Preke uit 1 Korinthiërs: 1 Kor.1:17-31 Die wysheid van God teenoor die wysheid van die wêreld

Lees: 1 Korinthiërs 1:17-31

Tema: Die wysheid van God teenoor die wysheid van die wêreld (preek tydens die doop-geleentheid van my dogter, Christien Lidia Le Cornu, 19 Augustus AD 2012, te GK Carletonville)

Die teks van die preek:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Is dit wys, is dit ‘n wyse besluit om vandag nog ons en ons kinders die ‘ongetwyfelde Christelike geloof’ (sien Sondag 7) te leer, in die sogenaamde moderne 21ste eeu ?

Is dit wys om ons kinders nog te leer:

– dat God alles in 6 (letterlike) dae geskep het ?

– dat die ganse kosmos in ‘n liefdevolle Vader, ons Skepper se Hand is ?

– dat God ons in alles versorg en sal versorg ook in vandag se onstuimige tye ?

– dat om sy gebooie te onderhou goed is vir die mens, gesinne, kerke en volke?

– om nog te trou en kinders te kry in hierdie sondige wêreld ?

– om ons kinders in die verbond groot te maak, in die kerk ?

– om ons kinders die vrese van die Here te leer ?

– om seuns te leer om eendag liefdevolle dienende mans te word in gesin en gemeente ?

– om dogters te leer om vrou wees en moederskap te omhels ?

Is dit wys om vandag te leer:

– dat God in sy liefde sy Seun vir ons gestuur het om vir ons sondes te sterwe?

– dat Hy wonders doen in die natuur ?, maar

– bo alles die wonder van wedergeboorte geskenk vir elkeen wat Hy liefhet ?

– dat Hy gebroke sondaar mense se lewens, wat dood was in hul sondes, en wat geneig is om God en ons naaste te haat, se lewens te radikaal te verander om God en hul naaste lief te hê ?

Die wêreld, die sondige ongelowige wêreld, die wêreld se wysheid roep dit uit:

Nee, dit is dwaasheid om nog sulke ‘primitiewe’ dinge te glo !

Die skrifgeleerdes, die redetwisters, die filosowe deur die eeue (v.20) en van ons dag sê:

– nee, tye het verander,

– die Bybel moet verander en aangepas word by die verlore mens se sondige begeertes en sondige denke.

– sogenaamde wetenskaplikes het ‘bewys’ dat alles deur evolusie ontstaan het

– dat die Bybel bloot net nog ‘n menslike boek is vol mense opinies en nie meer God se absolute onfeilbare Woord nie.

– dat dit nie meer wys en intelligent  is om te glo dat God mens geword het en vir ons sondes kom sterwe het nie.

– dat Jesus nie wonders gedoen het en uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het nie.

Wat kinders kry in ons tye betref, hoor ons:

– die ekonome sal sê kinders is nie meer bekostigbaar nie, veral nie ‘te veel’ nie.

– die doktors en sielkundiges sal vir vrouens leer dit is nie goed vir julle om baie kinders te kry nie … dieselfde dokters en sielkundiges wat geen probleem het as ‘n moeder haar afsloof vir ‘n baas 10 ure ‘n dag nie, en haar beste gee vir ander se rykdom in die samelewing nie …

– die politici sal leer die wêreld is oorbevolk

– die opvoedkundiges sal jou leer dat jy nie baie kinders se opvoeding sal kan bekostig nie … maar daar is altyd geld vir ontspanning en ander plesiere

– die dwaallerraars sal leer dat God se roeping vir man en vrou is uitgedien,

dit is nou tyd vir alternatiewe lewenstyle, buitehuwelikse verhoudinge en homoseksuele verhoudinge. … die kerk moet daarby berus.

Ja, in die woorde van ‘n skrywer in die Beeld briewekolom die afgelope tyd:

“Teoloë, oorweeg ‘n 21ste eeuse benadering tot die geletterde, denkende 21ste eeuse lidmate en kyk dan of ons minder raak.” (2012-08-15)

En nog ‘n skrywer in die Beeld briewekolom:

“Vir my is dit geen verrassing nie, want die meeste intelligente mense neem al hoe meer kennis van die magdom betroubare inligting aangaande die waarheid of valsheid van godsdiens en godsdienstige geskrifte. Die redes wat teoloë aanbied vir die afname in godsdienstigheid is misplaas, en daarom gaan die Kerk die stryd verloor. Mense is meer ingelig as ooit voorheen.  Maar priesters, pastore, predikante en ander godsdienstige ghoeroes hou aan om mites en menslike interpretasies as tydlose en onfeilbare waarhede voor te hou.” (2012-08-16)

So wie gaan ons glo: die wysheid van God of die wysheid van die wêreld soos hierdie twee briewe dit uitdruk ?

Wie is wys en wie is dwaas ?

Geliefdes, die Woord van God leer ons juis vanoggend dat God se wysheid nie dwaasheid is nie.  Dit sien ons spesifiek uit 1 Kor.1:17-31, want die doop van ons kinders, en alles wat dit behels en beteken is juis ‘n prent, teken van God se wysheid, naamlik: die kruisdood van Christus vir ons !

Tema: die verbondsdoop getuig van die wysheid van God, ook vir ons vandag!

 Die verruilling van God se wysheid vir die wêreld se sogenaamde wysheid, is niks nuuts nie, dit vind reg deur die geskiedenis plaas,

vanaf Adam en Eva tot vandag toe.

Ook in die eerste eeu, met Paulus se briewe aan die Korinthe gemeente,

is die gemeente daar gekonfronteer om, of

te glo in God se wysheid en daarvolgens te lewe, of

te glo in mense se wysheid en daarvolgens te lewe

Paulus het die gemeente daar gestig (sien Hand.18), en na hy die gemeente

verlaat het, en hy in Efese was, hoor hy van al hul probleme,

waarop hy vir hulle briewe skryf en onderrig aangaande die wysheid van God,

sy Woord wat hul moet glo en doen.

Hy vermaan hul om nie die wysheid van die wêreld te volg nie

En, een van die wesentlike probleme was dan juis dat daar ‘n groep

in die gemeente was wat gemeen het Paulus preek nie genoeg

volgens die ‘wysheid van die wêreld’ nie.

Onthou die agtergrond van die gemeente in Korinthe,

Dit was ‘n stad in die eerste eeu wat bekend was vir al

sy Griekse geleerdes, groot redenaars, wat skares verbaas

het met hul redeneerkuns en wêreldse wyshede …

oor die ontstaan van alles, die sin van die lewe, hoe om te lewe, ens.

Die mense het aan hul lippe gehang en hulle is vermaak.

En nou was die klag teen Paulus dat hy, nie met

soveel ‘wysheid van woorde’ (soos die filosowe) gepreek het nie, v.17.

Sien ook hfst.2:4 wat dit vermeld: Paulus preek nie  “in oorredende woord van menslike wysheid” nie.

Die gemeente, of ten minste ‘n deel daarvan het dit dus van Paulus verwag.

Hy moet meer ‘aktueel en modern’ te wees (emerging church prediker wees?),

in die woorde van ons Beeld briewekolom skrywers, is daar vir Paulus basies gesê:

“Paulus, oorweeg ‘n 1ste eeuse Griekse wêreldwyse benadering tot ons geletterde, denkende 1ste eeuse lidmate en kyk dan of ons minder raak, of ons dan sal aanbly as jy hip en modern is soos die samelewing en tydsgees om ons?

Kom nou Paulus, hou op om ‘mites en menslike interpretasies’ as tydlose en onfeilbare waarhede voor te hou, hou op om te leer van die skepping, sondeval, verlossing, heiligmaking en heerlikheid.

Hou op om te leer van (dit is die onderwerpe van 1 en 2 Korinthiërs briewe):

– dat elkeen maar kan glo soos hy wil volgens sy eie leiers (1 Kor.1:10-17)

– hou op om te leer dat daar ‘n duidelike antitese is tussen kerk en wêreld,

tussen waarheid en leuen, tussen lig en duisternis (2 Kor.6:11-18)

– dat God se gebooie nog vandag geld, dat hoerery nog verkeerd is (hfst.5 en 6)

– dat die huwelik onberisplik is en egskeiding verkeerd is (hfst.7)

– dat vroue nie mag leer in die gemeente nie (hfst.14)

– dat Christus werklik liggaamlik opgestaan het uit die dood en ons daarom ook eendag gaan opstaan om ge-oordeel te word (hfst.15)

– ens, ens.

Hoor u dit geliefdes, dit is die wysheid van die wêreld wat ook in ons tye ook al meer in die kerke van ons land gehoor word:

– pas die Bybel en ons geloof aan by die wereld se wysheid en wat mense wil hê.

– hou om om onderskeid te maak tussen waarheid en leuen, reg en verkeerd.”

Maar hoekom wou sekere lidmate hê Paulus moes die Woord en sy prediking aanpas by die die wysheid van die wêreld, by hul tydsgees ?

Die rede sien ons 22: .. “want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid”

Die wysheid van God, die kruis van Christus was vir die Jode ‘n struikelblok,

want hulle het ‘n Koning verwag wat al hul vyande sou kom vernietig,

nie ‘n dienskneg wat eers vir hul bose sondes moet sterf nie.

Daarom dat hul Hom en die kruis – as swakheid – verwerp het.

Die wysheid van God, die kruis van Christus, was ook vir die Grieke,

as sogenaamde geleerde en beskaafde mense ‘n dwaasheid,

want hul wou nie en kon nie verstaan dat deur die dood, lyding en swaarkry daar lewe, hoop, vergifnis, redding en die ewige lewe sal kom nie.

Daarom verwerp hulle die sogenaamde ‘sinlose dood’ van Christus as betekenisloos vir ‘n moderne wêreld en ‘beskawing’.

En dit is ook wat vandag nog steeds gebeur.

Aan die eenkant is daar groepe wat Christus as Koning wil hê, maar nie as Verlosser nie, as Leeu maar nie as Lam nie.

Ook vir ons geld hierdie gevaar – dat ons die Here wil dien, ons kinders sal kry … maar … solank dit nie met swaarkry en pyn en opofferings saam gaan nie

Die health en wealth gospel ideologie is ook skuldig hier aan.

Ek sal glo, sal kerk toe kom … alleen as ek iets daaruit sal kry wat my kan verryk.

Dit is wat sekere Joodse groepe teen Paulus se prediking gehad het:

– te veel kruis, te min kroon

Aan die ander kant is die geleerde Grieke wat alleen iets wou aanvaar het as dit volgens hul sondige verstand aanvaarbaar is (sien Hand.17:16 ev).

Is dit nie wat vandag se wetenskaplikes en selfs teistiese evolusioniste doen nie ?

Ons sal alleen Gen.1-3 aanvaar as dit inpas by ons 21ste eeuse denkraamwerk

vat die wonders weg …

vat die kruis weg …

vat die opstanding weg …

vat die hemelvaart weg …

vat die wederkoms en oordeel weg …

dan sal ons ‘deel van die kerk bly’ … dan sal ons ons bydraes gee.

Inderdaad, daar is niks nuuts onder die son nie, skryf die Prediker …

– nie in 1ste eeu Korinthe nie

– nie in 21 eeu SA nie, en

– ook nie in die toekoms nie

En nou is die vraag, gaan ons wys wees volgens die wêreld … wat dwaasheid is by God, of gaan ons dwaas wees by die wêreld … maar wys by God ?

Paulus roep die gemeente op in Korinthe,

midde al die menslike wysheid en hul dwase tydsgees:

Om vas te hou aan die ‘dwaasheid’ van die kruis van Christus.

Die kruis is die krag en wysheid van God

dit is sy reddingsplan vir hierdie wêreld

Dit is die singewing en enigste oplossing vir die sonde en die gevolge van die sonde: pyn, lyding, hartseer, swaarkry, die dood en die ewige dood.

Die wysheid van die mense, die verstandigheid van die mens (v.19,20)

wat baiemaal die wysheid van God in die skepping ontken (21a)

kan tydelike voortuitgang bring,

wetenskaplike ontwikkeling

mediese verligting

tegnologiese uitvindsels

(natuurlik ook alles danksy die Here se sorg en voorsienigheid, sien HK Sondag 10)

MAAR geen mens kan ons red van die sonde,

die dood en die ewige straf nie.

Geen mens het mag oor die lewe en die dood nie.

Maar die Here het alle mag in hemel en op aarde,

ook oor die lewe en dood.

DIT het die Here gedoen deur die evangelie van die kruis,

in die woorde van v.21b,

“het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.”

Waar staan ek en u geliefde,

waar staan u wat hier lees ?

– hoekom dien ons die Here ?

– waarom behoort ek nog aan ‘n kerk

– waarom is ek nog ‘n Christen ?

Is dit omdat ek meen die Christelike geloof is die sterkste en magtigste ?

Is dit omdat ek dalk dink dit gaan vir my die grootste finansiële voordeel en gemak bring ?

Is dit omdat ek dink ons Christene is die slimste en mees geleerde mense ?

Dat ons die ‘beste en sterkste’ is ?

Nee, geliefdes, kyk wat skryf Paulus, v.26-28 !

“ 26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak …”

Die krag en wysheid van ons geloof is nié in onsself of ons mensekrag en slimheid nie (sien ook Jer.9:23,24).

Dit gaan alles oor Hom en sy mag, en krag en eer, …. “sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (v.29)

Dit gaan oor die kruis en Hy wat verlos,

nie die mens wat homself kan verlos of gelukkig maak nie

Daarom dat Paulus skryf, v.30 en 31, wat die ware krag, rykdom en eer is van die gelowige, reeds nou in hierdie wêreld:

30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.  31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

En nou geliefdes, dit is presies wat die doop ons wil leer en op wys,

wat ons ook vanoggend bedien aan ‘n verbondskindjie:

die doop wys ons op die waarheid en wysheid van God soos die

Evangelie ons leer (sien doopsformulier):

– dat ek in sonde ontvang en gebore is,

– dat ek alleen in Christus gered word,

– en dat ek as verloste nou my hele lewe in dankbare gehoorsaamheid aan Hom toewei

DAAROM, AL DIE ROEM EN EER AAN HOM !

Die doop beeld af wat Christus vir elkeen van sy kinders gedoen het

Wat die Gees in ons lewens werk deur die Woord

En onthou wat die 2de vraag is van die doopsformulier:

“Ten tweede: Bely u dat die leer wat in die Ou en Nuwe Testament en in die Artikels van die Christelike geloof vervat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is?”

Met die doop identifiseer ons ons met Christus en al sy weldade

met sy hele Woord, OT en NT,

van Genesis 1 tot Openbaring 22

Nie net my verlossing nie, nie net Jesus as Verlosser nie

maar ook Jesus as my enigste Koning,

wat deur sy wet, sy gebooie, sy bevele

my hele lewe bepaal, my denke gedagtes en woorde (Matt.22:37-40).

Ja, en juis daarom word God se Woord vandag nog

die Evangelie vandag nog so verag –

wantt die mens is niks, en God is alles in ons verlossing

soos Paulus ook skryf later in hfst.3:6,7

Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.  7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

Veral die verbondsdoop, die kinderdoop beeld hierdie waarheid pragtig uit

dat ons verlossing, van begin tot einde van uitverkiesing tot verheerliking,

alles, ja alles – 100% God is en 0% die mens.

Dit is waarlik net genade dat ons en ons kinders mag glo

dat ons kan glo (Ef.2:8-10; Filp.1:2),

dat ons sy kinders kan wees,

dat ons in sy wysheid, al is dit hoe gebrekkig in hierdie lewe (sien v/a 114, HK),

nog kan wandel.

(Augustinus: dit is beter om op die regte weg te strompel, as op die verkeerde weg te hardloop)

Daarom ook dat die Woord en Evangelie dwaasheid is vir hulle wat verlore gaan (v.18)

Want die mens wil bydra, wil homself red, wil self reg en verkeerd bepaal

Diw wysheid van die mens dink dat hy God nie nodig het nie.

Maar vir hulle wat gered word, is die Woord en die Evangelie,

is Christus dié krag en wysheid van God.

Daarom dat ons juis aanhou om in die geloof nog kinders kry,

hulle te doop, soos vanoggend hier …

en moet ons ons kinders aanhou die Woord met al sy wonders leer,

van geslag tot geslag.

SODAT die kruis van Christus verkondig kan word

en al die roem en die eer aan God alleen gaan.

Laat ons daarom, uit genade vashou aan die Wysheid en Krag van God, Jesus Christus en al sy weldade, in alle tye en omstandighede, midde al die aanslae van die wysheid (eintlik dwaasheid) van die ongelowige wêreld en ons sondige harte, WANT”

…. deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.  31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem. (1 Kor.1:30,31)

Amen.

2 thoughts on “Preke uit 1 Korinthiërs: 1 Kor.1:17-31 Die wysheid van God teenoor die wysheid van die wêreld

Add yours

  1. Goeie more. Stem saam met alles behalwe die doop van klein kindertjies. Dit is en was nog nooit skriftuurlik nie. Kan U dit asb aan my verduidelik?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: