zich daar ongehinderd mochten overgeven aan de vertroosting van Godes prijs te zingen. Het gezicht van deze zeven vluchtehingen, saamvergaderd om de Psalmen van David te zingen in een anders onbewoond eiland, is een wonderlik beeld in de verbeelding opdoemend, en een bewijs voor de standhoudende kracht van de Hebreeuwse liederen.

Is dit nou nie vreemd, dat ons waarlik vrome vaders in hul bitterste lyding, genoeg gehad het in die Psalms nie, ja selfs uit hul land gevlug het net om dit in vryheid te kan sing nie; en dat ons, wat ‘n gemaklike en ‘n nie-vervolgde lewe lei, dadelik ‘n behoefte aan Gesange het om ons gemoedere te streel? Is ons gemoeds- en godsdienslewe dan miskien soveel dieper en ryker as hulle s’n? Nee, ons vrees dat die teenoorgestelde waar is. Vandaar dat die Psalms nie meer in die smaak val nie en die meeste sogenaamde Gereformeerde Kerke liewer vir die grootste gedeelte, Gesange sing.[2]

Tussen hakies moet ons hier nog iets bysê. Om voormelde redes, sal mense wil weet ‘wat ons moet doen oor die sang’ in ons heidengemeentes. Die Vereniging hoef nie ongerus te wees nie. Die Psalms is ook vir die heidene bestem, meer as enige ander lied, juis vanweë hut algemene karakter.[3] Hier is dit ook leersaam wat Prothero meedeel van ‘n “edel Saraceen, bekeerd door het gezicht van het Godslam, die zich een Christelik leeraar zocht, de Psalmen uit het hoofde leerde, en naar zijn vaderland terugkeerde om het geloof van Christus te predik” (bl. 24).

Tot die verdere gerusstelling van die gemelde blad, wil ons byvoeg dat haar wens: ‘o moge het spoedig geschieden dat de Gereformeerde Kerk christengemeenten onder de heideenn stichte’ reeds lankal in vervulling gegaan het! En dat in die gemeentes, met de grootste stigting, die Psalms gesing word.

Die beryming
‘n Derde beswaar teen ons standpunt, word deur die Vereeniging soos volg geformuleer:

“Zo dan, als de Gereformeerde Kerk de berijmde psalmen zingt, zingt zij woorden waarvan 8 uit 10 niet geinspireerd – zeg liever – niet bijbelwoorden zijn.”

Hierdie argument hou egter nie steek nie, as dit die bedoeling is om die goddelike herkoms van die Psalms te betwis, en dit neer te haal tot die lae vlak van die gesange. Daar bly nou eenmaal ‘n radikale verskil bestaan tussen ‘n lied wat die vrye uitvloeiing is van die digterlike gemoed, en die beryming van ‘n psalm, wat slegs in rym en maat weergee wat reeds in die leespsalm voor die hand liggend is.

Die verskil, waaroor die Vereeniging so klakkeloos heen stap, word deur dr. B. Janssonius, ‘n sterk voorstander van die Gesange, wel deeglik erken en eerbiedig. Hy sê:

“De nauwkeurige lezer zal zonder twijfel in de gezangen meer dan éene dichterlike zonde vinden, terwijl hij aan de schone dichterlike vorm, waarin der oude Israetiese psalmdichters zijn aangeboden, ene ongeveinsde hulde toebrengt. Maar men zij hier rechtvaardig. Bij de psalmberijming had men enkel te zorgen dat de dichterlike denkbeelden die men in de Hebreeuwse liederen vond, in een waardig kleed werden gehuld.” (A.w. bl.265).

Die bedoelde onderskeid moet dus vir almal duidelik wees. Die psalmberymer neem die groot gedagtes van die Heilige Gees oor, en sy werk is slegs om vir die digterlike vorm te sorg; terwyl daarteenoor die digter van godsdienstige liedere voorspin aan die draad van wat ook alles uit sy eie gemoed voortkom.[4] Juis daarom is dit dat die meeste Gesange so sleg daarna uitsien, in vorm en inhoud. Vandaar ook die opmerklike verskynsel dat onder die talle geestelike liedere, daar miskien 50 is … wat werklik letterkundig goed genoem kan word. Laat ons daarom hierdie gedeelte afsluit met nog ‘n aanhaling van Janssonius, aangaande die psalmberyming:

“Sedert bijna twee eeuwen was daartoe door verschillende dichters ene ongelooflike moeite aangewend om het uiterlike met het innerlike zoveel mogelik in overeenstemming te brengen. Hoeveel zorg had van Marnix zich daarover niet reeds getroost. En hij werd gevolgd door ‘n grote schare van berijmers, die telkens voordeel deden met hetgeen hun voorgangers hadden geleverd, hun gebreken zochten te vermijden en hun schoonheden over te nemen. Ghijsen (zijn bundel was samengesteld uit 17 van de oudste berijmingen) bracht de keur van hetgeen zijn tijd had opgeleverd, bijeen en het kunstgenootschap: Laus Deo Salus Populo, zowel als Voet met zijn vriendenkring hadden alle krachten verenigd, om de psalmberijming te doen beantwoorden aan de eisen van de geest huns tijds die met angstvallige zorgvuldigheid en onvermoeijd geduld ieder regel, ieder woord wikte en woog en polijste en beschaafde, totdat er eindlik aan de vele eisen voldaan was.

3. Die verklaring van 1 Kor.14:26; Ef.5:19 en Kol.3:16
Ten laaste, argumenteer die Vereeniging dat die standpunt van “Psalms alleen”, nie in die Bybel gebied word nie. Inteendeel, so gaan die blad voort, staan daar in die Bybel dat ons onder mekaar moet spreek in psalms, gesange en ander geestelike liedere. Hier word dus verwys na
1 Kor.14:26, Ef.5:19 en Kol.3:16. Die vraag is egter of hier -wat vir die blad ‘n uitgemaakte saak blyk te wees- van Gesange gepraat word in die gewone opvatting van die woord. Ons glo dat hier gespreek word van geïnspireerde (onmiddelik deur die Heilige Gees ingegewe) liedere, wat tot die wondergawe (charismata) van die eerste gemeentes behoort het – en ons sal poog om te bewys wat ons beweer.

Dit is eenvoudig ondenkbaar dat die Christene in die vroeë tyd reeds liedere besit het, om gereeld by die openbare eredienste te sing. Van die Nuwe Testament, het toe slegs enkele stukke reeds bestaan en was dit ook nie in die algemeen vir gebruik beskikbaar nie. Daarom was die wondergawes in die vroegste tyd absoluut noodsaaklik om aan te vul wat ontbreek het en was onder meer die openbare diens in vele gevalle ‘n onmoontlikheid. So word ook die lied deur die Heilige Gees in die saamvergadering ingegee en gesing, soos dit blyk uit 1 Kor.14:26, waar die ‘psalm’ by die ander buitengewone gawes genoem word. Die lied wat in Ef.5:19 en Kol.3:16 genoem word, dra dieselfde karakter as die een van 1 Kor.14:26, alhoewel hier drie benaminge gebruik word, wat egter nie drie streng afgeskeie begrippe uitdruk nie.

Hierdie verklaring van 1 Kor.14:26, vind ‘n mens ook by prof. Godet:

“Het is daarom een psalm, gelijk die waarvan gesproken wordt in Kol.3:16 en Ef.5:19 (psalmen, gezangen, geestelike zangen); een zingen en noi, met helder verstand (vs.15). Het schijnt mij onwaarschijnlik toe, dat Paulus het oog heeft op een Oud Testamentiese psalm of een reeds bestaand Christelik gezang, gereciteerd of gezongen. Het woord echein hebben, verhindert niet dat het een improvisatie (iets dat voor de vuist wordt voorgedragen) is. Want, gelijk door Holsten opgemerkt is, wordt de term later gebruikt bij een tong (vreemde taal) en haar uitlegging, welke rechtstreekse uitwerkselen zijn van des Geestes werking.

Met hierdie verklaring, stem dié van prof. Heinrici ooreen (sien Meyer kommentaar op 1 Kor.14:26):

“Het verstandig lofzingen, hetwelk met de nous (verstand) geschiedt wordt bedoeld (vgl. vs.15). vgl., Heinrici I 55, Ef.5:19, Grot. vergelijkt de improvisatoriese (voor de vuist uitgesproken) liederen van Simeon, Debora e.a.”

Ook die bekende Geschiedenis van de drie eerste Eeuwen der Christelijke Kerk door De Pressensé, gee dieselfde getuienis op bl.608:

“Heeft iemand een Psalm, dat hij hem doe horen, zegt de Apostel, 1 Kor.14:26; Ef.5:19; Kol.3:16. Hier is blijkbaar sprake van een nieuwe gezang dat door de Geest Gods aan een lid der vergadering ingegeven werd.”

En dat hierdie genoemde lied saam met die ander wondergawes -wat gegee is om die gemeentes te grondves- sedertien verdwyn het, getuig dieselfde skrywer in die volgende woorde:

“Er is geen enkel gedenkstuk van die eerste Christelike psalmen overgebleven, omdat ze evenals hare gebeden uit volkomen vrije beweging des gemoeds voortkwamen en zich in die dagen van waarachtige bezieling in het overvloedige vermenigvuldigden.”

Dieselfde beweer prof. Heyns in sy Liturgiek, waar hy onder meer opmerk:

“Wie bij zulk ‘n opvatting van deze tekst (1 Kor.14:26 en Ef.5:19) er een gebod uit zou willen lezen, om in onze godsdienstoefeningen gezangen te zingen, zou voorbijzien, dat de daar bedoelde wondergaven nu verdwenen zijn.”

Met hierdie getuienis van manne wat vele verskillende rigtings verteenwoordig, sal die leser duidelik sien dat die beroep op genoemde tekste onhoudbaar is. Ten oorvloede word dit in hierdie tekste gesê dat hierdie Heilige Gees ingegewe liedere is, wat tot die wondergawes van die eerste gemeentes behoort het, en ook saam met die wondergawes in sy geheel verdwyn het. Tevergeefs soek die voorstaanders van die gesange wat later gemaak is, in hierdie tekste krag vir hul eie standpunt. As die mense dan vra, maar wat is gesing na die verdwyning van die wondergawes, dan is die antwoord, dat alleen met sekerheid gesê kan word: die Psalmbundel was die ‘lieflingsboek’ in die oudste christelike Kerk (vgl. prof. Kruyf, Liturgiek, p.85).

Is hierdie houding van die oudste christelike kerk,[5] vandag ook die houding van die wat hulle op die eerste christene beroep maar tog liefs die Gesange sing?

Die suiwere leer en die Gesange
Noudat ons die geskiedenis geraadpleeg het, sal ons nou daartoe oorgaan om te ondersoek wat die leer ons aangaande hierdie saak leer.

Die Vereeniging stap heel gemaklik oor hierdie kwessie, deur te verklaar:

“Laat goed verstaan zijn dat er niet door de Gereformeerde Kerk geobjecteerd wordt tegen de Gezangen, als bevattende valsche leer — onchristelijk of ongereformeerd. Want zoodanige valche leer is daarin niet te vinden.” (IX. 3).

Hoe iemand die posisie van sy teenstander kan aanval sonder om eers die posisie onder oog te hê en eers te verken, is vir ons eenvoudig onbegryplik. Dit is egter wat die Vereeniging doen. Daar word eenvoudig beweer dat die Gereformeerde Kerk geen beswaar het teen die leer van die Gesange nie, terwyt dit juis een van haar hoofbesware is!

Wat is die feite?

Teen die leer van die Gesange bind Jacobus Klok in 1834 die stryd aan, toe die Afskeiding in Nederland plaasvind. Ook ds. H de Cock, die vader van die Afskeiding doen dieselfde. Sy geskrif is getiteld:

“De zoogenaamde Evangelische Gezangen, de oogappel der vervoerde en verleide menigte in de Synodaal Hervormde Kerk, ja zelfs nog van sommige van Gods kinderen uit blindheid, en omdat zij dronken geworden zijn door de wijn harer hoererijen, nader nog getoetst, gewogen en te ligt bevonden, ja strijdig met al onze Formulieren van Eenheid en Gods Woord, door H. de Cock, Gereformeerde leeraar onder bet kruis om Jezus Christus wil, van Ulrum.”

In hierdie boekie van 64 bladsye, staaf hy met menigvuldige aanhalings wat hy in die titel beweer, nl. dat die Gesange strydig is met die Gereformeerde leer en met Gods Woord. Dieselfde verskynsel openbaar hom ook hier in Suid-Afrika. Die vaders van die Afskeiding, wat van die regsinnige ‘outeurs’ deursuur was, voel maar te goed dat die Gesange ‘n ander leer bring. En ook hul teenstanders hou met hul beswaar rekening; vandaar dat ds. Murray, snr., na Colesberg kom met die voorstel: “dat de jongelieden, die lidmaat zouden worden, een belofte moesten afleggen, dat de Evangeliese Gezangen de ware leer is.” (zie prof. Cachet, Eenige Opmerkingen, blz.48).

Dat die Vereeniging egter teen al hierdie feite in kan verklaar dat daar by ons geen beswaar is teen die leer van die Gesange nie, is onbegryplik, indien die blad maar enige moeite gedoen het om met die Gereformeerde standpunt kennis te maak. Die feit bly egter staan dat een van ons 5 hoofbesware teen die liedere, juis die leer is, wat dit bevat. Op hierdie punt wil ons nou ingaan.

Om nou die inhoud van die Gesange te kan begryp, moet ons eers wys op die tyd waarin dit versamel en opgestel is. Prof. Geesink (Beknopte Overzicht ens., bl. 13 e.v.) sê:

“Wel was het gereformeerde beginsel uit de kerken nog niet geweken, en telde men onder de predikanten en oefenaars nog tal van mannen, die de belijdenis der kerk van harte waren toegedaan; wel was een goed deel van de kleine burgerij den grote steden en de plattelands bevolking aan haar gehecht, doch de grote meerderheid der predikanten en der hoogleraren aan de drie Hogescholen en de athenaea, de toongevende kringen, onder de gereformeerde naam ‘verkapt remonstrants.’ De theologie van de dag was … rationeel supranaturalisme (een soort redegodsdienst) … Heilzoekend in het ‘juiste midden’, was zij echter afkeriger van het gespierde Calvinisme[6] der vaderen dan van het al te stoute liberalisme … Doch hoe toegevend ook voor de linkerzijde (het liberalisme) deze richting van het ‘juiste midden’ kende geen genade, waar het de rechterzijde gold (het Calvinisme).”

Prof. Bavinck skets die Nederlandse rasionele supranaturalisme van die begin van die l9de eeu, soos volg (Theol. Richtingen in Tijdschrif van Ger. Theol. ’94, bl. 163 vv.):

“Die richting is niet moeilik te beschrijven: zij munt door oppervlakkigheid uit. Zij wilde niet ongelovig zijn, o neen, zij hield de godsdienst in ere, zij was vroom, zij schatte bijbel en chistendom hoog … Het was een samenvoegsel van een oppervlakkige christelijke waarheden, die niet uit de diepte der Schrift waren geput en aan de kracht der Gereformeerde belijdenis ten enenmale waren gespeend; een populaire godsdienstleer, welke God veranderde in het Opperwezen, Christus in een leeraar, de mens in een verstandswezen, zonde in zwakheid, bekering in verbetering, heiligmaking in deugd … Geen wonder, dat deze richting, die altijd de mond vol had van verdraagzaamheid, terstond hare gematigdheid en kalmte verloor, als het de Gereformeerde theologie en de Gereformeerde vromen gold.

Wie nou in die lig van hierdie kenmerkende uitsprake die Gesangeboek deurlees, sal maklik daarin die tyd vind waaruit dit afkomstig is. Op’t Holt sê dan ook:

“Van de oude instellingen niet alleen, maar ook van de oude leer was niets voor het nieuwe proefhoudend, uitgesonderd alleen woorden en uitdrukkingen, die men, om de schadelike nieuwigheden te dekken, nog zou kunnen gebruiken. Het volk was nog het Dordtse leerbegrip toegedaan en hoe dat niet af te keren, maar deelgenoten te maken van de grote verlichting der aangebrokene verlichte eeuw, dat was de vraag. De kerk moest andermaal hervormd worden, maar ditmaal beter dan in de dagen van Luther en Calvijn: dat God is aller mensen liefderijke Vader, dat de mens ontaard maar niet verdoemelik en verloren, in Jezus gelovende en op diens voorbeeld het pad der deugd betredende, op weg ter gelukzaligheid is. Dat was het evangelie en moest de inhoud der evangeliese gezangen zijn. Men moes daarom verzen, liederen, gezangen van zulk ‘n woordenkeus en van zulke uitdrukkingen dat zij niemand afstootten en ‘t verlichte doel bereikten, dat elk dezelve zou kunnen zingen, vlees en geest, het kind Gods en het kind der wereld, de achterblijvende domper en de verlichte” (De Evang. Gez. den Oorlog, bl.11).

‘Nie te veel gereformeerd en nie te veel ongereformeerd nie’, was die leuse van die versamelaars. Na ‘n waarheid sonder hoeke, wat rond is en niemand sal seer maak nie, streef hierdie manne.[7] Tog, Op’t Holt is partydig, sou teengewerp kan word, want hy is ‘n teenstander van die Gesange. Laat ons daarom ook onpartydige getuies inroep.

Die bekende christen-staatsman, Groen van Prinsterer, sê dat die gesangbundel “het teken draagt van velerlei loslating van het kenmerkende der geloofsleer.” De Hervormde predikant, dr. GJ Vos Azn, wat ‘n sterk teenstander van Dr. A Kuyper en die dolerendes was, wat waarlik deur niemand van partydigheid vir die Gesange kan beskuldig word nie, sê:

“Wij hebben geen reden aan de goede trouw der verzamelaars te twijfelen.[8] Maar wij zouden toch hunne verklaring niet onvoorwaardelik durven onderschrijven. Er komen wel degelik denkbeelden in de bundel voor, die in de weegschaal der kerkelike rechtzinnigheid gewogen, veel te licht bevonden worden.” (Gesch. der Vaderlandsche Kerk, bl.208).

Stel nou hierteenoor die Vereeniging se uitspraak dat daar in die Gesangebundel niks onchristelik of ongereformeerd geleer word nie! Maar die Vereeniging verstout haarself deur selfs neer te skryf dat: “al de grote waarheden des Christendoms schitteren er heerlik en onvervalst!”

Laat die redakteur maar weer sy Gesangeboek gaan ondersoek, dan sal hy vader de Cock gelyk moet gee as hy sê in sy tevore aangehaalde geskrif “Wat de deugd van Gods Rechtvaardigheid aangaat, hieromtrent zoekt men tevergeefs den opzettelike behandeling onder de rubiek van Gods deugden en volmaaktheden?” (bl.22). Hierdie voorname leerstuk skitter tog nie heerlik en onvervals nie! Ja, hierdie versuim het nie per ongeluk voorgekom nie, maar strook volkome met die leer van die dag, nl. God is nie so streng regverdig en strafeisend nie. Hy is die liewe Vader van almal, sodat die ‘algemene genade’ vry verkondig kan word!

En hierdie versuim is meteens kenmerkend van die hele bundel. ‘n Mens moet by die Gesangebundel nie net vra wat dit sê nie, maar veral wat dit verswyg.[9] En hierin is sy valse karakter kenbaar. Immers, die Apostel Johannes (2 Joh 10), sê vir ons: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie”. Dit is nie genoeg om te ondersoek of ‘n valse leer soms ingebring word nie, o nee, die verleiding is gewoonlik fyn, dat ‘n mens moet vra of die ware leer nie soms verswyg word nie. En dit is die geval met vele Gesange. Self al is ‘n gesang nie onbybels nie, dan kan dit wel in sy verswyging van die goddelike waarheid antibybels wees. …

redakteursnota: In die laaste gedeelte van hul geskrif, gaan Totius en prof. Cachet dan voort om ‘n paar Gesange van hul tyd krities te bespreek en te ontleed,[10] en sluit dan af met die volgende woorde:

Ten slotte
Roep ons ons lesers toe: Waak oor die geloofsleer wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Volhard in die spoor van u vaders. Waak ook oor u kinders. Hoewel geen dogma op die skool mag kom nie, en dus ook geen gesang nie, gebruik mense nogtans die skool as instrument om ons kinders meer en meer te wen vir die loon en inhoud van die Gesange.

Daarom, nog eens, waak oor u kroos!

Notas:
[1] Daarom beveel die Skrif tereg: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.” – Jak.5:13.

[2] Hier kan bygevoeg word dat, omdat ons nie meer die verbond van die Psalms ken nie, omdat ons nie meer die Christus van die Psalms raaksien nie, daarom smag ons na gesange!

[3] Ds. LS Kruger berig van die swartman, Dawid, wat diep onder die indruk van ds. Dirk Postma se prediking gekom het, en ook evangelisasiewerk onder sy eie mense gedoen het. Hy skryf verder: “Toe Dawid by ‘n volgende geleentheid ds. Postma weer hoor preek het (waar hy gewoonlik in die skure van die burgers opgetree het), het ‘n ou man hom verwyt en gesê dat ds. Postma dan nie Gesange laat sing nie. Die grys ou jong (Dawid) het daarop geantwoord: ‘My baas, dis niks. Jy sien die boer die maak so ‘n klein gaatjie by die bult, hy kry bietjie water, die water loop so ‘n klein straaltjie in die klein dammetjie. So hy is die Gesang. Maar jy sien, die reent die kom somaar oor die bult en berge en valleie en staan somaar oral vol. So hy is die Psalm.’ ” Waarom is u Lid van die Gereformeerde Kerk ? 1956, p.65.

[4] Psalm 14; Jer.17:9; Matt.15:19; Rom.3: 10-19; ens., moet ons opnuut waarsku om nie ons eie liedboek uit te dink vir die lofsang aan God nie.

[5] Dit was ook die houding van die 16de en 17de eeuse reformatoriese kerke en konfessies.

[6] Die ‘gespierde calvinisme’ het seker verwys na die gereformeerde leer, soos dit vasgestel is deur die ‘drie kanonne’ (nie windbukse nie!) van die Sinode van Dordt (1618/19), naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtste Leërreëls. Dit is veral laasgenoemde wat die gelowige ‘n ‘gespierde’ borskas van die geloof gee (Ef.6:10-20), om die vyandige pyle van die postmoderne humanisme en die arminiaanse metodisme vandag suksesvol af te weer!

[7] Die teologie in die algemeen en die sang in die erediens word ook vandag deur die ekumeniese tydsgees en die menseregtekultuur gemanipuleer, soos dit bv. openbaar in die anti-verbondsbeskouing; anti-wraakpsalms, anti-God se skeppingsordeninge, ens.

[8] Dit gebeur baie dat in ons ywer om goeie dinge te doen, ook al is dit vir die kerk, ons ongehoorsaam kan wees. Ons dink ons goeie bedoelings of ywer, verskoning ons ongehoorsaamheid en word baie ontstoke as ons werk aangespreek word. Dit is egter nie ons ywer of goeie bedoelings, of die geskiedenis wat die norm is van ons leer en lewe nie maar alleen die Goddelike Woord (sien o.a.: HK, vr&antw.91). Paulus getuig van Israel in Rom.10:2, “dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.” In hierdie gedeelte (Rom.9,10) gaan dit spesifiek oor die Jode wat ‘n valse geregtigheid opgerig het los van God se Woord, en sodoende ‘n valse godsdiens aan die mense oorgedra het, wat nie eindig in Christus soos die Wet en Profete self van getuig het nie (v.3,4; sien bv. Ps.110). Calvyn se kommentaar en toepassing uit hierdie gedeelte is treffend: “Laat ons hieruit leer waarheen ons goeie bedoelings ons mag lei, as ons daarvoor buig. Dit is ‘n algemene gevoel dat di ‘n goeie en gepaste verskoning is, wanneer iemand tereg­gewys word, dat hy voorgee dat hy geen kwade bedoelings gehad het nie. En hierdie voorwendsel word deur baie onderhou vandag, sodat hulle nie hul verstand gebruik om die waarheid van God te soek nie, want hulle dink dat alles wat hulle doen deur onkunde, sonder enige voorafbeplande kwaadwilligheid, en met goeie bedoelings, verskoonbaar is. Maar geeneen van ons sal die Jode verskoon vir die kruisiging van Jesus nie, vir hulle vervolging van die Apostels, en vir hulle poging om die Evangelie te vernietig nie, en tog het hulle dieselfde verdediging as dit waarin ons selfversekerd roem. Weg daarom met hierdie leë verskonings aangaande goeie bedoelings. As ons God opreg soek, laat ons dan die pad volg waarvolgens ons alleen by Hom kan kom, want dit is beter, soos Augustinus dit stel, om eerder mank te loop in die regte pad, as om met al ons krag van die pad af te hardloop. As ons werklik godsdienstig wil wees, laat ons daarom onthou wat Lactantius leer wat waar is: dat ware godsdiens alleen dit is wat verbind is met die Woord van God. En verder, aangesie ons sien dat hulle wat met goeie bedoelings in die donker wandel vergaan, laat ons dit in gedagte hou dat ons ‘n duisend sterftes werd is, wanneer na ons verlig is deur God, en dan kennelik en doelbewus afdwaal van die regte pad.”

[9] Dit is ‘n vraag wat aan aan elke beryming gevra moet word.

[10] Daar word o.a. gewys hoe die ‘algemene genade vir alle mense’ dwaling (dat God gunstig/genadig is oor alle mense), ook in die gesange te vinde was, asook die mens se vermoë om met sy eie hart teen die sondes te stry, en dan skryf hul: ‘die Skrif leer (egter) dat God alleen die uitverkorenes in Christus in genade aansien. … Die Skrif sê dat ‘die genadegawe is die ewige lewe deur Jesus Christus onse Here (Rom.6:23)’ en dat die hart juis ‘ons ongeregtigheid is en die Heidelbergse Kategismus o.g.v. Gods woord geen ander redmiddel ken as die wedergeboorte deur die Heilige Gees nie (vr.8)’


Responses

  1. […] In antwoord op Jackson se dwaling hier bo (dat ons nie van Jesus en die Gees sing in die Psalms nie), wat ongelukkig in die meerderheid van afgevaardiges se harte leef, net die volgende antwoorde vanuit Totius en Cachet se boekie: […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: