Die Christelike huisgesin: 1. Die oorsprong van die huisgesin

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

Herman Bavinck

[Vertaal deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908).  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Vorige inskrywing: inleiding en agtergrond

Hoofstuk I – DIE OORSPRONG VAN DIE HUISGESIN

Genesis 1[1]

Die geskiedenis van die menslike geslag begin met ‘n bruilof.

Nadat God in die begin die hemel en die aarde geskape het, berei Hy dit deur ’n ses dag  arbeid tot ‘n woonplek vir die mens. Want die hemel is die Here s’n, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee. Die aarde bestaan eers in ’n ongevormde toestand; dit was woes en leeg. Deur allerlei skeiding aan te bring, tussen lig en duisternis, tussen die water onder en bo die uitspansel, tussen land en see, tussen dag en nag, tussen maande en jare, maak God aan haar woesheid ‘n einde. En deur  land en see, lug en aarde te be­volk met ‘n menigte van lewende wesens, van plante en diere, visse en voëls, vervul Hy dit en laat Hy haar ledigheid wyk.

Maar hierdie ledigheid word eers ten volle oorwin, as God nou daartoe oorgaan, om die mens en in hom die menslike geslag te skep. Want Hy skep die aarde nie, dat dit ledig sou wees nie, maar Hy formeer dit, sodat die mens dit sou bewoon, Jes. 45 : 18. Die mens skep Hy daarom na ‘n besondere beraadslaging; Hy skep hom na sy beeld en gelykenis; Hy skep hom dadelik in geslagtelike onderskeid, as man en as vrou. En as Hy hul geskape het, seën Hy hulle en gee hulle die ganse aarde tot hul ryksgebied.

In hierdie enkele trekke lig alles opgesluit, wat ons nodig het om te weet oor die oorsprong, wese en die doel van die mens. Dit bevat ’n wysheid wat die verstand van verstandiges sekerlik ver te bowe gaan. Wat die Skrif in die verdere verloop van die openbaring en reeds dadelik in die tweede hoof­stuk daaraan toevoeg, is uitbreiding en toeligting van dit wat in die eerste hoofstuk reeds kort en saaklik meegedeel word.

Die mens

God skep die man eerste; na die liggaam uit die stof van die aarde, na die siel deur die asem van die lewe, wat van bo hom ingeblaas word. Die diere ontstaan anders; hul word op ‘n magswoord van God deur en uit die aarde voortgebring. Anders ontstaan ook die engele, want hulj word almal saam, eensklaps, voltooi, in volle getal geskape. Maar die mens, aan beide ver­want, is van beide onderskeie. Deur sy liggaam staan hy met die aarde in gemeenskap; deur sy gees, wat van bo is, is hy aan den hemel verbonde. En beide is in hom so innig verenig, dat die mens onder alle skepsele ‘n eie natuur dra en ‘n eie plek inneem. Die mens is in ‘n besondere sin ‘n maaksel van God; hy is sy beeld en gelykenis, sy seun en sy geslag.

Die man is alleen

Die eerste mens word voorts dadelik as man ge­skape, nie onsydig en nie as manvrou nie, maar met ‘n bepaalde geslag. Dit kom daarin uit, dat hy, of skoon hy in die tuin geplaas en van al wat hy vir sy onder­houd nodig is in oorvloed voorsien is, tog eensaam in homself voel. God skep hom so; en sê self en uit homelf, dat dit nie goed is, dat die mens alleen is nie. Hy plant dadelik die verlange van liefde in sy siel na een wat hom gelyk is. Daardie verlange word nie bevredig deur die diere nie, wie se wese hy deursien, watter soorte hy onderskei en wie se name hy uitdink. Hulle was magtig en groot, edel en vernaam, maar hulle was nie sy gelyke nie. Die skepping van die vrou word voorafgegaan deur die besef van die behoefte, wat die eerste mens te midde van al sy rykdom in sy eie hart ontdek; selfs die geskape na die beeld van God kon die behoefte nie bevredig nie. So is die vrou die antwoord op die vraag, wat uit die man se hart en oor sy lippe vloei. Sy is die verhoring van sy gebed: die gawe, wat God hom uit ryke liefde skenk.

Want al word sy deur die man begeer, word sy nie deur homself, maar deur God geskape. Die vrou is, ewe goed as die man, ‘n besondere skepping van God, dra sy beeld en gelykenis. As die apostel Paulus in 1 Kor. 11:7 die man die beeld en die heerlikheid van God noem en die vrou die heerlikheid van die man, dan ontsê hy daarmee aan die vrou tog definitief nie die beeld en die gelykenis van God nie. Want hy handel daar nie oor die man en die vrouw as mense in die algemeen nie, maar oor die verhouding waarin hul in die huwelik tot mekaar staan. In het huwelik en in die huis­gesin, daar is dit die man wat as hoof in sy ver­skyning en in sy heerskappy, die beeld en die heerlikheid van God uitstraal; en die vrouw het dan die roeping om in gehoorzaamheid aan die man sy heerlikheid te vertoon. Maar daarmee is glad nie in stryd dat die vrou op sigself as mens beskou ewe goed draer van die beeld en die gelykenis van God is, net soos die man nie.

Die skeppingsverhaal in Genesis laat dit duidelijk hierin uitkom, dat hul albei saam na God se beeld geskape genoem word, Gen. 1:27. Nie een van albei nie, en ook nie die een los van die ander een nie, maar man en vrou saam in onderlinge verband, elkeen op sy wyse en na ’n besondere manier is hul geskape na God se beeld en stel hyl sy gelykenis ten toon. Daarom vergelyk hul die Here nie alleen soos ‘n Vader wat hom ontferm oor sy kinders, Ps. 103:13, maar ook netso soos ’n moeder wat haar suigeling nie kan vergeet nie, Jes. 49:15. Hy kasty soos ‘n vader, Hebr. 12:6, maar troos ook as ‘n moeder, Jes. 66:13, en vergoed vir beide se verlies, Ps. 27:10.

Die vrou geskape

Tog is die vrou nie geskape deur die man nie, maar is tog wel uit die man. Adam is eerste gemaak, daarna Eva. Beide in tyd en in orde gaan die man die vrou vooraf. Nie slegs word die vrou na die man geskape, maar ook word sy deur God uit hom voortgebring. Soos die aarde die grondslag uitmaak vir die liggaam van die man, so vorm die liggaam van die man op sy beurt die boustof waaruit God die vrou formeer. Die wyse waarop die man geskep word, knoop ‘n onverbreekbare band tussen die mens en die aarde; die wyse waarop die vrou haar aansien ontvang, stel haar in sodanige betrekking tot die man, dat sy onafskeide­lik aan hom gebonde is en ook die eenheid van die menslike geslag daardeur volkome bewaar word.

Die vrou word nie selfstandig nie, nie onafhanklik van die man nie, nie buite sy bemiddeling om geskape nie; sy is nie ‘n eie beginsel en hoof van die menslike geslag nie, maar sy word self uit die man, uit sy vlees en bloed geformeer. Die mensheid is één geheel, een ligaam met één hoof, een gebou met één hoeksteen. Recht tot meerderwaardigheid ontleen die man hier in die minste nie, want hy ontvang die vrou wat hy be­geer geheel buite sy toedoen om, sonder sy wete en wil, in ‘n diepe slaap, wat God oor sy siel en liggaam uitgebrei het. Die vrou mag uit dien man wees, sy ontstaan nie deur hom nie; sy het haar bestaan nie te danke aan die man nie, maar soos die man, aan God. Sy is dus in volstrekte  sin ‘n gawe van God, die grootste gawe wat Hy aan die na sy beeld geskape man kon verleen en wie daarom as sodanig, haar as een geskenk uit die hand van die Here ontvang en moet waardeer.

word Eva ook deur Adam begroet. Sodra hy haar aanskou, ken hy haar; sy kennis was ‘n kennis van die liefde. Hy sien in haar geen vreemde nie maar sy eie; sy dra dieselfde natuur wat hy deelagtig was; sy vertoon dieselfde beeld van God, wat aan hom ge­skenk word; en tog was sy ‘n andere een as hy, met ‘n eie geslag, karakter en bestemming. As ‘n juigkreet, as ‘n bruilofslied klink dit daarom van sy lippe: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man!” (Gen.2:23)

Skeppingsordening: God die Insteller van die mens in twee geslagte

Net soos die man onmiddelik as man geskape word, so word die vrou onmiddelik as vrou geformeer. Nie as mens alleen nie, maar ook as vrou het sy haar oorsprong in God. God is die Skepper van die mens en tegelykertyd ook die Insteller van die geslag en geslags-onderskeid. Nie deur die sonde kom hierdie onderskeid tot stand nie; dit bestaan van die aanvang af, dit het in die skepping sy begronding, dit is ’n openbaring van God se wil en vrymag, en daarom wys en heilig en goed. Niemand mag daarom hierdie onderskeid in homself of in andere misken of verag nie. Dit is deur God gewil en in die natuur begrond. Dit word toe en is nog altyd deur Hom gewil; Hy is die vrymagtige Beskikker daarvan; man en vrou het nie net hulle menslike natuur nie, maar ook hul onderskeie geslagte en aard aan God te danke. Hulle is beide goed, soos hul beide voortkom uit God se hand. Saam en in onderlinge ge­meenskap dra hul die Goddelike beeld. God is self die Skepper van die tweeheid in die eenheid. In die eenheid is hul en bly hul daarom twee. Hul het elkeen ‘n eie natuur, karakter en bestemming.

Die man se taak en bestemming  

Voordat die vrou geskape word, word die man reeds in die tuin geplaas en tot ‘n bepaalde taak en bestemming geroep. Aan hom word as hoof van die menslike geslag die proefgebod gegee, omdat hy in die onderhouding daarvan sy volstrekte gehoorsaamheid aan God sou bewys. En tegelykertyd, ontvang hy daarmee die taak om die tuin te bewerk en te bewaak; die eerste wys op die plig dat die mens al de skatte moet ontgin, wat God in die aarde neergelê het; en die tweede lê hom die roeping op om die al die skepsele te beskerm teen alle vyandige mag wat dit wil verderf, en dit dan so te bewaar van die diensbaarheid aan die verderfenis.

Hierdie twee-ërlei taak, die volkome gehoorsaamheid aan God en die bewerking en bewaking van die tuin, staan in noue verband met mekaar. Die heerser van die aarde kan die mens alleen wees as hy dienskneg en seun van God is; en as hy die laaste een is en bly, is hy en word hy steeds meer die onder­werper van die aarde. Die beeld van God ontvou hom in die wêreldheerskappy; die sagmoediges wat in gehoorsaamheid God se wil volbring, be-ërwe die aarde. Maar, as dit die roeping is van die beelddraer van God, om nl. die aarde te vul, te onderwerp en te be­heer, dan is één enkel mens, ook al is hy ‘n man en ’n seun van God, tot die uitoefening daarvan nie bekwaam nie. Dan het hy ’n hulp nodig; ‘n vrou,wat nie bo hom staan en hom oorheers nie, nog onder hom staan en deur hom tot ‘n genotmiddel verlaag word nie, maar wat naas hom staan, aan sy sy plek inneem en daarom ook uit sy sy  gefor­meer word.

’n Hulp wat by hom pas

Man en vrou is beide mens, en tog is hul onderskeie in liggaamsbou en sielekrag. En so ook ontvang hul beide dieselfde roeping en tog in die één roeping elkeen verskillende take en werksaamhede. Die man is geroep om in gehoorsaamheid aan God se wil die ganse aarde aan sy voete te onderwerp; hy moet dit ontgin tot haar einde toe; deur kennis en kuns, deur landbou en veeteelt, deur nywerheid en handel moet hy al die rykdom van gedagte en krag, van vrugbaarheid en lewe uit die aarde te voorskyn bring, wat God na sy onuitputlike goedheid daarin verberg het. En die vrou moet hom in vrye gehoorsaamheid en selfstandige medewerking in die vol­tooiing van hierdie taak behulpsaam wees.

Behulpsaam in die rykste en ruimste sin, liggaamlik en geestelik, met haar wysheid en liefde, met haar verstand en haar hart. Behulpsaam om die menslike geslag voort te plant, om kinders op te voed in die vrese van die Here, om aan ’n koninkryk van redelike en sedelike skepsels vorm te gee, en om so deur die mensheid, wat uit haar voortkom, die aarde tot onderwerping te bring. Want in die mensheid word eers die beeld van God ten volle ontvou, en in die heerskappy oor die ganse aarde bereik eersgenoemde sy bestemming en doel. Dit is God self wat deur die mensheid die aarde aan sy voete onderwerp en in die ontdekking van al haar skatte sy eie  heerlikheid ten toon wil stel. Beide, man en vrou, staan dus met hul onderskeie gawes in één heiligen diens, volbring één dure roeping, arbei aan één Goddelike werk. Maar hul kan aan hierdie verhewe bestemming ook dan alleen beantwoord, indien hul gehoorsaam bly aan die Goddelike gebod, vóór alle dinge in hulself en in mekaar die beeld van God bly eer, gevolglike ook bly lewe in die innigste gemeenskap onderling.

Die onbreekbare gemeenskap tussen man en vrou

Om die eenheid, gemeenskap en samewerking na siel en liggaam moontlik en werklik te maak, skep God die vrou uit die man en vir die man, 1 Kor. 11:8, 9; maar ook wel tot die man, en so ook die man tot die vrou. God maak uit één twee, omdat Hy die twee weer tot één sou maak, tot één siel en één vlees. So ‘n gemeenskap is slegs tussen twee moontlik. Die huwelik was van die begin af en is kragtens sy natuur monogamies, ’n eg-verbintenis tussen één man en één vrou, en daarom ook een verbond vir die lewe, onskeibaar deur men­slike mag; wat God so saamgevoeg het, sal die mens nie skei nie, Matt. 19 : 6, 8. Die mens skei van sy ouers, verlaat sy vader en sy moeder en hang sy vrou aan; maar sy vrouw verlaat hy nooit! Die liefde tot die ouers, word in sterkte en duur deur die liefde tot die vrou, oortref. Dit is sterker as die dood. Geen liefde kom so naby aan God se liefde, of is so groot, as hierdie liefde tot die vrou nie.

Die kinderseën

Op hierdie gemeenskap van liefde het God dan ook in besonder sy seën geplaas. Hy is die Skepper van man en van vrou, die Insteller van die huwelik, en ook die Seëner van die eg. Elke kind wat gebore word is vrug van die gemeenskap, en daarom vrug van die Goddelike seën. Die twee-eenheid van die mens brei in die kind tot die drie-eenheid daarvan uit. Vader, moeder en kind is één siel en één vlees, uitbreiding en ontplooiing van die één beeld van God, één in drie­voudige verskeidenheid en verskeidenheid in harmoniese eenheid.

Hierdie drie-eenheid van verhoudinge en betrekkinge, van eienskappe en gawes maak die grondvorm van die hele maatskaplike samelewing uit. Die gesag van die vader, die liefde van die moeder en die gehoorsaamheid van die kind is in hul eenheid die drievoudig snoer wat alle verhoudinge in die menslike samenlewing saambind en handhaaf. In die sielelewe van elke harmoniese mens vorm hierdie drieklank die grond­toon. Geen man is volmaak sonder enige vroulike, geen vrou sonder enige mannelike eienskappe, en aan man en vrou beide word die kind tot voorbeeld gestel, Matt. 18:3. In elke vereniging, in elke maat­kappy, in kerk en in staat is daar altyd aan hierdie drie-ërlei eienskappe en gawes ‘n behoefte. Gesag, liefde en gehoorszaamheid is die peilers van alle menslike samelewings. ‘n Digter sing van die ewig-vroulike. Hy kon in sy lied ewegoed het ewig-manlike en die ewig-kinderlike kon verheerlik het. Want alle goeie gawes en volmaakte geskenke in die man en vrou en kind daal neer van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie (Jak.1:17).

Die mens is as mens, maar ook as man en vrou en kind, elkeen vir hulself en in onderlinge gemeenskap, geskape na die ewe­beeld van God.

 


[1] Subopskrifte en verse tussen (hakies) is bygevoeg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: