Lees: Handelinge 18:1-17 en 1 Korinthiërs 1:1-9
Tema: God is getrou (Inleiding, oorsig en agtergrond van die Brief van Paulus aan die gemeente in Korinthe).
Notas by die preek (let wel: nie die volledige gelewerde preek nie, net hoofgedagtes):
Met ons eerste preek uit 1 Korinthiërs, wil ons inleidend en oorsigtelik na die boek kyk, en dan spesifiek in die lig daarvan na v.1-9
Hierdie inleidende opmerkings is baie belangrik, om die boek in sy geheel te verstaan, asook vir die preke wat in die komende maande gaan volg.
Onthou, die Here wil hê ons moet Hom ken en sy wil vir ons lewens ken en doen deur sy Gees en Woord.
So voordat ons kan doen, moet ons eers sy wil ken deur die ewige onfeilbare Woord van God.
Die briewe aan die Korinthe gemeente is sekere van die mees praktiese briewe/boeke wat daar is in die NT.
Dit spreek baie praktiese etiese sake aan wat gelewe het in die gemeente in Korinthe, maar ook in alle kerke deur al die eeue, dus ook ons kerk.
Daarom sal dit ook vir ons as gemeente goed wees om saam te luister na God se wil vir ons lewens en kerk soos ge-openbaar deur hierdie brief.
A. Eerstens dan, wie is die skrywer ?
Natuurlik is God die finale outeur, die Heilige Gees het vir ons die Skrif gegee.
Maar hy gebruik mense, Hy skryf deur mense vir ons.
En hier, soos met al sy briewe, begin Paulus om homself te identifiseer as die skrywer van die 1 Korinthe brief.
Hy deel 2 dinge met ons in v.1:
1. hy is ‘n geroepe apostel, en
2. hy is aangestel volgens die wil van God.
Paulus, lees ons in Hand.9 en 22, het nie homself aangestel as apostel nie
Soos die ander apostels, het die Here hom aangestel, direk.
Dit is een van die belangrike kenmerke van ‘n apostel,
en daarom is daar vandag nog geen ander apostels nie,
dit was eenmalig gegee met die vestiging van sy kerk.
Daarom is daar nie nog spesiale openbaring vandag nie.
Die Here het sy wil bekend gemaak aan die mens,
deur sy apostels, waarvan Johannes die laaste skrywer was – die boek Openbaring.
As Paulus dan byvoeg dat hy daar is volgens die wil van God,
dan bevestig dit sy apostelskap, maar belangrik ook,
dat dit wat alles gaan volg in sy brief: God se wil is vir die Korinthe gemeente,
en in die konteks van v.2: God se wil vir alle kerke en gelowiges deur alle eeue en plekke, tot die einde toe.
In v.1 word die broeder Sostenes genoem, heel waarskynlik die Sostenes van Hand.18:17 wat ons gelees het, die hoof van die sinagoge wat tot geloof gekom het en saam Paulus verder gereis het toe hy Korinthe verlaat het.
B. Tweedens, aan wie is die brief gerig ?
Dit lees ons in vers 2: aan die gemeente van God in Korinthe.
Hier is dit belangrik om twee dinge te weet as agtergrond van die brief
1. meer oor die stad Korinthe in die eerste eeu.
2. hoe die gemeente daar ontstaan het,
want dit sal help om te weet waarom Paulus hierdie brief aan die gemeente skrywe,
en wat die doel is van die brief.
Eerstens dan, Korinthe as stad.
Die stad is omtrent voor 1500 vC reeds ontstaan, in 146 VC vernietig,
en in 44 VC deur die Romeine as romeinse kolonie weer opgebou.
U kan agter in u Bybel of agter op die nuusbrief kyk na foto’s van antieke en hedendaagse Korinthe.
As ‘n mens mooi na die kaart kyk, sal mens sien hoe strategies Korinthe geleë is of was, veral in die eerste eeu.
Dit is op ‘n stukkie land tussen peloponese eiland en die griekse vasteland,
en hierdie stukkie land het die see aan beide kante van Griekelland geskei.
Die afstand was ongeveer 6 km, en baie skepe het destyds, ipv om 550 km om die eiland te vaar,
hulle skeppe met rollers oor daardie afstand gerol !
Korinthe was dus bekend as handelstad, ‘n vermengde bevolking gehad, tussen Grieke, Romeine en Jode, wat dan ook gelei het tot klomp verskillende godsdienste, filosofieë, ens., wat daar was.
Met die handeldryf is baie plesier ook gesoek, en het dit bekend geword vir sy tempelprostitusie, met die godin Afrodites wat baie bekend was.
Die immoraliteit en losbandigheid was so erg in Korinthe, dat hulle naam later gebruik is as werkwoord, om te korintiseer = om te hoereer.
Soos die terme ‘sodom en gomorra’ gebruik word, so was ‘om te korintiseer’ ook bekend in destydse wereld.
Paulus se woorde in 1 Kor.6:10 is dan eintlik beskrywend van die Korintiese samelewing:
Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
Nou is dit geliefdes, in hierdie samelewing – dekadend, vol afgodery, afvallig,
dat die Here ‘n gemeente bymekaar geroep het, om midde so wêreld te lewe.
Hoe het Here dit gedoen ?
Hy doen dit deur sy dienskneg Paulus, waarvan ons gelees het in Hand.18:1-17.
Tydens Paulus se tweede sendingreis het hy via Athene in Korinthe aangekom.
Daar het hy vir Aquila en Priscilla, mede Joodse Christene ontmoet en by hul tuisgegaan.
Hy het as tentmaker saam hul gewerk en op sabbatte in die sinagoge gepreek.
Toe hul sy prediking verwerp, het hy weggegaan en in die huis van Justus,
langs die sinagoge, sy prediking voortgesit.
Daar het hy vir ‘n jaar en ‘n half ge-arbei en so het die gemeente in Korinthe ontstaan.
Dit was in 51-52 nC, daarna het Paulus vertrek toe daar weer teenstand kom,
en as hy ‘n paar jaar later in Efese is, ongeveer 54/55, skryf hy dan verskillende briewe aan die gemeente in die gemeente in Korinthe.
C. Redes vir die ontstaan van die brief
Die redes vir die ontstaan van die brief kan ons aflei as ons 1 Kor lees.
– Paulus se eerste brief aan hulle, lees ons van in 1 Kor.5:9,
” 9 Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie — “
Hierdie brief is verlore ons het dit nie.
In ander plekke lees ons van lidmate van die gemeente wat aan hom nuus meegedeel het oor verskillende probleme in die gemeente, waaroor Paulus dan vir die gemeente skryf om hul te wys wat die wil van God is:
– in die gemeente was daar onenigheid, hfst.1:10-16
– Paulus se bediening is bevraagteken
– imorrele optrede deur lidmate, hfst.5 – 6
– huweliksake, hfst.7
– hofsake, hfst.6
– afgodsvleis te eet, hfst.9
– gawes misbruik in die gemeente, hfst.12-14
– opstanding uit die dode, hfst.15
So ons sien dat die gemeente midde al hierdie sake,
midde die aanslae en versoekinge van die wereld, Satan gelewe het,
en dan was daar die gevaar dat baie wat gelowig geword het … nog soos die wêreld gelewe het.
Die kerk het soos die wereld begin lyk
En Paulus hoor daarvan en skryf nou aan die gemeente om vir hulle die ‘wil van God’ te verkondig in al hierdie sake.
En in die prediking deur die boek, gaan ons dan ook na al hierdie verskillende sake kyk.
D. Die gemeente se rykdom is in Christus, want God is getrou !
Dit is egter baie belangrik, om raak te sien wat Paulus hier reg in die begin van die boek,
in verse 3 tot 9 vir hulle skryf, wat die wese is, fondament is van alles wat gaan volg.
Paulus wil in hierdie paar verse vir hul wys:
– julle rykdom is IN Christus
– julle het alles nodig om as sy kinders te lewe
WANT God is getrou !
Hierdie paar sake wat ek hier uitlig, is die fondament van kerkwees,
nie net vir die Korinthe gemeente nie, maar ook vir alle kerke, ook vir ons, want onthou
die woorde in v.3: “in elke plek aanroep”, dus ook vir ons !
Paulus wil hier aan die begin vir hul wys op hul ryke identiteit, wie hul is IN Christus, en dat dit hul optrede en lewe midde die korinthe wêreld moet bepaal!
Hierdie identiteit is, vir die gemeente Korinthe maar ook vir ons gemeente:
1. gemeente VAN GOD,
2. geheiligdes, geroepe heiliges,
3. saamgeroep om die Naam van ons Here Jesus aan te roep = aanbidding (die sentrale doel van kerkwees), en
4. die seëngroet wys op die rykdom wat elke gelowige het:
– genade = God se ewige guns
– vrede = geen meer oordeel of vrees nie !
En daarom dank Paulus die Here vir die genade, en hierdie genade is genoeg:
– in alle opsigte, v.5, vir elke woord en alle kennis
– ons het alle genadegawes wat nodig is, v.7
– om tot die einde, v.7b,
– onberispelik te lewe, v.8
En die rede/begronding daarvoor: v.9
GOD IS GETROU
Hy sal die werk wat Hy begin het in elke gelowige volbring
ook in elke gemeente, tot die einde toe.
Toepassing
Br en sr., geliefdes,
Ook ons, die GK Carletonville
Het dus alles wat nodig is om vir Hom te lewe
om kerk van Christus te wees
om heilig en onberispelik te lewe
om ons gawes te be-oefen
om getrou te bly tot die laaste dag.
WANT GOD IS GETROU !
Amen.
Dankie vir hierdie preek, Slabbert. Dit is ‘n wonderlike troos en bemoediging vir elke gelowige! Dankie ook vir al jou werk om hierdie te deel met almal van ons… ook “die wat daar ver is”… Groete uit die Kalahari.