Lees: 2 Kronieke 15,16
Teks 2 Kron. 16:9: die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is …
Tema: vertrou op die HERE alleen
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Geliefdes in die Here Jesus die Christus,
Dis tog so jammer van koning Asa.
Hy het goed begin,
maar sleg geëindig …
Sterk van buite,
maar eintlik swak van binne …
Soos so baie van ons …
Ons is miskien helde op die slagveld, maar
swak in die binnekamer …
swak in die gebedstryd …
Ons salueer die vlag as dit gehys word.
Ons staan regop vir die geloofbelydenis …
Ons staan miskien met die hand op die hart vir die geloofsbelydenis …
maar daardie hand verberg ‘n verdeelde hart.
Vir ons almal sê die HERE weer vandag: …
sy oë deurloop die hele aarde
om die onverdeelde hart te soek …
Daardie hart sal Hy kragtig steun …
Wie sou nou kon sê dat koning Asa dubbelhartig was?
Wie sou nou kon sê,
dat Asa iets anders kon doen en dink en sê
as wat goed en reg in die oë van die HERE was?
Dis mos wat ons aan die begin gelees het …
En Asa het homself en die volk geheilig,
soos hy moes en soos u en ek ook moet!
Die vreemde altare verwyder,
die hoogtes verwyder,
die sonpilare verwyder,
die heilige boomstamme omkap …
Reformasie … terug na HERE …
terug na sy Woord!
Bou weer die stede op!
Herstel die altaar!
Bou weer die kerk op …
Het ons nie sulke manne nodig in ons tyd nie, Geliefdes?
En as die vyand kom, as die Kusiete kom,
as hulle in hulle hordes soos Dingaan se impi’s aangestorm kom,
dan roep Asa sy God aan:
HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie;
help ons, HERE onse God,
want op U steun ons,
en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom;
HERE, U is onse God;
laat geen sterfling naas U magtig wees nie.
En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan,
en die Kusiete het gevlug.
Nee, Asa was nie ‘n man vir ‘n binne-gerigte godsdiens nie.
‘n Godsdiens wat maar net die handjies vou met ‘n heimlike hoop
dat die HERE gou sal kom met ‘n wegraping nie,
met stil hoop op ‘n spoedige wederkoms nie …
Asa was ‘n man van durf en daad …
Hy skep moed op die woorde van die profesie
en dan doen hy iets …
Hy beweeg ‘n hele volk tot reformasie
Hy beweeg ‘n hele volk tot gehoorsaamheid …
En hulle het in Jerusalem byeengekom
En hulle het die verbond aangegaan
om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart te soek
en met hul hele siel te soek.
En elkeen wat die HERE, die God van Israel, nie soek nie,
sou gedood word,
klein en groot, manne sowel as vroue.
Ja, Asa ontsien nie eens sy eie familie nie.
Maäga, die koninginmoeder word afgesit,
omdat sy ‘n afgryslike voorwerp vir die Asjerja gemaak het …
Die stuk afgodery word omgekap,
stukkend gestamp
verbrand …
Dis hoe dit hoort …
Wie vader of moeder bo die HERE liefhet,
is Hom nie waardig nie;
en wie seun of dogter bo Hom liefhet,
is Hom nie waardig nie (Mat 10:37).
Asa se hart was volkome al sy dae …
totdat … totdat Baésa teen Juda opgetrek het;
totdat die broers in Noordelike ryk teen Asa opgetrek het
om die stad Rama te bou,
om sodoende Juda se handelroetes af te sny …
om ‘n wurggreep op Juda toe te pas …
Niemand van Asa kon uit- of ingaan nie.
Toe skielik voel die noutes te beklemmend …
Toe skielik begin ‘n ysterband om sy hart vas te klem …
Toe openbaar Asa ‘n onvolkome hart …
Waar daar voorheen ‘n verbond was tussen hom en die HERE, sy God,
was daar nou skielik ‘n verbond tussen Asa en Benhadad, die heiden …
Benhadad moet hom help om Israel van agter aan te val,
sodat Baésa sy bouwerk aan Rama sal staak;
sodat Asa vry kan raak van die wurggreep …
In ruil daarvoor kry die Aramese koning die skatte …
die skatte uit die koning se paleis …
die skatte uit die HERE se huis …
In ruil daarvoor sal Asa die HERE se huis plunder
en die opbrengs aan Benhadad gee …
Die plan werk …
Op die oog af werk die plan …
Asa en Juda kry selfs al die boumateriaal in die hande
en kan dit gebruik om twee stede in Juda op te bou …
Op die oog af werk die plan,
tot op die dag dat die siener Hanáni daar opdaag …
met slegte nuus …
Dit sal juis … juis by die Arameërs wees waar Juda se probleme in die toekoms sal lê …
Omdat u op die koning van Aram gesteun het
en nie op die HERE u God gesteun het nie,
daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.
In die woorde van die profeet kom die onderliggende probleem na vore:
Dis nie die kwessie van die tempel,
wat ter wille van ‘n omkoopgeskenk geplunder was nie …
Hoe skokkend dit ookal mag wees …
Oor die gestroopte tempel is die Siener stil …
Dis iets anders …
Dit gaan oor die feit dat Asa sy steun op ‘n ander plek gesoek het as die HERE …
En dit kan so maklik gebeur.
Die HERE het my al ses keer gehelp …
Een keer het Hy my uit Egipte verlos,
nog ‘n keer van die Kusiete.
Die HERE het my rus verskaf rondom …
Hy het die oorlog van my afgeweer …
Ses keer gehelp …
Hoekom sal Hy nie die sewende keer ook help nie?
Maar die versinsels van die mense se hart is altyd boos,
Dit leer ons al in die eerste boek van die Bybel …
Wanneer Asa niemand anders as die HERE het nie,
wanneer die Kusiete in hulle duisendtalle op Juda afstorm,
wanneer die situasie heeltemal hopeloos is,
dan bid Asa:
HERE, niemand kan help soos U nie!
En die HERE help hom.
Maar wanneer Asa sterk genoeg voel om sy eie planne te maak,
dan vergeet hy egter om die HERE met sy hele hart te soek …
Dan is die hart nie so volkome as wat dit moet wees nie …
Dan is daar iemand wat soos die HERE kan help…
Dan is daar ‘n Benhadad …
Die siener Hanani se woorde was nie baie goed ontvang nie …
Die verdeelde hart van Koning Asa wil nie getugtig word nie
en daarom kom hy in opstand …
En daarom het hy hom vererg …
Daarom was hy woedend op Hanani …
Daarom sit hy die profeet in die gevangenis …
In die oorspronklike taal dui dit daarop
dat die profeet se voete in ‘n blok vasgeknel was …
Hierdie siener sal nie meer kan rondloop
om sy stories te versprei nie.
Dan ook te verstane dat ons verder lees:
in die nege en dertigste jaar van sy regering het koning Asa self gely aan sy voete.
Die HERE het Asa op sy beurt
in ‘n permanente voet-beklemming geplaas …
sy siekte was baie ernstig;
maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie.
Aan die einde van die Bybel, in die boek Openbaring, is daar ‘n soortgelyke geval
in die een brief wat die Here Jesus aan die gemeente van Efese rig.
Dit was ‘n gemeente
wat nes koning Asa reformasie voorgestaan het,
wat nes koning Asa terug na die Woord wou gaan …
Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid,
sê die Here vir die Efesiërs,
en dat jy slegte mense nie kan verdra nie;
en dat jy dié op die proef gestel het die wat sê
dat hulle apostels is en dit nie is nie,
en hulle leuenaars bevind het;
en dat jy verdra het en lydsaamheid besit,
en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.
Maar … maar wat het die Here Jesus teen Efese?
Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het (Op 2:1 ev.).
Net soos by koning Asa het hulle verdeelde hart hulle in die steek gelaat …
U sien, Broers en Susters,
ons mag miskien die stryd op die slagveld van die lewe wen,
maar ons het die eintlike stryd …
die stryd in die binnekamer …
Dis die stryd wat ons moet wen …
Dis daarom dat die Spreukedigter ook sê:
Bewaak jou hart meer as alles.
Bewaak jou hart meer as alles
wat bewaar moet word,
want daaruit is die oorspronge van die lewe (Spr. 4:23).
Die dubbelhartige man,
so skryf die apostel Jakobus,
die dubbelhartige man is onbestendig in al sy weë.
Ek moet in die geloof bid,
sonder om te twyfel;
want hy wat twyfel,
is soos ‘n golf van die see
wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
want dié mens moenie dink
dat hy iets van die Here sal ontvang nie … (Jak 1:6 ev.).
En die HERE is gereed om te gee!
Dis die pragtige uit ons Skrifgedeelte.
Dis die wonderlike bemoediging wat ons vandag kry.
En die HERE is gereed om te help:
sy oë deurloop die hele aarde
om diegene kragtig te steun
wie se hart onverdeeld op Hom gerig is ...
Die hele aarde … nie net Asa nie …
omdat Asa die kindskind van Dawid was nie;
nie net Juda nie;
die hele aarde …
Soos ‘n rekenaarskandeerder ‘n beeld aftas …
metodies … doelgerig …
so tas die HERE se oë die aarde af …
elke kolletjie lig en donker word waargeneem …
om daardie onverdeelde hart te soek …
om daardie onverdeelde hart te steun …
kragtig te ondersteun …
Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE,
en Hy weeg al sy gange.
So skryf die Spreukedigter elders (Spr. 5:21).
Ja, Asa. jy was reg toe jy gesê het:
geen sterfling kan naas die HERE magtig wees nie!
Ook nie die duiwel nie.
Hy loop hier en hy loop daar soos ‘n brullende leeu
op soek wie hy kan verslind …
vat hier en los daar …
Maar die HERE se oë deurloop die hele aarde …
heen en weer …
sonder ophou …
Hy mis niks nie …
En toe die HERE hier op aarde was,
hierdie seun van Dawid,
hierdie agter-agter-kleinseun van Asa,
toe was dit ook so …
Toe die Seun van God die Palestina se paaie deurloop het,
het sy oë steeds die mensdom deurloop
op soek na daardie onverdeelde hart …
En wanneer die HERE Jesus die groot menigte sien in Markus 6,
dan kyk Hy reg binne in hulle harte in
en Hy het hulle innig jammer gekry,
omdat hulle soos skape sonder ‘n herder was.
Maar toe die ryk jong man Hom vra
wat hy moes doen om die ewige lewe te beërwe,
toe het die Here Jesus hom aangekyk
(dis wat daar staan),
toe het die Here se oë hom skandeer
en toe sê Hy vir hom:
Verkoop alles wat jy het.
Volg my!
Dis toe dat hierdie jong man sy verdeelde hart moes openbaar,
want oor die opdrag het hy treurig geword
en hy het bedoef weggegaan (Mar 10:17 ev.).
Maar toe Jesus weer vir Mattheus die tollenaar by sy tolhuis sien sit,
toe kyk Hy reg in daardie man se hart in
en Hy sê vir hom:
Volg My.
En hy het opgestaan en Hom gevolg (Mat 9:9).
En selfs daar waar die HERE Jesus hulle nie met die menslike oog kon sien nie,
selfs daar waar die vrou met bloedvloeiing van agter gekom het,
selfs daar waar die onverdeelde hart net die soom van sy kleed aangeraak het,
selfs daar het die HERE haar gesien
en die vrou genees (Mat 9:21).
En sy eie hart, die hart van die Here Jesus,
sy eie hart was self onverdeeld …
onverdeeld gerig op sy hemelse Vader,
sodat sy hemelse Vader se koninkryk kon kom
en sy wil sal geskied …
In sy uur van nood het Hy sy hart onverdeeld gerig op sy hemelse Vader:
Verlos ons van die bose!
Verlos my, hemelse Vader van hierdie hartsbeklemming!
Tot diep in die nag voor sy kruisiging
het Hy Hom van sy dissipels afgesonder
en neergekniel .. en gebid ….en gesê:
Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem!
Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
En … en … wat gebeur toe?
En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn
en die engel uit die hemel Hom versterk (Luk 22:41 ev.).
Want sien, Geliefdes,
die HERE—sy oë deurloop die hele aarde
om diegene kragtig te steun
wie se hart onverdeeld op Hom gerig is …
Net een keer het die hemelse Vader dit nie gedoen nie
en dit was die volgende dag op Gólgota …
die dag toe hele aarde pikstikdonker geword het …
die dag toe God die Almagtige sy vriendelike aangesig weggedraai het …
die dag toe die lewende God anderkant toe gekyk het …
die dag toe sy Seun uitgeroep het:
Eli, Eli, lama sabagtáni
My God, my God, waarom het u my verlaat!
Ja, ter wille van Dawid en Asa moes dit gebeur!
Ter wille van U en ek moes dit gebeur,
net daardie een keer moes dit gebeur ….
Sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie …
sodat ons kan weet:
Hy sal ons nooit in die steek laat nie.
Hy sal ons kragtig steun …
Daarom mag ons Hom uit die oog verloor nie,
want Hy hou ons altyd in die oog …
Daarom mag ons Hom nie met ‘n verdeelde hart dien nie,
want Hy het ons met ‘n onverdeelde hart lief.
Amen.
Leave a Reply