Sal die regte seuns van Luther opstaan ?

Dit is deesdae ‘n groot gier in kerklike kringe om soos ‘n Martin Luther ‘n brief teen ‘die kerk’ se deur te wil gaan vasspyker.

Die nuutste is van Nico Geldenhuys, lees meer daaroor hier:

My brief teen die kerkdeur

Ferdie Mulder, skrywer van die topverkoper, Opgestaan, wou in dieselfde koerant bylae reageer op die brief met sy eie brief, maar dit is nie toegelaat nie. Sien Mulder se skrywe hier:

‘n Ander brief aan die kerkdeur

Hier volg my eie opmerkings op Geldenhuys se skrywe:

Geldenhuys vervang die ‘algemene ongetwyfelde Christelike geloof’ soos ons bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis (sien HK So.7-22) vir die Skrifkritiese liberale (on)geloof.

Ek weet darem nie of Luther daarmee sou saamgestem het nie, maar nou ja, dit is die postmoderne tye waarin ons lewe, elkeen wil iewers ‘n spyker inslaan of indruk, ongeag of hul teologie saamstem met Luther s’n (of die Reformasie s’n) of nie … sal nie verbaas wees as Malema ook een van die dae hom ook op Luther gaan beroep nie …

Geldenhuys bely die volgende absolute waarhede volgens sy nuwe (on)geloof:

“Vandag moet ook ek bieg (lees ‘bely’ – slc) … :

… (Ek is) oortuig daarvan dat God nie bestaan nie.

Die Bybel is nie vir my die Woord van God nie.

Jesus het nie vir my sondes gesterf of

ná drie dae uit die graf opgestaan nie.”

Let op die dogmatiese woord ‘oortuig’, en dit alles terwyl hy ‘n probleem het met die dogmatiese belydenisskrifte van die gereformeerde kerke deur die eeue ?

Verder sien hy die Bybel (wat hy beweer hy nog liefhet) bloot as ‘n handboek vir ‘sosiale geregtigheid’ (en volg hy sy liberale leermeesters) in die soeke na ‘n humanistiese utopia op aarde deur die valse evangelie van die ‘social gospel’. Hy skryf:

“Ek put inspirasie uit daardie dapper profete van die Ou Testament, daardie profete wat die konings van Israel en Juda trompop geloop het met ’n radikale boodskap van sosiale geregtigheid. Soms was die profete ook bang, moedeloos of hardkoppig.
Ek dink aan die skrywers van Rut en Jona wat die vooroordele van hul gemeenskap uitgedaag het met treffende protesliteratuur. Aan die Prediker, wat gewroeg het oor die sin van alles hier op aarde. Aan die Jesus van die Markus-evangelie wat selfs ná sy “opstanding” verwerp word. Aan Job, wat aangedring het op ’n reguit antwoord van God. Aan Paulus, wat kon uitroep: In Christus is daar nie Jood of nie-Jood, man of vrou, slaaf of vryburger nie. In Christus is ons almal één.
In daardie woorde van Paulus lê die tweede rede waarom ek na die kerk teruggekeer het: Ek sal graag wil sien dat die kerk terugkeer na die eerste beginsels van naasteliefde; die beginsels voordat dogmatiese bagasie bygekom het.”

Dus, bloot ‘n horisontale antropologie, afgesny van God en sy gebod (ten minste die eerste vier daarvan).  Maar, as Geldenhuys werklik lief is vir die Bybel, dan sou hy ook gelees het:

– dat die profete die krisis van sosiale geregtigheid begrond het in hul verwerping van God se geregtigheid, in hul verwerping van God self … dus die Jode wat geleef het asof God nie bestaan en die sin van hierdie lewe bepaal nie, beide in verhouding tot God én mens (bv. Mal.2:17)

– Rut wat bely:  “waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.” (Rut 1:16)

– Jona wat bely: “want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” (Jona 4:2)

– Prediker se konklusie na hy besin het oor die sin hier op aarde: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.  Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Pred.12:13,14)

– Die Jesus wat ongeag die ongeloof van sommiges volgens die Markus-evangelie: “opgeneem (is) in die hemel en … gaan sit (het) aan die regterhand van God.” (Mark.16:19)

– Job wat ‘n antwoord gekry het van God: “Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.  Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie.   Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my!  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.   Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” (Job.42:1-6)

– Paulus wat skryf in dieselfde boek as wat hy geskryf het “In Christus is ons almal één” (Gal.3:28), wie saam ‘een’ is, in die vorige verse: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus” (Gal.3:26).

Daarom:

Iemand wat nie glo dat God bestaan nie (Hebr.11:6)

Iemand wat nie glo dat Christus opgestaan het nie (1 Kor.15)

Iemand wat nie glo dat Christus vir sy sondes gesterf het nie (Joh.11:25,26)

is nié een in Christus saam met alle ander gelowiges nie, het Christus verloën en Hy wie Hom gestuur het (Joh.5:23; 17:3), en is daarom nie ‘in Christus’ nie en is nog verlore in sy sonde (1 Kor.15:17,18).

So ‘n mens, ongeag al sy ‘besorgdheid’ oor’ sosiale geregtigheid’ hier op aarde (waaroor die Fariseërs en Judas ook ‘baie besorgd’ was, ten koste van Christus en sy Vader, Matt.23; Luk.9:25; Joh.12:4,5) , sal verlore gaan as hy hom nie bekeer en glo in die Christus van die Heilige Skrif nie (Joh.3:36; 1 Kor.15:3,4).

Maar, wat is die oorsprong van Geldenhuys se twyfel en dogmatiese ongeloof soos hy dit hierbo bely ?

Hy skryf en vertel ons:

“In my studentejare het hierdie kaartehuis in duie gestort. Ek het die Bybel meer intensief vanuit ’n histories-wetenskaplike raamwerk bestudeer en ’n paar ontstellende ontdekkings gemaak. Die maagdelike-geboorte-verhaal is op ’n vertaalfout in die Griekse Bybel geskoei. Die skrywer van die Hebreër-brief het oneerlik met sy Psalm-tekste omgegaan om sy argument te versterk. Matteus het plagiaat gepleeg. Lukas se geknoei met datums het ’n gat in Jesus se geboorteverhaal gelaat.
Die geloofslewe van geen Christen wat eenmaal sulke ontdekkings gemaak het, is daarna ooit weer dieselfde nie.
Ek het probeer red wat te redde is deur by die liberale teoloë vlerk te sleep. Maar uiteindelik bevind ’n mens jou op ’n glybaan wat jou net vérder ondertoe sleep.
Toe ek nie langer vir myself en die gemeente kon lieg nie, het ek een middag ’n briefie aan die kerkraad getik en dit, soos ’n wafferse Martin Luther, met ’n duimspyker aan die kerk se deur gaan vasheg.”

Eerstens, respek vir Geldenhuys (soos Spangenberg) wat ten minste uit die teologiese kas klim en eerlik hul nuwe ongetwyfelde ongeloof in die Skrifkritiese liberale teologie bely. Hulle is ten minste konsekwent, al is hul konsekwent verkeerd.  ‘n Mens wonder hoeveel predikante en teoloë daar in die susterskerke is wat nie meer van harte die Heilige Skrif soos verwoord in die gereformeerde belydenisskrifte glo nie … en bloot vir die aansien- en pensioenvoordele lidmate se bydraes opeet … en dan gou is om die ANC te kritiseer oor hul nuwe Wet op die beperking van inligting …

(Oor laasgenoemde, sien ook Ferdie Mulder se skrywe daaroor in sy brief in die Beeld:NG Kerk se teenkanting ironies).

Tweedens, was dit Geldenhuys se omgang met die hoër kritiese- en skrifkritiese liberale teoloë wat sy geloof in duie laat stort het, ‘n verwerping van die gereformeerde Skrifbeskouing van NGB art.2-7 wat gelei het daartoe dat die res van die leerstukke van die ware geloof nie meer deel is van sy belydenis nie.  Ek gaan nie nou hier weer oor daardie mensgesentreerde teologieë skryf nie, sien meer daaroor hier:

Skrifkritiek

Dit laat ‘n mens opnuut besef dat ‘n jongman nie sommer na enige teologiese skool kan gaan vir opleiding nie, nie eers meer in die GKSA nie, wat al meer bekend word vir sy postmodernistiese aanslag (waar teoloë met ‘n wye verskeidenheid van standpunte geakkomodeer word).

Sien daarom ook die volgende artikels oor teologiese opleiding:

Teologiese opleiding

Derdens, heel ironies, nadat of terwyl Geldenhuys se tragiese verhaal van ongeloof in die Beeld weergee is, lees ons in dieselfde koerant … op dieselfde dag … die volgende aanbeveling vir hoër kritiese teologie, deur André van Niekerk, onder die opskrif ‘Godsdiens het kritiek nodig’:

“Ons pastore en leraars verkieslik by universiteite in die histories-kritiese wetenskappe oplei. Hoewel hulle verdag sal wees by rasionalistiese wetenskaplikes en by naïewe gelowiges, is dit juis hul taak om rasioneles te wys op dit wat ons verstand te bowe gaan en godsdienstiges op geloofwaardigheid.”

Van Niekerk noem dit as een van die oplossings teen mense wat ‘godsdienstige beweegredes’ gebruik om hul bose dade te regverdig (bv. die onlangse geval van ‘n broer en suster wat hul ouers grusaam vermoor het).  Ons deel sy besorgdheid maar nie sy medisyne nie, dit is soos om vir jou kind ‘n slang of klip te gee, as hy vir brood of vis vra (Matt.7:9,10).

Dit is juis die skrifkritiese, liberale en hoër kritiese teologie wat gehelp het om ‘n kultuur en geslag te skep wat ‘bieg’:

– God bestaan nie meer nie (evolusie is al wat is)

– daar is nie meer ‘n absolute reg en verkeerd nie (die Bybel is bloot ‘n menslike boek met menslike inspirasies, nie onfeilbaar en gesaghebbend nie)

– die sondeval en erfsonde is nie meer ‘n werklikheid nie

– daar is nie ‘n volkome God en Mens wat ons van ons sondes kan verlos nie (want daar is nie iets soos sonde nie, eintlik net probleme en ‘sosiale ongeregtigheid’ wat ons met menslike ingeneurswese moet oplos om ons eie hemel op aarde te probeer skep)

– daar is nie ‘n liggaamlike opstanding nie

– daar is daarom nie ‘n oordeel oor die lewendes en dooies wat gaan plaasvind nie, en ten einde:

– hoef ek nie rekenskap te gee van my gedagtes, woorde en dade eendag voor God se troon nie, want Hand.17:30,31 en 2 Kor.5:10 word in wese verwerp deur die ongeloof van die hoër kritiese en liberale teologie:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

So, g’n wonder dat as mense en veral kinders al meer geleer word hul is afkomstig van ape, dat God nie bestaan nie, dat reg en verkeerd nie bestaan nie, dat Christus nie die enigste Verlosser is nie, dat daar nie ‘n liggaamlike opstanding en oordeel gaan wees nie … dat hul soos ape en diere begin optree wat hul eie ouers verslind !

“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood” (Spr.14:12)

En om by te voeg: daar is wêreldse wysheid, daar is Skrifkritiese teologie wat wêreld aansien geniet en geleerd voorkom … maar die uiteinde daarvan is die dood … die ewige dood (1 Kor.1:18-31).

Ja, ook die teologie wat ons bedryf het (met of sonder al die grade en lofbetuigings) sal ons eendag oor moet rekenskap gee (2 Tim.4:1-5; Jak.3:1,2).

Laastens, ons gebed is dat Geldenhuys (en ander soos hy) uit die wurggreep van die liberale, Skrifkritiese en ‘social gospel’ teologie sal kom (Matt.5:19) en weer die ware ongetwyfelde Christelike geloof sal bely.  Soos Mulder aanwys, moet hy sy teologiese oë bietjie oopmaak en wêreldwyd ontdek hoeveel teoloë en ander geleerdes daar is wat waarlik glo in God, Christus en sy heilige Woord, en ware teologiese wetenskap beoefen tot God se eer en die heil van sy gemeentes.

As hy nie tot geloof kom nie, dan openbaar hy daardeur dat hy in die eerste plek nooit waarlik geglo het nie:

“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” – 1 Joh.2:19

Geldenhuys meen dat ongeag dat hy God verwerp, die Heilige Skrif verwerp en die kerk se belydenis verwerp, hy “nie van plan (is) om te loop nie.”

Ja, hy kan dalk aanbly en verdra word in sy ongeloof in ‘n plaaslike sigbare kerk (wat vrae laat ontstaan wat so ‘n gemeente doen met NGB art.27-29?), maar hy maak nie deel uit van die heilige algemene Christelike kerk terwyl hy volhard in sy ongeloof nie.

Daarom dat ons in navolging van die Heilige Skrif bely wie die ware kerk is (HK Sondag 21):

Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan ‘n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

(a) Eph 5:26; Joh 10:11; Act 20:28; Eph 4:11-13.

(b) Gen 26:4; Rev 5:9.

(c) Rom 8:29; Eph 1:10-13.

(d) Isa 59:21; Rom 1:16; Rom 10:14-l7; Eph 5:26.

(e) Act 2:42, Eph 4:3-5.

(f) Psa 71:17-18; Isa 59:21; 1Co 11:26.

(g) Mat 16:18; Joh 10:28-30; Psa 129:1-5.

(h) 1Jo 3:14, 1Jo 3:19-21; 2Co 13:5; Rom 8:10.

(i) Psa 23:6; 1Co 1:8-9; Joh 10:28; 1Jo 2:19; 1Pe 1:5.

Ons troos is, dat as Geldenhuys (en ander verwarde lidmate soos hy) eintlik waarlik glo, maar nou tydelik deur valse profete mislei is, hulle sal terugkeer (2 Tim.2:26), want soos broer Paulus glo ons van harte en bely ons biddend saam:

“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig, tot op die dag van Jesus Christus” (Filp.1:6).

Genade, alles genade … ook om te kan glo en aanhou glo (Filp.1:29; Ef.2:8-10).

2 thoughts on “Sal die regte seuns van Luther opstaan ?

Add yours

  1. Baie dankie hiervoor Slabbert, ook dat jy ‘n skakel gee na Ferdie Mulder se ongepubliseerde brief . Ek het ook ‘n brief geskryf, in effens veranderde vorm, na twee koerante waar Nico Geldenhuys se artikel verskyn het, asook na die Kerkbode – nie een is geplaas nie en mens wonder wáárom níé? Hier is my (ongepubliseerde) Kerkbode -brief:

    IS TOTALE IDENTITEITSVERLIES DIE VOLGENDE STAP?

    Presies HOE divers moet die NGK wees voordat sy identiteit as gereformeerde kerk totaal en al verkrag word?

    In ‘n berig in die BY (bylaag van Die Burger) van 4 November vertel Nico Geldenhuys hy wil ‘n brief teen die deur van sy NG gemeente se kerk vasspyker. (Lees hier: http://www.dieburger.com/By/Nuus/My-brief-teen-die-kerkdeur-20111104-2)

    Die berig lui dat alhoewel hy die Bybel bestudeer en elke Sondag twee dienste bywoon, glo hy al lankal nie meer nie, soveel so dat hy met die vorige nagmaal uit die kerk gevlug het.

    Volgens Nico wil “ons”: “help om oplossings vir hierdie krisis te vind sodat die kerk sy profetiese stem kan terugkry in ‘n land wat na profete smag.” Sy “ons” is seker mense wat soos hy nie in God en sy Woord glo nie. Wie of wat se boodskap sal sulke “profete” dan verkondig?

  2. Luister na die boodskap hier van dr. Ferdie Mulder, oor Nico Geldenhuys se bekering, 8 jaar later, al die lof aan die Here:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: