Die Christelike huisgesin: Inleiding en agtergrond

Herman Bavinck (1854-1921)

“Net soos die man onmiddelik as man geskape word, so word die vrou onmiddelik as vrou geformeer. Nie as mens alleen nie, maar ook as vrou het sy haar oorsprong in God. God is die Skepper van die mens en tegelykertyd ook die Insteller van geslag en geslags-onderskeid. Nie deur die sonde kom hierdie onderskeid tot stand nie; dit bestaan van die aanvang af, dit het in die skepping sy begronding, dit is ’n openbaring van God se wil en vrymag, en daarom wys en heilig en goed. Niemand mag daarom hierdie onderskeid in homself of in andere misken of verag nie. Dit is deur God gewil en in die natuur begrond. Dit word toe en is nog altyd deur Hom gewil; Hy is die vrymagtige Beskikker daarvan; man en vrou het nie net hulle menslike natuur nie, maar ook hul onderskeie geslagte en aard aan God te danke. Hulle is beide goed, soos hul beide voortkom uit God se hand. Saam en in onderlinge ge­meenskap dra hul die Goddelike beeld. God is self die Skepper van die tweeheid in die eenheid. In die eenheid is hul en bly hul daarom twee. Hul het elkeen ‘n eie natuur, karakter en bestemming.” – Bavinck oor die oorsprong van die mens se geslagtelikheid

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

Dr. Herman Bavinck

[Vertaal deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908).  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Inleiding en agtergrond

Die aanslag deur die eeue is groot teen die huwelik en gesin.  Dit begin reeds in die tuin van Eden en reg deur die geskiedenis probeer die gevalle mens die skeppingsbande van God afruk wat Hy bepaal het vir die mens (Gen.3:1-6; Ps.2:1,2).  Ook in ons tye is dit daarom niks nuut dat die huwelik en gesin al meer onder die aanslag kom nie.  Veral vanaf die 20ste eeu met sy humanistiese feminisme, die huidige gay-agenda asook die neo-paganistiese herlewing en aanslag, wat almal God se skeppingsordeninge haat, veral dat Hy die mens onderskeidelik in hul geslagte geskape het as man en vrou, waaruit die huwelik en gesin vloei.   In die woorde van Bavinck hierbo aangehaal:

“God is die Skepper van die mens en tegelykertyd ook die Insteller van geslag en geslags-onderskeid. “

Die nuwe spiritualisme van ‘n androgeniese en homoseksuele godsdienstige gemeenskap haat die God wat skeiding en onderskeiding bring (Gen.1-3), want as daar ‘n God is wat skeiding maak, ook en veral tussen reg en verkeerd, tussen lig en duisternis, tussen goed en sleg, tussen die slange- en vrouesaad, tussen Christus en Satan, tussen die ware en valse kerk, tussen geloof en ongeloof, dan is dit in stryd met die neo-paganistiese strewe dat ‘alles in God is’ en/of ‘God in alles is’ (wat dan sou beteken daar is min of geen onderskeid tussen God en mens nie en geen meer absolute reg en verkeerd nie).   Daarom wil die neo-paganisme nie net mense van hul ‘geslaglose’ godsdiens oortuig nie, maar hul wil ook mense se Godsbeskouing verander na hul androgeniese afgodsbeeld, en hul doen dit gewoonlik baie subtiel deur aanslae soos:

– “geslag maak nie saak in die kerk nie … daarom kan vroue in die ampte van predikant, ouderling en diakens toegelaat word”, en,

– dan daarna “geslag maak nie saak in die huwelik/verhoudings nie … daarom dat homoseksuele verhoudinge ook welkom is, orals”.

En, onderliggend aan dit alles, die ontkenning van God as Skepper wat onafhanlik en vir ewig bestaan (via die evolusieleer teen die skeppingsleer) of die meer subtiele ‘teïstiese evolusie’ wat leer dat Gen.1-3 nie meer letterlik-histories as geskiedenis gebeure verstaan hoef te word nie. God en sy waarheid word verruil vir die leuen en skepsele as afgode (Rom.1:18-32). Ontken die historisiteit van Genesis 1 tot 3, dan val al God se skeppingsordeninge ook daarmee weg, veral die een wat bepaal dat die mens as man en vrou geskape is, geslagtelik in onderskeid geskape is (Gen.1:26-28), en dat die Here se wil die huwelik is tussen een man en een vrou (Gen.2:18-24).

Al hierdie oeroue paganistiese en (post)modernistiese aanslae is in stryd met die Here en sy Gesalfde se skeppingsordening en wil vir die mens, soos Bavinck dit ook stel:

“Nie deur die sonde kom hierdie onderskeid (tussen man en vrou – slc) tot stand nie; dit bestaan van die aanvang af, dit het in die skepping sy begronding, dit is ’n openbaring van God se wil en vrymag, en daarom wys en heilig en goed. Niemand mag daarom hierdie onderskeid in homself of in andere misken of verag nie. “

En op ‘n ander plek skryf Bavinck verder:

“God maak uit één twee, omdat Hy die twee weer tot één sou maak, tot één siel en één vlees. So ‘n gemeenskap is slegs tussen twee moontlik. Die huwelik was van die begin af en is kragtens sy natuur monogamies, ’n eg-verbintenis tussen één man en één vrou, en daarom ook een verbond vir die lewe, onskeibaar deur men­slike mag; wat God so saamgevoeg het, sal die mens nie skei nie, Matt. 19 : 6, 8.”

Dit wys daarop dat enige verdraaiing en aanslag op die huwelik – hetsy deur bv onwettige en willekeurige egskeiding en egbreek (Mal.2:14-16), of bv ‘n gruwelike gemeenskap tussen man en man of vrou en vrou (Rom.1:26,27) – in stryd is met God se skeppingsordening en wil.

Veral die liberale media, kerkleiers en populêre skrywers wat die VIDA en gay agenda dryf (kundig of onkundig) het daarom nie ‘n probleem met ‘die kerk’, met ‘konserwatiewes’, met ‘fundamentaliste’, met ‘bybelse christene’, met ‘streng dominees’, ens. nie, maar met die Skepper van hemel en aarde self, wat in sy skepping bepaal het dat die mens “man en vrou” sal wees.  Dit kan nie verander word nie, behalwe om die beeld van God te vernietig nie.

Dit is dan ook geen wonder dat daar die laaste tyd soveel haat en venyn in die media is teen die Christelike geloof, en veral die gereformeerde christelike geloof wat hierdie bose aanslag sien vir wat dit is nie: net nog ‘n poging van die Satan om God te probeer ontken en sy skeppingsordening en plan vir die mens te vernietig, deur huwelik en gesin te probeer vernietig.

Maar ons weet die Here lag, Hy spot met die nietige mense en al hul afgodedienste (of dit nou oerbeelde van die verlede is wat weer opgeroep word in nuwer vorme van panteïsme/panenteïsme, of moderne gode in finansies en tegniek) wat Hom probeer onttroon (Ps.2:3). Hy het reeds sy Seun, Jesus Christus vir ewig gekroon (Ps.2:4-12), sy Seun het reeds sy kinders onder alle stamme, tale en volke met sy bloed gekoop, en ja, alhoewel die vyand ons in die hakskeen kan byt, ons liggame en huwelike en gesinne skade kan doen, kan hul geen een van sy kinders laat verlore gaan nie, want ons is veilig in Sy Hand (Matt.10:28; Joh.10:28; Rom.8:28-39).

Maar, terwyl ons nog in hierdie lewe is, moet ons die goeie stryd stry, en daarom moet ons waak en bid, toegerus wees terwille van ons gesinne en gemeentes, juis om tot eer van Sy Naam sy skeppingsordeninge en goeie wet te handhaaf in dankbaarheid in ons huwelike, gesinne en gemeenskappe waarin Hy ons geroep het.

Een van die Here se diensknegte, Herman Bavinck help ons daarmee met sy boek oor die Christelike huisgesin.  Ons moet terug na die oorspronge van die mens, die huwelik en gesin om dit weer reg te verstaan en te glo en daarvolgens te lewe. In die aanslag teen die gesin en ware kerk van Christus (want die gemeente bestaan uit gesinne), is dit goed om te weet van die verskillende strategieë en aanslae wat huidiglik bedink word (sien die hedendaagse media), maar die heel belangrikste is om te weet wat God se wil is, wat Hy vir die skepping en die mens bepaal het, wat die mens se doel, taak en bestemming is, as man en vrou.

Die fondamente moet weer herstel word, ook vir gelowiges in hul huwelike en gesinne, en daarom: terug na Genesis, terug na ons Skepper se skeppingswil, alles gesien in die lig van Jesus Christus se koms wat dit alles vervul en herbevestig (Matt.5:17-19) !

Bavinck se boek oor die Christelike huisgesin, oorspronklik geskryf in Nederlands meer as 100 jaar gelede (1908), help ons om God se skeppingsordening van man en vrou, van die huwelik en gesin reg te verstaan.  Daarom bevel ek dit sterk aan vir elke gelowige, elke ouer en kind om dit deeglik te bestudeer, sodat ons opnuut  ons roeping as mans en vrouens, as sy kinders kan vervul in hierdie wêreld, totdat Hy kom.

Nota: ek gaan poog soos die tyd toelaat om van die hoofstukke in hierdie boek in Afrikaans te vertaal en hier beskikbaar te stel.  In die volgende inskrywing volg die eerste hoofstuk wat handel oor: Die oorsprong van die huisgesin.

“Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei.” – Totius

One thought on “Die Christelike huisgesin: Inleiding en agtergrond

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: