Lees: Psalm 37; Jes. 52:13 – 53:12; 61; Mat 5:1-12
Teks: 5:5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Tema: Buig voor die Here en die aarde is joune …
Ps. 146:1,3; 9:1,7; 19:6,7; 23:1,2; 72:1,2
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Die Bybel is ‘n boek vol teenstrydighede.
So wil dit partykeer lyk …
Dié wat eerste is,
sal laaste wees;
dié wat laaste is,
sal eerste wees …
Om ryk te kan wees,
moet jy eers arm wees …
Ons is bedroefdes
(skryf Paulus aan die Korintiërs),
maar ons is altyd opgeruimd!
Ons is mense wat niks het nie,
sê hy …
en tog is ons mense wat alles besit … (2 Kor. 6:10).
Met hierdie woorde
sluit die apostel aan by dit wat die Here Jesus gesê het …
daardie dag toe Hy ons op die berg geleer het …
daardie dag toe Hy soveel dinge gesê het,
wat vir mense raaiselagtig geklink het …
dat die armes die koninkryk besit …
dat die treurendes vertroos sal word,
en dat dié wat hulself neerbuig,
dié wat bereid is om die minste te wees …
dat hulle eendag alles sal erf …
Salig is die sagmoediges,
want hulle sal die aarde beërwe …
Dis mooi woorde …
Dis woorde wat baie mense al aangetrek het …
self ongelowiges en heidene …
In 1999 was ek by die wêreldparlement van Godsdienste in Kaapstad …
Daar het ‘n Hindu vir my gesê:
Hy lees die Bhagavad Gita as sy hoofgereg
(Die Bhagavad Gita is die Hindu-Bybel)
Dis sy hoofgereg ..
en dan vir sy nagereg …
dan lees hy Jesus se Saligsprekinge …
Hy lees al die mooi dinge wat daar te lees is …
In Jesus se Saligsprekinge is daar soveel waarhede
wat netsowel Hindu kon gewees het,
(so sê hulle).
Ghandi, die bekende Hindu leier…
Hy was so ‘n nederige arm man
sagmoedig van geaardheid …
Hy het geveg vir geregtigheid
Hy was, so meen baie, rein van hart …
Hy was bekend as ‘n vredemaker …
Hy was vervolg en in die tronk gegooi …
Ander lees hierdie woorde
en dan sien hulle ‘n Moeder Theresa of ‘n Madiba,
Madiba die nederige en sagmoedige prisonier,
Hy was glo in die tronk ter wille van ‘n lofwaardige saak ….
Hulle sien hom as die perfekte verpersoonliking van die saligsprekinge …
Die vraag is net:
Verstaan ons wat ons lees?
Kan ons die Saligsprekinge buite om die persoon van Jesus Christus verstaan …?
Hoe sal ons die Saligsprekinge in sy volle diepte begryp
as ons geen kennis dra van Die Saligspreker nie …?
Hoe sal ons die sagmoediges uitken
as niemand ons nog voorgestel het aan die Die Sagmoedige nie …?
En laat ons maar mekaar eerlik wees, Geliefdes,
ons sal nooit Die Saligspreker of Die Sagmoedige ken
as ons nog nie met drie ander persone kennis gemaak het nie …
Daar is drie ander persone wat ons aan Die Saligspreker bekend moet stel…
Buite om hulle kan ons ook nie die Saligsprekinge verstaan nie …
Buite om hulle kan ons ook nie die Jesus Christus van die Saligsprekinge verstaan nie …
Die eerste persoon wat ons moet ken, is Dawid …
Dawid wie se hele lewe profeties heenwys na Christus …
Dawid is die digter van Psalm 37 …
Daar lees ons die eerste keer van die ootmoediges …
Die ootmoediges sal die aarde besit (Ps. 37:11).
Wie is hierdie ootmoediges?
Hulle is God se kinders wat op die HERE vertrou …
Hulle is God se kinders wat graag die goeie wil doen,
ten spyte van teenstand …
Dis hulle wat swaar kry
om op hierdie aarde ‘n bestaan te maak …
Hoekom kry hulle swaar?
Want hulle word verdruk …
Die goddeloses verdruk hulle.
Die kwaaddoeners beraam listige planne,
listige planne om die erfdeel van die regverdiges in die hande te kry …
Maar, … so hoop en vertrou Dawid:
Die regverdiges, hulle sal die aarde besit en hulle sal vir ewig daarop woon … (37:29).
Dis wat die ootmoediges doen.
Hulle hoop en vertrou
dat die HERE nie sy gunsgenote sal verlaat nie (37:28).
Die ootmoediges buig hulself neer in afwagting op die HERE.
Hy sal eendag hulle saak kom verdedig …
Wag op die HERE
en hou sy weg,
so skryf Dawid.
Wag op die HERE
en Hy sal jou verhoog,
om die aarde te besit;
jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.
Dis die eerste ding wat ons van die sagmoediges, die ootmoediges, leer:
Hulle verkeer in ‘n toestand …
Hulle word verdruk en onderdruk …
soos die vrouesaad deur al die eeue heen verdruk was;
soos die Kain-geslag deur al die eeue heen die seën van die aarde
van God se kinders wil afneem …
In hierdie toestand word die ootmoediges deur Dawid opgeroep om op die HERE te wag …
Vertrou op die HERE,
en doen wat goed is;
bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
Laat jou weg aan die HERE oor
en vertrou op Hom,
en Hy sal dit uitvoer … (Ps. 37:3,5).
Dis die Gees van Christus,
die Gees van Die Saligspreker wat hier reeds praat …
en vandag nog steeds met ons praat …
om geduldig op die Here te wag …
om lankmoedig te wees …
ten spyte van teestand …
om ons begeertes en verlanges met gebed en smeking aan God die Vader op te dra …
Die tweede persoon wat ons moet ken
voordat ons Die Sagmoedige self kan ken,
is die profeet Jesaja.
Jesaja bring ‘n verlossingsboodskap aan die onderdrukte volk …
daardie onderdrukte volk wat Psalm 37 so goed omskryf:
Jesaja verkondig aan hulle bevryding.
Ons sien dit veral in Jesaja 61:
Daar kom ‘n profeet, sê Jesaja …
Die HERE het Hom gesalf ..
Die HERE het Hom gestuur om aan ‘n blye boodskap te bring …
Aan wie?
aan die ootmoediges!
In Jesaja 26 het die Jesaja self hierdie ootmoediges beskryf:
In benoudheid het hulle die HERE gesoek …
Hulle het stille gebede uitgegiet toe die HERE se tugtiging hulle getref het … (Jes. 26:16).
Wat is dan nou die blye boodskap aan die ootmoediges?
Wat sê die gesalfde Profeet van God?
Hy sê
God die Vader het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart,
om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep
en vir die geboeides opening van die gevangenis;
om uit te roep ‘n dag van die wraak van onse God …
Hy het My gestuur om al die treurendes te troos …
Hierdie Profeet kom met ‘n volmag, ‘n gesag van God.
Die Profeet se Woord bring ‘n omkeer in die lewe van die ootmoediges en die treurendes …
Trouens … ons lees in Jesaja 61 dat die Profeet oor sekere dinge sal beskik …
Hierdie is nie net ‘n Profeet nie.
Hy is ook ‘n Koning!
Hierdie Koning neem weer terug wat regmatig aan die ootmoediges behoort …
Vir die treurendes in Sion sal nou gegee word ‘n sieraad in die plek van as …
vreugde olie in plaas van treurigheid,
‘n gewaad van lof vir die verslae gees … (61:3).
Hulle sal ook hulle land ‘n dubbele deel in besit neem …
Hulle sal ewige vreugde geniet … (61:6).
Aan die einde van sy betoog kom Jesaja met ‘n lofsang:
Ek is baie bly in die HERE,
my siel juig in my God;
want Hy het my beklee met die klere van heil,
Hy het my in die mantel van geregtigheid gewikkel.
Want soos die aarde sy plante voortbring,
en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit,
so sal die Here HERE geregtigheid
en lof
laat uitspruit voor die oog van al die nasies (61:10,11).
Hierdie Profeet en Koning kom self omhul in ‘n teenstrydigheid …
Dit het Jesaja al in hoofstuk 53 opgeskrywe.
daar word hierdie Koning ‘n Kneg, ‘n Dienaar genoem:
Hy word selfs mishandel,
Hy onderwerp Hom ook daaraan …
Hy maak sy mond nie oop nie
soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word … (Jes. 53:7).
Hy word so erg mishandel dat mense nie eers na hom wil kyk nie,
so misvormd was sy voorkoms.
Hy het geen gestalte van heerlikheid dat ons Hom aansien
of dat ons Hom sou begeer nie … (53:2).
Hy was verag
en deur mense verlaat …
Ja, Geliefdes, as daar nou ooit ‘n ellendige, arme, ‘n treurende of ‘n sagmoedige was,
dan was dit hierdie Man …
En tog, so lees ek ook in Jesaja 53,
(hier is ons weer by die teenstrydigheid)
en tog …
Die HERE sal Hom ‘n deel gee onder die grotes,
met magtiges sal Hy buit verdeel … (53:12).
Hy sal hoog en verhewe,
ja, baie hoog word …
Hy sal nasies laat opspring …(52:13,15).
Hy sal ‘n nakroos sien … (53:10).
Hy sal ‘n nageslag hê …
Met ander woorde:
Hy is terselfdertyd ook ‘n Koning der konings …
Tot sover die woorde van Jesaja …
Die laaste man wat ons moet ken
voordat ons Die Sagmoedige self kan ken,
is die Johannes die Doper …
Johannes die Doper,
die laaste profeet van die Ou Testament.
Hy kondig aan:
Die koninkryk van die hemele het naby gekom …
met ander woorde,
God se heerskappy oor die aarde en sy bewoners sal nou herbevestig word …
maar nog meer …
God se heerskappy sal ook na vore kom in een Persoon.
Johannes is nie waardig om selfs die Persoon se skoen aan te dra nie.
Waar Johannes met water doop,
sal die Persoon met die Heilige Gees en met vuur doop…
Johannes roep die hele volk op om hulle voor te berei op hierdie Koning.
Wat behels hierdie voorbereiding?
Die volk moet hulle eie sondes erken …
Hulle moet hulle eie afhanklikheid bely …
hulle eie onmag erken …
Die volk word opgeroep om ootmoedig te wees …
Johannes se eie voorkoms en leefwyse getuig saam met hom …
Hy bly in die woestyn …
eet sprinkane en wilde heuning …
dra klere van kameelhare …
Wanneer Johannes uiteindelik hierdie Koning identifiseer,
dan kom hy ook weer met die teenstrydigheid van Jesaja 53 na vore.
Dan sê Johannes:
“Daar is die lam van God!” …
Terselfdertyd Koning,
maar terselfdertyd ook Lam …
Johannes kon dit nie altyd self so goed verstaan nie.
Hierdie Koning
(so het hy daar op die walle van die Jordaan geprofeteer …)
hierdie Koning se skop is in sy hand,
en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak
en sy koring in die skuur saambring,
maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
Maar as hierdie dinge, hierdie oordeel, nie onmiddelik gebeur nie,
dan stuur Johannes vanuit die gevangenis twee van sy dissipels na Jesus met ‘n vraag:
Is U die Een wat sou kom,
of moet ons ‘n ander een verwag?
As U die een is wat die koninkryk van die hemele bring,
hoekom het U oordeel nog nie in werking gekom nie?
En hoe antwoord ons Here hom toe?
Ons Here self verwys weer na Jesaja 61:
En Jesus het geantwoord
en vir hulle gesê:
Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien:
blindes sien weer
en kreupeles loop,
melaatses word gereinig
en dowes hoor,
dooies word opgewek
en …
en aan armes word die evangelie verkondig (Mat 11).
Salig is die armes wat na die verlossingsboodskap verlang.
Salig is die armes van gees,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele …
Salig is die wat treur,
want hulle sal vertroos word.
Salig is die sagmoediges,
want hulle sal die aarde beërwe.
U sien, Geliefdes,
ons kan nie hierdie woorde verstaan … reg verstaan …
as ons nie eers vir Dawid,
as ons nie vir Jesaja
en as ons nie eers Johannes die doper ontmoet het nie …
En as ons hulle ontmoet het
en hulle het ons aan Die Saligspreker voorgestel,
dan kan ons begin om die Saligsprekinge te begryp …
Sonder Die Saligspreker beteken die Saligsprekinge niks …
Hierdie is nie woorde wat ons na ‘n vroom lewenswandel toe lei nie …
Hierdie woorde kan nie sommer op die mensdom in die algemeen toegepas word nie …
Dit kan ook nie toegepas word op die mense van hierdie wêreld nie …
die mense wat in die mensdom se oë ikone is nie;
die mense wat deur ander mense vereer en geprys word,
omdat hulle kwansuis so nederig of sagmoedig is nie …
‘n Ghandi of ‘n Moeder Theresa of ‘n Madiba is nie hier te sprake nie …
Dit gaan nie hier oor die sogenaamde “Madiba magic” nie …
Ons as gelowiges kan ook nie hierdie woorde:
salig is die sagmoediges,
uit hulle konteks haal …
(soos ‘n mens ‘n sjokolade uit ‘n pakkie gemengde lekkers uitpik nie …)
en dan meen dat hierdie woorde vir ons ‘n besondere betekenis sal hê nie …
Hierdie is nie woorde van algemene lewenswysheid nie …
Hierdie woorde is ‘n toekomsvoorspelling …
van die mees radikale aard …
Saam met al die ware gelowiges …
al God se uitverkorenes deur duisende jare …
van Dawid se tyd …
tot 500 later in Jesaja se tyd …
tot ‘n duisend jaar later in Johannes se tyd …
Hulle wat treur oor die wêreldtoestand …
Ons wat treur oor ons eie sondetoestand …
Ons wat weet dat ons in ons eie krag niks kan vermag nie …
Ons wat dikwels deur die wêreld geminag word,
omdat ons die HERE verwag …
Ons wat die HERE soek …
Ons wat stille gebede voor Hom uitgiet …
Ons wat in die nanag en die vroeë oggenduur …
onsself voor die HERE verootmoedig …
Ons wat die Goddelike teenstrydigheid verstaan
en daarmee saamleef …
Ons sal salig wees …
Ons wat in afwagting leef …
Ons wat beledig en vervolg word ter wille van ‘n Koning,
Hy aan Wie alle mag op hemel en op aarde gegee is …
Ons sal saam met Hom hierdie aarde beërwe …
Ons wat die voleinding van God se koninkryk verwag …
Ons wat ons Verlosser uit die hemele verwag
van waar Hy weer sal kom …
Ons sal by Hom rus kry …
Hy wat sê:
Kom na Hom toe,
almal wat vermoeid en belas is
en Hy sal julle rus gee …
Neem Sy juk op julle
en leer van Hom ,
want …
want Hy …
Hy is sagmoedig
en nederig van hart …
Amen.
Leave a Reply