ONS EN DIE NATUUR – TWYFEL
deur Hilko Lubbinge[1]
“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11 vers 1)
Wat het die natuur en ons geloof met mekaar te make? Ons lees in art 2 van die NGB dat ons God leer ken uit die Skrif en uit die natuur. Nou is dit so dat, in pleks daarvan dat die natuur die geloof versterk, dit juis twyfel kan veroorsaak. Want (is die argument), die wetenskap het gevorder. Ons weet nou baie meer van die natuur as eeue gelede. Sommige gaan so ver om die hele Skrif te verwerp op grond van bv. evolusie. Maar daar is ook gelowiges wat nie die Skrif verwerp nie, maar wel vraagtekens het oor gedeeltes van die Skrif bv:
Dat die aarde in 6 dae geskep is, dat die donkie van Bileam gepraat het, dat Jona in die maag van ‘n vis kon oorleef het … dit is bietjie te veel gevra. Maar (word daar geredeneer), solank ek hou by die kernwaarhede van die geloof nl. die versoenende dood van Christus, sy opstanding ens. dan maak dit nie regtig saak nie.
Is dit so?
Die eeu ou strategie van die Satan
“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3 vers 1)
Die Satan begin deur twyfel in die hart van Eva te saai. Daarna is die stryd reeds half gewonne.
Die Satan gebruik vandag nog steeds ‘feite’ wat halwe waarhede is, maar eintlik volslae leuens is. So word evolusie as ‘n bewese ‘feit’ voorgehou aan die onkundige. Soms hoor mens die argument van ‘n gelowige dat ‘evolusie’ wel plaasvind, al is dit so dat hy nie glo in Darwin se teorie dat een soort uit ‘n ander voortgekom het nie. Wat wil mens eintlik met so argument bereik? Dit is duidelik wat die wetenskaplike wêreld met evolusie bedoel. Hoekom hulle definisie afwater? Dit pas in die Satan se kraal om ons te “softsoap”.
Die Satan is die vader van die leuen
Die moderne wetenskap sê: Waarheid is net dit wat bewys kan word. Hoe bewys mens iets? Die wetenskap sê deur eksperimentele waarneming wat herhaalbaar is. Volgens sy eie definisie kan geen wetenskaplike evolusie wetenskap noem nie.Tog doen hulle dit.
Die mens kan nie bestaan sonder waarheid nie. Die soeke na waarheid is daar sedert die sondeval. “Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.” (Johannes 18 vers 38) Die Satan wil graag hê ons moet twyfel. Hy wil hê ons soeke na die waarheid moet ons juis lei na die leuen. Daarvoor gebruik hy alle middele tot sy beskikking:
- Ons twyfel.
- Ons menslike hoogmoed.
- Ons goeie bedoelings.
- Valse predikers.
- Ons onkunde.
- En daar is meer.
Om op laasgenoemde effens uit te brei. Die massas glo steeds in Darwin se teorie. Die grootste wetenskaplikes van ons tyd weet reeds lankal dat dit verkeerd ‘bewys’ is. Geleidelike evolusie vind nie plaas nie, Daarom kom hulle nou met die teorie van sprongsgewyse evolusie. So soek hulle steeds naarstiglik na ander oplossings, omdat die alternatief, om in ‘n skepping deur God te glo, vir hulle onaanvaarbaar is.
Ons sekerheid
Laat ek eindig met waarmee ek begin het. Hoe heerlik is dit om die geloof te hê. Die vaste vertroue dat God ‘n God van sy Woord is. Ons kan hom ernstig neem op sy Woord. As Hy iets in sy Woord laat opskryf het, moet ons baie versigtig wees om te dink: “Ja, dit staan nou wel so daar geskrywe, maar met my moderne wetenskaplike kennis kan ek dit tog maar anders verstaan as die eerste mense wat nie my kennis gehad het nie.
Job is daarin vir ons ‘n pragtige boek. Ondanks al sy swaarkry het Job nooit aan God getwyfel nie. Ook leer die boek ons nederigheid.
“Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. (Job 32 vers 1 tot 3)
Al is ek self ‘n wetenskaplike wat by ‘n moderne universiteit gestudeer het. Tog is dit vir my ‘n geweldige troos dat ek nie hoef te twyfel dat:
God die aarde in ses dae geskep het. Hy is almagtig. Hy kon dit in ‘n sekonde gedoen het as Hy wou. Hy kon dit selfs in geen tyd gedoen het nie, want Hy is nie aan tyd gebonde nie. Tyd was Sy eerste skeppingsdaad. “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” (Genesis 1 vers 1)
- Wie is ek om te twyfel, dat dit nie dae soos vandag was nie, as Hy uitdruklik sê: “en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. (Gen 1 vers 5)
- Dat hy die lig geskape het voor daar ‘n son of maan was.
- Die donkie gepraat het.
- Jona vir drie dae in die vis oorleef het.Want as ek aan bogenoemde begin twyfel, wat dan van die volgende?:
- Adam an Eva was die eerste mense uit wie die hele menslike geslag voortgekom het.
- Deur hulle ongehoorsaamheid, en val in die sonde staan ons vandag almal skuldig en het versoening nodig.
- Christus is uit ‘n maagd gebore.
- Christus het uit die dood opgestaan.
- Ons sal ook eendag opstaan met ‘n verheerlikte liggaam.“En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes.” (1 Kor. 15 vers 14 tot 17 lees self ook verder)
Hoe arm sou ons gewees het as God onderworpe aan die natuurwette sou wees. Dan sou Hy nie almagtig God gewees het nie. Hy toon juis Sy almag daarin dat hy ‘n donkie kan laat praat, die son kan laat stilstaan ens. Om dus te twyfel daaraan dat God dinge kan doen wat vir ons onmoontlik lyk, is om in die kraal van die Satan te speel.
[1] Lidmaat en ouderling van die Vrygemaakte Gereformeerde Kerk Pretoria. Epos adres: hilko@lantic.net
Leave a Reply