Begrafnispreek: Psalm 27 (Oom Chrisjan se begrafnis)

oom christiaan matlabas

foto geneem deur Gustav Opperman

Lees: Psalm 27

Begrafnispreek van Johannes Christiaan Theunissen  

GK Matlabas 2013 12 21

Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas) 

Ps.27:10  Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.

(Agtergrond van die preek: Die moord op ‘n boer van die Gereformeerde Kerk Matlabas, sien die berig hier in die Beeld: Boer (88) doodgeskiet)

Begrafnisgangers, Huisgenote in die geloof,

Chrisjan Theunissen het sy vyande gehad.

Stil en eenkant op sy plek, was hy.

Maar hy was nie sonder vyande nie.

Dis duidelik uit die afgelope week se gebeure.

Ons het almal iets in die gemeen met Oom Chrisjan.

Soos hy vyande gehad het,

So het ons ook vyande.

U het reg gehoor …

Dis net vyande wat aanval.

Dis net vyande wat op die onskuldige lê en loer.

Dis net vyande wat gewapend in die donker nader sluip.

Maar dis nie al vyande wat ons het nie.

Moordenaars en rowers is nie al vyande

wat ons het nie.

Ons het ontelbaar ander vyande.

Vyande wat Oom Chrisjan ook geken het.

Eensaamheid, ouderdom, liggaamlike agteruitgang,

siekte … uiteindelik die dood …

Almal vyande …

Die dood is die laaste vyand wat vernietig moet word,

skryf die apostel Paulus (1 Kor. 15:26).

Ja, ook Twyfel en Depressie kan op ons afkom soos die kwaaddoeners

wat Maandagaand op Oom Chrisjan afgekom het.

Soos kwaaddoeners kom hulle nader

om my vlees te eet,

soos Dawid dit stel.

Soos kanker ons vlees kan eet.

Soos twyfel ook ons gees kan eet.

Stukkie vir stukkie opknaag …

Wat kan ons doen?

Wat bly daar oor om te doen

as die vyand ‘n laer teen jou opslaan?

Ons moet doen wat Dawid gedoen het …

Ons moet doen wat elke bang verbouereerde klein kindjie doen

wanneer al die seuns op die blok teen hom saamtrek ….

Wat doen hy?

Hy laat spaander huis toe …

reguit Pa toe.

Ons kan beter doen as dit.

Ons het ‘n hemelse Vader,

ontsaglik in vermoë …

‘n hemelse huis …

onbereikbaar vir enige vyand …

My hart sal nie vrees nie;

al staan ‘n oorlog teen my op,

nogtans vertrou ek.

Want die hemelse Vader steek my weg in Sy hut in die dag van onheil;

Hy verberg my in die skuilplek van Sy tent.

So het ons gelees.

Die hut en die tent klink miskien nie baie indrukwekkend nie,

maar dit is nie die waar, die plek,

die hut, of die tent wat saak maak nie.

Dis die Wie wat saak maak.

Ek mag afgesonderd in ‘n nederige huis bly.

My skuilplek is dalk net ‘n kamer êrens.

Dit maak nie saak nie.

As ek maar net by die Here is,

dan is ek veilig.

As my siel by die HERE is,

dan is ek werklik geborge.

Dan kan die vyande maar kom!

Laat dan maar buig en beef

Al wat ons hier omgeef …

Die Heer is daar, Hy hou die wag

So gaan die donker uur dan om … (Ps. 46 berymd).

Waarin lê die geheim van hierdie skuilplek?

Dit lê nie in die magtige mure, die versterkte torings nie.

Nie in die verdedigingswapens nie;

nie die pille en die antidepressante nie …

of die mediese fonds …

die sielkundige beraders nie …

Wat doen die voortvlugtende Dawid in hierdie skuilplek?

Is hy besig om ‘n voorraadopname van sy wapens te maak?

Is hy besig om sy korrel op die vyand in te stel?

Bou hy sy gestel op deur ‘n daaglikse dosis vitamines?

Is hy besig met ‘n verjongingskuur …?

Soek hy sielkundige berading?

Ons lees niks daarvan nie.

Wat doen Dawid in hierdie huis?

Een ding het ek van die HERE begeer …

om die lieflikheid van die HERE te aanskou

en te ondersoek in Sy tempel.

Ek wil in Sy tent offerandes offer.

Ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE.

Is dit nie merkwaardig nie?

Die vyand lê voor die deur.

Hulle het hulle laer opgeslaan.

Hulle blaas geweld uit.

Ons leef in ‘n dag van onheil,

soos die Psalmdigter dit stel …

‘n Oorlog staan teen Dawid op:

Heidense bendes, Saul se bendes,

rowerbendes, moordenaars …

maar ook Eensaamheid, Kanker en Dood …

Hulle wil ons vlees eet …

En wat doen die gelowige?

Hy wil die lieflikheid van die Here aanskou!

Hy wil die tempel, die huis van God ondersoek!

Hy wil offerandes offer!

Hy wil psalmsing tot eer van die Here!

En só, glo hy, sal die Here hom op ‘n rots plaas.

So sal sy hoof hoog wees bo sy vyande rondom hom.

Bo Eensaamheid , bo Siekte, bo Dood …

Bo al die ander vyande wat Chrisjan Theunissen in sy lewe moes trotseer.

Al daardie vyande wat ons dalk nou of eendag moet trotseer …

Die Here plaas ons hoofde hoog bo die vyande rondom ons.

Terwyl ons besig is om met Hom besig te wees …

om die dinge van Sy huis te ondersoek;

om te sing, Sy Psalms te sing:

Hoe lieflik is U wonings, HEER der leërskare!

Hoe begeer my siel en hunker van verlange

om na Gods woning op te gaan

en in U tempelpoort te staan

met jubelende lofgesange …

Om ons liggame te stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer,

soos die apostel Paulus in Rom. 12 sê.

Daardie selfde liggame wat reeds …

reeds so deur die ouderdom se aanvalle verrinneweer is.

Dis ons beste verweer teen hierdie aanvalle …

om skuiling te soek by die Here,

by ons hemelse Vader,

terwyl ons oë op Hom gerig hou.

Waar soek ons troos? Waar soek ons versterking in hierdie omstandighede?

Waar kry ons krag en waar word ons self verhef in hierdie omstandighede?

Wie is getrou, is betroubaar onder alle omstandighede?

Wie sal my nie verstoot nie?

Wie sal my nie verlaat nie?

Al het my vader en my moeder my verlaat

Al is my huis oud en bouvallig …

Al is ek sonder kind of kraai …

Wie sal my nie verlaat nie?

Wie sal my aanneem?

‘n Hemelse huis …

onbereikbaar vir enige vyand …

Ons kan tog wel vra,

ons moet seker wonder:

Hoe bereikbaar is daardie huis, daardie skuilplek, daardie rots vir my?

Wie mag klim op die berg van die HERE?

En wie mag staan in sy heilige plek?

vra Dawid in Psalm 24.

Wie mag? word gevra.

En dan gee Dawid self die antwoord:

Hy wat rein van hande en suiwer van hart is

Skoon hande, suiwer hart …

Dis nie ek nie!

Dit was ook nie Dawid nie.

In Psalm 51, sê hy weer:

Was my heeltemal van my ongeregtigheid

en reinig my van my sonde.

Want ék ken my oortredinge,

en my sonde is altyddeur voor my.

Dit was sekerlik ook nie Chrisjan Theunissen nie …

Hoe voorbeeldig hy ookal gelewe het.

Skoon hande, suiwer hart …

Dis die vereiste, dis die toegangskaartjie

tot die huis van God …

En nou lyk daardie huis, daardie skuilplek, daardie rots skielik so vêr!

Hoe gaan ek daar kom?

As ek maar ‘n toegangskaartjie gehad het …

Maar dit sou ook nie help nie …

Want die oomblik as ek of Oom Chrisjan daardie toegangskaartjie sou uithou,

sou enigiemand kon sien hoe vuil ons hande was.

En nou lyk daardie vyande vir my skielik weer so baie:

kwaaddoeners, siekte, eensaamheid, depressie, twyfel, dood.

Hulle laers staan stewig opgeslaan.

Hulle banier wapper in die wind.

Hulle kom op my af!

Ek kan die grinnik op hulle gesigte sien …

Waar is al my vroom gedagtes om te gaan skuil in die Here se huis?

Hoe ek daar Sy dinge gaan ondersoek …

vir Hom my offers bring,

Sy Psalms sing … ?

Vriende, dis hoekom die Here Jesus se woorde in Joh. 14 so besonders is,

so ongelooflik is …

daar waar Hy sê:

In die huis van My Vader is daar baie wonings;

Ek gaan om vir julle plek te berei.

En as Ek gegaan en vir julle plek berei het,

kom Ek weer

en sal julle na My toe neem,

sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Thomas, een van die dissipels, het swaar gesluk aan dié woorde:

Here, ons weet nie waar U gaan nie,

en hoe kan ons die weg ken?

“Ons weet nie meer waar hierdie huis is nie!

En ons ken ook nie die pad soontoe nie!”

As Jesus se uitspraak oor die huis van die Vader besonders was,

dan was Sy antwoord aan Thomas nog meer besonders:

Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe;

niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Hy is die Weg!

Die pad loop deur Hom.

Hy hou die toegangskaartjie in Sy hand.

En laat ons met mekaar eerlik wees:

Sy hande was skoon.

Hy mag klim op die berg van die Here.

Hy mag maar staan in sy heilige plek.

Ons Here Jesus het die toegangskaartjie in Sy hand.

Deur Hom kom ons in die Vaderhuis.

Een vir een loop ons na binne, Sy broers en susters, begrafnisgangers.

Hy het elkeen se toegangskaartjie in Sy hand.

Hy het vir elkeen betaal …

vir Dawid … vir my,

vir Oom Chrisjan.

Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek:

dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE,

om die lieflikheid van die HERE te aanskou

Hoe weet ons dit?

… Dat ons maar kan ingaan …?

Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE?

Hoe weet ons dit vandag? Nou?

Ek het my Gees vir julle gegee, sê die Here.

Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur,

Hy sal julle alles leer.

Hy sal julle herinner aan alles

wat Ek vir julle gesê het (Joh 14:26).

Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God,

wat ons ook die Gees as onderpand gegee het …(2 Kor 5:5).

Waarvoor het God ons toeberei?

Waarvoor het Hy sy Gees gegee as waarborg?

Sodat ons kan weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word,

ons ‘n gebou het van God,

‘n huis nie met hande gemaak nie,

ewig, in die hemele.

Daarom sug ons ook, skryf Paulus

en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word

Hoe lieflik is U wonings, Heer der Leërskare!

Daarom gee ons nie moed op nie,

het Paulus eerder geskryf in dieselfde brief,

maar al vergaan ons uiterlike mens ook …

Al storm die vyande, Siekte en Dood, op ons af …

nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe …(2 Kor. 4:16).

Al het my vader en my moeder my verlaat …

Ek weet die Here sal my nie verstoot nie!

Ek weet Hy sal my nie verlaat nie …

Dis vanweë die Gees wat in ons getuig …

Is u bewus van daardie Gees wat in u getuig?

Getuig Hy in U … nou?… Hier? … Vandag …

onder hierdie omstandighede?

Dieselfde Paulus skryf in sy brief aan die Romeine:

Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie,

maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders,

deur wie ons roep: “Abba, Vader!”

Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is … (Rom 8:15,16).

Nou kan die kwaaddoeners teen my maar nader kom.

Ek weet hulle wil my vlees eet …

Soos ons vlees deur kanker geëet word …

Kyk, die kwaaddoeners struikel en val …

En vir u, familie en vriende en geloofsgenote, is daar geen beter troos nie.

Is daar geen beter plek van vertroosting nie …

As juis in die huis van Here nie …

Hoe lieflik is u wonings, HEER der leërskare!

Hoe begeer my siel en hunker van verlange

om na Gods woning op te gaan!

Al word ‘n laer teen my opgeslaan:

Kwaaddoeners, Eensaamheid, Siekte, Ouderdom …

My hart sal nie vrees nie!

Al staan ‘n oorlog teen my op,

Nogtans vertrou ek

Dood, waar is jou angel?

Doderyk, waar is jou oorwinning? (1 Kor. 15:55)

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: