Posted by: proregno | February 21, 2008

Verandering van Skrifbeskouing: ‘n Boekbespreking

Buytendach, dr. F. W.: Aspekte van die vorm-inhoud proble­matiek m.b.t. die organiese Skrifinspirasie in die Nuwere gereformeerde teologie in Nederland. 1972. T. Bolland, Nederland. (Boekbespreking deur prof. SJ van der Walt (Pretoria) –
(In die Skriflig Jg.7 nr.27 September 1973: 56-62)

Dis vir my ‘n eer om ‘n paar opmerkinge te maak oor die proefskrif van dr. F. W. Buytendach, Geref. predikant te Lichtenburg, getitel:

“Aspekte van die vorm-inhoud problematiek met betrekking tot die organiese Skrifinspirasie in die nuwere Gereformeerde Teologie in Nederland”. Dis uitgegee deur die uitgewers T. Bolland, voorheen H. A. van Bottenburg in Nederland.

Wat opmerklik is, is dat die skrywer vanuit Nederland versoek is om die boek te publiseer en vir ‘n groot deel op hulle eie koste. Dit toon hoeveel waarde aan hierdie boek geheg word deur sekere objektiewe instansies buite ons eie kring.

Hierdie werk is reeds in 1969 as ‘n proefskrif ingehandig ter verkryging van die doktorsgraad in die teologie by die Potchefstroomse Universiteit. Dit is ‘n groot en dik werk wat 460 paginas beslaan en dan kom daar nog die bibliografie by, wat nie minder as 22 bladsye boeke, tydskrifte en ander bronne behels nie. Mens staan verbaas dat dr. Buytendach ‘n werk van hierdie gehalte en omvang, wat so deeglik gefundeer is en op so ‘n eg wetenskaplike wyse ‘n moeilike en ingewikkelde probleem in die teologie bespreek, op ‘n betreklike klein plek, afgesonder van bibIioteekgeriewe, in sy studeerkamer die lig kon laat sien.

As ‘n mens die werk onder hande neem kan jy die indruk kry dat hierdie boek geskryf moes gewees het in een of ander groot kultuursentrum of in een of ander universiteit waar die skrywer die talryke boeke en tydskrifte maklik in die hande kon kry. Ons moet die skrywer inderdaad gelukwens dat die Here hom in staat gestel het om so ‘n magistrale werk tot stand te bring. Hierdie boek is werklik ‘n besielde geskrif. Dit gee nie die indruk van koue afgetrokke wetenskaplike bespiegeling oor ‘n teologiese onderwerp nie, maar dit is asof die skrywer deur ‘n soort garismatiese besieling gedryf was. Hy laat ‘n duidelike klank hoor en ‘n appel tot die kerk van die Here Jesus Christus uitgaan.

Dis ook opmerklik dat hierdie geskrif juis in die jaar 1969, die eeufeesjaar van ons teologiese skool, afgewerk en ingelewer is. Ek wil dit graag in die eerste plek sien as ‘n vrug van die bestaan en werk van die Gereformeerde Kerk en die Teologiese Skool in die afgelope 100 jaar, ‘n vrug van God’s genade.

In hierdie proef­skrif kry ons te doen met die sentrale en fundamentele begronding van alle teologiese arbeid, nl. die Skrif as die onfeilbare Woord van God, waarop ons Gereformeerde Belydenis rus. Dit is van heel besondere belang in hierdie tyd, waarin die belydenis van die kerk ondermyn word deur aanslae wat teen die Skrif gemaak word. Dit is asof die Here dit so beskik het dat die werk en die stryd van ons vaders in hierdie boek bekroon is met ‘n klinkende getuienis wat sekerlik sy weerklank oor die wêreld sal vind.

As daar vandag ‘n saak is wat die Gereformeerde Kerke oor die aarde in beroering gebring het, dan is dit die Skrifkwessie. Dit raak selfs die Rooms-Katolieke Kerk. Die hele geloof van die kerk van Christus is soos die skrywer van hierdie proefskrif dit uitdruk “in verdrukking gebring”. Hierdie boek is meer as ‘n tydige wek­roep waarvan ons kerk en alle kerke, ook in ons land en elke predikant sal moet kennis van neem. Dan sal ons besef wat die werklike en diepste gevaar is wat ons bedreig, nl. hierdie nuwere teologie, soos vertolk en gepropageer in die Geref. Kerke van Nederland deur sekere leidende figure. Die kerk dryf hulle soos ‘n skip sonder anker in die magtige oseaan van apokaliptiese gebeur­tenisse wat ons al meer en meer belewe, in ‘n stormnag van onge­loof en twyfel en van geestelike en sedelike verval.

Die moderne teologie trek die relatiwiteit en onvolmaaktheid (ongearriveerdheid) van alle menslike bestaan en denke deur tot in die Skrif self. Alles word bevraagteken en kennis in verband met God en sy werke ontken. In die werke van teoloë in ons tyd, kom die vraagteken veel meer voor, as die uitroepteken, bv. by Berkouwer se dogmatiese studies. Die gevolg van die ondermyning van die Skrifgesag is dat daar ook in die Gereformeerde wêreld ‘n soort permissiwiteit ingedring het, sodat ons in Nederland ‘n toe­stand vind waar die sluise oopgeruk is vir ernstige dwalinge of afwykinge sonder dat mense daarvoor tot verantwoording geroep word.

Dr. Buytendach stel die hele saak baie sistematies: Eers kortliks die probleem waaroor dit gaan en hoe hy dit wil behandel; daarna bespreek hy kortliks verskillende inspirasie-teorieë, nl. die mega­niese, die dualistiese en die dinamiese of persoonlike inspirasie­teorieë; daarna werp hy ‘n blik in die geskiedenis om te wys hoe dat die kerk in die verlede gedink het oor die Bybel en in watter sin die Skrif beskou is as die onfeilbare Woord van God; daarna be­spreek hy sommige Kerkvaders soos Irenaeus en Augustinus en die Reformatore soos Luther en Calvyn; dan kom hy nader by ons by wat genoem word die organiese Skrifinspirasie, manne soos C. Hodge, A. Kuyper, H. Bavinck; vervolgens bespreek hy die sg. nuwere teologie. Vooraf verwys hy na en bespreek manne soos Karl Barth en Bultmann. Hoewel hy hulle kort en saaklik behandel is dit tog indringend en bespreek hy hulle prinsipieël en krities.

Daarop volg ‘n bespreking vanuit die natuurwetenskaplike oogpunt soos wat by die Ewolusie-leer uitgeoefen het op die hele devaluering en vervlakking van die Skrifgesag. Hier bespreek hy veral die sieninge van J. Lever van die Vrye Universiteit van Nederland. ‘n Mens sou wel kan sê dat die verval van die Gereformeerde Skrif­beskouing geskied wanneer die Ewolusie-leer met sy relativering van alles, wat tot die skepping behoort, ook op die Skrif toegepas word.

So kom dr. B. dan uit by wat die kern en wese van sy proefskrif uitmaak, nl. die bespreking van die opvattings van leidende figure in die Nederlandse Geref. Kerke oor die gesag van die Skrif, nl. van N. H. Ridderbos, Th. Delleman, H. A. L. van der Linden, J. L. Koole, H. M. Kuitert, H. Ridderbos, G. C. Berkhouwer en G. P. Hartvelt. Ten slotte sluit hy af met ‘n kort terugblik en gee sy positiewe beskouing oor die probleem.

Terloops wil ons net opmerk dat die Nederlandse Gereformeerde teoloë se standpunte dikwels en ook breedvoerig uit hulle werke aangehaal word. Hy sê op p.106 dat hy die metode volg ten einde reg aan die betrokke persone te laat geskied. Hy wou die betrokke teoloë so veel as moontlik self aan die woord stel. Die manne geniet immers internasionale aansien en dit gaan vir dr. B. uiteraard allermins om die persone maar juis om hulle sienswyses wat hy aanhaal. Die skrywer stel die manne soveel moontlik self aan die woord om hulle dus as ‘t ware uit hulle eie mond te beoordeel en vermy so die gevaar dat gesê mag word dat hy hulle dinge in die mond sou gelê het.

Mens kan natuurlik ook met aanhalings fouteer of dinge aan­haal wat anders bedoel was. Op p. 275 stel die skrywer bv. die siening van wyle prof. L. Berkhof van Amerika, nl. dat ons in die Bybel te doen het met mense (outeurs) wat deur die Heilige Gees gebruik was net soos hulle was, d.w.s. met hulle persoonlike eienaardighede, karakter, temperament, talente en ontwikkeling. Maar dan voeg Berkhof daarby, daar is egter een uiters belangrike beperking, nl. “the Holy Spirit could not permit their sinful nature to express itself”.

Volgens hom het die Bybelskrywers, nieteenstaande hul beperkthede, tog elkeen geskryf wat waar is en wat in God’s heilige Woord inpas. In ‘n voetnoot vergelyk Buytendach dit dan met wat prof. S. du Toit skryf in “Progressive creation”, nl. “that the biblical writers in their terminology made use of current notions which are not corrected, but in and through the medium of this language God revealed what He wants to be revealed”.

Dit is vir my ‘n vraag of Berkhof en Du Toit so presies dieselfde bedoel as wat B. dit hier stel?

Trouens hy laat net daarna volg wat Herman Ridderbos geskryf het, dat van alles wat in die Bybel staan nie gesê kan word dat, “omdat de schrijvers van de Bijbel als open­baringsorganen zich ervan bedienen… nu ook openbaringsbete­kenis heeft gekregen”.

M.i. lê Du Toit se beskouing meer op die vlak van Ridderbos as die van Berkhof.

Ons kan ook verwys na bls. 306, 307, waar B. sterk kritiek uitoefen op die siening van H. Ridderbos, nl. dat die eerste drie hoofstukke van Genesis ‘n soort van terugwaarts gerigte profesie is. B. se dit lyk vir hom of hierdie siening van Ridderbos geinspireer is deur die skeppingsleer van Karl Barth. Daar verwys Buytendach weer na Du Toit se “Progressive Creation” en sê dan dat volgens Du Toit die skeppingsverhaal ‘n profeties-visioenêre of protologiese aanduiding gee van dinge wat eintlik voor die geskiedenis plaasgevind het. Dan sê B. daar is tog ‘n prinsipiële verskil tussen Du Toit en Ridderbos. Du Toit meen dat ons tog te doen het met feitelike gebeurtenisse. Ek meen dat Ridderbos ook bedoel dat ons met werklike feitelikhede te doen het wat in ‘n soort profetiese gewaad ingeklee is.

Dit is dan ‘n verdere vraag, wanneer ons Gen. 1 sien as profeties-visioenêre inkleding, waarom sou jy die lyn nie ook saam met Kuitert verder ‘kon deurtrek en die sondeval (soos aan­gedui in Rom. 5) nie maar vertolk as ‘n soort “verpakking” waarin die Skrifboodskap na ons toe kom nie? Ons het tog eintlik in Genesis te doen met historiese meedeling aangaande die wordings­geskiedenis van die skepping en van die volk Israel, soos geteken in die geskiedenis van die aartsvaders.

Ons moet besin op die vraag of ons die skeppingsverhaal maar so kan paralleliseer met die visioenêre tonele van die boek Openbaring, as protologie en eskatologie.

Dr. Buytendach bly deurgaans streng wetenskaplik, ook wan­neer hy soms skerp kritiek uitoefen. Hy word nooit persoonlik nie, moontlik ‘n onbewuste rede waarom hy so oorvloedig aanhaal. Hy het selfs groot waardering vir die positiewe bydraes van andere soos bv. Berkouwer. Hy sê op bls. 329 “na Kuyper en Bavinck is Berkouwer ongetwyfeld te beskou as die dogmatikus in Gerefor­meerde teologiese kringe in Nederland”.

Hy verwys na Berkouwer se geweldige produktiwiteit en sê: “Dit alles maak duidelik dat hy ‘n dogmatikus van internasionale faam is. Die invloed van sy teologiese arbeid en die waardering daarvoor is onberekenbaar”. Van Herman Ridderbos se B. bv. op bls. 237.: “H. Ridderbos is ‘n uiters begaafde Nieu-Testamentikus wat reeds internasionale be­kendheid verwerf het deur sy teologiese bydraes”.

Dit neem egter nie weg nie dat hy op ‘n baie duidelike en ondubbelsinnige wyse stelling inneem teenoor dinge wat hy as afwykinge beskou nie. Hy beoordeel iemand soos Kuitert -baie deeglik en krities. Kuitert beklee ‘n uiters strategiese posisie aan die Vrye Universiteit en oefen groot invloed uit. Wyle prof. Van Niftrik het gesê dat as Kuitert se opvattinge gemeengoed moet word van die Geref. Kerke in Nederland, hy sy hart vashou.

Kuitert se dwalinge som B. op bls. 155 op. Hy sê Kuitert se idee van die mensvormige Godsbeskouing wat hy in die O.T. inlees waarvolgens die ou Bybelskrywers ‘n Hebreomorfe siening van God sou gehad het, sodat God eintlik geteken word na die beeld van die mens met allerlei menslike organe, heeltemal afgewys moet word. Volgens Kuitert was dit geen beeldspraak om van God se oë, ore, mond, hande, voete ens. te praat nie maar het die Bybel­skrywers letterlik so oor God gedink. Hierdie siening van Kuitert se B. is in stryd met Sondag 46 van die Heidelbergse Kategismus (H.K.).

Dat God nie ‘n geestelike wese sou wees nie en derhalwe onsienlik is nie, dit is strydig met Art. I van die Nederlandse Geloofs­belydenis. Dat God nie onbegryplik sou wees nie (a la Kuitert), word veroordeel in Art. I en VIII van die N.G.B. en ook in Sondag VIII van die H.K. Dat God nie onveranderlik sou wees nie, sê Buytendach, strook nie met Art. I van die N.G.B. nie en ook nie met Hfst. I van die Dordtse Leerreels nie. B. sê dat Kuitert met sy be­skouings beland by Barth se predestinasie-leer t.o.v. die veranderlik­heid van God.

Verder kom Kuitert se beskouing oor die alomteen­woordigheid van God, wat eintlik ‘n beperkte teenwoordigheid is, volgens B. nie met Sondag X en XVIII van die H.K. ooreen nie. Dat God nie alwetend sou wees me, stry met Sondag XXXVII en Hfst. I van die Dordtse Leerreels. Volgens B. (p. 360) dwaal Kuitert ook daarin dat hy wel nie soveel woorde nie, maar tog in wese die Triniteit van God sou ontken. Vir Kuitert is dit eintlik nie so dat dit net die tweede Persoon van God is wat die menslike natuur aan­geneem het nie, maar dat God as sodanig gesoek en gevind moet word in die mens Jesus Christus.

Ook hier se B., sluit Kuitert weer sterk aan by Barth, wat erken het dat sy teologie eintlik Sabelliaans is. God bestaan maar net in drie modaliteite. Dit stry duidelik met Art. VIII van die N.G.B. waar ons leer dat nie die Vader of die Heilige Gees vlees aangeneem het nie maar die Seun alleen.

Op p. 167 kritiseer B. vir Kuitert sterk oor sy beskouing dat die Bybel God eintlik na die mens se beeld voorgestel en eintlik ‘n menslike (Hebreomorfe) siening van God gee: God is bloot bondgenoot of “partner” en die mens is dan ‘n teomorfe wese as God se bondgenoot. Soos die regte mens is, so is God. Volgens B. wis Kuitert die wesensonderskeid tussen God en mens uit. Hy se dat Kuitert baie duidelik onder die invloed van Bultmann staan, by wie teologie en antropologie saamval. Bultmann se: “Die Frage nach Gott und die Frage nach Mirselbst sind identisch”.

Met verwysing na Van Ruler se B. dat hy (Van Ruler) tereg gesê het dat Kuitert al die Goddelike kwalifikasies streng binne God se bondgenootskaplikheid beperk het. Hy se dat volgens Kuitert daar g’n ander kennis van God is behalwe die wat deur die subjektiwiteit van mense (Bybelskrywers) heengegaan het nie. Dit is wel Godskennis ja, maar dit is Israel se Godskennis “gesproten uit om­gang met God uit een verleden tijd, overgeleverd en tot traditie gemaakt”. Ons het dus in die Bybel ‘n menslike getuienis aangaande God wat bejeën moet word in die lig van die Israelities-Joodse ka­rakter van “de bijbelsche overlevering”.

Hy (Kuitert) sien dus die Skrif as ‘n soort menslike fabrikasie, as ‘n getuienis van die mens­like outeurs daarvan, ‘n soort van belydenis of lofprysing van die mens, insover hulle met God as Bondgenoot kennis gemaak het.

Volgens Kuitert kom hierdie menslike getuienis aangaande God tot ons in ‘n historiese “verpakking” in ‘n sekere kulturele konteks. Hierdie verpakking is nie onfeilbaar nie, maar dra al die kenmerke van die tyd waarin dit geskryf is. Dit beteken nie dat aan hierdie, tydgebonde menslike formuleringe ewigheidswaarde toegeken moet word nie.

Waar B. vir Berkouwer bespreek laat hy sien dat Berkouwer eintlik dieselfde sê t.o.v. die tydgebondenheid van die Skrif, maar by hom gaan dit veral om die “scopus” van die Skrif, wat ons nie allerlei dinge wil meedeel t.o.v. die skepping en geskiedenis nie, maar wat in alles die Christus en sy verlossingswerk aan ons wil voorhou.

Daarom relativeer ook Berkouwer die dinge wat meer op die Periferie, die formele sy, van die Skrif lê en maak ook hy dus net soos Kuitert en die ander die vorm en inhoud van die Skrif ten diepste los van mekaar.

Volgens Berkouwer en Kuitert kry die wesenlike inhoud (die kern) van die Skrif, dit waarom dit eintlik gaan in die Bybel, sy openbaringskarakter ten slotte in die prediking van die heilsboodskap. Daarin spreek God deur die menslik-feilbare organe sy ewige onfeilbare Woord.

In die verband wys Buytendach daarop dat waar en hoe ook al die Skrif-inhoud en -vorm van mekaar losgemaak word, ons nie alleen die vorm nie maar ook die inhoud verloor.

As ons bv. die verhale van skepping en sondeval as bloot menslike en tydgebonde sieninge relativeer, se B. watter rede is daar dan om dit nie deur te trek tot in die N.T. en bv. ook die opstanding van Christus, saam met Bultmann, te sien as maar die reaksie van die kerk op die dood aan die kruis, sonder enige objektiewe feitelikheid?

Met sy kritiese verwerking van die nuwere Geref. teologie oor die Skrif, sluit B. dan ten slotte af met ‘n kort samevatting van die konklusies waartoe hy gekom het en ‘n kort aanduiding van sy eie beskouing. Hy meen dat die Skrif is iets “sui generis”, dat ons dus die gedagte van die Skrif as die onfeilbaar-geinspireerde Woord van God, ook volgens 2 Tim. 3 : 16, so moet verstaan dat die hele Skrif, sowel na vorm as inhoud, as Goddelik gesagvol moet aanvaar.

B. wil eintlik nie van die geinspireerde Woord praat nie, maar van die geteopneusteerde Woord. Hierdie gedagte werk hy nie breed uit nie, maar hy vrees skynbaar dat die inspirasiegedagte kan lei tot die dinamiese opvatting en hy wil dus liewer die woord behou wat in die aangehaalde teks staan: “Die hele Skrif is deur God geteopneusteer”, wat wys dat dit deur God’s Gees as die eintlike Outeur van die Bybel, deur menslike bemiddeling aan ons ge­gee is.

Dit is ten slotte God se Woord en nie mensewoord oor God nie.

B. praat dus van die “organies-verbale teopneustie” van die Skrif. En hy ontken die sg. soteriologiese skopus van die Skrif en meen dit gaan in die Skrif om veel meer as ons heil en saligheid, dit gaan om die eer van God.

Berkouwer se siening is te beperk.

Ons wil dus hierdie boek baie sterk aanbeveel. Dit sal ons oë oopmaak vir die gevaarlike winde wat oorsee ook in Gereformeerde kringe waai.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: