“a Biblical paradox (teenstrydigheid) is nothing more than “a charley-horse between the ears that can be eliminated by rational massage.” – Gordon Clark
Neels Jackson beweer in sy onlangse artikel in die Beeld, Alles in die Woord van God, is nie die Woord van God nie.
Ek plaas die volledige artikel hier, en reageer tussen sy skrywe met my voorletters, slc en in blou:
Vrydag 09 Augustus 2013
“Toe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu voorverlede week opgemerk het nie alles in die Bybel is waar nie, was die ontsteltenis voorspelbaar. Neels Jackson ondersoek Tutu se stelling. ”
slc: Ekself was nie ontsteld nie, het so iets verwag van Tutu. Jy kan alleen deur die geloof alles vir waar aanvaar wat in die Heilige Skrif staan (HK Sondag 7).
“Sola scriptura, lui die Latynse leuse: Alleen die Bybel is die rigsnoer vir hul lewe.”
slc: Interessant dat Jackson sê, vir ‘hul’ lewe, ek neem dus aan hy is nie deel van die gereformeerde tradisie nie, watter tradisie is hy deel van, kan iemand my vertel ?
Om sola Scriptura en die gereformeerde Skrifbeskouing nog duideliker te stel, soos gereformeerdes dit bely (kursief en beklemtoning bygevoeg):
NGB artikel 2: “Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”
NGB artikel 3: “Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2Pe 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hyself het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.”
NGB artikel 4: “Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg …”
NGB artikel 5:”Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”
NGB artikel 7: “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deu 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9 [Ou Vert. Vers 10]). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10).”
HK, Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?
Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(Verwys asb terug na hierdie amptelike belydenis van die Gereformeerde Skrifbeskouing (GSB) as u hier onder verder lees)
“Dís vir gereformeerdes een van die pilare waarop hul tradisie rus. As dit dus lyk of iemand die gesag van die Bybel in gedrang bring, is dit te wagte dat veral Protestante sal protesteer.”
slc: Dit is die enigste pilaar, as God se Woord nie heeltemal waar is nie, as dit nie sy Woord is nie en ons kan nie weet watter is sy Woord of nie, as sy Woord feilbaar en nietig is soos ons mense, dus waarheid en leuen vermeng, weerspreek (sien NGB art.7), nie onfeilbaar en foutloos is nie – hoe ken ons God dan, hoe weet ons van Christus, hoe leer ons die Evangelie ken, hoe weet ons wat is reg en verkeerd, hoe weet ons van die skepping, sondeval, heilsgeskiedenis, die koms, geboorte, lewe, lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart en wederkoms van ons Here Jesus Christus ?
Soos die Psalmskrywer inderdaad sê, as die (Skrif)fondament omgegooi word, wat kan die regverdige doen ? (Ps.11:3)
Mag die Protestante aanhou protesteer.
“Tog is dit ironies dat van hierdie reaksies juis soms die Bybel en die Christendom se geloofwaardigheid meer skade as goed doen. Dit klink baie vroom om te sê jy glo alles in die Bybel net soos dit daar staan, maar in die proses het baie gelowiges al van hulself en die Bybel maklike teikens gemaak waarmee ateïste en ander kritici die gek skeer.”
slc: Die kerk van Christus, die gelowiges soek nie die goedkeuring van die wêreld, van die goddelose, van ateiste en godshaters nie, hulle verstande is verdorwe en in opstand teen God, hoe kan hul die standaard gemaak word van wat aanvaarbaar is of nie, wat die Woord van God is en wat nie (Rom.1:18-32; Ef.4:17-24). Ons moet God se goedkeuring soek (2 Tim.2:15), en die Skrif self is ons finale standaard (Hand.17:11). Die Skrif leer dat die gelowiges gespot sal word, soos Christus en sy Woord verag word:
1 Kor.1:18-31 18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; 19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; 24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. 26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. 30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. 31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.
Hulle gebruik voorbeelde uit die Bybel self om dit te doen en vra dan vrae soos:
- Het God die mens laaste geskape, soos Genesis 1 vertel, of eerste, soos Genesis 2 sê?
slc: Genesis 2 fokus op die gebeure in die tuin van Eden, dit is nie ‘n ‘tweede skeppingsverhaal’ wat die ekstreme liberale kritiese denke uitgedink het nie. Hoofstuk 1 gee ‘n baie duidelike kronologie (dit was aand en dit was more, die …. dag), maar Gen.2 nie, dit beskryf die gebeure in die tuin, die groei van alles daar en die mens se rol. Dit fokus in op dag 6 en verder. Maar, as mens vooraf besluit dit ‘sal’ mekaar weerspreek, gaan jy dit daar kry. As jy dit met ‘n oop gemoed lees, nie vasgevang in ekstreme denke van die aufklarung tydsgees nie, dan is daar harmonie.
- Het Noag een paar van elke soort dier in die ark ingeneem soos Genesis 6 vertel, of sewe pare van party soorte, soos Genesis 7 sê?
slc: As mens net so bietjie moeite gedoen het en begin dink het en nie val vir die ekstreme posisies van die ongelowige Skrifkritici nie, sal Gen.6:21-24 en Gen.7:2 saamgelees word, en dan sal mens sien daar staan dat van die rein diere sewe paar geneem is, en die onrein diere twee paar. Net so bietjie bybelse ‘rational massage’ is nodig, want ons geloof is ‘n ‘redelike godsdiens’ (Rom.12:1,2). Mag gelowiges weer die Woord so ernstig opneem as wat sekeres in die sigbare kerk die agnostici, ateiste, spotters van die wêreld so dodelik ernstig opneem.
- Het Josef en Maria met die baba Jesus uit Betlehem na Egipte gevlug soos Matteus vertel, of het hulle hom tempel toe geneem in Jerusalem en daarna teruggekeer Nasaret toe, soos Lukas vertel?
slc: Lees die Skrif self, sola Scriptura. Wanneer mens egter jou Skrifbeskouing en omgang met die Skrif laat bepaal deur Skrifkritici, ateiste, spotters en Kersfeeskaartjies … ja, kerskaartjies, dan sal jy nie ‘n oplossing soek om Skrifgedeeltes wat lyk of dit mekaar weerspreek, in volle harmonie te sien nie, dat albei dele Woord van God is, foutloos en onfeilbaar in alles wat dit spreek.
Ons lees in Matt.2:1 en 2:16 (konteks) die volgende:
“En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom … Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.”
Sommige vertalings vertaal ‘En toe’ (Grieks: tou de) as ‘Nadat’ (Engels: After, sien die NKJV, NIV, ESV). Die NAV het ‘Na Jesus se geboorte …’. Dus Jesus was al klaar gebore, die gebeure wat nou volg vind ‘in die dae’ van Herodes plaas, wat ‘n lang tydperk aandui.
Hoe lank is hierdie tydperk waarin die gebeure afspeel van Matt.2:1-16 ?
In vers 16 word daar vermeld dat Herodes alle seuntjies onder 2 jaar wou laat doodmaak, so die gebeure van Matteus 2:1-16 dek minstens 2 jaar, genoeg tyd vir Josef en Maria om Jerusalem toe te gaan (Luk.2:21-38), na Nasaret (Luk.2:39), weer na Bethlehem, ens, dus die gebeure van Luk.2: 21-38 by die tempel in Jerusalem kan heeltemal logies hierby inpas … as jou denke nie vasgevang is in die irrasionalisme van liberale Skrifkritiek propaganda en gekskeerdery nie.
Let wel, in Matt.2:9-11 lees ons van die wyse manne (dit was dus nie noodwendig drie wyse manne soos die kerskaartjie teologie sê nie, ons weet nie, lees die Teks alleen, sola Scriptura):
“… En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. … En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.”
Die ‘plek’ is nie die krip of die herberg van Lukas 2:12,16 se skaapwagters nie, dit staan nie daar nie, die kerskaartjie teologie lees dit daarin. Jesus kon hier in Matt.2:11 reeds ouer wees as 1 jaar (die woord vir kindjie in Grieks verwys nie net na ‘n baba nie maar ook ‘n klein kindjie ook, dus ‘n seuntjie). Daarom dat Herodes beveel in vers 16 dat ‘seuntjies’ (Grieks: pais, wat ook verwys na jong kind, seun of dogter) onder twee jaar doodgemaak word.
So hierdie voorbeeld van ‘n sogenaamde ‘weerspreking, fout’ of rede tot gekskeerdery is maklik om te beantwoord, al die weergawes en elke woord daarvan is Woord van God, en in harmonie. Maar soos die gesegde sê: as jy heeltyd vir niks mik nie, gaan jy dit elke keer raakskiet. As jy elke keer die Skrif krities wil lees, foute en weersprekings graag wil sien want jou Skrifkritici dogma vereis dit, dan gaan jy kry wat jy daar wil raaksien, ongeag die feit dat dit nie daar staan nie. Dit is soos die ateistiese evolusionis – hy glo absoluut dat God nie bestaan nie, ongeag al die ‘bewyse’ en getuienisse wat daar is in beide Skriftuur en natuur. Sy basiese geloofsvertekpunt en voorveronderstelling bepaal dan alles wat hy doen en hoe hy beide Skriftuur en natuur sal lees – skrifkrities, agterdogtig, ontkennend dat God bestaan en dat God se Woord sy onfeibare foutlose Woord is.
- Het twee vroue die Sondag ná die kruisiging na Jesus se graf gegaan soos Matteus vertel, was daar drie soos Markus sê, ’n hele groep soos Lukas vertel, of was Maria Magdalena alleen, soos Johannes vertel?
slc: Gaan lees die Teks, sola Scriptura. Matteus 28:1 vermeld van die twee Marias, in Markus 16:1,2 word die 2 Marias vermeld en ook Salome, in Lukas 23:55; 24:1,10 word vermeld van ‘n groep vroue, waaronder die 2 Marias en Johanna genoem word, en, in Joh.20:1 word vermeld van Maria Magdalena.
Nou is my vraag, waar is die weerspreking of rede tot gekskeerdery ? Elke evangelieskrywer fokus of op die hele groep vroue, of ‘n paar van hulle, of net een, en vertel die opstandingsgebeure vanuit daardie oogpunt. Nêrens in enige van die Tekste lees ek, ‘net’ Maria was daar, of ‘net die 2 Marias was daar’, nie, so waar is die probleem ? Verder kon dit ook ‘n samevoeging wees van verskillende fases/tydperke van die besoeke aan die graf, wat deur die skrywers verskillend beskryf word vr hul bepaalde doel (as ‘n verslaggewer ‘n VN politieke byeenkoms beskryf, en een vermeld net die Afrika afgevaardiges, en ‘n ander weer Europa s’n, is dit nie ‘n weerspreking nie). Die probleem is nie in die Teks nie, maar Skrifkritici wat te lui is om bietjie te dink en te besin en om op ‘n antwoord af te kom, om Skrif met Skrif te vergelyk, wat kwaadwilliglik met die Teks omgaan.
Watter weergawe, vra hulle dan, is God se Woord wat waar is?
slc: Sien weer NGB artikels 2 – 7, elke Woord, elke weergawe is waar, dit vul mekaar aan, beskryf dieselfde saak met verskillende doelwitte, beklemtonings en redes, maar dit is en bly alles Woord van God in volle harmonie.
Menslike én goddelike boek
“Sulke verskille en talle ander word maklik deur ongelowiges aangevoer as “bewyse” dat alles in die Bybel nie waar is nie. Daarom is die Bybel nie die Woord van God nie en is daar goeie rede om die Bybel, die Kerk en die Christelike geloof die rug toe te keer. Hoe moet gelowiges dan die Bybel en sulke kritiek daarop hanteer?”
slc: Deur met eerbied, ontsag en biddend deur die Heilige Gees na sola Scriptura te luister. Ja, daar is gedeeltes wat moeilik is om te verstaan (let wel ‘sommige’), soos Petrus self aandui (2 Petr.3:16), maar hy waarsku dan ook dat dit ‘ongeleerde en onvaste mense’ is wat sy Woord verdraai.
Sien ook Jesus se vermaning aan die Sadduseërs (die Skrifkritici van sy dag?):
Matt.22:29-32 29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. 30 Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. 31 En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: 32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.
In die omgang met die Woord, moet ons die Skrifte ken deur Skrif met Skrif te vergelyk, en dan lei ons daaruit ook die waarheid af, soos Christus in vers 32 doen. Verder kan ons die Skrifte nie ken en reg verstaan en toepas sonder die krag van God nie, die leiding van die Heilige Gees (Joh.16:13).
Die gereformeerde geloof bely nog altyd dat ons die Here ken en sy wil ken alleen deur sy Gees en Woord.
Een belangrike ding waarop teoloë dikwels wys, is om nie in ekstreme posisies vas te val nie. Openbare debatte, veral in die kuberruim, word deesdae dikwels oorheers deur mense met ekstreme standpunte wat uit hul teenoorstaande pole op mekaar skreeu.
slc: Stem saam, ons moet die ekstreme posisies van die Nuwe Hervormers, Bart Ehrmann’s, Bultminiaane, Barthiane, liberale Skrifkritici, ens. vermy. Dit wys Paulus ons ook in 1 Tim.6:3-5, 20,21:
3 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense. …. 1 Timothy 6:20-21 20 o Timótheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, 21 waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ‘n dwaalweg geraak het. Mag die genade met jou wees! Amen.
“In die proses gaan die redelike middelgrond heeltemal verlore. In hierdie geval is daar aan die een kant mense wat sê daar is niks goddeliks aan die Bybel nie. Dis bloot ’n versameling antieke menslike geskrifte. Aan die ander kant is daar diegene wat goddelike status aan elke jota en tittel in die Bybel wil toeken. Deur die eeue het die Kerk egter nie die vraag oor die menslikheid en oor die goddelikheid met ’n “of” hanteer nie. Dis ’n geval van “en”. Die Bybel is ’n menslike én goddelike boek.”
slc: Nie wie aan watter kant is, is bepalend nie, maar wat die Teks, sola Scriptura self openbaar. Die Skrif leer self dat die ‘hele’ Woord en ‘elke’ Woord sy Woord is, deur God uitgeadem is, en dat nie net ons ganse verlossing in Christus nie, maar ook al ons werke as gelowiges gebaseer is op hierdie hele Skrif wat deur God gegee is:
“2 Tim.3:14-17 14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif (Grieks: pasa Graphe) is deur God ingegee (uitge-asem, Grieks: theopneustos) en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. ”
“Die Bybel self gee goeie aanduidings van dié twee kante van die Bybel.”
slc: lees weer NGB artikel 3: “Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2Pe 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en H self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif. (2Pe 1:21; Psa 102:18(Ou Vert. Vers 19); Exo 17:14 (Deu 3); Exo 34:27; Deu 5:22; Exo 31:18)
Die Bybel ontken in 2 Pe.1:21 dat die Bybel die produk van mense is. Die Bybel is ook nié die produk van God én mense nie. Die Bybel is die produk van God alleen, deur die Heilige Gees wat mense in hulle volle mensheid gelei het deur die eeue om sy Woord aan mense te gee.
Die Bybel is God se Woord deur mense aan ons gegee, dank God wat die Woord aan mense toevertrou het (Rom.3:2).
Daarom bely die gelowige: die Bybel is die Woord van God, in sy geheel en in al sy dele.
Herman Bavinck stel die gereformeerde organiese inspirasieleer as volg:
“Onder die organiese inspirasie verstaan ons dat die Heilige Gees, nadat Hy die menslike bewussyn van die skrywers op allerhande maniere voorberei het deur geboorte, opvoeding, natuur-like gawes, nadenking, herinnering, ondersoek en lewensvorming, nou in, onder en by die spreke en op skrifstelling dié gedagtes, woorde, taal en styl laat opkom het, wat die goddelike gedagtes op die beste wyse vir mense van allerlei stand, rang en volk kon vertolk.”
“Een voorbeeld daarvan kry ’n mens in 1 Korintiërs 7 waar Paulus in vers 10 ’n opdrag gee wat hy sê van God kom, en twee verse later ’n opdrag wat hy pertinent sê nie van God nie, maar van hom af kom.”
slc: Dit is nie wat daar staan of wat dit beteken nie. In 1 Kor.7:10 sê Paulus dat Christus reeds oor die huwelik bevele gegee het (sien bv. Matt.5:32; 19:1-12), en in v.12 gee hy as die apostel Paulus, wat deur die Gees se inspirasie skryf (sien v.40, ook 14:37) bevele oor sake wat Christus nie direk aangespreek het nie.
So in 1 Kor 7:10 en 12 gaan dit nie oor ‘goddelike’ (Jesus) vs/of ‘menslike’ (Paulus) woorde nie, maar oor wat die Gees deur Jesus ge-openbaar het, en wat die Gees deur Paulus, ‘geroepe apostel’ van Christus (1:1) vir ons in sy Woord ge-openbaar het, albei in volle harmonie. In Matt.19 kry ons God se Woord direk deur sy Seun, in 1 Kor.7 deur Jesus se apostel, Paulus, albei deur die Gees, daarom Woord van God.
“Dat die Bybel dié twee kante het, bring mee dat ’n mens wat die Bybel wil uitlê deeglik rekening moet hou met menslike kante daarvan, soos die kultuuragtergrond waaruit die teks kom. Neem ’n gedeelte soos 1 Korintiërs 11 byvoorbeeld. Tot ’n geslag gelede nog het die kerke daaruit afgelei dat dit ’n goddelike opdrag is dat ’n vrou ’n hoed moet dra as sy kerk toe kom. Nou word daardie opdrag van Paulus teen sy kulturele en historiese agtergrond gesien. Nou dink die kerke nie meer dit gaan oor die dra van ’n hoed nie, maar oor sedelikheid wat in die destydse kultuur deur ’n hoofbedekking gesimboliseer is.”
slc: Wys uit die Teks dat die ‘hoofbedekking’ (let wel, daar staan nêrens in die Teks, sola Scriptura, dat dit ‘n spesifieke ‘hoed’ is nie) kultureel van aard is ? Daar is nog gelowiges en kerke wat wel glo dit is nog ‘n goddelike opdrag dat die hoofbedekking gedra moet word. Hoe hierdie teksgedeelte tot die konklusie lei dat daarom is al die woorde in die Woord nie die Woord van God nie, weet nugter alleen.
Al die woorde in die Woord van God is en bly die Woord van God, en selfs al doen ons nie meer sekere dinge nie, al is sekere dinge reeds vervul, glo ons nog dit is God se Woord. Selfs al is iemand oortuig dat die hoofbedekking nie meer vir vandag nie, bly die volle 1 Kor.11 nog Woord van God (nota: die rede waarom Skrifkritici ontslae moes raak van die hoofbedekking, is omdat hul vir die VIDA debat ontslae moes raak van 1 Kor.11:3 wat God se skeppingsordening van die verskillende roeping en take van man en vrou begrond in die ewige orde tussen God en Christus. Sien meer daaroor hier en hier spesifiek oor die hoofbedekking).
Sien ook wat die gereformeerde geloof bely in NGB artikel 25:
“Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.”
Daarmee saam moet ’n mens in gedagte hou dat die Kerk nog altyd gepraat het van die “Woord van God”, nie van die “woorde van God” nie.
slc: Ja, omdat die heilige, algemene Christelike kerk alles wat God geopenbaar het en vir ons opgeteken het, as waar en seker aanvaar, elke deel en die geheel (NGB art.2-7; sien ook HK Sondag 7).
Selektief raaklees en mislees
“Die siening dat elke woord in die Bybel direk van God af kom, berus op ’n misverstand. Ja, daar is direkte woorde van God in die Bybel, soos die uitspraak “Laat daar lig wees” in Genesis 1:3. Maar daar is ook baie ander woorde, soos die woorde van Dawid in Psalm 23: “Die Here is my herder”. Daar is die woorde van die woedende skare wat skree: “Kruisig hom!” Daar is selfs, soos met die versoeking van Jesus in die woestyn, woorde van die duiwel in die Bybel. Dit kan tog nie alles ook die woorde van God wees nie. Saam vertel al die woorde van die verskillende partye egter die verhaal van God en mense. Dit dra vir gelowiges God se boodskap oor. Dis daardie boodskap van God wat die Kerk deur die eeue na die Bybel laat verwys het as die Woord van God.”
slc: Eerstens, die Bybel kom direk van God, hetsy of Hyself dit geskryf het of deur mense, sien weer NGB artikel 3 en 5.
Koms ons kyk weer wat sê die Teks self, of slegs direkte woorde van God as God se Woord beskryf word, maar mense se woorde is nie in die Bybel ook God se woorde nie:
4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, 5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; 6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. – Matteus 19
Jesus haal Gen.2:5 aan, Moses die skrywer van Genesis, hier in v.5, en sê dan dat God dit gesê het.
Dus, Moses se woorde is God se woord.
Markus 7:5-13 5 Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande? 6 En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. 7 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. 8 Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. 9 En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. 10 Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. 11 Maar julle sê: As ‘n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is ‘n offergawe — 12 dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. 13 So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.
Christus sê ‘Moses het gesê’ (v.10), en dan volg die 5de gebod uit Ex.20:12 of Deut.5:16 (v.11) en die straf wat daarop sou volg: Ex.21:17. Die gebooie van God, spesifiek die vyfde gebod word beskryf as ‘woord van God’. Wat God se gebooie sê = wat God sê, is God se gebod = die woord van God. Wat Moses sê = wat God sê in die vyfde gebod (Ex.20:12).
Dus Moses se woord wat opgeteken is, is God se Woord. God se Woord is wat Moses opgeteken het.
Joh.10:34-36 34 Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? 35 As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, 36 sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik — omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?
Die vleesgeworde Woord haal uit die Psalms aan, Psalm 82:6, ‘n Psalm van Asaf, en beskryf daardie woorde as: ‘wet’, ‘woord van God’, ‘Skrif’
Dus, geen valse teenstelling tussen ‘wet’ en ‘woord van God’ en ‘Skrif’ nie, geen valse teenstelling van mensewoorde teenoor God se Woorde nie.
Joh.5:39-47 39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. 40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie. 41 Eer neem Ek van die mense nie aan nie. 42 Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie. 43 Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem. 44 Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie? 45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig — Moses op wie julle gehoop het. 46 Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. 47 En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?
Die vleesgeworde Woord, die Logos self stel ‘die Skrifte’, ‘Moses se skrywes’ en ‘my woorde’ op een vlak.
Om in Moses se geskrifte te glo is om in Christus te glo.
Wat Moses geskrywe het = die Skrifte, is die Woord van God.
Moses se ‘geskrifte’ en ‘my woorde’ = albei God se Woord wat bindend en gesaghebbend is, geen valse teenstelling nie.
Rom.9:17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.
Paulus haal Ex.9:16 aan.
God se Woorde, Moses se Woorde word albei as ‘die Skrif’ beskryf. God se Woord is die Skrif, die Skrif is God se Woord. Moses wat dit geskryf het, het God se Woord geskryf.
Rom.10:19 Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ‘n onverstandige volk.
Paulus haal die Here se eie woorde aan soos dit in Deut.32:21 staan, en beskryf dit dan as ‘Moses sê’. Dus God se Woord is Moses se Woord soos God dit aan Hom ge-openbaar het om op te skryf. Geen teenstelling tussen God se Woord en mensewoorde nie.
Rom.11:2-4 2 God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen Israel en sê: 3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! 4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.
Paulus haal hier 1 Kon.19:10,14 (v.3) en 1 Kon.19:18 (v.4) aan, en beskryf Elia se woorde as ‘die Skrif’ en God se eie woorde as ‘Godspraak’. Geen teenstellings nie, die Skrif is God se Woord direk of deur mense (Elia), soos Hy mense ‘gedrywe’ het deur die Heilige Gees (2 Petrus 1:19-21), sodat ons in die Kanon (NGB art.4) God se Woord het deur mense, in sy geheel en dele, waarteen niks ingebring kan word nie.
“Maar, sal mense vra, as daar dan soveel menslike elemente in die Bybel is, soveel aspekte en faktore wat in ag geneem moet word, hoe bepaal ’n mens dan wat is die Woord van God? Beland jy nie maar in ’n situasie waar elkeen kies wat hy wil glo nie? Sommige mense sê almal kies inderdaad maar wat hulle raaklees en mislees. Almal lees die Bybel op hul manier selektief.”
slc: Dit is presies waarheen die liberale Skrifkritici se ekstreme aufklarungs dogmas heen lei, totale relativisme, twyfel en misbruik van God se Woord. Ons kan daarom nie meer ken nie, elkeen kan dan maar die Bybel lees soos hul wil, en daarvan kies en verwerp soos hul wil …. soos die VIDA en homoseksuele teologie byvoorbeeld reeds doen. Paulus se woorde in 1 Kor.14 en 1 Tim.2 oor die vrou is maar net sy eie woorde, nie God se Woorde en bevele nie, so kom ons verwerp dit om by ons eie tydsgees en agendas aan te sluit.
Soos hierbo aangewys, die Skrif self maak nie daardie valse teenstelling tussen God se Woord en mensewoorde in die Bybel nie, elke woord in die Bybel is Woord van God, direk deur God gespreek of deur sy uitverkore instrumente (NGB art.3).
“Mense wat daarop aandring dat elke woord in die Bybel letterlik waar moet wees omdat dit direk van God af kom, lees byvoorbeeld al die teenstrydighede wat hul standpunt ondermyn, gerieflikheidshalwe mis.”
slc: Hierbo het ek verklarings gegee vir die sogenaamde ‘teenstrydighede’ in die Bybel, dit glad nie mis gelees of verbygegaan nie.
Ironies genoeg, al daardie sogenaamde teenstrydige aanvalle is niks nuuts nie, die Skrifkritici deur die eeue het met dit vorendag gekom, ou liberale propaganda. Gelowiges het daardie en baie ander aanvalle deur die eeue verantwoord, of dit Paulus is deur al sy briewe, Atanasius in die eerste eeue van die kerk, en dan ook veral na die Aufklarung dogma sy kop uitgesteek het in die 17de eeu en daarna.
Ek noem bv net twee bronne om te raadpleeg oor al die sogenaamde teenstrydighede in die Skrif:
– Die Bybel in die Weegskaal: Kritiek teen die Bybel ontleed, dr. Willie Marais.
– Encyclopedia of Bible Difficulties, Gleason L. Archer.
Daar is natuurlik ‘n magdom bronne om te raadpleeg op die Internet, laasgenoemde wat ‘n doodsteek is vir enige Skrifkritici geleerde wat dink hy kan die kerkvolk van die Here vandag nog mislei met sy valslik sogenaamde kennis (1 Tim.6:20).
Dit is daarom meer ‘n geval van Skrifkritici wat weier om redelike bybelse verklarings vir die mens se sogenaamde teenstrydighede wat in die Bybel ingelees word, te aanvaar. Dit kan dalk beteken dat hul hul eie onfeilbaarheid moet opgee, hul geloof in scientisme moet vaar. Vir die Skrifkritici is teenstrydighede in die Bybel ‘n absolute dogma wat hul moet handhaaf, ‘n ekstreme standpunt wat weier om Skrif met Skrif te vergelyk, om te erken met so bietjie breinoefening en gebed, daar wel antwoorde is en kan wees op al die irrasionalisme wat die ongelowiges uitdink, omdat hul nie die Outeur van die Woord se gesag erken en aanvaar nie. Dalk is die grootste krisis van die Skrifkritici, dat hul nie deur die Gees van die Waarheid gelei wil word nie (Joh.16:13) maar deur die aufklarungsgees van die 17/18de eeu ?
“Op ’n ernstiger noot word gesê dit gaan nie oor kies wat jy wil glo nie, maar oor verantwoordelik uitlê wat die teks beteken en gelowig daarin soek na God se boodskap.”
slc: Dit sal wonderlik wees die dag as die Skrifkritici dit gaan begin doen, maar dit gaan dalk te veel van hul vra, naamlik om Jes.66:2 ernstig op te neem, en in ‘n gesindheid van Psalm 119 die Here se Woord, en elke Woord daarin, te nader.
Liefdesgebod sentraal
“Verantwoordelik uitlê” beteken ’n klompie dinge.
Dit beteken byvoorbeeld dat ’n mens nie ’n teks op sigwaarde neem en dit regstreeks só op vandag toepas nie.
slc: Dit is waar, en die gereformeerde geloof en tradisie het dit nog nooit geleer nie. Sien NGB art.25.
“Nee. Eers moet ’n mens bepaal wat die boodskap van die oorspronklike skrywer aan die oorspronklike hoorders was. Wat het Paulus byvoorbeeld bedoel toe hy vir die gemeente in Korinte geskryf het ’n vrou moet haar hoof bedek? Eers as ’n mens dít verstaan, kan jy begin dink wat beteken daardie boodskap byna 20 eeue later vir moderne gelowiges in hul omstandighede. ”
slc: Ja, en die Teks moet die antwoord gee, deur Skrif met Skrif te vergelyk, nie om die Teks in die lig van die moderne feministiese beweging te lees nie. Die Teks, nie sosio-historiese kritiese studies nie, is onfeilbaar en die finale maatstaf om al ons vrae en verklarings te toets.
“Verantwoordelik lees beteken ook dat ’n mens nie klein stukkies van die Bybel in isolasie lees nie. Nee, ’n mens lees die groot geheel en verstaan die klein stukkies dan teen daardie agtergrond. Dit help onder meer om te sien watter kwessies in die Bybel van sentrale belang is, en watter dele eintlik maar randkwessies is. ”
slc: Ja, asb. Skrif met Skrif vergelyk, so moet jy Gen1 en 2 met mekaar vergelyk, nie teenoor mekaar stel nie, so moet jy die verskillende Evangelies saamlees, nie teenoor mekaar plaas nie. So moet jy die Teks lees in die lig van die Teks self, nie in die lig van die Skrifkritici se ekstreme rasionalisme of irrasionalisme nie.
“So dui die Nuwe Testament self op verskeie plekke aan dat die liefdesgebod van sentrale belang is. Daarom moet ’n mens seker maak dat elke interpretasie van die wet help om die boodskap van liefde oor te dra.”
slc: Die liefdesgebod soos bepaal deur die Teks self, die liefde wat die uitvoering van God se goeie wet is, nie die moderne menseregte wette en liberale tydsgees nie. En, die Liefde dra baiemaal ook ‘n sweep (Joh.2:15), of verwyder kandelare van gemeentes (Op.2,3), of tug (1 Kor.6:9-11). En liefde vir God beteken liefde vir God se Woord, elke Woord (sien Ps.119; Joh.14:15).
“As ’n mens die Bybel só verstaan, kan ’n gelowige vrede daarmee maak dat daar in die Bybel verskeie aantoonbare foute voorkom. Soms is dit blote teenstrydighede tussen verskillende weergawes van dieselfde verhaal. Soms is dit aantoonbare historiese foute, of sienings wat moderne mense weet wetenskaplik verkeerd is.”
slc: Die gereformeerde geloof het nog altyd erken dat daar in die vertalings en oorlewering van die tekste oorskryffoute kon wees, maar die foute en weersprekings is nie in God se Woord self nie. God het nie foute gemaak deur sy Woord en dit so ge-inspireer nie. Ek glo daar is ‘n nederiger weg om te volg, nl. Here, ek verstaan nie iets mooi in die Teks nie, dit is moeilik om bymekaar te bring. Maar ek weet u Ja is U Ja en U Nee is U Nee (2 Kor.1:19,20), dat U U nie weerspreek of soos ons sondaars foute maak nie, help my om U Woord reg te verstaan, en dat ek nederig sal bly deur nie aan u Woord foute en weersprekings toe te skryf nie. Laat ek geduldig wees en wag op U antwoorde. Laat my gebed en soeke wees Ps.119:18. “Open My oë, dat ek kan sien die wonders uit U wet”
“Hierdie kwessies is egter nie waaroor God se boodskap gaan nie. Gelowiges kan dus steeds op die Bybel vertrou as ’n boek wat God se boodskap van genade en redding en ’n omvattende besorgdheid en liefde vir mense op ’n betroubare manier oordra. Foute en al. Teen dié agtergrond kan ’n mens saam met Tutu sê nie alles in die Bybel is waar nie – sonder om die gesag van die Woord van God in gedrang te bring.”
slc: Ter opsomming meen ek wat Jackson in sy artikel hier verwoord, en saamgevat in sy laaste paragraaf, toon dat hy ‘n slagoffer en profeet is van die ekstreme Skrikritiek, wat voortbou of die valse dogmas van teenstellinge en weersprekings, vorm vs inhoud van die Skrif:
– heilshistories vs openbaringshistories
– skopus vs periferie
– bybelse vs sistematiese teologie
– boodskap vs woorde (veral op vertalingsterrein)
– onfeilbaar vs foutloos
– en organies vs verbale inspirasieleer.
Ekself glo aan die organiese inspirasieleer soos ons gereformeerde voorvaders nog altyd glo, maar dit sluit nie verbale (woordelikse) inspirasie uit nie, inteendeel, dit is wesentlik deel daarvan.
Hier is ‘n paar aanhalings oor die saak wat daarop wys dat die ‘gereformeerde Skrifbeskouing’ uitgaan van die organiese inspirasieleer wat die woordelikse inspirasieleer insluit of veronderstel.
Die gereformeerde Skrifbeskouing volg die Skrif na, en kan daarom nie saamstem met Tutu en Jackson se ekstreme Skrifkritiese aufklarungsteologie nie, ‘n kerskaartjie teologie wat nie gebaseer is op ‘n nederige buig voor Christus en sy Woord nie.
Hier is die aanhalings (beklemtonings bygevoeg):
1. Prof. S. Du Toit, oud- OT professor van die GKSA (Kosbare Goud, 1944, bl.34,35):
“Die suiwere opvatting is die wat gewoonlik die organiese genoem word. Hiermee word bedoel dat die Heilige Gees die bybelskrywers neem soos hulle is, met hul karakter en temperament, hul gawes en talente, hul woordkeuse, styl en taal, terwyl tewens wat hulle neerskrywe nie hul eie woord is nie, maar Woord van God. Die bonatuurlike en natuurlike faktore word dus verbind in heerlike harmonie. …
Die omvang van die inspirasie:
Reeds by die aanvang moet ons die dinamiese en dualistiese inspirasieteorieë verwerp. Die inspirasie is nie beperk tot die skrywers alleen nie, maar strek hom ook uit oor die geskrewene en wel oor alles wat geskryf is, ook tot geskiedkundige, tydrekenkundige e.a. gegewens – ja, selfs tot die enkele woorde toe. Ons spreek dus van volle of volledige inspirasie. Bewyse hiervoor kan ons uit die Skrif self put. …
In die Skrif is afdoende bewyse dat die inspirasie selfs betrekking het op woorde. Dikwels kom die uitdrukking “Die Here het gespreek”, en dit is tog duidelik dat die Here tog nie sonder woorde kon spreek nie. Hy het dan ook sy woorde in die mond van die profeet Jeremia gelê (Jer.1:9). Die apostel Paulus het gespreek met woorde wat die Heilige Gees leer en nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie (1 Kor.2:13). In sekere gevalle word ‘n hele argumentasie gebaseer op ‘n enkele woord. (Matt.22:43-45; Joh.10:35; Gal.3:16). As ‘n ander woord of selfs ‘n ander vorm van die woord in die teks gestaan het, is die hele bewysvoering sonder sin.
Hiermee word nog nie beweer dat elke woord en elke letter gelyke betekenis het nie. Alles het sy sin en betekenis, maar dan in die verband waarin dit voorkom. Alles is nie ewe naby die middelpunt nie. In die mensllke liggaam is niks toevallig nie, maar hoof en hart neem tog ‘n baie belangriker plek in as hand en voet, alhoewel almal dieselfde lewe deelagtig is. ‘n Geslagsregister of ‘n opsomming van die helde van Dawid het nie dieselfde betekenis as ‘n psalm nie, maar almal is ewe onmisbaar in die organisme van die Skrif.”
2. Dr. JG Feenstra, in sy bekende gereformeerde boek, Leer en Lewe (waar hy ook vir Bavinck aanhaal), 1972, bl.16,17:
“Die organiese inspirasie. Hierdie naam is gekies in teenstelling met die meganiese om aan te dui dat die Heilige Gees die skrywers nie as masjiene nie, maar as lewende organe gebruik het. … Die egte gereformeerde opvatting laat vir ons juis sien dat die Heilige Skrif in alles volkome betroubaar is, en dat die skrywers ook in hul woorde en gedagtes geheel en al van die Heilige Gees afhanklik was en gebly het sodat die Bybel die Woord van God is. …
Prof. Dr. H. Bavinck het in sy Dogmatiek ‘n juiste definisie van die organiese inspirasie gegee as hy sê: ‘Onder die organiese inspirasie verstaan ons dat die Heilige Gees, nadat Hy die menslike bewussyn van die skrywers op allerhande maniere voorberei het deur geboorte, opvoeding, natuurlike gawes, nadenking, herinnering, ondersoek en Iewensorming, nou in, onder en by die spreke en op skrifstelling die gedagtes, woorde, taal en styl laat opkom het, wat die goddelike gedagtes op die beste wyse vir mense van allerlei stand, rang en volk kon vertolk.’
So verstaan ons dat God self die Spreker is in die hele Skrif. Die Bybel is Gods Woord en die Woord van die Here bly tot in ewigheid. Die openbaringsorgane is, sowel wanneer hulle spreek as wanneer hulle skryf, gedrywe deur die Heilige Gees. Daarom maak ons onderskeid tussen die woord-inspirasie (die heilige mense, deur die Heilige Gees gedrywe, het van God gespreek) en die skrif-inspirasie (die hele Skrif is deur God ingegee) ( 2 Tim. 3:16).
3. Dr. FW Buytendach, oud predikant van die GKSA (Aspekte van die vorm-inhoud problematiek m.b.t. die organiese Skrifinspirasie in die Nuwere gereformeerde teologie in Nederland. 1972. T. Bolland, Nederland. Boekbespreking deur prof. SJ van der Walt (Pretoria), In die Skriflig, Jg.7, nr.27, September 1973: 56-62.):
“Alhoewel Hy sy organe (nie megane nie) hierin die nodige speelruimte gelaat het ter beoefening van hul onderskeie Godgegewe gawes, het Hy hulle daarin foutloos beheers – want: ‘deur die Heilige Gees gedrewe’ (hupò Pneumatos Hagiou pherómenoi) ‘het die heilige mense van God gespreek’ (2 Petr.1:21). In die Skrif as Verbum Dei klink die vox Dei dus suiwer – in en deur die vox humana – tot ons deur. Daarom is die Skrif die eksklusief-outentieke gefikseerde Godsopenbaring; is dit as geheel en tot in alle onderdele daarvan toe – in organies-verbale Getheópneusteerde sin – die absoluut-outoritatiewe, betroubare, onfeilbare en foutlose Verbum Dei – dit wil sê na vorm én inhoud; formeel én materieel; histories én/óf normatief.”
Dus, volgens die gereformeerde teoloë Bavinck, Feenstra, Du Toit en Buytendach, in navolging van ander gereformeerde teoloë en ons gereformeerde belydenis, gaan die gereformeerde Skrifbeskouing uit van die:
– onfeilbare én foutlose [dr. Johan Frame merk op: indien mense die term ‘onfeilbaar’ bo ‘foutloosheid’ kies, is ironies genoeg, onfeilbaarheid ‘n baie sterker term as ‘foutloosheid’, want laasgenoemde sê ‘n bepaalde geskrif het nie ‘n fout in nie, wat eintlik ook ‘n menslike geskrif/sin kan wees, terwyl onfeilbaarheid beteken, a) ‘n bepaalde geskrif kan nie foute in hê of verkeerd wees nie, dit is ‘n onmoontlikheid. b) foutloosheid word daarom duidelik onderskei van onfeilbaarheid, maar kan nie daarvan geskei word nie, wel onderskei word.],
– vorm én inhoud,
– normatief én historiese
– geheel én sy dele, en
dus ‘n organies-verbale inspirasieleer uit.
Vir meer detail: Bybelse foutloosheid
Sien ook: Does the Bible contain Paradox?
Baie dankie vir ‘n logiese en duidelike uitleg.
So maklik om die Woord aan te pas om aan jou eie behoeftes te voldoen.
Sterkte met jou werk, en doet so voort.
My bede elke dag is vir geloofsvertroue, geloofsdeursettingsvermoe en om getrou te bly aan Sy wil.
U broeder in Christus
Jan Coetzee
“Interessant dat Jackson sê, vir ‘hul’ lewe, ek neem dus aan hy is nie deel van die gereformeerde tradisie nie, watter tradisie is hy deel van, kan iemand my vertel ?”
Hy is van die Moderne Heiden Tradisie.