HGS-reeks: 12. “… jy moet dit jou kinders inskerp …” 13. “… maar ek en my huis, ons sal die Here dien”

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

12. “. . . jy moet dit jou kinders inskerp . . .”

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut. 6:6, 7).

My kind is ‘n kind van die Here

Gelowige ouers ontvang nie alleen kinders uit die hand van die Here as ‘n geskenk of gawe nie. Hulle gee ook weer hulle kinders terug aan die Here deur hulle vir Hom groot te maak. Dit is ‘n voorreg om te kan praat van “my kinders”, maar dit is ‘n baie groter voorreg om van my kinders ook te praat as “kinders van die Here.”

Kinders is ‘n arm man se rykdom – en dit is die enigste rykdom wat jy kan saamneem hemel toe. Alle ander rykdomme bly agter.

In die boek Deuteronomium het ons die afskeidsrede van Moses.

Hy is oud en sou haas sterwe en vir laas spreek hy sy volk toe. Hy herhaal heelwat dinge wat hulle alreeds weet om hulle geheue op te fris en hulle op te skerp om naby die Here te bly. Die Here is goed, genadig, barmhartig en Hy vergewe sy volk se oortredinge.

Hy het met hulle ‘n verbond gesluit, die genadeverbond, dat Hy hulle God sou wees en hulle sy volk. En Hy het en sal baie van hulle verdra.

En tog moet hulle ook weet dat Hy ‘n God is wat die oortreding van sy verbond nie duld nie.

Hy wreek dit gewis en seker. Wie sy genade verag of geringskat, kry met sy toorn te doen.

Jy moet die Here jou God liefhê

Daarom druk die wyse ou leier sy volk dit op die hart: “Hoor Israel, die Here onse God is ‘n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (6:4, 5).

Ons het een Here en God en nie ‘n reeks “gode” nie.

Ons kan nie God en onsself of ons besittings of ons eie insigte of wat ook al op aarde tegelyk dien nie. En ons verhouding met Hom is ‘n liefdesverhouding. Hy het ons eerste liefgehad, daarom het ons Hom lief. Hy het ons baie sondes vergewe, daarom het ons Hom baie lief.

En dit help ook nie om maar net te sê: “Here, Here” nie.

Ons moet sy wil doen, onsself verloën, ons kruis opneem en ons Heiland volg.

Leer dit aan jou kinders

En omdat jy die Here liefhet met jou hele hart, jou hele siel en met al jou krag, kan jy nie anders as om jou kinders dit in te skerp nie. Jy het kinders van Hom ontvang en aan hulle die verbondsteken laat bedien. By Israel is die seuntjies besny en by ons word al die kindertjies, in die verbond gebore, gedoop. Hulle dra die merkteken van God se verbond en moet as sodanig opgevoed word. Aan hulle kom die beloftes van die verbond toe, net soos aan die volwassenes.

Net soos aan hulle ouers belowe die Here ook aan hulle vergewing van hulle sondes en die Heilige Gees wat hulle lewe vernieu na die beeld van Christus. Daarom moet hulle so opgevoed en onderrig word dat hulle een maal bewustelik kom tot aanname van God in Christus in die geloof. Hulle kan nie deur hulle ouers se geloof of deur die uitwendige band van die verbond die ewige lewe beërf nie.

Hulle moet self tot geloof kom.

En dit moet vir die ouers heilige erns wees om hulle kinders te lei tot volwasse gelowiges.

Hulle moet weet in wie hulle glo en die liefde van God moet in hulle harte geplant word, deur die saad van die heilige Woord in hulle harte te saai. Hieroor mag ‘n ouer nooit gerus wees nie en in die taak mag hy nooit rus nie.

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees” – ja, jou eie hart en jou vrou se hart moet vol wees van die Woord van God en die liefde vir Hom.

“en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

Geen geleentheid mag verlore gaan nie

Altyd – altyd – moet jy met jou kinders praat oor die Here en die liefde van Hom en tot die kindertjies. Geen geleentheid mag jy laat verbygaan nie. Geen oomblik mag jy versuim nie.

Dit gaan om die ewige behoud of ewige ondergang van jou kinders. Hierdie werk mag jy op niemand anders afskuif nie.

Die kerk en die skool kan help, maar die ouer bly voor die Here verantwoordelik.

Om jou kindjie te doop is ‘n groot voorreg. Jy mag dit ook nie uitstel ter wille van oupas en oumas en ‘n dooprok vir ma en die kleinding nie. Die Here gee aan jou en jou kindjie ‘n groot – baie groot – geskenk en jy moet gou maak om dit in ontvangs te neem. Dit is nie bloot ‘n seremonie nie. Dit is ‘n teken en seël – bevestiging – van die dure verbondsbelofte wat die kindjie regtens toekom.

Ja Here, ek beloof

En dan die (doop)belofte: “Beloof u as ouers om hierdie kind, as hy tot sy verstand gekom het, in hierdie leer na u vermoë te onderrig of te laat onderrig?”

“Ja, Here, ek beloof!”

En dan?

Dan doen gelowige ouers wat Moses aan ons voorhou. Hulle skerp dit hulle gedoopte kindjie in, vroeg en laat, tydig en ontydig. Leer hom maar vroeg om stil te sit by huisgodsdiens en in die kerk.

Daarin lê u eerbied vir God en sy Woord in die hartjie van u suigeling. En dit is die grondslag van die diens van die Here. Vir sulkes is die koninkryk van die hemele bedoel.

Indien uself onbekwaam of onkundig is, skaf vir u ‘n boek aan waarin een of ander begaafde skrywer vir kinders vertel. Dit kan tog net tot seën wees om van “hulp” gebruik te maak as uself nie daartoe in staat is nie. Sorg maar net om seker te maak dat die boek die Bybelse waarhede geen geweld aandoen nie.

Doen self u plig – praat oor God en uit sy Woord.

Doen dit as jy in jou huis sit en skakel die televisie gerus maar af.

Doen dit as jy op pad is.

Doen dit as jy gaan lê – lees uit die Bybel en bid saam met jou kinders.

Doen dit as jy opstaan – voordat jy en jou kinders die huis uit haas elkeen sy koers in.

En die Here, jou God, sal jou ryklik seën in jou kinders.

13. “. . . maar ek en my huis, ons sal die Here dien”

“. . . kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: of die gode wat julle vaders daar oorkant die Jordaan gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24: 15).

Ek en my huis

Hier het ons die belydenis van ‘n huisvader: “. . . ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Dit is Josua, die man wat Moses as leier van die volk Israel opgevolg het. Dit was sy voorreg om die volk die beloofde land binne te lei. Onder sy leiding het hulle die land verower – deur die hulp en wonderbare krag van die Here. Josua en sy volk was almal getuienis van hoe die Here kan help en hulle weet wat hulle aan Hom het.

Hulle het gesien hoe die mure van Jerigo intuimel, sonder dat hulleself ‘n hand opgetel of ‘n pyl afgeskiet het. Hulle was daarvan getuie dat die son stilstaan en die dag lank genoeg uitrek, sodat hulle hul vlugtende vyande voor donker geheel kon verslaan.

Josua het sy lewenstaak afgehandel. Die land is verower en elke stam het sy erfdeel ontvang.

Ongelukkig is daar nog oorblywende heidense reste binne die grense van Kanaän, wat uitgewis moes word. En dit, ja dit, hou groot gevare vir die volk in. Die volk self kon maklik verlei word tot afgodediens deur hulle te vermeng met die heidense volke.

Volksleier is vader van sy volk

Joshua voel hom nou geroepe om die volk daarteen te waarsku. Daartoe laat hy die hele volk saamkom in Sigem. En hy spreek hulle toe. Hy herinner hulle daaraan dat hulleself afstam uit ‘n voorgeslag wat die afgode gedien het. Abraham hulle vader kom uit ‘n heidense geslag.

Oorkant die Eufraat, by Ur van die Galdeërs, het hulle ander gode gedien. Maar ook tussen hulle in Kanaän woon nog heidense volke – ook die kan hulle verlei.

Hulle weet egter wat hulle aan die Here het.

Hy het hulle met ‘n kragtige hand die land binnegelei. Hulle kan op Hom altyd reken, solank hulle aan Hom getrou bly.

Daarom: “Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid; en verwyder die gode wat julle vaders gedien het … en dien die Here” (24:14).

Vaderlik vermaan die bejaarde leier sy volk.

Dringend roep hy hulle op om tog getrou aan die Here te wees.

Hy kon en moes dit doen, want hulle was die volk wat die Here uit Egipteland uitgelei en hulle in die beloofde land gebring het. Die verbondsvolk van die Here is ‘n bevoorregte volk.

Hulle het alle rede om God met groot liefde en dankbaarheid te dien. Hy het hulle verlos van die slawebande in Egipte en nie alleen dit nie, Hy het hulle verlos van hulle sondes en aan Hom gebind as sy eiendom.

Kies nou – moenie uitstel nie!

Om krag by sy vermaning te sit, stel hy hulle voor die keuse om nou te kies:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wat julle wil doen: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Kies nou, moenie uitstel nie!

Kies vir jouself en jou gesin wie julle wil dien!

Ons moet vir geen oomblik dink dat Josua meen hulle is vry om te kies soos hulle wil nie.

‘n Verbondsvolk het geen keuse nie.

Hulle moet kies om die Here te dien anders gaan hulle onder.

God laat Hom nie bespot nie. Sy toorn begin by sy heiligdom. Die volk en die gesin wat aan Hom behoort en wegbreek, word nie gespaar nie:

“As iemand die wet van Moses oortree, word hy nie begenadig nie . . . Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?” (Hebr. 10:28, 29).

Ek en my huis

Josua weet wat hy self wil en hy sluit sy huis daarby in.

Hy self, as hoof van sy gesin, aanvaar ook verantwoordelikheid vir sy hele gesin.

Ek en my huis, my vrou en kinders, ons sal die Here dien.

Dit moet ‘n verbondsvader kan sê: “Ek en my huis.”

Hy en sy huis is ‘n eenheid.

Hy en sy vrou is één deur die huweliksband. En dit beteken nie alleen liggaamlike vereniging nie, maar ook één voor die Here.

Hulle vrees Hom en ken Hom en dien Hom saam as ‘n eenheid – één van sin en één van hart.

En hulle kinders is ook kinders van die Here – so is en word hulle opgevoed.

In die hele huis is die Here nommer een.

Hy is die middelpunt en die krag en troos van die huis.

Nooit mag ‘n man sê: Ek sal die Here dien. Wat my vrou doen is haar eie persoonlike saak.

Ek sal haar in geen opsig hinder om te dien wie sy wil nie.

Of: Ek sal die Here dien. My kinders laat ek egter vry om self te kies. Hulle moet maar eers opgroei en uitmaak of hulle die Here wil dien of nie. Dit is nie my verantwoordelikheid nie.

God eis rekenskap

Nee, so skuif die hoof van ‘n verbondsgesin nie sy verantwoordelikheid af nie.

Hy stel self die voorbeeld en sien toe dat sy vrou en kinders die voorbeeld volg.

God sal van ons rekenskap eis vir ons hele gesin.

Maar gelukkig sal Hy ons ook in sy genade beloon in ons vrou en kinders, wanneer ons ons roeping uitleef.

Die seën van die Here is daar waar Hy gevrees word.

Op aarde is dit al die grootste vreugde wat ‘n mens kan bedink as pa en ma en kinders saam die Here dien.

In die huis en in die kerk hoort die hele gesin – altyd – saam voor God, rondom sy heilige Woord.

Gelukkig is die kerk en volk waar kerkbanke vol gesit word met vaders, moeders en kinders.

Kan dit wees dat ‘n verbondsvader, soms nogal ‘n lid van die kerkraad, alleen in sy gesinsmotor by die kerk aankom?

EK EN MY HUIS, ONS SAL DIE HERE DIEN!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: