Onder die opskrif, ‘Reuse-ja vir Belhar’ word daar in die Beeld van 14 Oktober 2011 berig dat die NGK se algemene sinode met ‘n ‘oorweldigende meerderheid’ die Belhar belydenis aanvaar het, teenoor die ‘enkele blou spatseltjies’ wat daarteen gestem het (die ‘blou spatseltjies’ is die kaartjies/stemme teen die aanvaarding van die Belhar belydenis, terwyl die ‘see van oranje’ kaartjies die ja stem verteenwoordig het). Gemeentes, kerkrade en streke moet dit nou nog instem, aldus die Beeld.
Waarom is hierdie besluit van belang, nie net vir elke NG lidmaat nie, maar ook vir elke GKSA lidmaat ?
Die antwoord is reeds deur die Beeld van 13 Mei 2011 vir ons gegee, sien hier (beklemtoning bygevoeg):
“Dit moet die bede van elke opregte Christen wees dat die ander sinodes en kerkrade dieselfde weg inslaan. Die Belhar-besluit is duidelik nie oral in die NGK gewild nie, maar dis die beginselvaste een. Die belydenis het reeds wyd inslag gevind. Die keuse is nie tussen wil of nie wil nie. Dis tussen reg en verkeerd. Op die aanvaarding van die belydenis sal logieserwys verdere stappe moet volg.
Die eerste is die hereniging van al die NG Kerke in gehoorsaamheid aan die Bybel; die tweede die hereniging van die NG, Hervormde en die Gereformeerde Kerk. In die afwesigheid van leerstellige verskille is daar geen rede vir verdere kerklike verskeurdheid nie.”
Die hereniging van al die susterskerke, gebaseer op die bevrydingsteologie en humanisties-menseregte ideologie van die nuwe SA is die doelwit. Die NGK beweeg egter nou teen so groot spoed, dat ons in die GKSA nie kan bybly nie … ons doppers stoei in ons komende sinode (Januarie 2012) nog met Gesange (die radikale verandering van art.69, DKO), die vrou in die besondere ampte van predikant en ouderling, en is nog nie eens volwaardige lid van die SARK/WRK nie !
Ja, elke gelowige, elke gereformeerde gelowige en gemeente en kerklike vergadering moet erns maak met die oproep tot eenheid, maar dan ‘n eenheid gebaseer op die waarheid deur sy Gees (Joh.4:24; 17:17), wat nie God se verskeidenheid vernietig of as sonde afmaak teenoor die eenheid nie (Hand.17:26), wat die eenheid wesentlik sien in Christus deur sy Gees en Woord (wat Hy reeds bewerkstellig het en geen mens kan vernietig nie), en nie in strukture, mensgemaakte tradisies en politieke ideologieë nie (hetsy apartheid of nuwe SA demokrasie).
Sien die volgende artikel van prof. SCW Duvenhage oor ware ekumenisiteit teenoor die valse wêreldkerk gedagte wat vandag die kerklike toneel in SA oorheers:
Een aanhaling (beklemtonings byvoeg):
” ‘n Egte eenheid is alleen moontlik in Christus. Trouens wie in Christus is, is in waarheid een. En die grondslag van elke suiwere poging tot eenheid mag niks anders wees nie as die absolute erkenning van die Skrif as die onfeilbare woord van God. Eenheid mag nooit gesoek of geforseer word as daar nie volkome instemming is ten opsigte van die Woord van God nie. Daar is dan ook in die verband ‘n groot en heilige roeping vir die kerk om die hand uit te steek na ander wat op dieselfde belydenis staan. Die nood van die tyd maak die roeping des te meer klemmend. Aan die ander kant moet skerp afgewys word alle bose raadslae wat teen Gods heilige Woord bedink word. Dit is ook ‘n ekumeniese roeping.”
Jammer, maar daar kan nie eenheid wees met hulle wat die onfeilbaarheid van die Skrif (NGB artikel 2-7), die Drie-eenheid (NGB artikel 9), die Goddelikheid van Christus (NGB artikel 10), die verlossing deur Christus se geregtigheid alleen (NGB art.22,23), ens., verwerp nie.
Verder kan daar ook nie eenheid wees met die goddelose wat ‘n valse vrede in die kerke van SA of die land verkondig nie (Jer.6:14), ‘n valse vrede sonder Christus en sy Woord, sy goeie wette vir ons lewens (Spr.28:4,9).
Glo almal in die NGK (en ander susterskerke) nog ‘van harte’ die ware geloof wat bely word in ons gereformeerde belydenisskrifte ? Glo die SARK/WRK en al sy lede in die Skrif as onfeilbaar, dat Christus die enigste Verlosser is van die mensdom, die twee nature van Christus ?
Dink ons werklik vir een oomblik dat die Here ons land en kerke sal seën as ons sonder sy Woord en sy gebod ons land probeer opbou (Ps.127:1) ?
Dink ons vir een oomblik dat as ons die fondamente omgooi, die Tien Gebooie, ons sy seën kan verwag (Ps.11:3) ?
Oor al die dwalinge en probleme met die Belhar-belydenis het ek reeds geskryf en na verwys, so ek gaan dit nie weer herhaal nie, u kan hierdie skakel volg:
Graag wil ek u ook verwys na die volgende goeie bron om te bestudeer, van ds. Pieter Prinsloo van die NG Kerk Môrewag in Kroonstad:
Ds. Prinsloo toon baie deeglik die volgende aan:
1) Die NGK se bestaande belydenisskrifte is so duidelik in die afwys van dwalinge rondom geregtigheid, versoening en eenheid dat die kerk nooit moes verval het in ‘n praktyk van diskriminasie, vooroordele en verskeurdheid nie. Die NGK en VGK moes met groter erns vanuit die waarheid van ons bestaande belydenisskrifte geleef het, en met mekaar gepraat het, dan sou die hartseer van die verlede vermy kon gewees het. ‘n Verdere belydenisskrif rondom hierdie sake was en is dus nie nodig nie.
2) Belhar gee huisvesting aan ‘n onhoudbare en ongereformeerde tipe omgang met die Heilige Skrif.
3) Belhar se inhoud is nie Skriftuurlik betroubaar nie, maar selektief en dien ‘n Suid-Afrikaanse samelewinggroep se agenda eerder as wat dit die Skrif naspreek.
4) Belhar se eensydige, bevooroordeelde en tydsgebonde omgang met die Skrif, bring dit in
botsing met die FE.
5) Belhar het reeds in sy kort bestaan aanleiding gegee tot die opening van deure vir allerlei valse leringe.
Maar, wat dan van die ‘see van oranje’ … ‘wat vir Belhar gekies het’ ?
Is hulle dan almal verkeerd ?
Wel, ek dink baie is mislei, is slagoffers van jarelange se indoktrinasie, die liberale propaganda masjien, skuldmanipulering, ens.
Verder word reg en verkeerd nie bepaal deur ons stemme nie, ons kan nie op ‘n magiese wyse ‘waarheid’ skep deur bloot kaartjies op te steek nie. ‘n Minderheid of meerderheid kan reg of verkeerd wees (Ex.23:1-3), in hierdie geval ‘n ‘oorweldigende meerderheid’.
As daar bv. ‘n verkiesing gehou was in Noag se dag is ek seker die ‘oranje kaarte’ sou ook oorweldigend gestem het dat Noag verkeerd (mal?) is. Noag en sy gesin se ‘blou spatseltjies’ sou ook as bespotlik afgemaak word … slegs agt.
Die geskiedenis het gewys wie was reg, ons wandel deur die geloof (die geloof soos bely in HK v/a 21), en nie deur aanskouing, ‘gewoonte … groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings” (NGB art.7) nie.
Ons moet in alle besluite gelei word deur Woord en Gees, nie deur minderhede of meerderhede nie, in volkome ineenstemming soos prof Duvenhage hierbo vermeld.
Maar, daarteenoor verwelkom die NGK (en ander susterskerke) teenstrydige wanordelike besluite en leerstukke (contra 1 Kor.14:33,40) wat die plaaslike kerke en kerklike vergaderinge nog verder gaan verdeel, en nog meer onenigheid en chaos gaan veroorsaak, soos die volgende woorde bevestig (kursief bygevoeg):
“Luidens die beleid moet die belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van ‘n verenigende kerk in die NG Kerkfamilie wees. Mense wat nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie sal egter nie gedwing word om dit te doen nie.” (Beeld, 14 Oktober 2011)
Wat is die doel dan van ‘n belydenisskrif anders as om op grond van die Heilige Skrif te bind ?
Prof Paul de Bruyn (Die Gesonde Leer):
“Die gesag wat hulle (belydenisskrifte – slc) het, kry hulle nie van hulleself nie, maar van die Woord waarmee dit in volle ooreenstemming is. Daarom is dit vir ons bindend en moet ons ons daaraan hou. Ons aanvaar die belydenisskrifte omdat dit met die Woord ooreenstem en nie in soverre dit met die Woord ooreenstem nie. “
Indien Belhar nie kerklik bindend is vir al die NG lidmate en gemeentes nie, bevestig dit ongelukkig die aanklag: hierdie hele poging van die afgelope sinode is niks anders as ‘n sosio-politieke speelbal in die mag van politiek van die dag nie. Dit is alles deel van die ‘show’, ‘n groot ophef as deel van die ‘social gospel’ agenda wat alles van ons verlede wil vernietig, dit is alles nog deel van die aftakeling van die gereformeerde geloof deur die bevrydingsteologie en ideologie, alles in die naam van ‘n valse ‘vrede, geregtigheid en versoening’ deur die tydsgees, nié die Heilige Gees nie.
Sien ook hierdie artikel oor die onderwerp:
Holding a Confession but not Believing it means Nothing !
Nou, wat moet die gelowige in sulke tye doen ?
Wat moet die gereformeerde gelowige in sulke tye doen ?
Gebed, besinning om God se Woord vir wysheid in hierdie tye.
Ons moet ons opnuut verootmoedig voor ons Here God, ons harte en lewens ondersoek daar waar ons sy gebooie waarlik verbreek het en nog so maklik doen, teen Hom en ons naaste. En dit moet ons waarlik bely en teen die sonde stry ons hele lewe lank.
Maar, ons moet juis daarom die valse, liberale, demoniese skuldmanipulerings oor alles van ons verlede van harte verwerp. As Christus ons vergewe en vrygespreek het, is ons waarlik vry.
Terwyl daar al meer oproep is tot eenheid, tot verdere gesprekvoering, tot groter kerklike eenheid, ens., wil ek ook daardie oproep ernstig opneem, en daarom ook my oproep in my persoonlike hoedanigheid aan elkeen wat hier lees:
Kom ons wat waarlik bybels gereformeerd wil wees op grond van die Heilige Skrif (soos bely in die Drie Formuliere van Enigheid), ongeag in watter susterskerk ons behoort, ongeag of ek tans aan ‘n kerk behoort, begin ook informeel gereformeerd ekumeniese gesprekke, want, in ‘n sekere sin is dit al jare aan die gang, maar daar kan meer wees.
En, ons hoef nie ‘n groot ‘show’ daarvan te maak nie, of ‘n groot saal daarvoor te kry nie, ons het reeds die medium daarvoor:
1. u kan hier op my blog verder gesels en deelneem, u menings en besprekings is meer as welkom.
2. u kan inteken op die gksaforum waar daar reeds gesprekke oor ons kerkwees vandag in SA aan die gang is. Stuur ‘n leë boodskap na gksaforum-subscribe@yahoogroups.com
Mag die Here sy ware kerk orals in ons land genadig wees, mag ons almal opnuut in gebed omgang met sy Woord en sy wil vir ons lewens. Mag ons as gereformeerde gelowiges al meer erns maak met NGB artikels 27-32 wat ons eie gemeentes betref.
Gebed: Here, bring ons wat saam glo in U Heilige Skrif soos bely in die gereformeerde belydenisskrifte weer bymekaar om waarlik kerk van Christus te wees hier aan die suidpunt van Afrika waar U ons geroep het, sodat ons kan voortgaan met ons geloftes van 1652 en 1838, alles tot lof van U heilige Naam en opbou van u kinders hier in Afrika onder al die volke.
As die meerderheid reg was was ons nou almal Chinese.
Die doel is nie net vereniging van die gereformeerde kerke nie, maar ‘n werklike trans-geloof wereldgodsdiens, Kyk bietjie die uitlatings van NG teoloë in die video op my blog. Panenteïsme is New Age in christelike woorde versteek. En dit is vinnig besig om die NGK se amptelike wereldbeeld te word, as mens kyk na die sinodebesluit oor die duiwel.
Groetnis!
Wynand
Baie dankie weereens Slabbert vir ‘n uiters relevante en leersame plasing. Dankie ook vir die skakel na Hendrikus se blog – dinge het vir my duideliker geword na die lees daarvan. Veel seen toegebid hier uit Londen, Henrietta Klaasing.