Posted by: proregno | August 26, 2013

HGS reeks: 14. Simson deur sy beminde verraai 15. Rut, die deugsame vrou

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

Hoofstuk 14: Simson deur sy beminde verraai

“En hy het sy hele hart aan haar bekendgemaak en aan haar gesê: Daar het nooit ‘n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is ‘n nasireër van God van my moeder se skoot af. As ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense” (Rigt.16:17).

‘n Man met ‘n geheim

Simson, die held van die kindertjies!

Hy het eiehandig gemaai onder die aartsvyande van sy volk – die Filistyne.

En, ons lees dikwels daaroor heen: “. . . hy het Israel gerig in die dae van die Filistyne, twintig jaar lank”(Rigt. 15:20).

Dit beteken dat hy oor sy volk regeer en hulle in die stryd teen die Filistyne gelei het.

Hy was liggaamlik sterk en die vyande van sy volk het hom gevrees.

Waarom was hy ‘n held?

Omdat hy ‘n geheim gehad het en die geheim was God.

Hy was ‘n nasireër van God van sy geboorte af – daarom het die Gees van die Here hom die bomenslike krag gegee.

‘n Nasireër is iemand uit Israel wat normaalweg ‘n bepaalde gelofte gedoen het. So ‘n persoon moes hom van allerlei uitwendige dinge onthou. Hy sou hom met niks verontreinig nie: nie aan ‘n lyk raak nie, sy hare laat groei en geen sterk drank drink nie, ens.

Leef as heilige

Hierdie uitwendige dinge wou eintlik iets anders tot uitdrukking bring. Dit moes versinnebeeld dat die man hom, meesal tydelik, geheel aan die Here toewy. Hy moes waarlik leef as ‘n “geheiligde” van God wat geheel in sy diens opgaan. Niks mog hom daarin verhinder nie. Dit was Simson van sy geboorte af.

Eintlik is elke Christen ‘n “nasireër van God”.

Die Christen is immers gesalf met die Heilige Gees sodat hy God voortdurend met mond en hart kan bely.

Die salwing bring ook mee dat hy hom geheel aan Christus kan wy.

En die Heilige Gees stel hom ook in staat om moedig teen die duiwel, die wêreld en die sonde in hom te stry, wetende dat hy ‘n oorwinnaar is, omdat Christus klaar vir hom oorwin het.

So is God ook elke Christen se geheim – die geheim van sy krag en vrymoedigheid en sy oorwinnaars-verskyning in hierdie lewe.

Maak ‘n grap van nasireërskap

Simson het egter met sy geheim gespeel.

Hy het met God gespeel – en dit was sy ondergang.

En die duiwel het Simson se swak plek uitgebuit.

Sy swakheid was vroue.

En daarbenewens het hy ook nie ‘n vrou gesoek wat as hulp by hom, as nasireër van God, sou pas nie. Nee, sy oë was maar van die begin af gerig op die aangrensende land van die Filistyne. Hulle was nie alleen die aartsvyande van Israel nie, maar bowendien heidene.

Ag, sy pa en ma het hom aan die begin gewaarsku: “Is daar onder die dogters van jou broers en onder my hele volk nie ‘n vrou, dat jy heengaan om ‘n vrou onder die Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie?” (Rigt. 14:3).

Maar Simson was sterk en hy was koppig en hy het hom aan die Filistynse meisie verbind.

Dit loop uiteindelik op ‘n hele fiasko uit, sodat die Filistyne self Simson se vrou verbrand, omdat hy hulle so geweldig verniel het (Rigt. 15:6). Of hy intussen met iemand anders getroud was, word nie aan ons vertel nie. Hy gaan kuier egter later selfs in Gasa by ‘n vrou wat haarself aan mans verkoop het.

Delila verraai hom.

Toe kry hy ‘n Filistynse vrou in die dal Sorek lief. Sy was die Delila, wat selfs as ‘n spreekwoord gebruik word, vir die verleidelike vrou wat haar minnaar verraai.

Hierdie Delila laat haar omkoop deur die Filistynse vorste om uit te vind waarin Simson se groot krag geleë was.

En toe begin sy met Simson speel en hy begin speel met sy geheim. Dit beteken dat hy met God begin speel het.

Ag, as Simson ‘n gelowige vrou gehad het, een wat as hulp by hom sou pas, dan kon hy gerus sy geheim aan haar bekendmaak. Sy sou hom daarvoor respekteer en meer liefhê en hom juis bystaan in sy stryd om sy nasireërskap uit te leef.

Maar die lieflike en verleidelike Delila was nie sy soort nie. Sy het geen respek vir God nie en ook nie vir die man wat in heilige verbondenheid met God moet lewe nie.

Daarom is sy te vinde vir die omkoopgeld en begin sy om hom te treiter met die versoek om tog die geheim van sy krag aan haar bekend te maak.

Speletjie met sy geheim.

En Simson geniet hierdie spel met sy vyande. Een na die ander leuentjie en kragtoertjie vind plaas in die kamer van Delila. Hy word met sewe toue vasgebind en dan roep sy: “Die Filistyne op jou, Simson!”

Maar Simson breek die toue soos garingdrade.

So gaan dit maar aan – die speletjie met sy geheim.

En eindelik weet sy dit – daarvoor was sy vrou genoeg.

Watter man is uiteindelik bestand teen die liste van ‘n vrou as sy listig wil wees: “En hy het sy hele hart aan haar bekendgemaak . . . ek is ‘n nasireër van God as ek geskeer word sou my krag van my wyk en ek swak word soos al die mense.”

Delila weet dat dit eindelik die waarheid is.

Sy maak hom aan die slaap op haar skoot en sny sy hare af.

Daarop roep sy die Filistyne – en Simson is ‘n magtelose gevangene.

Sy oë word uitgesteek en as blinde gevangene slyt hy sy dae in die tronk, waar hy vir die Filistyne ‘n swaar meulsteen moet draai.

Eindelik sterf hy ‘n smadelike dood.

Die sterk “swak” man.

So staan Simson bekend in die geskiedenis as die sterk “swak” man.

Hy was onoorwinlik sterk, wanneer die Here met hom is.

Die Gees van die Here gee aan hom bomenslike krag.

Toe hy egter die geheim weggee aan die verleidelike vrou, wyk die Gees van die Here van hom. Sy krag was nie in sy hare nie, maar in sy Here. Sy nasireërskap was daarvan die uitwendige teken of simbool en toe dit weg is, wyk die Here ook.

So gaan dit ook met die Christen-jongman en die “Filistynse” meisie. Of dit kan ook andersom wees. Die man kan die meisie verlei.

Jy kan jou Christenskap, jou geheim, prysgee en die diepte instort deur verkeerde verbintenisse met verkeerde vriendinne of vriende.

Wees heilig want God is heilig.

Hou liggaam en siel rein deur jou nie te verbind met ontugtiges en ongelowiges nie.

Onthou die geheim van elke Christen, man en vrou, is dat die Heilige Gees in jou woon en jou liggaam sy tempel is.

Moenie wat heilig is voor die honde gooi nie.  

Hoofstuk 15. Rut, die deugsame vrou

“… die hele stadspoort van my volk weet dat jy ‘n deugsame vrou is” (Rut. 3:10).

U God, is my God.

Sy is bekend as Rut, die Moabitiese.

Sy kom uit die heindense volk Moab.

Haar eerste man was Maglon, die seun van Eliméleg en Naomi, wat saam met sy ouers en broer Giljon, van Bethlehem af na Moab getrek het toe daar hongersnood in Kanaän was.

Eindelik het Naomi en haar twee skoondogters, Rut en Orpa, egter alleen as weduwees agtergebly. Al drie die mans het gesterf.

Naomi besluit om terug te keer na Bethlehem, en Rut gaan saam met haar. Orpa het omgedraai op aandrang van Naomi, maar Rut het gesê:

“. . . waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God” (Rut. 1:16).

‘n Mooi belydenis van trou en liefde, maar bo alles van geloof. Sy het nie alleen vir Naomi liefgekry nie, maar sy het ook die ware God leer ken en liefgekry. Daarom was sy nie meer tuis in Moab tussen die heidene nie. Nou kon Naomi haar nie meer terugstuur nie.

Rut tel are op.

So kom die twee weduwees in Bethlehem aan.

Naomi is bitter, en noem haarself Mara – “Bitterheid”.

Die soet druppel in haar bitterheid was die skoondogter Rut, die Moabitiese. In hulle armoede bied sy aan om agter die oesters are te gaan optel om iets te ete te kry. En so kom sy op die oesland van Boas te lande.

Toe Boas ‘n draai by die land kom maak, merk hy haar op en verneem by die garssnyers wie sy is. Hy hoor toe dat sy die Moabitiese skoondogter van Naomi is en ook dat sy vlytig is en gedurig besig bly om are in te samel. Boas knoop vriendelik ‘n praatjie met haar aan en versoek haar om op sy land te bly en haar by sy diensmeisies te voeg. Hy stel haar selfs gerus dat niemand haar sal molesteer nie.

Dankbaar vra Rut hoe dit dan is dat hy in haar, ‘n vreemdeling, belangstel. Dan vertel hy dat hy alles van haar af weet en hoe goed sy vir haar skoonmoeder is.

Hy is ‘n losser.

In opdrag van die snyers sorg Boas dat Rut die aand met baie gars tuiskom. Toe Naomi hoor dat sy op Boas se land was, sê sy: “Die man is ons naasbestaande, hy is een van ons lossers” (2:20).

Die losser in Israel moes ‘n bloedverwant, wat in skuld geraak en sy grond moes verkoop, se erfenis terugkoop. Hy moes dan ook met die weduwee van so ‘n man trou, indien hy geen seuns het nie. Wanneer die vrou dan ‘n seun sou hê, word hy beskou as haar eerste man se seun. Die erfenis van sy moeder se eerste man, word dan syne en hy dra die naam van die man voort.

Rut het op Boas se landerye bly are optel totdat die hele oes ingesamel is. Toe hulle besig is om die graan te dors, gee Naomi haar die raad: Sy moes na Boas se dorsvloer gaan en die nag by sy voete gaan lê. Boas sou dan vir haar sê wat sy moet doen. Rut doen dit.

Rut se eer beskerm deur Boas.

Teen middernag word Boas wakker en merk dat daar ‘n vrou aan sy voetenent lê.

“En hy vra: Wie is jy?”

En sy antwoord: “Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.”

En Boas se hart is geraak. Mooi is sy optrede as eerbare man. Hy beskerm ook die eer van Rut. Hy sal die volgende dag met die oudstes in die stadspoort gaan onderhandel oor die lossing, want daar is nog ‘n nader familielid wat die eerste reg op lossing het.

“Wees dan nou nie bang nie, my dogter; want die hele stadspoort van my volk weet dat jy ‘n deugsame vrou is.”

Hy gee haar die volgende oggend ‘n geskenk van ses mate gars om saam te neem huis toe.

Dieselfde dag het Boas die hele saak gereël, sodat hy met Rut kon trou.

So het Rut die Moabitiese rus gevind in Bethlehem in die huis van Boas. Hulle het albei ‘n hulp gevind wat by hulle pas. Ons sien hierin duidelik die leiding van die Here.

Christus uit Rut se nageslag gebore.

Agter die optrede van Boas sien ons nie alleen regskapenheid nie, maar ook respek en liefde vir Rut.

Hierdie huwelik was ook ‘n geskiedkundige verbintenis.

Rut word die moeder van Obed en Obed word die vader van Isaï en Isaï die vader van koning Dawid.

En in die geslagsregister van Jesus Christus word die name van vier vroue genoem – net maar vier. Een van hulle is Rut.

Nie alleen Boas, haar man, het sy vleuel oor haar uitgebrei nie, maar ook die Here het haar oorskadu met sy genadige hand. Sy het bely:  “U God is my God.”

Nou ondervind sy dat ‘n eerbare en deugsame vrou wat die Here vrees, ook huweliksgeluk en moedervreugde uit sy hand ontvang.

En uit haar nageslag sou haar Verlosser gebore word.


Responses

  1. Ek het hier ‘n vraag oor Simson. Waar sy ouers hom aanspreek oor die filistynse vrou staan daar in Rigt 14:4 “Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want hy (die Here?) het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor Israel geheers.”
    Hoe moet ons dit verstaan dat Simson oortree deur ‘n heidense vrou te wil neem, sy ouers doen reg om hom daarteen te waarsku, maar dit kom van die Here af sodat hy die Filistyne kan straf?

    • Die HERE beskik alles ter wille van sy plan met die wêreld, selfs die bose is in sy diens. In die teologie praat ons van sy raadswil wat oor alle dinge gaan, en sy geopenbaarde of bevelswil. Ons moet volgens laasgenoemde optree (Deut.29:29), nie eersgenoemde nie.

      Daarom bly Simson skuldig aan sy sonde, het sy ouers hul roeping vervul deur hom te waarsku, en het die Here sy sonde gebruik om sy volk se vyande te straf.

      Lees meer oor dat die Here alles beskik, ook die bose, hier:

      https://proregno.com/2010/12/14/die-here-beskik-oor-alles/


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: