Posted by: proregno | March 17, 2014

Bybelse tydlyn & John Dewey se invloed op skole

 tydlyne gesin

TYDLYN VANAF DIE SKEPPING

Ervaar dat die Bybel in die geskiedenis geanker is

Nuutste uitgawe te koop

Ou uitgawe gratis vanaf blog

http://tydlyn.blogspot.com

willem@diemoot.net

0123334020/0828243190

Hier volg ook ‘n artikel van dr. Willem van Heerden, opsteller van die bogenoemde tydlyn:

John Dewey (1859 – 1952)

dr. Willem van Heerden

Samevatting

Dewey het  ’n geweldige invloed op die aftakeling van goeie onderwys in die VSA en ander lande gehad. Daarmee is ook die samelewings se waardes afgetakel  deur die opgroeiende jeug.

In hooftrekke was sy filosofie soos volg:

·         Waarheid is nie universeel of absoluut nie. Absolute waarheid is ’n illusie. Niks is finaal nie, alles is vloeibaar. Alles verander voortdurend. Mense moet hulself nie besig hou met waarheid nie maar met betekenis—wat hierdie of daardie gebruik beteken, ens. Waarheid is gesetel in ondervinding.  Ondervinding wat toegepas word en wat werk is waarheid.

·         Morele gebruike het oor die tyd in die geskiedenis ontstaan as gevolg van omgewingsdruk, en word behou alleen as dit die toets slaag van ondervinding en pragmatiese resultate.

·         Kerke moet hervorm om die mensdom te dien. Dit is ’n godsdiens wat ’n blom sal wees van die moderne gees.

·         Mense is maar net biologiese organismes, maar anders as in die natuur waar ewekansigheid werk, moet mense besluite neem. Keuses moet gemaak word, ‘n soort van verstandelike ‘natuurlike’ seleksie, of geestelike aanpassing by die omgewing.

·         Skole het ‘n rol—die produksie van sosiale verandering.

·         Dewey het gesê dat Darwin hom ‘n nuwe logika gegee het om op die verstand en morele waardes toe te pas—sosiale ewolusie. Hierdie idees is niks anders nie as geestelike gereedskap om dinge gedoen te kry. Die enigste toets is hoe goed dit werk.

Meer besonderhede

Aan die begin van die 20ste eeu was daar groot verwagting (nie by ons is SA nie!) dat nuwe dinge gaan gebeur. Alles het rooskleurig gelyk met steeds beter tegnologie, filosofieë wat populêr word en beskawings wat al meer floreer het.

Darwin se hipotese het volle aandag gekry, en is ook toegepas op kultuurontwikkeling. Alles sou regkom met genoeg tyd. Maar, die teendeel het begin gebeur, en die bolwerk wat die verkeerde  in alles moes tem, die Christendom, se korrektiewe teologie het in die slag gebly, kon nie die humanistiese stroom keer nie, en het intellektueel en teologies in ‘n sekere sin saam beweeg.

Teen die agtergrond het Dewey, as pragmatis, ook sy invloed laat geld. Hy het ’n raakpunt met Hegel se filosofie gehad. Hegel het glo ‘n “deposito by hom gelos.” Sy denke was deurstrengel met ewolusie en die mens wat voortdurend moet kies om aan te pas.

Opvoeding

Dewey se groot invloed was in opvoedkunde deur sy baie geskrewe stukke deur die opleiding van onderwysers. Die volgende is in hooftrekke sy standpunte oor die onderwys.

1.       Onderwys berus fundamenteel op eksperimente.

2.       Onderwysers is nie instrukteurs nie en moenie aan hulself dink as mense met die finale waarheid nie, maar as fasiliteerders om  leerders te laat eksperimenteer sodat hulle pragmatiese strategieë kan ontwikkel, wat vir hulle werk. Leerders moet keuses maak volgens hul eie ondervinding.

3.       Die metode dat elke leerling, as outonome individu, sy eie keuses maak, sy eie waardes kies, moet streng gehandhaaf word. Maar dis glo nie so maklik nie, want ‘n persoon se keuses word beïnvloed deur voorafgaande dogmas en geloofs- of kultuurwaardes. Dít moet eers uitgevee word voor ‘n leerling kan kies.

As voorbeeld het ‘n ma van haar ondervinding vertel, van hoe die uitvee proses werk. Kinders moet met ‘n skok uitgeruk word uit hul voorafgaande idees. In haar dogter se klas is aan hulle gesê hulle moet hul verbeel dat hulle ‘n moord beplan op hul beste vriend. Watter alternatiewe is daar om dit reg te kry? Sommige leerders het in weersin geweier om enigiets te beplan, maar dit was nie aanvaarbaar nie! Verder het die onderwyser van die kinders verwag om hul gevestigde idees te los, deur bewustelike herhalende denke dat dit verkeerd kan wees—sodat hulle in aanraking kan kom met hul eie persoonlike egte gevoelens {TT bl 240, b].

4.       Van kinders word verwag om hul eie realiteit te skep!

John Dewey het ‘n groot aandeel gehad in die vorming van moderne samelewings. Hy het dit gedoen deurdat sy onderwys metode toenemend in skole toegepas is. As gevolg van artikels en boeke wat hy geskryf het en lesings wat hy gehou het en uiteindelik as hoof van die opvoedkunde departement van die invloedryke Columbia Universiteit in New York, het baie sy werk as gesaghebbend aanvaar. Onderwysers van oor die hele wêreld het na dié universiteit gestroom. Hulle het wat hulle geleer het as die “wetenskaplik-regte” metode aanvaar en toegepas, ongeag [TT bl 242]. Hulle bevraagteken dit nie. Hul geloof, indien enige, word in ‘n aparte kompartement gehou.

Ander, op dieselfde trant as Dewey, byvoorbeeld Mary Calderone, sê: Die hoof vraag wat opvoeders moet beantwoord is “watse soort mens wil ons produseer vir sy plek in die samelewing en hoe ontwerp ons die produksie lyn.” Sy roep skole op om kwaliteit mense te produseer  deur middel van doelgerigte  prosesse wat deur die beste denkers opgestel is (TT bl 392, m). . .  dit lyk amper of dit na genetiese ingenieurswese kan lei!?

Godsdiens

Dewey se godsdiens het in stappe verander tot dit naturalisme geword het. Dit was ‘n soort van verlossende humanisme en naturalisme (die mens en die natuur is alles). Hy het sy volgelinge aangeraai  om godsdienstige toewyding aan sosiale ideale te ontwikkel. Dit was ‘n geloof wat pas by sy geloof dat mense maar net biologiese organismes is wat probeer om die omgewing te beheer deur wetenskap [TT bl 239].

Kommentaar

Soos die twintigste eeu gevorder het, het dit al duideliker geword wat regtig aangaan. In plaas van rooskleurigheid was daar groot donkerheid, met ongekende gruwels. Onder die vaandel van die “goedheid van die mens”  is beter samelewings gepropageer waar goeie mense al hoe beter sou ontwikkel, met gevolglik al hoe meer voorregte (die eskalasie mite). Na oorname, egter, het diktators stelselmatig andersdenkendes en “oortreders” begin moor in kampe en op ander maniere en het die leiers-groep ongekende luukshede en voorregte vir hulle self ontwikkel.

Hoewel miskien nie op ’n tirannieke wyse afgedwing soos die kommunistiese diktators nie, was die Dewey-benadering wat in skole ingekom het, iets soortgelyks. Dit het die publieke skolestelsel in Amerika omgekeer tot die slegte toestand waarin dit sedertdien bestaan het.  Nie net geestelike waardes het in die slag gebly nie, ook oordrag van kennis. In 1989 verklaar die sekretaris van onderwys in Amerika soos volg: “Sedert 1985 het Hoërskool leerlinge konstante of verminderde punte in Universiteite se toelatings eksamens gekry en is die studente wat universiteit opgee en padgee onveranderd (onthou dat teen 1985 dit alreeds sleg was). Een uit elke vier Hoërskool leerders verlaat die skool voor finale eksamens—naby ’n miljoen. ’n Ander kwart—nog ’n miljoen—wat wel Hoërskool standerds voltooi het, is funksioneel ongeletterd wanneer hulle hul diplomas ontvang. Dus, helfte van die 18-jariges in hierdie land (VSA) het nie geslaag om basiese taal-, wiskunde- en analitiese vaardighede te bemeester nie. ’n Miljoen “dropouts” hier ’n miljoen funksionele ongeletterdes daar, elke jaar.” [7M bl. 172].

Dus, van die totale 4 miljoen kinders wat in Amerika elke jaar in die skole begin het, het net die helfte ’n redelike mate van kennis bekom. Maar ook hulle, saam met die ander vroeë skoolverlaters en dié wat nie by geletterdheid kon kom nie, is die samelewing in met ’n Dewey-tipe geestelike voorbereiding. Gevolglik het die samelewing elke jaar ’n afwaartse inspuiting gekry, met baie gevolge. Onder andere het saamwoon en egskeidings normaal geword. Kinders het groot geword sonder die stabiele invloed van gesinsverband. Miljoene ander kinders is nooit gebore nie, is met met aborsies vermoor!

Die finale toets dus, volgens Dewey se eie maatstaf (Ondervinding wat toegepas word en wat werk is waarheid): Dit het nie gewerk nie!

Bronne

Die letters, aan die einde van ’n skrywer se naam bv. (XY), word in die geskrewe stuk as verwysing gebruik. Partymaal is die inligting so vervleg tussen skrywers dat net ’n algemene verwysing gegee word.

Breese, Dave. “Seven men who rule the world from the grave,”  1990, (7M)

Pearcey, Nancy. “Total truth,” 2004, (TT)


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: