Preek 1: Inleiding op Romeine 14 en 15 – oor die eenheid van die kerk en verskille

open_bible

INLEIDING OP ROMEINE 14 EN 15

deur ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)

Fokus: Rom 14:1 en 15:7

September 2013

Inleiding

Geliefdes wanneer ons Rom 14:115:7  lees sien ons sommer dadelik dat alles nie glad verloop het in die kerk in Rome nie.

Bewys

In Rom 14:1 hoor ons van die wat “wat swak is in die geloof” .

Rom 15:1 vertel van “ons wat sterk is” .

Daar was dus twee groepe.

Die ‘sterkes’ en die ‘swakkes’.

En hulle het verskille met mekaar gehad.

Bewys

  • Daar was verskille
  • oor wat jy mag eet en nie mag eet nie.

Rom 14:2 vertel daarvan.

  • Party het gemeen daar’s verskillende dae wat onderhou moet word. 
  • Ander het weer nie so gedink nie.

So vertel Rom 14:5.

  • En Rom 14:21 vertel   dat daar ook die was wat glad niks wyn wou drink nie.
  • Die ander het weer nie ‘n probleem daarmee gesien nie.

*************

En dan het hierdie verskillende groepe baie sterk gevoel oor hulle standpunte.

Bewys

Want Rom 14:2 vertel   dat die wat alles eet dit doen omdat hulle so glo.

Verduidelik[1]

En wat dit beteken is dat hulle nuwe lewe by Jesus wat ‘n werklikheid geword het

deur die geloof vir hulle inhou dat hulle nou alles kan eet.

En vir die ou wat nie alles wil eet nie is dit dieselfde.

***************

So sien u:

Die verskillende groepe in die kerk in Rome het nie net sommer een of ander eiewillige bevlieging gekry nie.

Nee!  Hulle het gedoen wat hulle gedoen het vanuit hulle geloof in Jesus.

En juis daarom het dit gebeur dat as hulle koppe gestamp het dit nogal hard was.

Bewys

Want Rom 14:3-4 en vers 10 vertel hoe daar oor en weer beskuldig en veroordeel en verag of verkleineer[2] was.

Toepassing

En dis vir ons in die Kerk in Daspoort nie heeltemal so vreemd nie, geliefdes?

Dis hoe ek is.

Dis hoe ek julle ook oor die afgelope vyf jaar leer ken het.

Ons is mense wat glo wat ons glo.

En sterk oortuig is daarvan.

Maar dan’s daar ook verskille.

  • Party van ons wil net Psalms sing.

Ander wil meer as net Psalms sing.

  • Party van ons hou nie kersfees nie.

Ander sê weer:  dit moet.

En ek dink ons sal die lysie langer kan maak.

En dan staan ons waar ons staan nie maar net sommer nie.

Nee!   Ons geloof in Jesus Christus dring ons.

**************

Maar  hoe moet ons hierdie verskille hanteer sodat alles nie in onenigheid en twis uit mekaar bars nie?

Opmerking

En dis ‘n baie belangrike vraag.

Want ons het vanoggend bely dat ons glo in een kerk.

En as Paulus hieroor praat in Efes 4:3 dan sê hy dat ons “ernstig (moet) strewe om die eenheid van die Gees te bewaar …”

So ja hoe moet ons verskillende standpunte en maniere van doen in die een kerk van ons Here hanteer?

Nou praat Paulus baie prakties hieroor in Rom 14&15.

En as die HERE wil, gaan ons in die weke wat kom meer vanuit Rom 14&15 hieroor leer.

So kom ons begin vanoggend daarmee deur eers net inleidend meer te leer oor Rom 14-15 en dit wat Paulus vir ons hier sê.

En dit gaan ook ons tema wees vanoggend.

Die inleiding tot Romeine 14 en 15

En dan gaan ons stil staan by:

  • Die plek van Rom 14-15 in die Romeine-boek
  • Die probleem rondom eenheid in die Romeinse kerk
  • Die belangrikheid daarvan om mekaar te aanvaar
  • En die grense daarvan.

**************

1. So, kom ons begin by die plek van Rom 14-15 in die Romeine-boek.

Nou wat ons moet raaksien van die Romeine-boek is dat Paulus in die eerste 11 hoofstukke leerhoe ons as mense wat van nature totaal verdorwe is en geneig is om God en ons naaste te haat en daarom veroordeeld voor God staan, weer regverdig voor God kan staan.[3]

Verduidelik[4]

En om regverdig voor God te staan beteken dat God my sien as iemand wat al die straf vir my sondeskuld volledig betaal het en daarby God se hele wet heeltemal volmaak nagekom het.

*************

Nou uit ons eie sal ons net nooit ooit regverdig voor God kan staan nie.

Want, om nou maar een voorbeeld uit die boek Romeine te noem:

In Rom 8:7 sê Paulus dat “wat (ons van nature) bedink, vyandskap teen God is; want (van nature) onderwerp (ons ons) nie aan die wet van God nie, want (ons) kan ook nie.”

Maar dan kom leer Paulus dat elkeen wat deur die geloof na Christus gaan en deur die geloof in Christus ingelyf is soos takkie in ‘n wingerdstok in so in Christus voor God regverdig staan.[5]

Verduidelik[6]

Want Christus het in elkeen van sy gelowiges se plek die volle straf op ons sondeskuld betaal en in ons plek het Christus vir elkeen van sy gelowiges die wet volmaak na gekom sodat ons nou voor God regverdig kan staan.

Nie omdat ons nou regverdig is nie.

Maar omdat Christus in ons plek vir ons regverdig is.

En so in Christus regverdig voor God begin ons ‘n nuwe lewe in Christus.

‘n Nuwe lewe waarin ons nie meer slawe is van ou sondige natuur wat net wil haat nie maar nou nuut wil leef vir God.

En daarby en dis so wonderlik kan ons ook getroos weet dat God elkeen wat so glo van te vore uitverkies het en tot geloof geroep het en ons uiteindelik ook sal verheerlik sodat ons nuut op die nuwe aarde saam met God sal kan wees.[7]

Opmerking

Nou hierdie boodskap[8]  leer Paulus in Rom 1-11.

En is dit nie wonderlik nie, geliefdes!

Dit is baie wonderlike maar ook lewens belangrike Heilige Gees geïnspireerde dogma!

Vir iemand soos Maartin Luther was dit so wonderlik dat hy gesê het:

“Romeine is dit werd, dat nie alleen elke Christen dit woord vir woord sal ken nie, maar dat hy hom elke dag daarmee sal besig hou as die daaglikse brood vir sy siel. [9]

**************

Maar wanneer jy van Rom 1-11 aangaan na Rom 12:1-15:13 dan raak Paulus baie prakties.

Spesifieke dinge in die kerk van Rome spreek Paulus aan.[10]

Spesifieke dinge wat elke gelowige se elke-dag se nuwe lewe direk raak.

Verduidelik[11]

En nou moet ons nie dink dat Paulus vinnig ten slotte in Rom 12:1-15:13 ‘n paar praktiese reëltjies by die groot boodskap van sy brief by plak voor hy die ‘send’ knoppie druk en sy brief stuur nie.

Nee!!  Die ware-leer van Rom 1-11, die leer dat ons in Christus voor God regverdig is en in Christus met ‘n radikaal nuwe lewe begin het baie konkrete praktiese gevolge vir ons lewe hier-en-nou.[12]

  • Ons moet anders begin dink.
  • Ons moet anders begin doen.
  • Ons moet mekaar anders begin hanteer.

En presies hieroor skryf Paulus in Rom 12:1-Rom 15:13.

****************

En wanneer Paulus dan by Rom 14-15 kom skryf hy oor hoe ons as nuwe mense in Christus

verskillende standpunte moet hanteer sodat ons verskille nie die eenheid in Christus verwoes nie.[13]

**************

Oorgang

So, dis waar Rom 14-15 in pas in die Romeine-boek.

  • In Rom 1-11 leer Paulus

dat ons uit genade alleen deur die geloof in Christus voor God regverdig kan staan.

  • Maar hy leer ook dat ons in Christus ‘n radikaal nuwe lewe begin.

En dan verduidelik Paulus in Rom 14-15 hoe ons as nuwe mense in Christus ons probleme

van verskillende standpunte en onenighede moet hanteer.

 

2. En nou’s ons by ons tweede punt: Waaroor gaan oor die probleem rondom eenheid in die Romeinse kerk ?

 

En soos ons netnou al gesê het was daar ‘n probleem rondom eenheid omdat daar twee groepe in die kerk was.

Rom 14:1 praat van die swakkes.

Rom 15:1 praat van die sterkes.

Opmerking

Kom ons fokus nou in op hierdie twee groepe.

Want dan gaan ons ook die probleem rondom eenheid in die Romeinse kerk beter verstaan.

En ons gaan ook begin om beter te verstaan hoe Rom 14-15 met ons praat.

***************

A. So kom ons begin met die eerste groep.

Paulus noem hulle in Rom 14:1 die “wat swak is in die geloof.

Verduidelik[14]

So sien u dit?

Die swakkes is swak in die geloof.

Nie in alles nie.   Nee, in die geloof!

****************

So hierdie swakkes was ook nie ongelowiges nie.

Nee, hulle was swak in die geloof.

Verduidelik[15]

En as Paulus in vers 1 praat van die geloof

dan is dit die geloof  waaroor hy nog die heeltyd in die Romeine-boek praat.

  • Dit is die ware geloof in Jesus Christus.
  • Dit is die geloof waardeur die Heilige Gees ons inlyf in Christus

sodat ons in Christus regverdig voor God staan en in Christus nuut kan begin leef.

En so is dit met die swakkes van vers 1.

Hulle is swak in die geloof.

Maar hulle is nie ongelowig nie.

Nee, hulle het die geloof wat hulle aan Christus bind.

****************

Maar hoekom sê Paulus dan dat hulle swak is in die geloof ?

Wat beteken dit nou?

Verduidelik

Wel, dit leer ons uit 1Korinthiërs 8 waar dit oor baie dieselfde saak gaan as hier in Rom 14.[16]

En dan leer ons vanuit 1Kor 8:7 dat Rom 14:1 se swak in die geloof beteken dat daar by my ‘n kennis probleem is.[17]

Opmerking

En dis nou belangrik dat ons dit moet raaksien.

  • Want onthou ware geloof bestaan uit kennis van wat God in sy Woord openbaar.
  • En dan aanvaar ware geloof daardie kennis vir die waarheid.

Ons sê: ‘Ja, HERE ons stem in: U getuienis is die waarheid.’

  • En dan vertrou ons.

Dit is ware geloof.

Daar is kennis wat ons aanvaar vir die waarheid.

En dan is daar ook vertroue.

Ons leer daarvan vanuit die Skrif by Sondag 7 van ons Kategismus.

***************

En nou was daar by die swakkes van Rom 14:1 ‘n kennis probleem.

Opmerking

  • Hulle weet dat Christus ons enigste Verlosser is.
  • Hulle weet dat Christus in ons plek vir ons ons straf gedra het en in ons plek vir ons volmaak gehoorsaam was aan die HERE se wet.
  • Hulle aanvaar dit vir die waarheid.

En hulle vertrou ook hierop.

Maar waar die geloofskennis-probleem nou sy kop uitgesteek het was by die kennis oor ons nuwe lewe in Christus.[18]

Daar het kennis kortgekom.

*************

Toepassing

En geliefdes is dit nie iets waarin ons almal swak is nie?

Ja,  dit is!   Ons het altyd nodig om toe te neem in ware kennis.

Bewys

Daarom dat Paulus so ernstig in 1Thess 3:10 bid dat hy weer ‘n besoek sal kan aflê by die kerk in Thessalonika om “te voltooi wat aan (hulle) geloof ontbreek” .

****************

So, dis wie die swakkes van Rom 14:1 is.

Hulle is swak in die geloof.

En dit beteken nie dat hulle nie kinders van die HERE is nie.

Nee hulle is!

Deur die geloof is hulle ingelyf in Christus.

Deur die geloof leef hulle vir God.

Maar daar kort kennis.

**************

Vers 2

Daarom dat Rom 14:2 sê dat die swakkes in die geloof[19] net groente eet.

En vers 14 sê dis omdat hulle gedink het dat die ander kos wat hulle in Rome kon koop onrein was.

Verduidelik

En dit sê vir ons dat die swakkes in die geloof nog nie die geloofskennis van 1Tim 4:4 gehad het waar Paulus leer dat “alles wat deur God geskape is, goed is, en niks verwerplik is as dit met danksegging ontvang word nie.”

****************

Vers 5

En so is dit ook in vers 5 wat vertel dat die swakkes in die geloof “die een dag bo die ander” ag.

So hulle het verskillende dae in die jaar gehad wat jy moes vier en moes onderhou.

Verduidelik

En weereens sien ons dat die swakkes in die geloof kennis kort.

Die kennis waarvan Paulus bv praat in Kol 2:16-17 as hy daar sê:

“Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”

***************

Gevolgtrekking

So, sien u?

Die swakkes in die Romeinse kerk is ware gelowiges.

En dan’s hulle baie ernstig oor hulle nuwe lewe in Christus.

Maar daar kort kennis.

Die kennis wat ons moet wys wat die volheid van die nuwe lewe in Christus beteken.

***************

B. By die sterkes was dit anders.

Opmerking

En maak geen fout nie.

Hulle het ook hulle probleme en sondes gehad.

En soos ons deur Rom 14-15 gaan werk gaan ons nog meer daaroor leer.

Maar daar was tog by hulle meer kennis  as by die swakkes.

En daarom lyk hulle lewe anders.

Hulle doen anders.

Bewys

Vers 2 sê hulle eet alles.

Die swakkes eet net groente.

En vers 5 sê vir die sterkes is al die dae ook gelyk.

Verduidelik

So hulle leef met die kennis van 1Tim 4:4 wat vertel dat “alles wat deur God geskape is, goed is …”

En dan braai hulle vark en hulle eet calamari.

En hulle hou ook nie Paasfees en Pinkster en al die feesdae van die OT nie.

Want hulle verstaan dat dit alles in Christus vervul is soos Paulus in Kol 2:16-17 leer.

***************

En kan u sien hoe hierdie situasie ‘n probleem vir die eenheid en die belewing van die eenheid kan word?

Want hier’s twee groepe.

Hulle is almal deur die geloof in Christus.

Maar daar’s ‘n verskil in hulle geloofskennis.

En dit veroorsaak verskille in hulle dink en doen.

En dit bring spanning en onenigheid.

Toepassing

En weet u: So is dit baie maal ook by ons.

Ons is ernstig.

Ons wil in Christus werklik nuut leef vir God.

Maar juis dan verskil ons oor goed.

Opmerking

En nou gaan ek nie vanoggend sê wie sterk is en wie swak is en wie kennis kort en wie nie.

Ek is oortuig dat ons almal moet groei in geloofskennis.

Ek die meeste.

Maar met dit alles gesê moet ons tog nou raaksien dat kinders van die HERE baie maal ernstig verskil.

En dan moet ons ook raaksien dat hierdie probleem ‘n kennis probleem is.

Daarom moet ons altyd bid dat die HERE ons sal laat toeneem in geloofskennis.

Want dit laat ons in liefde nader groei aan Christus, maar dan ook nader aan mekaar.

***************

Oorgang

Maar kom ons gaan nou eers weer terug na Rom 14:1 toe.

Ons het nou gesien wat die probleem is.

Daar is ‘n kennis probleem by die swakkes in die geloof.

Maar waar begin die oplossing nou?

Vaar Paulus dadelik weg met ‘n leerrede waarin hy kennis in die swakkes se koppe in pomp?

Nee!  Nee glad nie.

In Rom 14:1 sê Paulus: neem hom aan wat swak is in die geloof …”

Verduidelik

Sien u dit?

Wat Paulus hier leer is dat die oplossing vir die probleem van eenheid nie begin by ‘n preek of Bybelstudie nie.

Nee! Paulus sê: neem hom aan wat swak is in die geloof …”

In Rom 15:7 sê Paulus: “Neem daarom mekaar aan …”

3. En dis ons derde punt:

Die belangrikheid van om mekaar aan te neem of te aanvaar.

Verduidelik

En as jy aanneem laat jy tuis voel.

Iemand wat met jou verskil skuif jy nie uit nie.

Nee, jy staan by en neem saam.[20]

En ons moet daarmee aanhou.[21]

Want so begin die oplossing van die probleem van eenheid.

Op geen ander manier nie.

So leer Paulus in Rom 14:1 en 15:7.

Ja  ons moet mekaar aanneem.

Dis ‘n geweldige ernstige saak.

En dan is dit nie maar net ietsie oppervlakkigs nie.

Of een of ander goeie plan uit ‘n groepsdinamika handboek nie.

Nee! in Rom 15:7 sê Paulus: “Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het …”

Verduidelik[22]

So, Christus moet ons Voorbeeld wees.

Ja, ons nuwe lewe wanneer ons ons verskille met mekaar hanteer moet die lewe van Christus wees.

Ons moet Christus na mekaar toe leef.

En dan moet ons mekaar aanneem “soos Christus ons ook aangeneem het.”

Skrif met Skrif

En hoe het Christus ons nie net aangeneem nie!

Hy het ons kom aanneem wat so skrikwekkend anders was as Hy.

Hy was heilig.  Hy was totaal sonder sonde.[23]

En ons?   Ons was so anders.

Ons was “onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.”

So vertel Tit 3:3.

En Christus?    Wel Hy het ons aangeneem.

Lukas 15:2 vertel dat Christus “sondaars ontvang (het) en saam met hulle (geëet het).”

*************

Toepassing

Nou, as Christus ons wat so skrikwekkend-sondig-anders as Hy was aangeneem het sal ons dan nie mekaar aanneem nie?

Ja, ons sal!   Ons moet!

Dis hoe ons nuwe lewe in Christus lyk.

Ek neem ‘n ander gelowige wat van my in standpunt verskil aan.

Want as ek in Christus is word Christus-se-aanneem al meer ‘n werklikheid in my.

**************

Ja, die oplossing van ons probleme rondom eenheid begin by:

“Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het”

Soos ons hoor in Rom 15:7.

En by: “neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.”

Soos ons hoor in Rom 14:1.

En dan’s hierdie laaste woorde van Rom 14:1 net so ontsaglik belangrik.

Ja, ons moet nie mekaar aanneem net om dan maar weer oor (mekaar se) gevoelens te oordeel nie.

Verduidelik

En dit wat Paulus hier sê beteken dat ons mekaar nie moet aanneem en dan met mekaar begin stry oor ons verskillende standpunte nie.[24]

Nee!   Los dit eers net heeltemal uit.

Want wat gaan gebeur is dat ons net al hoe vaster gaan raak in ons standpunte wat as gevolg van ‘n kennis probleem nog nie heeltemal in orde is nie.[25]

Maar wanneer ons mekaar aanneem soos Christus ons ookaangeneem het dan kom daar rustigheid.    Daar kom vrede.

En dan?

Wel, dan kan Christus deur sy Gees en Woord ons begin onderrig in die erediens in Bybelstudies “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God …”

Soos Paulus daaroor praat in Efes 4:13.

***************

4. Maar beteken dit ons moet alles en almal aanneem en aanvaar?

En met hierdie vraag kom ons by ons laatste punt: die grense van ons aanneem.

Of ons kan ook sê die grense vir eenheid.

En dan is hier twee belangrike dinge wat ons moet noem.

A. Die eerste is dat wanneer Paulus sê dat die begin van die oplossing vir die probleme rondom eenheid is om mekaar aan te neem dan beteken dit beslis nie dat alles nou maar gaan nie.

Nee glad nie![26]

Bewys

Hoekom nie?

Wel omdat Paulus net nadat hy in Rom 14:1 en Rom 15:7 ons opgeroep het met:

I “Neem … mekaar aan …” in Rom 16:17 sê:

“ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het maw die leer van die ware Evangelie van verlossing uit genade alleen, deur die geloof alleen in Christus alleen vir totaal verdorwe sondaars om nie meer voort te gaan in ‘n lewe van sonde nie maar om te begin leef vir God[27] en vermy hulle.”

Verduidelik

So sien u:   Die dwaalleraars,

Hulle wat die waarheid verdraai en mense mislei

Hulle moet ons beslis nie aanneem nie.

Ons moet hulle vermy.

****************

II Die apostel Johannes sê in 2 Joh 10 die selfde.

Hy sê: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.”

III En in 1Kor 5:11 sê Paulus: “nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”

En in 1Kor 5:13 sê Paulus: Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”

****************

So sien u:   As Paulus sê:   ‘neem mekaar aan’ dan beteken dit beslis nie alles kan nou maar gaan nie en dat die kerk die gemeenskap word waar alles maar aanvaarbaar is nie.

Verduidelik

En hoekom nie?   Wel omdat Paulus sê:

“Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het …”

En nou weet ons dat Christus ons nie aangeneem het sodat ons in ons goddeloosheid kan voort hoereer nie.

Bewys

I Nee!   Christus sê: “Ek het … gekom om … sondaars tot bekering te roep.” [28]

II En in Rom 6:1-4 sê Paulus: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! … weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is (deur die Gees wat geloof werk), in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is … ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

III En in 1Thess 4:7 sê Paulus: “God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”

***************

B. So ‘neem mekaar aan’ beteken beslis nie alles kan nou maar gaan nie.

Maar dit bring ons by die tweede baie belangrike ding wat ons in gedagte moet hou wanneer Paulus sê dat die begin van die oplossing vir die probleme rondom eenheid is om mekaar aan te neem.

En dit is dat die dinge wat ons gaan aanvaar en die verskille wat ons gaan toelaat terwyl ons mekaar steeds in eenheid vashou dinge is waaroor God nie direkte uitsprake in sy Woord maak nie.[29]

Verduidelik

En hoe weet ons dit?

Wel Paulus wys dit vir ons in Rom 14:2 en vers 5.

Want daar sien ons dat die verskille in die kerk in Rome gegaan het oor wat jy mag eet en nie eet nie.

Of watter dae jy mag hou of nie hou nie.[30]

En dis alles dinge wat deur God baie duidelik in die OT-wet voorgeskryf was.

Maar dan leer ons bv uit Kol 2:16-17 en Heb 9:10 dat hierdie wette in die koms van Christus vervul is.

So nou in die NT het Christus ons kom vry-maak van die OT kos-wette en van die OT wette oor spesiale feesdae.

**************

So sien u: Die sake waaroor daar verskil was was sake waarin Christus ons vryheid kom gee het.

Daar’s nie nou meer spesifieke wette hieroor nie.

Verduidelik

Nou dit beteken nie dat God en Christus nie ook heers oor die dinge waaroor hulle nie direk iets gesê het nie.

En dit gaan ons baie duidelik leer soos ons deur Rom 14-15 gaan werk.

Ons gaan raaksien dat God vir ons beginsels in sy Woord gee wat ons moet toepas daar waar God nie direkte uitsprake maak nie.

En een daarvan is dat ons nie moets en moenies moet begin maak waar God dit nie gedoen het nie.

Ons moet nie slimmer wil wees as God en wette maak waar Hy self dit nie gemaak het nie.[31]

Dis skrikwekkend boos.    Dis om God te wil wees.

Dis wat die pous van Rome gedoen het.

Dit was een van die groot sake waarvoor ons Hugenote-voorouers gestry het:

Om nie gebind te wees aan die wette van mense waar God nie wette gemaak het nie.[32]

Nee!   Daar waar God nie wette gemaak het nie moet ons dit nie gaan maak nie.

Nee! Ons moet luister na Paulus en mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het.

En dan rustig in liefde saam in die weke wat kom begin om die beginsels van Rom 14-15 te leer.

Toepassing

Maar geld hierdie reël ook as hier nou twee mans aankom wat sê hulle wil trou?

Sal ons dit maar aanvaar?

Of as ‘n man en vrou sê hulle wil lidmate by ons wees maar hulle wil aanhou om net saam te bly sonder om te trou kan ons dit aanvaar?

Of as hier ‘n vrou is wat sê sy wil ‘n ouderling wees kan ons dit aanvaar en haar bevestig in die amp?

Nee, geliefdes, ons kan nie.

Want God het baie duidelike uitsprake oor hierdie dinge gegee.

Dis verkeerd.[33]

***************

Slot

So geliefdes, kom ons sluit af.   En dan sê ons dit:

Kinders van die HERE wat ernstig is om uit die geloof in Christus vir God te leef het baie keer verskille met mekaar.

Opmerking

So was dit in die kerk in Rome (eerste eeu).

So is dit ook by ons.

Maar nou gee ons Here vir ons Rom 14-15 waar Hy ons wys hoe ons as nuwe mense in Christus ons verskille moet hanteer.

I En dit begin by ons wat mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het.

II En dit gebeur binne die grense wat Christus self in sy Word vir ons gee.

Verduidelik

  • So, daar waar God duidelik NEE sê kan ons dit nie ‘n JA maak en maar alles wat Hy verbied   aanvaar nie.
  • En daar waar God duidelik JA sê kan ons dit nie ‘n NEE maak en dit wat God wil hê nie doen nie.
  • En daar waar God Vryheid gee moet ons onsself nie tot gode verhef en self wette maak nie!

Nee!

Kom ons luister na God se beginsels in Rom 14-15.

En kom ons neem biddend toe in geloofskennis.

Ja, kom ons groei so nader aan ons Here en op die manier ook nader aan mekaar.

Amen.


[1] Vgl Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 587; Ridderbos se Rom komm bl 304

[2] Vgl vir die betekenis van εξουθενειτω Ridderbos se Rom komm bl 304; Moo se Rom komm bl 838; Baljon bl 331; NIDNTT vol 1 bl 74

[3] Vgl Kanoniek Romeine.doc bl 3-4

[4] Vgl Kanoniek Romeine.doc bl 4-5; Sondag 23 v/a 60-61

[5] Vir die feit dat ons in Christus is, vgl Rom 5-6

[6] Vgl Kanoniek Romeine.doc bl 3-4; Rom 3:21-5:21.

[7] Vgl Kanoniek Romeine.doc bl 3-4; Rom 6-11.

[8] En natuurlik het ek regtig nou net die groot lyne gegee

[9] Vgl Moo se Rom komm bl 22.

[10] Vgl Moo se Rom komm bl 745-747

[11] Vgl Moo se Rom komm bl 745

[12] Vgl Reformation study Bible bl 1611; Jonker se Rom komm bl 164

[13] Vgl Reformation study Bible bl 1637-1639; Moo se Rom komm bl 826, 833; Jonker se Rom komm bl 178-179

[14] Die datief τη πιστει = ‘n dat wat sê in watter opsig die ασθενουντα bestaan. ασθενουντα is nie algemeen nie. Nee! dit het betrekking op ‘n spesifieke saak (Greek grammer beyond basics bl 144-146; Moo se Rom komm bl 835 voetnoot 36). Hier is dit die geloof.

[15] Die lidwoord τη is anafories en wys terug na πίστις soos dit vroeër in die boek Romeine gebruik is – Rom 1:17; 3:21-22. Dis die geloof in Jesus Christus waardeur ons geregverdig word sonder die werke (3:28) (Greek grammer beyond basics bl 217-218; Greijdanus se Romm komm vol 2 bl 585; Moo se Rom komm bl 836; Jonker se Rom komm bl 179; TDNT vol 6 bl 217). Dus:  al gaan dit hier oor iemand wat swak is tov die geloof … het hy ware saligmakende geloof.

[16] Vgl Ridderbos, Paulus, bl 319vv

[17] Vgl NIDNTT vol 1 bl 602, vol 3 bl 995-996; TDNT vol 1 bl 492, vol 6 bl 218; Calvyn se Rom komm bl 491; Haldane se Rom komm bl 593; Kistemaker se 1Kor komm bl 269

[18] Sien voetnoot 19

[19] Vgl NIDNTT vol 2 bl 211; TDNT vol 4 bl 66-67; Moo se Rom komm bl 837. So, dalk was die swakkes Joodse-christene wat nog gedink het dat die OT-wette van bv Lev 11 oor rein en onrein kos steeds deel was van ons nuwe lewe in Christus. Ons weet nie. Die teks van Rom 14 sê dit nie so duidelik nie.

[20] Vgl NIDNTT vol 3 bl 751; TDNT vol 4 bl 15; Moo se Rom komm bl 835; Jonker se Rom komm bl 180

[21] προσλαμβανεσθε = praes imperat med/pas van προσλαμβάνω. Dit lyk my asof ek hier te doen het met die medium betekenis (Baljon bl 836). Die praes sê dat hierdie opdrag voortdurend uitgevoer moet word (Binnerwerk bl 35).

[22] καθως lei hier ‘n sin in wat my wys op die wyse waarop ons mekaar moet aanneem. Of: dit lei ‘n sin in wat my wys waarmee ons aanneem-handeling moet ooreenstem (Greek grammer beyond basics bl 675; Binnewerk bl 63; Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 623; Moo se Rom komm bl 875; Haldane se Rom komm bl 613).

=> Ja, die norm, die manier van my aanneem-handeling word hier gegee. Ek kan dus nie maar self eiewillig gaan bedink hoe ek moet aanneem nie. Nee!! Hier word uitgestippel hoe ek dit moet doen.

=> Christus en sy werk word die nuwe paradigma waarvolgens ek my optrede moet inrig! (vgl Ridderbos se Rom komm bl 323). O’Brien se Efes komm verduidelik bg verder op bl 351-352. Hy wys my dat καθως και deel is van die NT konformering-paradigma. Dit hou in dat die NT-kerk haar etiek moet laat bepaal deur wat Christus aan ons gedoen het. In ons etiek moet ons navolgers wees van dit wat Christus aan ons kom doen het … Dit moet ek aan ander doen.

[23] So vertel  bv Heb 4:15 en 1Pet 2:22-23.

[24] Die gen διακρισεις διαλογισμων = subjektiewe gen (Greek grammer beyons basics bl 113). εις + akk het hier, so meen ek, die funksie van doel-aanduiding (Greek grammer beyond basics bl 369; Moo se Rom komm bl 836). Die frase μη εις διακρισεις διαλογισμων kan ek dan as volg parafraseer: ‘nie met die doel om oor opinies te stry nie’. Ek het dus hier die doel van die προσλαμβανεσθε handeling. Dit moet juis ten doel hê om ‘n gestry oor opinies stop te sit. So sal die aanvaarding in die geloofsgemeenskap ook ten volle word (Baljon bl 219, 219-220; NIDNTT vol 3 bl 821; NIDNTT vol 1 bl 504).

[25] Vgl Wilson se Rom komm bl 219; Moo se Rom komm bl 846; Haldane se Rom komm bl 594

[26] Vgl Calvyn, Die institusie van die Christelike Godsdiens vol 3 hfst 19 par 13

[27] Vgl Greijdanus se Rom komm vol 2 bl 673

[28] Mark 2:17

[29] Vgl Haldane se Rom komm bl 593

[30] En by die dae het dit dan veral gegaan oor die OT-feesdae … soos die Paasfees en die Pinksterfees (Vgl Beale, A NT Biblical theology bl 792; comm on the NT use of the OT bl 684; Moo se Rom komm bl 842; Jonker se Rom komm bl 180; Haldane se Rom komm bl 597; Reformation study Bible bl 1637)

[31] Vgl Calvyn, Die institusie van die Christelike Godsdiens vol 3 hfst 19 par 7, par 14

[32] Vgl Calvyn, Die institusie van die Christelike Godsdiens vol 3 hfst 19 par 7, par 11-12, par 14

[33] Homoseksualisme is verkeerd. Paulus leer dit vir ons onder andere in Rom 1:25-27.  En om saam te bly sonder om te trou is ook verkeerd. Ons leer dit bv uit Gen 2:18-24 en uit Deut 22 en uit Joh. 4:16-18. En in 1Tim 2:12 sê Paulus: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie …”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: