Preek: Moenie vrees nie (Joh.6:1-21)

Photo: My werkplek: Die Gereformeerde Kerk Matlabas

Moenie vrees nie

ds Gustav Opperman (GK Matlabas)

Lees Joh 6:1-21

Teks Joh. 6:20: Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.

Tema: Hy is die Besweerder van elke vrees

Psalms: 107:1,2; 107:3,4; 107:5,6; 107:9,10; 107:12,14.

Broeders en Susters,

Lig en duisternis … duisternis en lig …

Dit is nie sonder rede

dat die stryd tussen lig en duisternis Johannes se Evangelie beheers nie …

want alhoewel ons heerlike sonskyn in hierdie land geniet …

voel ons nogtans net duisternis om ons …

ervaar ons

‘n mensdom wat in die donker rondom ons half blind rondtas …

‘n mensdom wat nie herwaarts of derwaarts weet nie …

Reisigers na Nêrens was die titel van ‘n boek

wat hierdie tema jare gelede behandel het …

Maar ook meer onlangs skryf die Afrikaanse sanger, Koos du Plessis,

skryf hy van die weerlose mense …

weerlose mense … op reis van peron na peron

Hulle reis deur ‘n middernagland sonder grense

of tyd …

en hulle is ‘n ewigheid ver van die son ..

Ja, by die aanhoor van hierdie lied

wil ‘n mens die sanger gelyk gee …

Kyk jy na die gesigsknope

van diegene wat in die verkeer vassit …

van diegene wat vasgevleg is in die banktoue, en die supermarktoue,

en die toue van die lisensiekantore …

van diegene wat wag en wag op uitslae in die dokterskamers …

Weerlose, weerlose mense.

En wat het ons ook anders vir mekaar te sê, as:

Dis nag?

Dis was nog altyd so …

want hierdie ou wêreld, hierdie middernagland sit sonder grense …

sit sonder grense of tyd …

Nes soos dit ook nog altyd so was …

en is dat daar Een is …

Een is wat soos ‘n Lig in hierdie duisternis geskyn het …

die waaragtige Lig wat elke mens verlig

(Dis hoe ons Hom aan die begin van die Johannes-evangelie leer ken.)

En Hy sê vir ons vandag …

Hy sê weer vir ons vandag:

Dit is Ek,

moenie vrees nie

want dis die ander eienskap van hierdie middernagmense:

Vrees …

Hulle is hul hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe … (Heb. 2:15)

(lees ons in die brief aan die Hebreërs)

vrees vir die siekte …

vrees vir die honger ..

vrees vir die storms in die donker nag …

En daarom verskans ons onsself teen elke onheil

so goed as wat ons kan …

Daarom stapel ons op in spense en vrieskaste

en daarom word ons slawe van ons mediese fondse

en spandeer fortuine aan doktors …

Of ons sit ons dae om in hospitaalgange …

net soos die siek man (waarvan ons in hoofstuk 5 lees)

daar by bad van Betesda gelê het …

jaar in en jaar uit gelê het ….

op hoop van genesing.

Die groot menigtes wat die Here Jesus na die oorkant van die see van Galilea volg,

hulle het dieselfde probleem …

hulle kwale en siektes dryf hulle …

hulle het genesing nodig …

In die ander Evangelies lees ons hoe hulle mekaar verdruk het …

Hoe sommige desperaat was,

om net aan die soom van sy kleed te kan raak …

Hoe ander die dakteëls uitgebreek het,

om ‘n draagbaar van bo af voor die Wondergeneser te laat neersak …

Hier ons Skrifgedeelte is dit steeds die skuifelende massas

in hulle skemerwêreld tussen lewe en dood …

die menigtes wat Hom soek en volg …

van hawe tot hawe …

van oewer tot oewer …

Mense wat polities onderdruk was …

mense wat swaar onder die Romeinse juk geleef het …

uitgelewer aan die uitbuitery van tollenaar en soldaat …

Dit was net voor die Pasga,

die fees van die Jode

(so het ons gelees).

Tydens die Pasga het die volk hulle wonderbaarlike verlossing uit Egipteland herdenk …

hulle bevryding van die onderdrukker gevier …

Vroeg in hulle woestyntog oor die Rooi see destyds,

daar by Mara se bitter waters ..

(ons lees daarvan in Eksodus 15),

daar het die HERE Homself ook as Israel se Geneesheer openbaar …

Ek is die HERE wat jou gesond maak,

het die HERE toe gesê …

Wie weet, so het die volk nou hier weer in Johannes 6 met die Pasga gehoop:

Wie weet, miskien is Israel se Geneesheer nou weer hier met ons?

Volgens die ander Evangelies, volgens Matteus,

het die Jesus Christus hierdie menigte weerlose mense gesien

en Hy het innig jammer vir hulle gevoel

en Hy het Homself inderdaad as Israel se Geneesheer geopenbaar …

Nie lank nie, volgens Johannes, kom die skare se volgende probleem na vore …

Die volgende vrees openbaar homself:

Waar sal ons kos vandaan kom?

Nog een van die mens se basiese behoeftes,

so leer ons by die sielkundiges en sosioloë …

voedselsekerheid …

Voedselonsekerheid verwek vrees.

Onsekerheid oor ons volgende bord kos,

maak ons bang …

Jesus verwoord hierdie bekommernis namens almal.

Hy vra vir Filippus:

Waar gaan ons vir al hierdie mense kos kry?

Waarvandaan sal ons brood koop

Daar is geen supermarkte in die omgewing nie …

Ons het buitendien te min geld,

antwoord Filippus

tweehonderd pennings sal nie genoeg wees nie …

So weeg ons weerlose, weerlose mense ons pennies en ons sjielings af …

En so lees ons in Eksodus 16,

direk nadat die HERE Homself as Israel se Geneesheer geopenbaar het,

lees ons:

En die hele vergadering van die kinders van Israel het in die woestyn gemurmureer.

En die kinders van Israel het gesê:

Het ons maar in Egipteland gesterwe

toe ons by die vleispotte gesit

en volop brood geëet het!

Toe sê die HERE vir Moses:

Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën ….

En so moes dit vir die pasgavierende skare die dag gewees het …

die dag toe die Here Jesus vyfduisend mense gevoed het met vyf brode en twee vissies …

soveel as wat hulle wil hê …

totdat hulle versadig was …

totdat hulle met die oorskiet twaalf mandjies volgemaak het …

‘n Wonder van luukse oorvloed …

Loof die Heer wat ewig leef,

mens en dier hul spyse geef,

want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid

Hy het inderdaad gekom,

dat ons lewe en oorvloed kan hê (Joh. 10:10).

En toe, skielik, is alles glashelder vir hierdie skare …

hierdie Jesus moet inderdaad die een wees waarvan Moses geprofeteer het …

die Profeet van Deuteronomium 18 …

die groot Profeet wat nog sou kom

Toe die mense die teken sien …

was hulle absoluut oortuig,

dat Jesus van Nasaret die Profeet was …

die groot profeet,

wat met absolute gesag sou optree …

die groot profeet,

wat ‘n wonderlike nuwe tyd sou inlei …

‘n Groot leier … groter as wat Moses self was …

was nou hier met die pasgafees tussen hulle …

Dit is toe dat Jesus merk dat die menigte Hom met geweld wou neem …

dat die menigte Hom met geweld tot koning wou verhef

Is dit nie tipies van ons middernagmense nie, Geliefdes,

ook in ons tyd …

ons wat daagliks met vrees saamleef …

ons wat nie altyd weet herwaarts of derwaarts nie …

ons wat ‘n onsekere toekoms binnegaan …

Is dit nie tipies van ons mense nie, Geliefdes,

dat ons versugtinge na ‘n leier …

telkens ook vervleg is met allerhande drome van geweld en vergelding …

Ons wat daagliks met vrees saamleef …

wil so graag … al is dit net vir een dag … nie meer so weerloos wees nie …

Die Here Jesus onttrek hom van sulke mense …

Dis wat ons in ons Skrifgedeelte gelees het.

Hy wil Homself nie laat intrek in ons verlange na ‘n broodparadys nie,

sonder dat ons die Brood van die lewe waarlik ken nie,

hoe jammer Hy ons ookal het …

Hy wil Homself nie laat intrek

na ‘n versugting na ewigdurende gesondheid sonder sorge,

maar helaas, sonder versoening met God nie …

En as ons grootste enkele behoefte daaruit bestaan,

dat al wat onderdrukker en misdadiger is,

hier en nou uitgesort moet word …

Wel, jammer …

Jesus van Nasaret is nie met ons nie …

Ons lees: Hy het weer weggegaan na die berg, …

Hy alleen.

Hy alleen met geen deel aan ‘n populêre volksbeweging nie …

met geen deel aan die roem en eer van mense nie …

Hy alleen …

En skielik is die grote skare ook nie meer daar nie

en die twaalf dissipels staan ook alleen en verlate aan wal.

Waarheen nou vir hierdie klein groepie …

die twaalf verteenwoordigers van die kerk van alle eeue?

Hulle was aanvanklik ook oortuig

hulle het die Messias gevind …

Filippus het mos destyds aan Natánael vertel:

Ons het Hom gevind …

Hom van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het:

Jesus, die seun van Josef van Násaret (Joh 1:46).

En Nataniël het self tot die gevoltrekking gekom:

Rabbi, U is die Seun van God,

U is die Koning van Israel! (Joh. 1:50).

So het hulle ook geglo …

En nou is al wat oorbly

om maar weer in die skuit te klim …

en maar weer van oewer na oewer te vaar …

en dit was al donker

en Jesus het nog nie by hulle gekom nie

En … en die see was onstuimig

daar het ‘n sterk wind gewaai

Die wind het teen hulle gesigte gedruk …

en die golwe het oor die skuit gespoel …

Roei en roei … tot roei nie meer help nie …

Dis nag … nag op die see …

Hawe en son was ‘n ewigheid ver …

En weereens was die harte oorweldig deur vrees …

vrees vir die golwe,

vrees vir die dood van ‘n drenkeling …

vrees vir die donker stormnag daarbuite …

en die spoke wat daar wandel …

al die rustelose skimme van die dood …

al die middernaggeeste nog steeds op soek na hawens en oewers…

Hier in Johannes ses, Geliefdes, lees ons van ons kerkskippie op see …

Dis nag …

hier lees ons:

toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het,

sien hulle Jesus op die see loop

en naby die skuit kom;

en hulle het bang geword.

En tog, kan ons vra, Geliefdes …

ons kan dit vra

rondom hierdie vrees van die disspels

en ook al ons ander vrese …

As ons in Hom glo,

hoekom sal ons vrees?

Is dit nie Hy wat spreek nie …

Hy, onse Here Jesus Christus …

Hy, in Wie alle dinge geskape is nie …

Hy, wat volgens Johannes die Ontstaan van alle dinge is.

En as Hy die Ontstaan van alle dinge is,

as Hy die Geneesheer is,

as Hy die Gewer is van mens en dier se spyse,

as Hy die Bewaarder van Israel is …

wat nie sluimer of slaap nie …

as Hy die Seun van God is,

dan kan Hy mos op die water loop …

en dan sal Hy ook ten behoewe van sy volk,

ten behoewe van sy kerkskippie op die stormsee,

dan sal Hy mos op die water loop …

soos Hy wel op die water geloop het …

En daarom sê Hy:

Dit is Ek, moenie vrees nie

Hy is die God van die verbond.

Hy is die God wat sy volk bewaar …

En soos Hy in Jesaja se tyd gesê het,

so sê Hy nou ook:

Wees nie bevrees nie,

want Ek is met jou;

kyk nie angstig rond nie,

want Ek is jou God.

Ek versterk jou,

ook help Ek jou,

ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand (Jes. 41:10).

Is dit nie wat ons saam gelees het

oor hierdie bondeltjie dissipels op die skuit nie …

dat die Here met hulle op die skuit geklim het,

en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het?

En of dit nou die klein skippie op see is …

en of dit nou die ganse volk Israel is

op pad na die beloofde land …

en of dit nou hierdie klein gemeentetjie van ons is,

Ek is wat Ek is, is met ons …

Hy is aan boord …

Ons is nie uitgelewer aan die duisternis nie …

Ons is nie doellose swerwers in ‘n middernagland nie.

Ons het die Geneesheer aan boord …

Hy is ook ons Leidsman en Verlosser deur die woestyn …

Hy sal ons by ons bestemming uitbring …

En wanneer ons volgende week met die nagmaal die brood in die hand neem,

dan weet ons, dat ons deel het aan die brood van die ewige lewe;

dan weet ons, dat Hy sy lewe en sy liggaam op die altaar geplaas het,

sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie …

Amen.

4 thoughts on “Preek: Moenie vrees nie (Joh.6:1-21)

Add yours

  1. Reblogged this on Afrikaans in Leipzig and commented:
    Ich habe gerade diesen Text gelesen und finde er ist in ziemlich gutem Afrikaans geschrieben. Der Schreibstil ist auch derart, dass man die Gedanken gut auseinander halten und so die Sätze einfacher aufteilen kann. Frag dich bei jedem Satz: 1. Welche Zeitform hat der Satz? 2. Wo ist das Verb? Schreibe jedes unbekannte Wort auf, finde heraus was es bedeutet (Google-Übersetzer o.ä.), schau dir den Satz wieder an und lerne. 🙂

  2. Ek moes dadelik aan Jeremia 1,17 dink toe ek die opskrif hier lees.

    Jeremia 1, 7-8
    Maar die HERE het vir my gesê: Moenie sê: “Ek is jonk” nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.
    Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.
    Jeremia 1, 17
    Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.

    1. Slabbert,
      Dit het op die oog af niks met die onderwerp te doen nie, maar dit sou interessant wees om te weet waarom die korrespondent hierbo die 1983 vertaling by Jeremia 1.17 aanhaal. Hy haal wel die 33/53 vertaling aan by Jeremia 1.7-8.
      Beste wense,
      Louis Karel Bernardus Breytenbach

      1. Ek het aan Jeremia 1,17 in Duits gedink. Maar toe ek dit hier vir julle in Afrikaans wou aanhaal het ek besef die Afrikaanse vers 17 klink gladnie soos die Duitse vers waaraan ek gedink het nie. Ek het toe ‘n Afrikaanse vertaling gevind wat dit soortgelyk vertaal soos wat ek dit in Duits onthou het.

        Al die verskillende vertalings is nie regtig vir my ‘n probleem nie, selfs al is daar baie slegte en swak vertalings kan enige iemand met ‘n bietjie verstand in die oorspronklike tale gaan navors as hy dit wat hy lees nie vertrou nie.
        Ek probeer ook om nie te veel deel te neem aan hierdie vertalings-gevegte nie, swakker vertalings sal hulle vertalers self in die verleentheid stel.
        Verder dink ek ook nie ons redding lê in die letter nie, maar eerder in die Gees. Inteendeel dink ek die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

        Soos jy sê, dit het niks met die onderwerp te doen nie.
        Of dalk het dit! Selfs al val daar ‘n duisend swak vertalings aan my linkerhand en tienduisend vervalsde skrifte aan my regterhand sal ek nie vrees nie, die HERE regeer!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: