Boekbespreking: Opgestaan – deel 6 (Moenie weifel nie!)

Ek wou by hierdie deel van my boekbespreking stilgestaan het by die ‘social gospel’ standpunte wat die ontkenners van Christus se opstanding huldig, maar dit gaan vir eers oorslaan tot ‘n volgende keer.

Ek wil nou aansluit by die volgende gedeelte uit Opgestaan, Lina Spies se belydenis oor Jesus as bloot ‘n ‘doodgewone mens’, waarmee sy haar vereenselwig met die Jesus Seminar en Nuwe Hervorming se belydenis aangaande Jesus:

“Intussen het dit toe bekend geword dat die bekende en vooraanstaande professor Lina Spies van Stellenbosch, wat onder meer etlike omdigtings vir die nuwe Liedboek gedoen het, ’n soortgelyke ervaring gehad het, ook nadat sy Fatherless gelees het. Sy skryf dat sy uit die NG Kerk bedank het nadat sy ’n lidmaat vir bykans vyftig jaar was en selfs as ouderling gedien het, omdat sy nou glo dat Jesus slegs ’n doodgewone mens was (Insig, Desember 2003).” [16]

In ‘n artikel in die Kerkpad van Maart 2004, is daar meer detail oor die destydse artikel in Insig, waaruit die volgende woorde kom:

“Wat het haar van oortuiging laat verander? As antwoord dra sy drie boeke aan: A History of God van Karen Armstrong, Ruim geloven van CJ den Heyer en Fatherless in Galilee van die Suid-Afrikaanse teoloog Andries van Aarde. Veral ná die lees van laasgenoemde het sy besef dit is glad nie nodig om Christus se sogenaamde maagdelike geboorte te beskou as die oorsprong van sy boodskap en aardse omwandelinge nie. “Ek kan Hom verstaan en …”

En aanbid?

“Nee. Ek kan Hom verstaan en Hom eer vir wat Hy was en is – ‘n unieke en baie besonderse mens – sonder ‘n beroep op ‘n maagdelike geboorte. Ek glo Hy het gelewe, maar as ons glo Hy is maagdelik gebore, kan Hy – skryf dit tog met ‘n hoofletter! – so maklik net nog ‘n mitologiese figuur word want daar is naas die Bybel ook ander ou geskrifte met verhale van maagdelike geboortes.”

Watter Bybelse verhale kan mens dan wel glo, soos Christus se opstanding uit die dood? “Ek twyfel of dit die essensie van die Evangelie is. Ek is nie ‘n Christen om vir my ‘n ewige lewe te probeer verseker nie. As daar ‘n lewe hierna is – ek weet nie of dit so is nie – sal dit ‘n bonus wees. Ek glo nie aan die wederkoms nie. Mense wat daarop wag, sal ‘n paar biljoen jaar moet wag totdat die son uitbrand en die aarde soos ons dit ken, vergaan.”

Spies se belydenis is kenmerkend van die 18/19de eeuse kritiese wetenskap asook die Bultmanniaanse 20ste eeu moderne teologie met sy sogenaamde ontmitologisering van die NT, wat eindig met ‘n ‘doodgewone mens’ nog in die graf, nie met lewende Jesus Christus van die Heilige Skrif wat nou aan die regterhand van die Vader in die hemel is nie.  Die verste wat die ontkenners van Jesus sal gaan is om Hom dan ‘n ‘unieke en baie besonderse mens’ te noem, maar nie die Seun van God nie, nie God self nie.

Prof. Amie van Wyk het in die Kerkblad ‘n Ope brief aan Lina Spies geskryf (April 2004, bl.7) waarin hy daarop wys:  

“Trouens, as Hy net (een van baie) goeie mense op aarde was, waarom dan juis vir Hóm uitsonder om na te volg en nie byvoorbeeld vir Gandhi nie? Gandhi het immers ook mooi dinge gesê en gedoen én daarby het hy (oënskynlik) polities veel meer as Jesus vermag: hy het deur sy politiek van geweldlose verset die mag van die Britse imperialisme in Indië verbreek, terwyl Jesus nie die mag van die Romeinse imperialisme in Palestina kon – of wou – verbreek nie. Indien ek bloot tussen twee goeie mense moes kies, sou ek ernstig moes oorweeg om vir Gandhi as oriëntasiepunt te kies.”

En, as Jesus bloot net ‘n ‘goeie mens’ was, nie sondeloos was nie, nie opgestaan het uit die dood deur sy Goddelike krag nie, maar net doodgewoon …. doodgegaan het soos ons almal, dan is ‘hy’ dan nou ook gewoon dood, en ons ook, wat die toekoms betref. Dan geld wat Paulus gesê het in 1 Kor.15:

14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;  15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.  16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;  17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;  18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.  19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”

Die geloof in Jesus Christus as ware Mens én Ware God is dus ‘n saak van lewe of dood, hemel of hel, van die ewige lewe of ewige verdoemenis (Joh.3:8,36; 17:3). 

Of Jesus is bloot net nog ‘n (goeie) sosiale profeet, of “Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.” (NGB artikel 10, Die Godheid van Jesus Christus).

Regdeur die eeue, was daar nog altyd mense, geleerde mense, konings, filosowe, godsdienstige leiers, ens. wat baie in Jesus belanggestel het as ‘n ‘interessante figuur’, maar nie as Verlosser en Koning nie. Hier is so paar voorbeelde:

A man who was completely innocent, offered himself as a sacrifice for the good of others, including his enemies, and became the ransom of the world. It was a perfect act. -Mahatma Gandhi

I am an historian, I am not a believer, but I must confess as a historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very center of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.–H.G. Wells

Jesus was the greatest religious genius that ever lived. — Ernest Renan

I would like to ask Him if He was indeed virgin born, because the answer to that question would define history. –Larry King

A heroic figure… not wholly to blame for the religion that’s been foisted on him. – Esra Pound

Ongeag al hierdie komplimente en mooi woorde, beteken dit niks as jy Jesus nie bely as die Seun van God, wat vir ons sondes kom sterf het nie, (1 Tim.1:15) en Hom nie wil aanbid nie (Op.1:12-18).  Ook in Jesus se tyd in die eerste eeu, was daar mense wat bloot belanggestel het in ‘godsdiens en godsdienstige persone’, maar nooit tot geloof en aanbidding oorgegaan het nie, dink aan Herodes (sien hieronder).  Ons moet leer daaruit, dat Jesus Christus nie bloot ‘n ‘objek’ is wat jy kan ondersoek nie, dat jy nie deur sogenaamde ‘objektiewe kritiese wetenskap’ of die ‘histories kritieke metode’ Hom werklik gaan kan leer ken of ontmoet nie.  Hy openbaar Hom aan wie Hy wil.  Hy het Hom reeds ge-openbaar in die Heilige Skrifte, en as jy Hom nie daarvolgens aanvaar nie, bly die ‘toorn van God’ op jou en ‘sal jy nie die lewe sien nie’ (Joh.3:36), gee nie om hoe geleerd of vol doktorsgrade jy is nie (Joh.5):

“39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.  40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.  41 Eer neem Ek van die mense nie aan nie.  42 Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.  43 Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem.  44 Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?  45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig – Moses op wie julle gehoop het.  46 Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.  47 En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

Ja, as die Nuwe Hervormers nie die OT glo nie, sal hul ook nie die NT glo nie.  Dit is eintlik lagwekkend om daaraan te dink: Skrifkritici vanaf die 19de eeu en daarna wil hê ons moet hul fabels en mitologisering van en oor die Heilige Skrif (onder die dekmantel van sogenaamde ‘teologiese wetenskap en historiese metode’) as ‘gesaghebbend’ aanvaar, maar hul verwerp die gesag van die Heilige Skrif in beginsel, hul aanvaar nie wat daar geskrywe staan nie, hul buig nie voor die gesag van God wat deur die Heilige Skrifte spreek nie.  Nou hoekom moet ons enigsins buig voor hul afgode en valslik sogenaamde kennis ? 

Sien die volgende preek van ds. Gustav Opperman van die GK Brits-Wes: Moenie weifel nie.

Terwyl ek Ferdie se boek gelees het, het ek ook die preek gelees, en was aangegryp deur die aktualiteit daarvan, ook vir die sake wat in Opgestaan aangespreek word, veral ook vir mense wat ‘weifel’ oor Jesus Christus, vir hulle wat Christus én die wêreld wil liefhê (1 Joh.2:15-17), wat Jesus wil ‘respekteer as goeie mens’ maar Hom nie wil aanbid en dien en eer nie, wat dink om in Jesus belang te stel –hetsy as ‘n stokperdjie of om Hom bloot ‘wetenskaplik te ondersoek’ is genoeg, en nie in Hom wil glo as die Christus, die Seun van die lewende God nie. 

Orals, nie net persoonlik, in my gesin, in die gemeente of gemeenskap nie, maar ook op elke wetenskaplike terrein moet ek kies vir of teen Christus, die Woord roep ons daartoe op.

Ek stel vir ds. Opperman aan die woord:

Moenie weifel nie!

Lees: Mar 6:14-29; Luk 23:1-12

Teks: Mar 6:20, (Herodes) het graag na hom geluister.

Vandat Johannes die Doper begin preek het, kon dinge nie meer bly soos dit was nie …

Die woorde van sy evangelie het die toehoorders tot ‘n beslissing gedwing:

Wat moet ons dan doen ?

het sy eerste hoorders uitgeroep …

Watter kant toe ?

So het die Here Jesus ook self sy toehoorders voor ‘n keuse gestel:

Die smal weg of die breë weg … God of Mammon …

Die huis op die sand of die huis op die rots … en wie nie vir Hom is nie, is teen Hom …

Dis of Barrabas of dis Christus …. Dis of een kant toe of dis ander kant toe …

En nou is die vraag, en dis ook die vraag wat die profeet Elia aan die volk gevra het

Hoe lank kan ons hink op twee gedagtes ?(1 Kon 18:21)

Miskien ‘n dag of week lank ?

Dalk net ‘n tyd .. of dalk ‘n hele leeftyd ?

Hoeveel uitstel is daar op die besluit wat die ewigheid sal bepaal ?

Die besluit moet geneem word …

Die Heilige Gees kan ons daartoe dryf …

Die prediking moet ons daartoe dryf …

Dit is die een uitstaande kenmerk van evangeliese prediking:

dit sal die toehoorders tot ‘n besluit bring …

Die woord van die HERE sal nie leeg tot Hom terugkeer nie (Jes 55:11)

Daar mag van diegene wees wat dit hoor

wat geirriteerd is dat die evangelie ‘n besluit van hulle wil afdwing …

Maar ‘n evangelie wat nie oproep tot ‘n lewensverandering nie,

is nie evangelie nie …

En daarby moet ons sê die Satan … hy dryf terselfdertyd ook …

hy wil ook ‘n besluit by ons afdwing … Soos hy dit by Herodes afgedwing het …

Koning Herodes die viervors … “ook maar net mens”, kan ons sê …

Hy het sy ligsinnige sy gehad, maar hy het ook sy ernstige sy gehad …

Hy het van ‘n goeie partytjie gehou, maar hy het ook baie belanggestel in die dieper dinge van die lewe …

Ons sien hom by die paasfees in Jerusalem as deel van die volk …

ernstig besig om die volk se verlossing uit Egipteland te herdenk,

maar terselfdertyd was hy ook ‘n man van bygeloof, gepla deur die geeste van dooies …

Ook maar net mens, soos so baie van ons … ‘n mens met sy lig en skadukante …

Alles by Herodes was beslis nie wit nie, maar terselfdertyd moet ons ook sê

Alles was ook nie net swart nie …

By hom was dit nie soos by sy vader Herodes die Grote nie

By Herodes die Grote was alles net swart … Hy het sy eie vrou en kinders vermoor omdat hy gedink het hulle wil hom ontroon …!

Hy het die babaseuntjies van Bethlehem voor die voet geslag omdat daar dalk net een van hulle kon wees wat koning van Jode kon word …

Nee hierdie Herodes was nie so iemand nie … Hy was joviaal en grootmoedig, lief om te onthaal

en soos dit ‘n ware koning betaam … was hy ‘n man van sy woord … so het ons in ons Skrifgedeelte gesien …

En soos dit nou gebeur het dat Herodes sy broer se vroutjie afgevat het, dan kan ons maar net ons tonge klik of ons skouers ophaal … en sê: sulke dinge gebeur …

Wie is ons om Herodes en Herodias te oordeel …?

En soos ons ook daagliks uit die sepies op die Televisie leer: Elke diertjie het mos sy plesiertjie …

Nie vir Johannes die Doper nie, Hy noem hierdie optrede vir wat dit is: owerspel en egbreek …

Die profeet van die Here spreek die Here se woord … en die Here se woord sê: dis sonde !

Koning Herodes sou nie met Johannes gelol het nie, as Johannes nie met hom gelol het nie …

Johannes kan preek oor die tollenaars en die soldate … Hy kan die Farisieërs uitkryt vir wat hulle is, maar van die koning en sy slaapkamer sake moet hy sy mond afhou …

In die agtergrond hoor ons ook hoe die nuwe koningin sis… Herodias blaas die vuur aan:

Johannes die Doper moet gearresteer word !

Herodias, self wek natuurlik geen simpatie nie.

By haar, so lyk dit vir ons, was alles ook net swart … Soos Isebel van ouds, het sy net een doel voor oë, soos die stem van Elia stilgemaak moes word, so moes die mond van Johannes die Doper gesnoer word !

En Heródias het ‘n oog op Johannes gehad

en sy wou hom om die lewe bring en sy kon nie.

Want Herodes was bang vir Johannes,

omdat hy wis dat hy ‘n regverdige en heilige man was,

en hy het hom beskerm

Herodes die viervors was nie soos Herodias nie … Eintlik het hy ‘n goeie ding gedoen deur die profeet te arresteer

Dis vir sy eie beswil, so moes hy gedink het …

Koningin Herodias was heeltemal in staat om ‘n sluipmoordenaar te huur …

en dan was dit einde van Johannes die Doper … Herodes is immers nog die baas in die paleis …

Hy sal besluit wat moet volgende gebeur en wat nie … en hy het besluit … vir eers sal daar niks gebeur nie … vir eers maak hy tyd om nog verder na Johannes te luister …

Daar is diegene soos Herodias en Herodes die Grote wat nie net ongelowig is nie,

maar wat ook hulle harte verhard wat ook die waarheid teenstaan …

Nee, Herodes die viervors was nie soos Herodias en Herodes die Grote nie

Hy reageer tog positief op die evangelie … Ja, ons wil selfs vir Herodes jammer kry

wanneer hy sy geestelike soeke in ons teksgedeelte openbaar:

Hy het graag na Johannes die Doper geluister

Dikwels het hy die sprinkaaneter in sy harige mantel uit die gevangenis laat haal

en dan luister hy na hom …

Hier diep binne het hy besef: Hierdie Johannes … hy is ‘n regverdige en heilige man

Hierdie Johannes het iets in hom geroer …

Hy het geweet dat die woorde van die profeet hom sal aanspreek

Hy het geweet dat die woorde van hierdie vreemde evangelie hom seermaak

en tog … en tog … wou hy graag daarna luister … en tog keer hy terug vir nog en nogmaals nog …

So het koning Agrippa ook graag na die apostel Paulus geluister,

Dit lees ons in die boek Handelinge

en Agrippa het geluister en geluister todat hy uiteindelik uitgeroep het:

Paulus, jy beweeg my byna om ‘n Christen te word… (Hand 26:28)

Dis die probleem van die Herodes mense

Hulle word deur die prediking aangespreek .

Keer op keer word hulle getref:

dis alles so waar … Eintlik behoort hulle daaraan toe te gee

hulself aan die woord van die Here te onderwerp,

maar vir een of ander rede gaan hulle nie oor tot die daad nie …

miskien môre … miskien volgende week … so naby en tog nog so vêr …

So byna … maar nie heeltemal nie … So word Herodes geroer …

So weifel Herodes voort … Partykeer luister hy na sy vrou Herodias …

wanneer hy by haar is, dan klink sy reg …

Partykeer luister hy na Johannes die Doper … wanneer hy by hom is,

dan klink hy weer reg …

Hoeveel stemme is daar in u lewens, stemme wat naas die Bybel staan …?

stemme wat naas die prediking staan …?

stemme wat almal kompeteer om gehoor te word …?

So al weifelende sien ons verder hoe Herodes toe uiteindelik die tafel vir die Satan dek …

op die geskikte dag, soos ons gelees het …

Eintlik was dit bedoel om ‘n feestafel te wees … Die verjaarsdagfees van die Koning …

Die gastelys was bepaal:

die groot manne, die owerstes en die vernaamstes

Dié aand is die profeet in die tronk nie op die agenda nie …

Hy word nie genooi as gasspreker vir die geleentheid nie …

Nee, dis net die groot manne wat sal aansit vir die maaltyd …

en daarna … as ‘n absolute hoogtepunt … dan sou die dogter van Herodias dans …

Ja daar is dikwels een, een uitstaande sonde wat tussen die toehoorder en sy besluit vir die evangelie staan …

Een uitstaande sonde wat daardie blokasie vorm, daardie boesomsonde wat ek nie kan afskud nie

al wil ek ook … daardie boesomsonde wat maak dat ek weifel … en weereens weifel …

Ja Herodes, het dikwels na Johannes geluister

en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge dedoen

So staan dit daar, Hy het miskien begin om minder te vloek

dalk was hy meer genadig teenoor die armes, die weduwee en die wees …

miskien het hy meer geld beskikbaar gestel vir welsyn, maar daardie boesomsonde wou hy net nie los nie …

In die geval van Herodes was dit die sonde van wellus … die begeerte na ‘n ander vrou,

in sy geval sy broer se vrou … die begeerte na die vroue liggaam vol verleidelikheid …

die pragtige jong Salome al dansende … Maar, so sou Herodias dit bewerkstellig,

so was Salome se dans nie die einde van die aand se fees nie … Daar het nog iets anders daarop gevolg … ‘n dis wat nie op die spyskaart was nie:

Dit was die kop van Johannes die Doper op ‘n skottel … Volgens die kerkvader Hiëronymus

het Herodias glo by dié geleentheid ‘n haarnaald geneem en dit toe deur Johannes se tong gesteek:

Nooit … nooit weer sou hierdie profeet iets … enigiets teen haar sê nie …

Nou, was daar ook nie meer ‘n stem waarna Herodes kon luister nie …

geen oproep tot bekering nie

geen evangelie boodskap nie

niks wat meer Herodes gewete sou aanspreek nie …

Die weifelende Herodes het toe uiteindelik tot ‘n besluit gekom

En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag

met die bevel om sy hoof te bring;

en hy het gegaan

en hom in die gevangenis onthoof

Sonder enige verhoor …

sonder enige regsproses, deur gril van hatige vrou, op sterkte van ‘n dronk man se woord van eer,

word die profeet stilgemaak … word die evangelie afgeskakel

soos u en ek die irriterende radio sal afskakel …

Ter wille van die eed wou hy nie Salome afwys nie …

Maar ook ter wille van die gaste om nie gesig te verloor nie,

moes Johannes sy kop verloor …

Ja, uiteindelik het een van die stemme in Herodes se lewe

harder gepraat as al die ander stemme

Daardie aand toe manne van hierdie wêreld,

die vernaamstes, die owerstes, die grotes vir hom gesit en kyk het

en hom woordeloos uitgedaag het

om te doen wat hy belowe het … Dis die stem van die wêreld …

Daardie aand word Herodes ‘n vriend van die wêreld, ‘n man onder die manne …

‘n Man wat later saam met die ander harde baard manne

vir Jesus met veragting kon behandel en Hom bespot,

en ‘n blink kleed oor Hom gooi …

Hy sou later ook, so het ons gelees,

na hierdie verhoor van Jesus die vriend van goeweneur Pilatus word …

Herodes sou tog daarna meer van Johannes gehad het …

meer as al die ander kere wat Johannes voor hom verskyn het …

Daardie kop van Johannes die Doper in die skottel …

dit het by hom gespook … Daardie oë sou hy nooit kon vergeet nie …

Dit was die onderwerp van die een sweterige nagmerrie na die ander …

Daar was bloed op sy hande wat hy nooit sou afgewas kry nie …

Die geeste van die afgestorwenes het nog gelewe …

Miskien was hierdie Jesus juis die Johannes wat uit die dood opgestaan het …

Daarom wou hy Jesus soos graag sien …

Hom in die oë kyk …

En Herodes het Jesus met baie woorde uitgevra,

maar Hy… het hom niks geantwoord nie.

Geen woorde meer vir die man wat Johannes die Doper se stem stilgemaak het nie

nie “Ja” nie ook nie “Nee” nie …

Johannes se mond was gesnoer, nou was Jesus se mond ook stil …

En daarmee neem ons afskeid van die Herodes die viervors

Eintlik moet ons hom Herodes die tragiese noem,

die man van twyfel …

Herodes wat so lank op twee gedagtes gehink het

en wat uiteindelik deur die Satan in ‘n hoek gedruk is,

en wat toe moes kies …

Daar is net een ware toets ten opsigte van ons bloodstelling aan die evangelie

Dit gaan nie daaroor of ons van die prediking gehou het nie …

of die prediking ons ontroer het nie …

of ek daarmee saamgestem het nie …

Daar is net een ware toets

en daardie toets is:

Het die evangelie my tot ‘n besluit gebring …?

Het dit my tot ‘n onwrikbare standpunt gelei …?

Het dit tot aksie gelei …?

Is my hele lewe daardeur verander …?

So nie sal die evangelie net dien om eendag as getuienis teen my gehou te word …

Amen 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: