Lees. Hebreërs 11:1-12:2; 13:1-9
Hebr.13:7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
Preeknotas:
Wat is ‘n held ?
Wat is ware heldedade ?
Wie is die helde van ons dag waarna ons en ons kinders kan opkyk,
en hul voorbeelde navolg ?
U sal seker met my saamstem, dit is baie belangrike vrae
Die afgelope week, en seker die weke wat kom,
gaan ons gebombardeer word deur die helde-verering van oud-president
Nelson Mandela, en word hy vir almal voorgehou as ‘n voorbeeld om na te volg.
Nou wie die mense is wat vir ons as voorbeelde voorgehou word om na te volg,
word deur een belangrike saak bepaal, en dit is:
VOLGENS WATTER STANDAARD BEPAAL ONS,
WAT REG EN VERKEERD IS,
WAT GOEIE OF SLEGTE DADE IS,
WAT ONS MOET NAVOLG EN NIE MOET NAVOLG NIE.
Nou ja, as ons luister na wat die wêreld sê,
na wat vir die wêreld en die populêre media aanvaarbaar is of nie,
dan kan enigiemand omtrent ‘n voorbeeld wees om na te volg,
of dit nou Lady Gaga of Madonna figuur is aan die eenkant,
of moeder Maria of die Pous aan die anderkant,
elkeen kan maar self besluit,
niemand mag sê dit is reg of verkeerd nie,
elkeen kan maar self bepaal wie en wat om na te volg,
wat aanvaarbaar is of nie,
soos in die woorde van die boek Rigters (21:25),
elkeen kan vir hulself besluit wat is reg in hul oë …
Maar gemeente van Christus,
ons het nie daardie vryheid nie,
die gelowige, die kerk van Christus word gebind
aan een standaard, en dit is Christus wat met ons spreek,
deur sy Woord en Gees.
Die Woord bepaal wat is ware helde en heldinne,
ware heldedade om te respekteer en na te volg.
Ons hoor dit in ons teks vanoggend opnuut: Hebr.13:7
Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
Die sleutelwoorde daar, is:
– gedenk hulle … wat die woord van God aan jul voorgehou het …
– let op die uiteinde van hul geloofswandel …
– en volg hul geloof na …
In daardie 3 sake word die standaard gegee waarvolgens ons
onsself en ander se heldedade of nie, hul lewenswandel meet,
beoordeel en toets,
en dan om daaruit te leer of ons dit gaan navolg of nie.
1. Die Woord van God – dit is ons norm, standaard, spesifiek sy Wet, waaraan alle optrede en optrede van almal, alle helde getoets moet word.
2. Die uiteinde van hul geloofswandel – was die helde se lewe om God te eer en te dien, is dit die motief, die rede waarom ons reg en goed doen, en lewe
3. volg hul geloof na – glo die helde in Jesus Christus, word ons lewens bepaal deur die geloof, dus alles in my lewe word deur my geloof bepaal.
En, dit is presies wat ons as gereformeerdes bely, in Sondag 33, v/a 91
91. Vr. Wat is goeie werke?
Antw. Net die wat uit ‘n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), alleen tot sy eer gedoen word (c) en nie die wat op ons goeddunke of op insettinge van mense gegrond is nie (d).
En in die Hebreërboek illustreër die skrywer baie duidelik vers 7 in hoofstuk 11, hoofstuk 11 wat bekend staan as die galery van geloofshelde, wat ons voorafgegaan het:
Kenmerkend van hierdie geloofshelde was dat,
ongeag hul sondigheid en gebrokenheid waar hul ook baiemaal gestruikel het,
– hulle deur die geloof gewandel het,
– volgens God se wet/sy beloftes,
– en dat hul tot sy eer wou lewe.
Kyk maar net na ‘n paar voorbeelde:
– Abel het deur die geloof ge-offer, Kain nie, v.4
– Noag het deur die geloof die ark gebou, v.7
– Abraham het deur die geloof na ‘n nuwe land getrek, v.8,9
– Sara het deur die geloof ‘n kind ontvang, v.11,12
– Moses het deur die geloof Egipte verlaat, v.24,25
– Ragab het deur die geloof die spioene weggesteek, v.31
En verder, kenmerkend van al hierdie gelowiges is dat hul met
verlange uitgesien het, midde hierdie wêreld met sy gebrokenhede,
met hul eie sondes, na die hemelse Jerusalem,
hierdie wêreld was nie die hemel nie,
hulle het verlang na die ewige lewe,
daarom dat ons ook lees daarvan in 12:22,23.
Is dit wat my en u lewe kenmerk geliefde,
Glo u werklik alles van die Woord,
al die Here se beloftes,
wat Christus vir u gedoen het …
Word u lewe gekenmerk dat u God se wet opsoek ?
Kan u getuig van die vreugde om God se wet op te soek ?
Is u doel om die Here te eer, verlang u na die hemelse ?
Want u antwoorde op hierdie vrae,
sal bepaal wie u helde is,
op wie u werklik vertrou,
wie die mense is wat u en u kinders navolg ?
Is u en u gesin, is ons gemeente, deel van hierdie skare van geloofsgetuies.
Is u besig met die goeie stryd, midde die woestynlewe ?
Die oproep van Hebr.12 wat ons gelees het:
Hebr. 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.
Maar nou belangrik, baie belangrik:
Alhoewel ons mede gelowiges, die geloofshelde van hfst.11 en deur die eeue mede-gelowiges se goeie dade moet sien en najaag, mag ons nooit maar nooit verval in vertroue op enige mens nie,
Ps.146:2 wat ons gesing het, ‘moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind’, en
ook geen mensverheerliking nie
gee nie om of dit volgens ons goeie of slegte mense is nie,
of gelowiges of nie-gelowiges is nie.
Alle mense, ook geloofshelde het gesondig en is onvolmaak en gebrekkig,
en daarom die belangrike woorde van Hebr.12:2,
Hebr. 12:2 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Die enigste volmaakte held wat volkome gewandel en gelewe het,
is ons Here Jesus Christus,
op Hom moet ons alleen vertrou vir ons redding en geluk,
op geen mens of mag nie
Kyk hoe sterf elke held
Daardie sportheld … word oud of siek
Daardie politieke held … gaan dood
Daardie film held … word oud en lelik
Maar Christus het opgestaan, en leef vir altyd !
Kyk na Hom, volg Hom na, en soos Paulus noem,
volg hulle wat Hom werklik volg !
Na Sondag 91 volg Sondag 92, die Tien Gebooie,
die reël van ons dankbaarheidslewe,
en daarom moet ons volgens die wet van God bepaal
wie ons navolg vandag of nie navolg nie,
wie se woorde en dade ons vir ons en ons kinders as voorbeelde wil voorhou.
Toets maar gerus die sporthelde, filmhelde, politieke helde daaraan.
bv.
1e gebod: aanbid u held die enigste ware God ?
3e gebod: hoe gebruik hy God se Naam ?
4de gebod: wat doen hul op die rusdag van die Here ?
5/6de gebod: word gesag gerespekteer en is daar liefde vir die naaste?
7de gebod: wat openbaar hul huwelike en verhoudings ?
En daarom kan ons nie vir ons en ons nageslag ook Mandela as held voorhou nie, want volgens wat ons weet uit sy openbare optrede, geskrifte of ander oor hom:
1. het hy nooit openlik Jesus Christus, die ware God bely nie,
Dan dink ons aan die woorde van Jesus in Lukas 9:
26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.
2. hy het hom nooit bekeer van die moord terreurdade van die ANC teen burgerlikes nie,
Mense wat ek gevra het wat Mandela as persoon bestudeer het, het erken dat hy nêrens volgens wat hul weet, die gewapende revolusionêre stryd veroordeel het nie.
3. hy het nooit die ongelowige marxistiese ideologie afgesweer nie.
Van sy beste vriende oor die wêreld was juis geharde marxiste.
4. die nuwe bedeling wat hy help tot stand gebring het erken nie meer die enigste ware God nie en omhels ‘n veelgodery godsdiens vir ons land
5. die nuwe bedeling wat hy help tot stand bring respekteer nie God se goeie regverdige wette nie, beskerm nie die gesin teenoor die aanslag van die aborsie en gay agenda nie. Die geweld en misdaad aanslag op ons bevolking word nie beveg met die doodstraf en ander bybels regverdige wette nie.
En dan, lei dit ook ons om te wys op een van die groot verskil tussen die helde van die wêreld,
en die helde van die geloof, die ware kerk.
Eersgenoemde volhard in hul sonde, buig en bewe nie voor die Here nie,
hul sondes word aanvaar en selfs goedgepraat, geregverdig as heldedade,
dit word selfs herdoop na ‘menseregte’ in die nuwe menseregtebedeling.
Maar die ware gelowige, dink aan ‘n Dawid, Abraham, Petrus,
wat hul sondes geken het,
dit bely het (Ps.51) en laat staan en teen dit gestry het
hul hele lewe lank.
Dit is wat ons onsself en ons kinders ook moet leer,
ja, gelowige helde val en struikel ook, sondig baiemaal,
maar ons erken en bely ons sondes, en stry daarteen.
Ons mag nie die Woord of die wet van God aanpas by ons sondige optredes nie.
So geliefdes, wat leer ons ?
Wat moet ons onsself en ons kinders leer oor mense wat ons moet navolg ?
Saamgevat:
a. moenie op ongelowige mensehelde van die wêreld vertrou nie, dit is hulle
wat deur ongeloof lewe, nie volgens God se wet nie, vir eie eer en aansien in hierdie lewe.
b. weet daar is nie volmaakte mense helde om na te volg nie, maar wel
gelowige gebroke mensehelde, soos Hebr.11 en die kerkgeskiedenis ons wys,
wat hoe gebroke al, uit die geloof volgens sy Woord wil lewe hoe langer hoe meer, tot God se eer,
en dan die belangrikste:
a. die enigste volmaakte held wat ons kan vertrou en moet navolg, is Jesus Christus.
In vergelyking met die helde van die wêreld, was daar nie massas wat sy begrafnis bygewoon het nie, is sy lof nie deur al die wêreldleiers en mense besing nie (alhoewel Hy dit van alle mense volkome waardig was en is, Op.5:9).
Laat ons sy woorde navolg, uit die genade, deur die geloof, tot sy eer:
Luk. 9:23-26 As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. 24 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. 25 Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? 26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.
Die Hebreërboek roep ons daarom almal op:
Hebr.4:14-16 14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Hebr.12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Amen.
Sedert die gebeure van verlede week het Ps. 146 (berymd) en veral v2 gereeld by my opgekom:
Moet op prinse nie vertrou nie
by wie niemand heil kan vind –
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.
Baie dankie vir die preek, Slabbert.
Slabbert, ek gun jou jou private sentimente en sienswyses, maar ek vind dit jammer dat jy jou preke (en die Bybel) op ‘n baie eensydige wyse, en selfs misleidende stellings en bewoording, gebruik om dit te verkondig. As jy jou feite reg gehad het en ‘n gebalanseerde kennis van ons land se geskiedenis geopenbaar het, sou dit moontlik nie soveel aanstoot gegee het nie.
Dit wil voorkom asof jou kennis van Nelson Mandela bestaan uit “Mense wat ek gevra het wat Mandela as persoon bestudeer het,..”. Dit is baie duidelik dat jy baie min van hom weet, behalwe dat hy (soos jy dit so prominent stel) die aborsiewetgewing onderteken het.
Net ‘n paar punte:
1. Jy skryf dat hy “nêrens … die gewapende revolusionêre stryd veroordeel het nie” Jy skryf óók in jou opvolg-artikel tot hierdie preek, van “…his part in the acts of terrorism which caused the death of many civilians in the apartheid era.” Sou jy nie ‘n terroris geword het (met gepaardgaande lewensverlies) as jou mense (landgenote, vriende en familie) deur die regering vermoor en op vele maniere verdruk word nie? Wil jy regtig ontken dat die swart mense op baie verskillende maniere geterroriseer is deur die apartheidsregering? Waarom sou hy die “gewapende revolusionêre stryd veroordeel? Wat sou jy in sý skoene gedoen het? Sou jy dit maar net aanvaar het?
2. Jy skryf: “hy het nooit die ongelowige marxistiese ideologie afgesweer nie”. Nelson Mandela was nog nooit ‘n Marxis nie. Hy het wel hulle geskrifte bestudeer omdat sy kennis daaroor hom in die steek gelaat het in gesprekke en debatvoering. Hy het ook met hulle verskil oor die kwessie dat ‘n parlement ondemokraties is.
3. “Van sy beste vriende oor die wêreld was juis geharde marxiste.” As jy vind dat ‘n vriend van jou ‘n Marxis is, of gay is, of ‘n ateïs is, maak dit jou skuldig aan hulle sieninge?
4. Jy skryf in jou opvolg-artikel tot hierdie preek oor Nelson Mandela: “…he were a prominent member of the ungodly atheistic SACP (South African Communist Party)” Dit is ‘n leuen. Mandela was sy hele lewe lank ‘n teenstander van die S.A.K.P. Maar jý wil dat ons uit “…sy openbare optrede, geskrifte of ander oor hom,” wéét dat hy ‘n leiersfiguur in die Kommunistiese Party was?? Jy behoort te weet dat hy self as een van sy baie besware teen kommunisme geskryf het: “I was not inclined to join… I was also quite religious, and the party’s antipathy to religion put me off.”
5. Jy lê die skuld aan sý deur dat “die nuwe bedeling wat hy help tot stand gebring het erken nie meer die enigste ware God nie en omhels ‘n veelgodery godsdiens vir ons land”. Dink jy werklik hy kon beheer selfs wat ‘n “nuwe bedeling” ná hom, sou glo?. Jy vind dit egter goed om hom die skuld van die ongeloof van die “nuwe bedeling” te gee.
Slabbert, ek dink regtig jy skuld vir oorlede Nelson Mandela ‘n hele paar verskonings. Ek meen dat jy met jou preek inlegkunde i.p.v. uitlegkunde aangewend het, en dat jy die gemeente wat daarna geluister het, mislei het. Ek meen jy skuld hulle, en die mense aan wie jy jou preek (en opvolg-artikel oor Nelson Meandela) gestuur het, ‘n verskoning. Ek meen dat jy oneerlik was in jou omgang met die Woord van God, en dit gebruik het om jou private standpunt te verkondig. Ek dink jy skuld God ‘n belydenis.
Jou uitdrukking het my nogal getref: “Hypocrasy never ends”.
Gideon, dankie vir jou menings, ek antwoord op jou verskillende punte:
1. Nee, ek sou glad nie gedoen het wat hy gedoen het nie, want dit is teen die Skrif, en gelowiges lewe deur geloof en probeer nie hul wil met bomme teen burgelikes afdwing, alles in die sogenaamde naam van die afgod ‘Freedom’ nie.
Kom ons vat ‘n hedendaagse voorbeeld. Duisende mense, babas word daagliks in ons land uitgemoor deur aborsie, n baie groter onreg as apartheid. Ek getuig en preek daarteen, maar ek gaan nie revolusioner oor tot gewapende geweld daaroor nie, blaas nie hospitale of ANC op nie. Dit sal net so lafhartig wees as die ANC terreurdade. Ek glo nie (soos jy?) in die doel heilig die middele nie, veral nie as burgerlikes die teiken is nie. Soos ek vir ander ook gesê het – daar is ‘n tyd om jouself met geweld te verdedig en oorlog te maak, maar ek verwerp ook enige terreurdade om bv ‘n eie land vir Afrikaners te verkry, so ek verwerp Mandela, die terroris held idee, wat jy blykbaar aanvaar.
Punt 2 volg.
Punt 2 en 4: Gaan soek die artikel ‘SACP confirms Nelson Mandela was a member’ op die internet. Of iemand is besig om te lieg. Stuur gerus vir my die bron van jou Mandela aanhaling, sal dit graag wil lees.
Punt 3 (wat ook 2 en 4 raak): dit is waar dat ‘n mens nie noodwendig jou vriende se standpunte deel nie, maar as jy:
a. onder hul vaandels en aksies deelneem, en
b. veral jou openlik nie distansieër van hul verkeerde standpunte nie,
dan moet jy nie ongelukkig wees as jy met hul verkeerde standpunte ge-assosieer word en daardeur beinvloed word nie.
Lees gerus 1 Kor. 15:33.
Hierdie foto sê alles:
As iemand nie lid is van die gay beweging nie,
maar hul platforms deel en saam hul betogings hou, en hom nie openlik distansieër van hul verkeerde agenda nie, moet hy nie kwaad wees as mense die assosiasie maak nie.
Dieselfde geld vir my, en jou, en of jy nou daarvan hou of nie, ook vir die humanistiese afgode van ons dag.
Jy is welkom om vir my die bronne te bring waar Mandela marxisme en kommunisme verwerp het as goddeloos en boos, en waar hy die slagtings van Lenin en Stalin in die 20ste eeu veroordeel, ek leer graag.
Verduidelik ook hoekom van sekere mense verwag word om die euwels van apartheid te veroordeel en af te sweer, maar jou held (en/of sy volgelinge) hoef nie sy bose terreurrdade van terrorisme en aborsie-moord te veroordeel en af te sweer nie. Is dit dalk Orwell se Animal Farm, sekere varke is meer gelyk as ander?
ns. gaan lees in tussen gerus meer van die ‘Black Book of Communism’ wat die apartheids oortredings na ‘n sondagskool piekniek laat lyk.
http://en.m.wikipedia.org/wiki/The_Black_Book_of_Communism
Punt 5: die huidige bedeling is die vrug van die nuwe bedeling wat Mandela en FW ingebring het.
Die beeldpoeters en media probeer Mandela verontskuldig, maar sy bewind het die fondamente gelê vir die huidige chaos, met die uitgooi van die Christelike fondamente en die inbring van humanisme met veral sy aborsie moord wetgewing.
Mandela is nie gedwing om aborsie in te teken nie, maar hy het. Hy kon pragtig daarteen getuig het, opgestaan het vir hul regte, maar het nie. Teen veelgodery getuig het, maar het nie, dit goedgekeur.
As apartheid en rassisme uitgegooi was alleen, goed so, maar hierdie was ‘n totale revolusie en omverwerping van ‘n Christelike sosiale orde, hoe krom en gebrekkig ookal in die verlede.
Almal wat die nuwe bedeling gedoop en geheilig het volgens humanisme en God en sy wet in die proses verwerp het, staan skuldig, soveel te meer die kerklike en politieke leiers wat ons daarin mislei het met skuldmanipulering en leuens.
Mag die Here ons genadig wees en ‘n terugkeer gee na Hom, onder al die volke en leiers van ons dag.
Christus is ons enigste Hoop, nie ‘n mens nie.
Gideon, laastens, gee jy geen bybelse uiteensetting dat ek in my preek die Skrif verkeerd verklaar en toegepas het nie. Jy noem niks van Heb. 13:7 of HK v/a 91 nie (het jy werklik my preek gelees of geluister)?
En daarom hoor ek nie in jou skrywe die stem van my Herder nie (Joh. 10:27), die Woord wat my moet oproep tot verskoning vir oud pres Mandela of vir jou of die gemeente nie.
Nogmaals dankie vir jou bydrae.
Groete
Slabbert
Slabbert, baie dankie vir jou reaksie. Ek antwoord eersdaags. My program laat op die oomblik vir my baie min beweegruimte. Moontlik ná die naweek. Groetnis.
Oom Gideon,
Mandela is die skrywer van die boek: How to be a good Communist
Slabbert, allereers wil ek verskoning vra vir ‘n tikfout wat ek in my eerste pos ontdek het: “…dat jy jou preke…” moes gelees het “…dat jy jou preek”…”.Die meervoud is darem gladnie waar nie!! My beswaar was net hierdie een preek.
Tweedens: onthou asb. net wat ek aan die begin gesê het: Ek het nié beswaar gemaak dat jy negatiewe dinge oor Nelson Mandela kwytgeraak het nie, maar dat jy in jou preek ‘n eensydige prentjie geskilder het en geen balans van ons land se geskiedenis getoon het nie. As jy nooit Mandela se naam genoem het nie, sou ek nog altyd sê dat jy die destydse terreurdade eensydig voorstel. Terreur per sé is natuurlik verkeerd, maar die eenvoudige feit is dat daar ‘n rede voor was: gewettigde verdrukking en verontregting, paswette en selfs moord. Jy erken self dat apartheid ‘n onreg was, en jy erken self dat “…daar is ‘n tyd om jouself met geweld te verdedig en oorlog te maak”.
Die punt wat ek wou maak is dat dit onregverdig en misleidend is om ‘n saak só eensydig te stel – so asof daar geen aanleiding tot terrorisme was nie. My bedoeling is hoegenaamd nie om vir Nelson Mandela te verontskuldig nie (soos bv. die ondertekening van die aborsiewetgewing), maar om eerlik genoeg te wees om alle faktore (soos “die ander kant van die saak”) in ag te neem in jou veroordeling van die destydse terrorisme.
Dit is dus jou balans en duidelike bevooroordeeldheid wat ek wou aanspreek. Daar is baie, maar baie, wat ek nog sou kon sê. Ek het egter nie tyd daarvoor nie en hierdie gesprek het duidelik die potensiaal om baie tyd in beslag te neem – wat ek ongelukkig nie het nie. My dae is alreeds te kort vir wat ek moet en wil doen.
Ek moet ook sê dat ek ‘n probleem daarmee het dat jy nie by die punt bly nie, maar dat jy dinge aan my deur lê soos dat ek “…die terroris held idee… blykbaar aanvaar.”, en dat ek (vraagteken?) glo dat die doel heilig die middel. Blykbaar omdat jy die punt wat ek in die eerste plek gemaak het, heeltemal ignoreer. Ek sien nie kans vir so ‘n soort bespreking nie.
Lees self wat Nelson Mandela sê oor die SAKP, Marxisme, sy godsdienstige oortuigings daaroor en hoe hulle by die ANC ingepas het, in sy boek “Long walk to freedom”. Ek weet van sy boek “How to be a good communist”. Het dit self nog nie gelees nie, maar ek verwag (in die lig van sy ander stellings) dat hy daarin sou sê wat kommunisme eintlik behoort te gewees het.
Laastens: Jy doen baie goeie werk deur jou blog. Doen so voort. Sterkte, wysheid en seën op die pad vorentoe.
Beste oom Gideon, ek volstaan by wat ek reeds geskryf het, anders gaan ons in sirkels beweeg (sien wel die twee skakel wat ek hier onder geplaas het). Nogmaals dankie vir die goeie gees waarin die gesprek plaasgevind het. Ook seën op oom en oom se bediening toegebid.
Lees gerus hierdie mening:
http://mikesmithspoliticalcommentary.blogspot.com/2013/12/the-true-legacy-of-terrorist-nelson.html
Nog twee perspektiewe op Mandela:
http://www.dieburger.com/nuus/2013-12-16-gewone-mense-van-qunu-is-kwaad
http://www.wnd.com/2013/12/nelson-mandela-a-missionary-perspective/
Nog ‘n artikel om te lees:
http://jacodebeer.blogspot.com/2013/12/how-should-christians-respond.html