Dit is gister/vandag 154 jaar gelede dat die Gereformeerde Kerke herstig is (10-12 Februarie 1859) onder die seringboom in Rustenburg. Die gevaar van die Here se volk, ook vandag, is dat ons so maklik die kerkstryd van die verlede vergeet of nie wil onthou nie, en bloot aanpas by ons tye, omstandighede en verval in ons kerke en samelewing, contra die hele Bybel en veral 2 Tim.3, 4 en Judas 3 se oproep.
Ek plaas ‘n preek hier wat ek so paar jaar gelede gepreek het (2009) oor Matt.16:13-23, met die fokus op vers 18 wat deel is van die logo/kerkseël van die GKSA:
Geliefdes in Christus,
Die seël van ons gereformeerde kerke, is ‘n kerkie wat op ‘n rots gebou is, met die volgende woorde daaronder:
… en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. – Matt.16:18b van ons teks.
Maar dit is belangrik om daarop te let, dat die kerk op die rots, die eerste deel van ons teks vanoggend verteenwoordig, nl. die woorde:
En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou – Matt.16:18a
Dus, die hele vers is ons kerke se logo, leuse of wapen.
En, omdat ons hierdie week ons 150-jarige herdenking van die herstigting van die GKSA beleef het, 10-12 Febr 1859, gaan ons kyk wat hierdie kerkseël:
1. beteken volgens hierdie Skrifgedeelte
2. en wat dit vir ons vandag beteken
1. Wat dit beteken volgens die Skrifgedeelte
Christus is saam met sy dissipels.
Hy vra hul eerstens wie die mense sê Hy is, en nadat ‘n paar menings gegee is,
wat daarop dui dat die mense nie mooi weet nie,
Vra Hy hulle, sy dissipels:
Wie sê julle is Ek ?
Ja, die wêreld het baie menings oor Christus, vandag nog …
Maar Christus wil weet wat sy Kerk van Hom bely, hulle wat sy Naam op hul lippe neem …
In die oorspronklike taal, is die woorde ‘julle’ sterk beklemtoon,
Dus, wie sê JULLE is Ek ?
En dan by monde van Petrus, kom die belydenis:
U is die Christus, die Seun van die lewende God, v.16
Waarop Christus antwoord,
a. dat Petrus hierdie antwoord nie uit homself gekry het nie, maar dit is aan aan hom geopenbaar deur die Vader wat in die hemel is, en
b. dan volg Christus se woorde wat die kerkseël uitmaak van ons kerke:
En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. v.18
Dit is wat basies met gebeure hier plaasgevind het.
Nou is die eerste vraag wat ons wil beantwoord:
1. wie is ‘hierdie rots’ waarop Christus sy gemeente gaan bou ?
– Is dit Petrus ?
– Is dit Christus ?
– Is dit die apostels wat daar saam met Christus en Petrus is ?
Nou, geliefdes, sonder om in detail te gaan, is die regte antwoord: dit is al hierdie sake, reg verstaan, elkeen in sy eie plek.
– dit is Petrus in sy amp as apostel, die eerste onder gelykes (1 Pe.5:1), wat verteenwoordigend is van al die apostels, maar nie as die eerste Pous nie !
– dit is Christus, omdat Hy die rots is, waaruit die volk in die OT reeds gedrink het, die “geestelike drank”, want sê 1 Kor.10:4, “hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.”
– dit is al die apostels, saam met die profete, want. Ef.2:20, die kerk is
gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is
En, daarom is “hierdie rots” verwysend na die woorde en inhoud van vers 16, wat Petrus bely het:
Christus, die Seun van die lewende God … wat die hoeksteen is, (Hy hou alles aan mekaar),
soos bely deur Petrus, as verteenwoordiger van al die apostels saam het Hom, wat die fondament is.
Die rots is dus geen mens nie, en dank God, dit kan ook nie wees nie:
Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ‘n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a) 1Co 1:13, 1Co 1:30-31; Gal 5:4. (b) Heb 12:2; Isa 9:7 (Ou Vert. Vers 6); Col 1:19-20; Col 2:10; 1Jo 1:7.
Die rots is nie Petrus as mens wat feilbaar is nie, hy was en is geen Pous wat onfeilbaar spreek nie, want kyk, net na hierdie woorde, skaars ‘n paar minute later, sondig Petrus alweer, deur Christus te wil verhoed om op die lydensweg te gaan, v.22
… in so mate dat Christus baie sterk vermanende woorde moet gebruik, v.23:
“Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
Daarom die belangrike woorde van v.17 aan Petrus: die waarheid, die ‘hierdie rots’, kom nie uit jouself of enige mens nie, dit is Godsopenbaring, deur sy Gees aan die mens.
Dit is nie aards nie, maar uit die hemele, geen teologie-ontdekking nie, maar Godsopenbaring uit genade alleen !
Die rots is Christus wat gegee is en sy Woord wat deur die profete en apostels aan die kerk van alle eeue en tye gegee is.
Maar, wat is die detail-inhoud van ‘hierdie rots’, ons volgende vraag.
– Jesus is die Christus, die Griekse woord vir Gesalfde (in Hebreeus Messias), en dit betkeen eenvoudig: Jesus Christus is die gesalfde Koning, Priester en Profeet van die OT, wat alles vervul (sien HK Sondag 12).
– Wat Hy kom vervul lees ons in vers 21,
Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.
Hoor u dit geliefde, die kerk is gebou op ‘hierdie rots’,
Volmaakte offer vir ons sondes en oortredinge, soos heengewys in die OT, vanaf Gen.3:15 en verder (sien HK v/a 19).
Christus het alles kom betaal, eens en vir altyd (Hebr.9:24-28)
Daardeur het Hy sy kerk gekoop met sy kosbare bloed, vir ewig ! (sien HK v/a 54).
En, JUIS DAAROM, die tweede deel van ons teks/kerkseël,
…. En die poorte van doderyk/poorte van die hel sal die kerk nie oorweldig nie.
Hoekom nie ?
Want die krag van Jesus se volmaakte offer, die krag van sy opstanding is die krag van God wat Hy geopenbaar het met die skepping (Ef.1).
Dit is die krag van God vir redding vir elkeen wat glo (Rom.1:16)
Dit is die krag van God se almag en heerlikheid.
Niks kan dit keer of stuit nie.
Hy doen wat Hom behaag, in liefde vir sy kinders.
En nou, geliefdes, is hier ‘n baie belangrikse saak om op te let:
– ons lees in ons teksvers van die “poorte” van die hel/doderyk
– poorte val nie aan nie, dit verdedig.
-dit beteken juis die hel, sonde, dood, satan is aan die verdedig, is op die agtervoet !
– die ‘rots’ is besig om te oorwin !
– Nog beter gestel: die Rots het oorwin en is besig om te oorwin !
– die hel kan nie stand hou nie, Christus die Rots het oorwin
– Die allesbepalende veldslag in die oorlog (Gen.3:15) het reeds plaasgevind, die kerk van Christus is nou besig met die uitwerking van daardie veldslag, deur die verkondiging van ‘hierdie rots’, dit is Christus (Op.12; Matt.28:16-20) !
– Hierdie Rots is besig om die vyande ‘n voetbank van sy voete te maak
Al lyk dit vir ons nie so nie, a.g.v. ‘n verkeerde Godsbeeld en verdraaide evangelie ….
Maar Hy is besig om al sy vyande die voetbank van sy voete te maak, sy uitverkorenes in die Koninkryk in te bring (Ps.110; 1 Kor.15).
2. Geliefdes, dit bring ons by die vraag: hoe spreek hierdie Skrifgedeelte tot ons vandag ?
Ons staan in verband met hierdie Rots net op een van twee maniere:
a. of ons staan deur die geloof op hierdie Rots, of
b. ons lê onder hierdie Rots, verpletter deur ons liefde vir die sonde en die wêreld.
Dit is wat ons lees in 1 Petrus 2:7, wat dieselfde Petrus skryf:
6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling
Die rots, Christus, vra ons elke dag, ook vanoggend, hier en nou:
Wie sê jy/julle is Ek ?
En op wie of wat bou jy jou lewe, die ewige lewe maar ook elke dag hier en nou ?
– Is Jesus maar net nog ‘n goeie profeet, ‘n goeie mens, iemand wat ek so nou en dan oor praat
– of is Christus my Rots en my Verlosser, my Koning ?
U sien, broer en suster, Christus het klaar die kruis gedra, v.21
Maar u, waar is ek en u met ons kruisdra ?
Kyk wat sê die Rots vir sy dissipels, ook ons vandag in vers 24 ev:
24 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. 26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? 27 Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.
Waar is u ?
Wie volg u ?
Vader van die huis, wie volg u, agter wie loop u en u vrou en kinders aan ?
Die ROTS ?
– Bou ons nog op ‘hierdie rots’, daadwerlik ?
– Bou ons kerkverband nog op die Woord van God alleen, deur sy Gees ?
– Of het ons dalk op sand begin bou, op wat die mens wil hê, of die tydsgees ?
Ons teksvers sê uitdruklik, dat dit Christus is wat sy gemeente bou
Dit is geen menslike vereniging of instelling nie, maar Goddelik in oorsprong en voortbestaan.
Dit is Christus wat sy kerk laat onstaan, bou, groei, vermeerder, soos ons bely in HK v/a 54:
Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan ‘n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a) Eph 5:26; Joh 10:11; Act 20:28; Eph 4:11-13. (b) Gen 26:4; Rev 5:9. (c) Rom 8:29; Eph 1:10-13.
(d) Isa 59:21; Rom 1:16; Rom 10:14-l7; Eph 5:26. (e) Act 2:42, Eph 4:3-5. (f) Psa 71:17-18; Isa 59:21; 1Co 11:26. (g) Mat 16:18; Joh 10:28-30; Psa 129:1-5. (h) 1Jo 3:14, 1Jo 3:19-21; 2Co 13:5; Rom 8:10. (i) Psa 23:6; 1Co 1:8-9; Joh 10:28; 1Jo 2:19; 1Pe 1:5.
Maar vandag is die groter vraag dalk: HOE bou Christus sy kerk ?
– deur allerleie slim menslike uitvinsels en vindingrykheid ?
– deur allerlei wêreldse metodes om sogenaamde ongelowiges te trek en baie geld te maak ?
– deur wêreldse planne en strategieë te leen om ons te help ?
Ons bedoelinge kan baiemaal baie goed wees, want ons wil tog almal hê ‘my kerk moet voortbestaan’,
Maar kyk in vers 23 wat Jesus gedink het van Petrus se ‘goeie bedoelings’, wat nie volgens God se Woord en wil was nie, vers 23:
“Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
… satanswerk !
Pynigend, harde woorde … maar waar.
Nee, geliefdes, in vers 17 het die Skrif ons gewys hoe Hy sy kerk bou:
Petrus, my Vader het aan jou geopenbaar wat waar is, waarop en hoe die kerk gebou word.
Dit is dieselfde Vader wat ons die 66 boeke geopenbaar het, wat ons nou het, dit is hoe en waardeur die Here sy kerk bou en bewaar.
Deur Woord en Gees bou Christus sy kerk
Niks meer nie, niks minder nie:
HK Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.
Die HERE bou sy kerk:
– een wedergeboorte op ‘n slag
– deur sondebelydenis en ‘n lewe van bekering
– van gebed tot gebed
– preek tot preek
– bybelstudie tot bybelstudie
– bediening van die sakramente van die heilige doop en nagmaal
– huisbesoek op huisbesoek
– tuggeval op tuggeval
– katkisasie op katkisasie
– erediens op erediens
– lofpsalm op lofpsalm
En dit is genoeg.
En ja, as ons eerlik is, dinge lyk nie goed nie.
Nie net is daar die bedreiging van die eie sonde en die wêreld met sy onchristelike staatsmag en vervalende ekonomie nie,
Maar daar is ook al meer valse verleidende predikers, valse kerke, wat mense mislei.
En tog, tog het ons die troos as kerk, en hopelik kerke: … die poorte van die hel sal nie die kerk van Christus oorweldig nie !
Satan se mag kon dit nie doen in die verlede nie
Nie in die hede nie
En sal dit ook nie in die toekoms regkry nie.
Hy, en al sy valse magte, sal ook eendag finaal deur die Rots verpletter word !
As ek en u
As ons en ons gesinne
Alleen op hierdie rots bou
Op Christus en sy Woord alleen
Deur die krag van die Gees
Dan sal ons bly voortbestaan,
Al moet ons baiemaal geestelik en fisies ly in hierdie lewe …
Al word ons minder, want ons bely dan ook (NGB artikl 27):
“Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie.”
As ons kerkverband terugkeer na hierdie Rots, en hierdie Rots alleen, dan sal daar nie ‘n skeuring wees in die toekoms nie … dan sal ware eenheid, ware liefde en ware vrede terugkeer.
Maar, geliefdes, dank God, Christus en sy kinders self kan nooit oorweldig word, vernietig word nie, maar deur ongehoorsaamheid, kan Hy wel besluit om ‘n gemeente se kandelaar weg te neem, sien Openbaring 2 en 3 !
En daarom:
Hou vas aan die inhoud, betekenis en toepassing van ons kerkseël volgens die Skrif,
En maak erns in u eie, gesin en ons gemeentelewe,
met die woorde van die Rots, Christus in Matt.7:24 en verder,
24 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.
25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.
26 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.
27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Amen
ns. Sien hier meer artikels oor die ontstaan en huidige strydpunte in die GKSA: Doppers
Leave a Reply