Preek: Psalm 11 – Omgekeerde fondamente: God sien en God oordeel

oom christiaan matlabas

Preek: Psalm 11 Omgekeerde fondamente              GK Matlabas 2013-12-22

Lees Psalms 10,11 en 12

Teks Ps. 11:3 As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?

Psalms: 138:1,2; 138:3,4; 68:3; 68:9; 68:15,16.

Tema: God sien en God oordeel

Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

Geliefdes,

Ons het gisteroggend ‘n geliefde lidmaat begrawe …

die slagoffer van ‘n geweldsmisdaad,

of moet ek liewer sê …

nog ‘n slagoffer van ‘n geweldsmisdaad …

Ons het Oom Chrisjan ter ruste gelê,

maar ons het nog nie self ter ruste gekom nie.

Hierdie probleem woel in ons binneste.

Dit broei onder ons mense …

Hierdie probleem van die omgekeerde fondamente.

Vandag vra ons, Broeders en Susters …

Saam met u vra ek die HERE vandag:

As die fondamente omgegooi word,

wat kan die regverdige doen …?

Wat kan ons doen in ‘n land … in ‘n gemeenskap

waar die fondamente omgegooi is?

Dit wat vroeër reg was,

dis nou verkeerd …

Dit wat vroeër waarheid was,

dis nou ‘n leuen …

Dit wat vroeër lelik was,

is nou mooi …

Dit wat bo was,

is nou onder …

Dis lankal nie meer snaaks om op te merk

dat die misdadigers nou vry rondloop,

terwyl die wetsgehoorsames agter tralies leef nie …

Ons mense word links en regs uitgemoor

terwyl die polisiehoofde

en baie ander korrupte amptenare

net daar is om hulle self te verryk.

So lyk dit.

Ja, sedert die land se hoogste wet ‘n akte van menseregte is,

staan ons onder ‘n regering van sotterny.

So wil dit voorkom.

En die fondamente is omgekeer …

Die pilare van die samelewing het getuimel …

Niks is meer seker nie …

Niks staan meer vas nie …

Vergeet maar van reg en geregtigheid …

Wat kan die regverdige doen?

Dis wat ons vandag van die HERE vra …

Dis wat ons vandag uit sy Woord wil verneem …

Want dis wat ons ook vandag bely:

Want alleen Sy woorde is rein woorde.

Die HERE se woorde alleen is silwer …

silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde,

gesuiwer sewe maal.

En omdat Sy woorde gelouterde en gesuiwerde silwer is,

sal ons versigtig daarmee werk …

Die eerste vraag wat ons dus moet beantwoord:

Wie is die regverdiges, van wie hier geskryf word …?

Wie is die regverdiges in hierdie land …

Miskien is dit ons aanvoeling om te sê:

Die regverdiges is mos alle wetsgehoorsame burgers …

mense wat hulle belasting betaal …

mense wat gewoonlik by stopstrate stilhou …?

Of miskien is ons aanvoeling om te sê:

Ons weet mos almal wie in Suid Afrika die regverdiges is:

Die regverdiges is blank …

en die goddeloses is swart …

Dis ‘n eenvoudige verklarings,

maar dis nie die Bybel se verklarings nie …

Dis nie sewemaal gelouterde, gesuiwerde verklarings nie.

Volgens die Bybel is net dié wat voor God regverdig is,

waarlik regverdig …

Die regverdiges is die ware Godsvolk, die ware Israel.

Die ware Israel ken nie ‘n algemene universele begrip van geregtigheid nie.

Die ware Israel verlaat hom nie op die akte van menseregte nie.

Die ware Israel ken slegs God se geregtigheid.

Alles wat goed en reg is, verwag die ware Israel slegs van Hom,

van Hom in wie se beloftes hulle onwrikbaar vashou.

En daarom beroep die ware regverdige hom telkens …

telkens op die Here se beloftes …

ook hier in die Psalms wat ons saam gelees het:

“U het mos belowe, HERE

U sal die ellendiges nie vergeet nie.

U is die helper van die wees.

U sal die ootmoediges se hart versterk.

U oor sal luister.

U oog sal sien.

U is die een wat bewaar …

U sal ons vir ewig bewaar …

U is die een wat opstaan …”

Mense wat so praat,

mense wat so bid,

mense wat hierdie woorde ken,

mense wat die regverdige HERE ken,

alleen hulle … alleen hulle kan hulself regverdig noem.

Volgens Habbakuk 2 vers vier:

Alleen hulle wat deur die geloof lewe …

alleen hulle is die regverdiges.

Nou is daar baie wat glo dat hulle onder die regverdiges tel …

Maar nie almal wat sê hulle glo in liewe Jesus,

is noodwendig van Sy mense nie.

Hy sê dit self in die Evangelies.

Nie almal wat sê dat hulle van Israel is nie,

is van Israel nie …

En daarom toets die oë van die HERE die mensekinders.

Die HERE toets die regverdige.

Sy oordeel begin by Sy eie volk.

Sy oordeel begin in Sy eie huis …

En as die volk soos in Jeremia se tyd,

as die volk slegs uiterlik uitgeroep het:

Vrede … vrede …

As die volk slegs die tempeldiens uiterlik onderhou het …

As die volk eintlik meer in Rugby, Braaivleis, Sunny skies and Chevrolet belanggestel het,

dan moet hulle nie verbaas wees

as die HERE die fondamente omkeer nie …

As die volk net daarop uit is

om homself ten alle koste te verryk,

dan moet hy nie verbaas wees

as hy eendag geteister sal word deur ‘n goddelose volk

wat hulleself ook ten alle koste wil verryk nie …

Dan moet hulle nie verbaas wees

as hulle in die toestand land

waar die volk in Jeremia se klaagliedere geland het nie …

Hoor die smart van die omgekeerde fondamente in vyfde hoofstuk van die Klaagliedere:

Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, so sê Jeremia

ons huise het na uitlanders oorgegaan.

Ons water drink ons vir geld,

ons hout kom teen betaling in.

Ons vervolgers is op ons nek;

Knegte heers oor ons,

niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.

Met lewensgevaar bring ons ons brood in.

Jongmanne dra die handmeul,

en seuns struikel onder die drag hout.

Die oudstes is nie meer in die poort nie,

die jongmanne sonder hulle snarespel.

Die kroon van ons hoof het geval  

Ja, Geliefdes, die HERE toets ons.

Hy toets ons deur omstandighede …

Hy toets ons deur landsomstandighede …

Miskien is daar geen vromes meer nie.

Miskien het al die opregtes verdwyn?

Nee, tog nie, dit kan nie wees nie!

Daar sal altyd regverdiges wees.

Die HERE sal hulle bewaar,

so het ons mos saam gelees …

Die HERE sal hulle bewaar …

Die HERE sal ons bewaar … vir ewig bewaar.

Maar dan kom die vraag steeds by Dawid op,

dan kom die vraag steeds by my op …

en ek is seker dit kom ook by u op:

Wat kan die ware regverdige doen as die fondamente omgegooi is?

Dan klink ons gebed so:

“Ek is ‘n bedienaar van U woord in die gemeente.

Ek is ‘n getroue ouderling in U kerk.

Ek leef in ootmoed voor die almagtige God.

Ek sit nie in die kring van spotters nie …

Ek soek nie my heil in onregverdige wins nie …

Ek bedien my vrou en my kinders met die Here se Woord.

Ek verwag my Here van waar Hy sal kom

om die lewende en die dooies te oordeel …

Wat kan ek doen as die fondamente omgekeer is …?

As die goddeloses maak en breek soos hulle wil …?

As die goddeloses lieg en bedrieg soos hulle wil …?

As die goddeloses roof en moor soos hulle wil?

Hulle lê hulle hinderlae langs ons nasionale paaie.

Uit skuilplekke beloer en begeer hulle oë.

Hulle beloer en begeer dit

wat nie aan hulle behoort nie.

Hulle span die boog

en skiet vanuit die donker.

Hulle martel en moor en verkrag …

sonder om ‘n oog te knip.”

God is, volgens hulle, hulpeloos.

God kan niks onthou nie.

God het nie ‘n saak met hierdie wêreld nie.

Eintlik verag hulle God.

Eintlik sê hulle:

Daar is geen God nie!

Hulle is inderdaad goddeloos.

Wat kan ons doen

as die fondamente omgekeer is,

as dit is hoe sake staan?

Vlug?…Vlug soos ‘n voël?

Daar is baie wat die raad volg …

vlug … soos ‘n voël na ander lande …

ander goddelose lande …

Vlug na ‘n ander land met ‘n blanke regering,

‘n blanke goddelose regering …

waar daar sonder om ‘n oog te knip gehoereer en geaborteer word;

‘n ander land waar God gelaster word;

‘n ander land waar God ook misken word,

maar wat tot nou toe nog nie so geweldadig is,

as hier in Suidelike Afrika nie … ‘n ander goddelose land.

Ek vra u, Broeders en Susters:

Hoe lank sal die oordeel in daardie lande uitbly?

Hoe lank voor die Skepper van hemel en aarde hulle nie ook sal oorgee nie …

oorgee aan die noodwendige vergelding van hulle dwaling?

Wat sê die apostel Paulus in Romeine 1 ?

Wat is die noodwendige vergelding van hulle dwaling,

die noodwendige vergelding van elke goddelose nasie …

ongeag ras of kleur?

Hy noem dit in Romeine 1 vers 28 en verder.

God gee hulle uiteindelik ook oor aan:

‘n slegte gesindheid

allerhande ongeregtigheid

boosheid,

hebsug

moord

Dan word daardie gemeenskap ook haters van God,

uitvinders van slegte dinge.

Dan word hulle ook geweldenaars.

U kan dit self gaan lees.

Dit staan net so daar in Romeine 1.

Nee, op die lang duur sal hierdie uitvlug ook nie help nie.

Nee, sê Dawid in Psalm 11:

Hoe kan julle vir my sê:

Vlug … soos ‘n voël?

Maar wat dan?

Maar wat dan?

Wat kan die regverdige doen?

Die regverdige kan doen wat alle regverdiges deur alle eeue nog gedoen het …

Hy kan doen wat ons voorouers gedoen het,

nadat Dingaan se impi’s Piet Retief en sy 75 man laat vermoor het;

nadat Dingaan sy moordenaars by Bloukrans en Weenen op die vroue en kinders losgelaat het …

Hy kan doen wat ons voorouers gedoen het …

toe die blanke Britte van Brittanje ‘n bietjie meer as ‘n eeu gelede op die Boererepublieke losgelaat is …

toe die blanke skuim van Brittanje ‘n bietjie meer as ‘n eeu gelede op ons vroue en kinders losgelaat is …

en hierdie aarde ses-en-twintig duisend vroue en kinder lyke ontvang het.

Ons voorouers het hulle tot die HERE gewend.

Die regverdige wend hom tot die Here.

By die HERE skuil ek.

Hy is Koning vir ewig.

Vir diegene van ons wat na veiligheid smag.

Hy sal ons in veiligheid stel.

Psalm 11 sê:

Hy is regverdig …

Die res van die Skrif sê:

Hy is Die Regverdige.

As Die Regverdige ken Hy die omgekeerde fondamente.

Hy wat self bo was, was toe onder gestel.

Geweldenaars en moordenaars het bo-oor Hom getroon.

Hy is tot  die hel verdoem,

maar … maar … God die Vader het Hom weer verhef …

tot aan Sy regterhand verhef …

tot by Sy troon in die hemel verhef.

Ek skuil by Hom …

en dit is in Sy Naam

dat ek met die Vader in gebed sal worstel.

Dis wat die regverdige kan doen.

Hy kan met die Vader in gebed worstel in die Naam van Jesus Christus.

Ons kan bid:

“Vader hierdie omgekeerde goddelose wêreld onteer u Naam!

U sien tog …

U sien alles …

U hoor die begeertes van die ootmoediges …

Ons lees U beloftes in die Skrif

en ons gryp daaraan vas” …

Die gebed van die regverdige het groot krag …

Ons leer dit uit die brief van die apostel Jakobus …

Die gebed van die regverdige het groot krag

En ons weet dat die Here ons geleer het

om vir ons vyande te bid …

Om te bid dat hierdie goddelose land tot bekering sal kom.

Ons weet dat die Here elke uitverkore kind

wat Hy wil red, uit hierdie krom en verdraaide geslag sal red.

Maar, Geliefdes,

die Bybel leer ons ook

om die woorde van die Psalms te bid …

en dan te bid

dat die regverdige God Sy regverdige oordeel oor die goddelose sal loslaat …

in ewigheid, maar ook nou …

ook nou in hierdie tyd waarin ons vandag leef.

“Verbreek hulle arms, hemelse Vader.

Maak hulle vermetele monde stil.

Laat die heiden in U land vergaan,

sodat geen aardse mens langer sal voortgaan

om skrik aan te jaag nie.

Reën vuur en swael op hulle, hemelse Vader …

en soos ons, U kinders, die nagmaalbeker deel …

laat hulle deel aan die beker van U gloeiende wind.

Laat u koninkryk kom,

want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid …

Amen”.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: