Posted by: proregno | November 30, 2011

Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner ? – deel 2

 

Deel 1 het soos volg ge-eindig:

“In deel 2 gaan ek ‘n ou boek bespreek en aanbeveel om ons verder te help met die besinning oor die gereformeerde Afrikaner se kerkwees in die 21ste eeu.  Soos een teoloog dit gestel het: die wat die verlede bestudeer stel belang in die toekoms (RJ Rushdoony), en daarom is dit nodig om die kerkgeskiedenis te bestudeer vir vandag en die toekoms van môre.  Hierdie boek, ongeag sy ouderdom en sake wat dalk vandag nie meer relevant is nie, is ‘n profetiese getuienis teenoor al ons kerke, die GKSA (veral) ingesluit.”

Daardie boek is ds. LS Kruger se Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk ?

Maar eers bietjie agtergrond oor die skrywer en die boek:

Die skrywer

Ek het tydens my teologiese studies in Potch (2001-2006) in ‘n teologiese boekwinkel gewerk. Dit is daar tussen die stof wat ek op ds. Kruger se boek afgekom en begin lees het.  Ek wou dadelik meer weet van die skrywer en het toe uitgevind dat hy 24 uur vasgekluister was aan ‘n siekbed (weens polio wat hy opgedoen toe hy nog jonk was en wat daartoe gelei het dat sy spierfunksies ingegee het).  Hy is gebore in 1922 en oorlede in 2006.  Hy het die volgende gemeentes bedien: GK Benoni (1954-1957) en GK Odendaalsrus (1958-1962). Vanweë sy gesondheid moes hy in 1962 emeriteer.

Behalwe vir bogenoemde boek, het hy ook ‘n groot bydrae gelewer vir die boek “Handleiding by die Kerkorde” (saam met ds. HLM Du Plessis, prof. B.Spoelstra, ds. TT Spoelstra), en het daar twee preekbundels van hom verskyn.

Sien die volgende skrywe van Dr. Lourens du Plessis (GK Groblersdal) in die Julie 2006 weergawe van die Kerkblad oor ds. Kruger:

In dankbare herinnering aan Ds. LS (Louis) Kruger 

Voordat ds. Kruger oorlede is, was ek bevoorreg om hom te besoek in Johannesburg, op 15 Augustus 2003.  Ek kon ‘n goeie gesprek met oom Louis voer, en ongeag sy siekte, was die passie vir die Evangelie en die Gereformeerde Kerke nog duidelik in sy stem te bemerk.  As student kon ek vir hom die oorwinningswoorde van Rom.8:28-39 lees en saam bid.  Hy was baie hartseer oor die weg waarin sy geliefde kerkverband begin beweeg het, en het toe ons gegroet het, met ‘n paar ‘sterk woorde’ ons jongmanne aangemoedig om die goeie stryd aan te hou stry vir Christus se Kerk.

Ek kon nie anders as toe, en veral nou as ek terugdink te wonder: as ons as huidige predikers (en ouderlinge!) maar net die helfte passie en toewyding van hierdie dienskneg van die Here gehad het …

Dr. du Plessis se woorde aan die einde van sy skrywe is sprekend van dit wat ek daardie dag beleef het:

“Waarom die HERE so ‘n begenadigde dienskneg van Hom so ‘n onverstaanbaar moeilike lewenspad laat loop het? Ons weet nie. Maar vir wyle ds. LS Kruger, wat alles gegee en opgeoffer het in diens van die HERE en sy ewige evangelie, was dit wat die HERE sê in 2 Korintiërs 4:16-18 die vreugde waaraan hy deurentyd vasgehou het:

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles-oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Met die stormwolke wat weer besig is om op te steek oor ons kerke, is dit vir alle predikante en ouderlinge opnuut belangrik om die volgende woorde in ag te neem as ons die kostes moet bereken oor die toekoms, veral ons wat nog goeie gesondheid en lewenskragte het:

“Wat alles het ons al gegee en opgeoffer in diens van die HERE en sy ewige evangelie ?”

Die boek

Ds. Louis se boek, die uitgawe wat ek het (en wat om Louis met sy bewende hand nog onderteken het) is die derde druk (1957, eerste uitgawe: 1956).

Hy het die boek soos volg opgedra aan sy ouers en vroutjie:

“Opgedra aan my ouers uit dankbare erkentenis vir die Gereformeerde opvoeding wat ek kon geniet het, en aan my vrou, wat van geboorte lidmaat was van die Ned. Geref. Kerk, maar intussen die Gereformeerde waarhede liefgekry het.”

Die rede waarom hy die boek geskryf het verwoord hy as volg (die bladsynommers in hakies na die aanhalings is van die derde gedrukte uitgawe):

“IN hierdie tyd van wêreldsosialisme waarin ons lewe, het die internasionalistiese denkwyse groot invloed op ons hele lewens— en wêreldbeskouing. Die wêreld word deur die snelle kontakmiddele soos die radio, die telefoon, die snelle vervoer en so meer, kleiner en kleiner. Volkere word sodoende nader aan mekaar gebring, en die gedagtegang van die een volk werk op die ander in. Hierdeur ontstaan daar ’n algemene neiging tot die uitwissing van grense.

Hierdie neiging tot die uitwissing van grense het ook diep spore nagelaat op die kerklike lewe.  Waar dit vir ons vadere nog heel duidelik en tewens baie noodsaaklik was waarom daar meer as een Afrikaans-sprekende kerk sou wees, sien die hedendaagse geslagte nie meer veel verskille tussen die verskillende kerke nie. Die vrae soos: ,,Wat is die verskil tussen die Kerke? Waarom kan die drie Hollandse Susterkerke nie een word nie?” en so meer asook die bewering: ,,’n kerk is maar ’n kerk,” vloei nie alleen voort uit ’n geweldige groot onkunde van wat elke kerk presies wil nie, maar tewens is dit ’n openbaring van gebrek aan kennis van die waarhede van die Bybel en die Belydenisskrifte. Dit is derhalwe ’n behoefte van die hart om hierdie skrywe die lig te laat sien.” [voorwoord, 5]

Die doel van sy boek is soos volg:

“Hierdie werk maak ook geen aanspraak daarop dat in die kring van die Gereformeerde Kerk alles volmaak is nie. Immers, dit is die taak en die roeping van elke gelowige om hom daagliks te bekeer en net so is dit die roeping van die Gereformeerde Kerk om hom gereeld te reformeer, want die sonde dring gedurig in. Juis vanweë die uitwissing van die grense het daar in die Gereformeerde Kerk en in die lewenshouding van vele Gereformeerde lidmate dinge ingedring wat vreemd is aan die egte Gereformeerde beskouing. Die doel van hierdie geskrif is dus twee-erlei: Eerstens wil ons hiermee trag om weer die grense tussen die Gereformeerde Kerk en die ander te herstel en tweedens wil ons die hoop uitspreek dat hierdie geskrif die Gereformerde lidmaat sal oproep om weer die Gereformeerde waarhede kennelik te vertoon.” [voorwoord, 5]

Ds. Kruger was dus ten gunste daarvan dat gereformeerdes van alle kerke mekaar weer vind, maar nie op grond van (vandag) se valse ekumeniese gees wat verskille bloot ignoreer nie, maar op grond van die ‘Gereformeerde waarhede’.

Die boek is verdeel in twee dele, deel 1 gaan oor die geskiedenis (deel I: Histories) en deel 2 gaan oor die prinsipes wat op die spel is (deel II: Prinsipieel).

Die geskiedenis is belangrik sê ds Kruger, want:

” ‘n Volk wat sy verlede vergeet, is ‘n volk sonder toekoms. ‘n Kerk wat vergeet om die hand van die Here in sy verlede te gedenk, is ‘n kerk wat geen doel en geen rigting het nie.

As die vraag dus gestel word: Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk? dan is dit nodig om te let op die hand van God in ons voorgeskiedenis, en ons moet Hom dankbaar wees dat dit Hom behaag het om ons vadere op die regte weë te lei, en ons moet van ons kant, met die geopende Bybel voor ons en met ‘n gebed in ons harte verder bou op hierdie Skriftuurlike fondamente, sodat in leersuiwerheid ons die eer van God kan verkondig.” [8]

Die belangrikheid van die prinsipiële deel is belangrik, omdat:

“SOOS ons alreeds in die voorwoord vermeld het, is ons deesdae al te lief om te praat van die drie Hollandse “Susterkerke “, en daaraan lê die opsyskuiwing van alle grense ten grondslag.

Dit is voorwaar aanbevelenswaardig dat ons op verskillende terreine op Christelike wyse saamwerk. Hieraan wil ons nie in die minste enige afbreek doen nie!

Die algemene gedagte begin egter ontwikkel asof daar nie veel verskil tussen die drie Kerke is nie: miskien net die saak van die Gesange en verder nie veel nie! Hierdie opsyskuiwing van die grense is ‘n dreigende gevaar wat gebore word uit ‘n gebrekkige kennis van wie en wat elkeen van die Kerke is; en die enigste wat by hierdie wanbegrip kan verloor, is die Gereformeerde Kerk en die leersuiwerheid.

Die waarheid van die saak is dat daar tussen die Gerefor­meerde Kerk en die ander ‘n geweldige kloof in leerstukke is en dat in werklikheid nog net die Gereformeerde Kerk die Belydenisskrifte handhaaf!” [71]

Soos reeds hierbo genoem, is die lees van die boek goed vir alle gereformeerdes, ook gereformeerdes van die GKSA om te sien waar ons vandaan kom en hoeveel dinge alreeds prysgegee is die afgelope 60 jaar.

Verder is die boek belangrik om te lees om veral te sien hoe die onderliggende probleem van die verskillende sake wat huidiglik in die ‘susterskerke’ leef (NGK: evolusie; NHK: kerk en kultuur verhouding; GKSA: vrou in die amp), nl. ‘n ongereformeerde Skrifbeskouing, reeds al lankal in die verskillende kerke lewe of geakkomodeer word, veral via die Barthiaanse skrifbeskouing (onlangs dr. Nico Vorster van die GKSA wat hom beroep het op Barth vir sy ‘skepping as sage … nie letterlike geskiedenis nie’ – standpunt).

Ds. Kruger skryf daaroor (wat ek in deel 3 meer volledig sal aanhaal):

“Een van die beste bewyse om egter te kan aantoon dat sowel die Ned. Herv. Kerk as die Ned. Geref. Kerke die weë van die ou Gereformeerde leer, wat hul tog so naarstiglik soek, nog verder byster geraak het, blyk uit die opleiding van hulle teologiese studente. Hiermee verwys ons na die dosering van die leerstellinge van die Switserse teoloog, Karl Barth, deur hierdie Kerke.

Sonder om die leer van Karl Barth as sodanig te behandel, wil ek net in enkele trekke aantoon hoe hierdie leerstellinge indruis teen die Skrif en die Belydenis, en daarmee kan u self oordeel oor die regsinnigheid van hierdie opleiding.

“Vooraf kan miskien vermeld word dat Barth hoog geroem word in sekere kringe en dat hy selfs hoër geag word as Luther en Calvyn. Aan die ander kant weer word hy deur die meer ortodokse kringe beskou as ‘n afbreker van die ou Protestantse waarhede, en prof. dr. C. van Til huiwer selfs nie om Barth in relasie te bring met die antichris en sy teologie met die Satan nie.

Ons kan opsommend ‘n paar trekke van Barth se leer weergee, terwyl ons steeds in gedagte moet hou dat ons “Suster-kerke” hierdie leerstellings in groter of kleiner mate doseer.” [73]

Hier is die inhoudsopgawe

DEEL I – HISTORIES. 4

HOOFSTUK I: DIE KERK IN NEDERLAND. 4

§1. Ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. 4

§2. Die Hervorming in Nederland. 5

§3. Die Belydenisskrifte. 9

§4. Die skeiding tussen die Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk. 11

HOOFSTUK II: DIE KERK IN SUID-AFRIKA. 19

§1. Die kerk in 1652. 19

§2. Die opkoms van die naam “Hervormd”. 21

§3. “Hervormd” die amptelike naam aan die Kaap. 22

§4. Die verskillende gebruike van die naam van die Kerk. 24

HOOFSTUK III: VERDERE ONTWIKKELING VAN DIE KERKGESKIEDENIS. 27

§1. Die Sinode van 1824. 27

§2. Die Kaapse Kerk en die Groot Trek. 28

HOOFSTUK IV: HERLEWING VAN DIE GEREFORMEERDE KERK. 34

§1. Die voorlopers van die herstigting van die Gereformeerde Kerk. 34

§2. Die toestand in Transvaal. 36

§3. Afskeiding onder Ds. Postma. 37

§4. Poginge tot hereniging. 40

§5. Doppers. 41

§6. Die houding teenoor die Gereformeerde Kerk. 44

DEEL II — PRINSIPIEEL.. 49

HOOFSTUK V: DIE HANDHAWING VAN DIE BELYDENISSKRIFTE. 49

§1. Die eis van leersuiwerheid. 49

§2. Die N.G. Kerke en die Ned. Herv. Kerk in die handhawing van die Belydenisskrifte. 57

HOOFSTUK VI: DIE KENMERKE VAN DIE WARE KERK. 64

§1. Die prediking van die Woord. 64

§2. Die suiwere bediening van die Sakramente. 77

§3. Die toepassing van die tug. 85

HOOFSTUK VII: KERKREGTELIKE STELSELS. 93

1. Die presbiteriale kerkregeringstelsel. 93

2. Die Kollegialisme. 94

HOOFSTUK VIII: KERKLIKE GEBRUIKE. 100

§1. Gesange. 100

§2. Bidure. 105

§3. Koorsange. 109

§4. Die Kerklike ampte. 111

HOOFSTUK IX: EKUMENIESE LIDMAATSKAP. 115

§1. Inleiding. 115

§2. Die verskillende ekumeniese bewegings. 115

§3. Houding teenoor hierdie drie Ekumeniese Bewegings. 116

§4. Die Wêreldraad van Kerke. 117

VERBETERINGE. 127

Apologie. 128

In deel 3 gaan ek ‘n klompie aanhalings uit ds. Kruger se boek onder verskillende temas weergee, juis om te sien hoe aktueel die boek nog is en hoe dit profeties tot ons kerklike tye spreek.

Deel 3:  Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner?


Responses

  1. BAIE dankie – ek sien werklik uit na Deel III.

  2. Dankie Slabbert, ek stem met Henrietta saam, ek sien uit na deel 3. Ek sou egter graag die boek wil bekom, is dit nog beskikbaar?

  3. Fanie, die boek is lankal uit druk, net elektronies nog beskikbaar. Jammer. ns. as ek dalk tweedehands op een afkom sal ek jou laat weet.

  4. […] bladsynommers kan u in die teks van die elektroniese weergawe vind). Lees asb. deel een en deel twee van hierdie reeks as agtergrond van deel 3, veral die volgende […]

  5. […] Deel 2:  Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner? […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: