HOE LANK MOET ’N PREEK WEES ?
deur ouderling Coen de Beer van die GK Daspoort
Inhoud:
- Wat leer die Woord ons oor die lengte van ‘n erediens?
- Wat leer die Woord ons oor die Sabbat?
- Mag die lengte van die erediens konformeer na mense se voorkeure?
- Is die besware oor die lengte van die erediens geldig?
- Waarom bly hierdie kwessie ‘n probleem vir lidmate?
- Indien mens ‘n RIGLYN van een uur op ‘n erediens plaas, is die huidige oorskryding in tyd wesenlik?
1. Wat leer die Woord ons oor die lengte van die erediens?
Ek dink nie die Skrif gee vir ons ‘n klinkklare riglyn oor die lengte van ‘n erediens nie en daarom glo ek het ons hier vryheid in Christus om die lengte van ‘n erediens, natuurlik binne redelike perke, self te bepaal. Daarom glo ek mens behoort nie die klem te plaas op die lengte van die erediens nie, maar meer op die elemente van die erediens wat bydra tot die lengte van ‘n erediens.
Wanneer ‘n prediker ‘n kort en bondige preek lewer kan mens maklik die beswaar opper dat die erediens te kort was. Maar as die boodskap duidelik oorgedra is en daar geen afbreuk gemaak is aan die volledigheid van die tema wat gepreek is nie, op grond waarvan teken ons dan beswaar aan? Indien die prediker egter sekere areas van sy preek afgeskeep het, terwyl mens redelik sou kon verwag, dat hy dit moes behandel, of indien die prediker op verskeie kere ‘n saak meer breedvoerig kon verduidelik, maar vanweë sy kort en bondige preek meer verwarring geskep het, dan is daar geldige besware, want die Woordbediening ly daaronder.
Dieselfde kan sekerlik ook gesê word van ‘n preek wat langdradig is en nooit by die punt uitkom nie, of as die prediker homself onderbreek en gedurig van die onderwerp afwyk en daardeur veroorsaak dat die gemeente die tema of kerngedagtes van die preek uit die oog verloor, dan is daar weereens geldige redes vir besware. So as u hierdie paragraaf weer mooi deurlees, sal u sien dat ek hiermee bedoel dat ons die fokus meer moet plaas op die prediking self as die lengte van die preek.
Maar wat van die ander elemente van die erediens. Moet ons minder sing? Moet die prediker die geloofsbelydenis vinniger lees, moet ons eerder net die Wet uit Eksodus 20 lees om die paar ekstra sinne in Deuternomium 5 te vermy? Moet die prediker korter teksgedeeltes lees? Al hierdie vrae is duidelik absurd en ek kan regtig nie sien hoe ons enige element van die erediens korter kan maak nie. Al wat dus oorbly is die prediking en hieroor is ek ook huiwerig om enige veranderings voor te stel, want al sou ek voorstel dat ons die prediking korter maak, op grond van wat?
As ek dink aan preke uit die Woord, dan dink ek aan Paulus se preke in Handelinge. Sy preek op pinksterdag (Hand 2:14-36), sy preek in die tempel (Hand 3:12-26), die preek in Antiochië (Hand 13:16-41), sy preek op die Areopagus (Hand 17:22-31). Sommige van die perikope is kort en bondig en ander is aansienlik langer as mens bv die preek van Hand 13 vergelyk met die preek in Hand 17.
Maar vir my is die duidelikste gedeelte Hand 20:7-12. Ons lees in vers 7 dat Paulus sy rede gerek het tot middernag, omdat hy die volgende dag sou trek. Sekere kommentare gee hier die rede dat die gemeente (en moontlik Paulus self) nie geweet het wanneer hulle weer vir Paulus gaan sien nie en daarom graag vir Paulus die geleentheid gegun het om soveel as moontlik van sy kennis oor God se Woord aan hulle oor te dra, terwyl hy nog met hulle was. Moontlik was dit ook Paulus se rede, hy wou die gemeente behoorlik toerus met die bietjie tyd wat hy nog tot sy beskikking gehad het. Ons lees dan in vers 9 dat ‘n sekere jongman, Eútichus, in ‘n diepe slaap geval het terwyl Paulus nog lank gepreek het. God se Woord maak hier duidelik melding dat sy preek lank was. Kommentare gee hier weer verskeie redes waarom die seun aan die slaap geraak het nl. die dampe van die lampolie, omdat dit al laat was, hulle het klaar aandete gehad, Paulus se preek was lank en as ‘n kind het hy meer slaap nodig gehad as die ouer mense en dus ook makliker aan die slaap geraak. Ons almal ken die res van die gebeure. ‘n Diepe slaap het oor die seun gekom, hy het uit die venster geval en hom doodgeval, drie verdiepings hoog. Paulus het hom weer, deur ‘n wonderwerk van God, lewendig gemaak.
Matthew Henry se kommentaar oor hierdie gebeure is baie interessant. Natuurlik kan mense hiervan verskil en dit is aannames wat hy maak asook ander mense se aannames wat hy aanhaal, maar ek is van oordeel dat dit toepaslike aannames is. Ons moet na hierdie gebeure kyk as ‘n teken van hoe laag ons dikwels God se Woord ag, dat ons selfs onder die erediens aan die slaap raak en ons nie dwing om op te let na God se Woord nie. Mens kan dit seker ook verder vat en selfs ons gedagtes wat so maklik dwaal, ook toepaslik maak op hierdie gebeure. God wys vir ons hierdeur hoe ernstig Hy is oor ons diens aan Hom.
Selfs na al hierdie gebeure gaan die gemeente weer op na die bovertrek, hulle het brood gebreek en daarna lyk dit asof hulle iets in die lyn van ‘n preekbespreking gehou het tot dagbreek toe. Hierdeur sien ons hoe verknog hierdie klein gemeentetjie was aan die verkondiging van God se Woord. Hulle kon net nie genoeg daarvan kry nie. Mens sal maklik kan dink dat die mense Paulus kwalik kon neem vir hierdie ongeluk, as hy tog nie so langdradig gepreek het nie, sou die arme kind nie uit die venster geval het nie. Maar ons lees niks hiervan nie, ons lees tog dat die mense ontsteld was oor die ongeluk (ons sien dit in vers 10), maar nêrens lees ons dat die gemeente vir Paulus kwalik geneem het nie.
Waarom het die kind so naby aan die venster gaan sit as hy so moeg was? Weereens kan ons hierdie gedeelte op ons van toepassing maak. John Gill reken in sy kommentaar dat die slaap die kind skielik oorval het en hy nie doelbewustelik so naby aan die venster gaan sit het nie. Of die kind nou onverantwoordelik was of nie, ons behoort weer selfondersoek te doen as ons beswaar het teen die lengte van die preek.
Waarom het ons ‘n probleem met die lengte van die preek. Omdat ons sukkel om wakker te bly (probeer dan vroeër gaan slaap op Saterdae), omdat ons so sukkel om te konsentreer (luister na preke by die huis en oefen jouself om beter te konsentreer), of omdat ons een of ander kwaal het? Sekerlik het hierdie jong seun ook ‘n kwaal gehad, al die elemente het teen hom getel. Dit was al laat na sy bedtyd, sy maag was moontlik vol, Paulus se preek was ontsaglik lank, maar was dit Paulus se skuld dat hy aan die slaap geraak het. Nee. Was dit die seun se skuld. Nee, mens is gemaak om moeg te word teen middernag. So wie se skuld was dit dan? Niemand s’n, so as dit niemand se skuld was nie, waarom sou hulle gaan staan en torring het aan die lengte van Paulus se preek. Inteendeel, na die gruwelike voorval, blyk dit asof hulle in ‘n baie opgeruimde gemoed was en geen verwyte gehad het nie, God het ‘n wonderwerk in hul midde gedoen. Mens sou reken dat dit tyd was om huis toe te gaan, voordat nog iemand uit die venster val, maar hulle was nog steeds honger vir die Woord van God.
Natuurlik was hulle eredienste nie altyd so lank soos hierdie een nie, maar ek glo tog dit wys vir ons daar is geen vaste reël oor die lengte van ‘n erediens nie en daarom moet ons ook nie ‘n prediker onredelik inkort en beperk en op die einde skade doen aan die bediening van die Woord nie. Ons moet tog die tyd uitkoop, ons moet die geleenthede wat God ons bied, ten volle benut. Dis tog genade dat daar geen beperkings is op ons eredienste nie, waarom wil ons dan self beperkings daarop gaan plaas?
2. Wat leer die Woord ons oor die Sabbat?
Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy geen werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. (Ex 20:8-11)
Hoe loop ‘n werksdag normaalweg deur die week? Dis ‘n malle gejaag, sperdatums en spertye om te haal, druk van alle kante, beperkings op die hoeveelheid tyd wat ons aan ‘n spesifieke taak kan spandeer want alles moes gister al klaar gewees het. Ons word ingekort en ingeperk want daar is net nie genoeg ure in ‘n dag om alles klaar te kry nie. Ongelukkig loop hierdie mentaliteit oor op ons sabbatdag ook. Ons skakel nie af nie, ons is steeds in daardie gekompartementele “mode” van ons. Ons Sondag is klaar beplan, ons wekker lui 6 uur die oggend, of as ons so bietjie later wil slaap, 7 uur. Ons staan op, ons stort, ons eet dalk iets, borsel tande, trek netjies aan vat die karsleutels en JAAG na die kerk om betyds te wees.
As ons daar is, hou ons die horlosie die heeltyd dop, want oor ‘n uur moet ons weer ry, want ons eet vanmiddag by die familie, of ons gaan Spur toe, of ons moet gou ry om roomys te koop sodat ons iets het vir nagereg, of ons wil gaan fliek of ons gaan Johannesburg toe om ‘n konsert te kyk. Dan na die pret van die middag, pak ons weer ons goedjies op, miskien vang ons ‘n middagslapie en dan miskien trek ons weer ons kerkklere aan om betyds te wees vir die aand-erediens.
Maar dit moet ook nie te lank vat nie, want ons moet voor 8 weer by die huis wees sodat ons toebroodjies kan maak vir die kinders vir die skool môre, die kinders moet gebad en in die bed gesit word (hulle is soos Eútichus, hulle sukkel om so laat wakker te bly), daar is nog ‘n paar goed wat gedoen moet word voor Maandag se vergadering, so ek sal dit gou Sondag-aand doen, of ek skryf Maandag-oggend ‘n baie belangrike eksamen en daar is nog hope leerwerk om af te handel, want ek wou nie my vriende Saterdag-aand in die steek gelaat het nie, dis die Rugby eindstryd gewees en ek kon dit nie mis nie.
Daar is natuurlik niks fout met van hierdie dinge nie (daar is natuurlik ‘n probleem met handel dryf op ‘n Sondag, maar dit is weer ‘n onderwerp op sy eie). Dis nie sonde om saam met jou vriende te kuier en rugby te kyk nie. Daar is niks fout om hard te leer vir ‘n eksamen of om vir jou kinders te sorg nie. Daar is niks verkeerd daarmee om jou kinders vroeg in die bed te sit nie, dis nie sonde om werk huistoe te bring nie, daar is niks fout daarmee om saam met familie te kuier nie.
Maar as hierdie dinge ons begin oorheers sodat ons nie die sabbat kan deurbring soos ‘n rusdag nie, dan is ons besig om afgode te maak van hierdie goed. As ons lewensstyl gedurig inmeng met ons sabbatsrus, is ons besig om ons lewensstyl bo God te plaas. Ons kan nie afskakel op ‘n Sondag nie, want ons is nog steeds in daardie 6-dae-work-mode. Dit loop natuurlik oor in ons erediens. Omdat ons lewens in kompartemente ingedeel is, wil ons, ons Sondag ook kompartementeer, ons het net ‘n uur om af te staan vir die erediens, enigiets langer as dit maak inbreuk op die res van my dag. Dit is ‘n sondige mentaliteit waarvan ons, ons moet bekeer. Sondag is nie karwas-dag nie, Sondag is nie grassny- of tuinmaakdag nie, Sondag is die dag van die HERE! Hy het vir ons ‘n dag van rus gegee (en nie ‘n dag wat ons kan omslaap nie), ‘n dag waarop ons moet rus van ons fisiese werk maar ook van ons sondes. ‘n Dag waar ons die week wat verby is in oënskou neem, nadink oor wat God vir ons gedoen het gedurende die week, hoe ons God teleurgestel het gedurende die week en dan nadink oor wat ons gaan doen om dit beter te doen in die week wat kom.
Maar ons kan dit nie op ons eie doen nie, ons het pitkos nodig, ons het nodig om gevoed te word met die Woord van God, sodat ons krag het vir die nuwe week wat voorlê, want ons kan ons stryd teen ons eie sonde en die sondige wêreld daarbuite nie op ons eie voer nie, ons het God se lig en leiding nodig om vir ons die weg te wys.
God gee vir ons een dag om te rus, waarop ons nie nodig het om te werk nie, maar ons moet ons verlustig in Sy Woord, afsien van die dinge van die wêreld en ons weer toespits, ja ons fokus weer plaas op Sy Woord, want deur die week verloor ons tog so maklik fokus, ontspoor ons as ons verstrengel raak in die gejaagdheid van die wêreld. In Mal 3:10 hoor ons dat ons God daarin moet toets deur ons volle tiende vir Hom te bring en kyk of hy nie die vensters van die hemel sal open met oorvloedige seën nie.
Ons kan dit verder vat, toets God daarin, maak jou besigheid se deure toe op ‘n Sondag en kyk of die HERE nie die winsgewendheid van jou besigheid oorvloedig seën gedurende die 6 dae wat jy behoort te werk nie. Toets God daarin en leer hard deur die week en al het jy nie by alles uitgekom soos jy wou nie, toets God daarin en kyk of hy jou nie sal laat slaag in die eksamen wat jy op Maandag-oggend moet aflê nie. Jy het mos hard geleer deur die week, daarom kan jy mos op God staatmaak vir Sy hulp. Gebruik die rusdag wat die HERE aan jou gee om te rus van jou bose werke en laat die res in Sy hande as jy hard gewerk het in die 6 dae wat die HERE ook aan jou gegee het, jy het dan mos Sy opdrag nagekom, jy het vir ses dae gearbei en al die werk gedoen wat jy moet, so rus dan op die sewende dag, want dit is ‘n dag deur God ingestel, dis ‘n dag wat geheilig is.
Is ons besware teen die lengte van die erediens nie diep gegrond in ons ontheiliging van Sy sabbat nie? Omdat ons nie wil rus nie, wil ons ook nie langer as ‘n uur in die kerk sit nie. Wil ons nie langer as 20 minute wag vir die kind om klaar te maak met katkisasie nie, want daar is dinge om te doen en plekke waar ons moet wees. Of dit nou ‘n lang les is wat langer as 20 minute gaan vat om te behandel, dit maak nie saak vir my nie, die hulp-kategeet moet maar ‘n manier kry om dit alles in 20 minute in te pas.
Dis reg, ons het nie net ‘n probleem met die lengte van ons erediens nie, ons het ook ‘n probleem met die lengte van die katkisasie. Dit behoort juis vir ons te wys waar die kern van die probleem lê. Die probleem lê nie primêr in die lengte van ons erediens nie, maar in die sonde waarvan ons ons moet bekeer. Die sonde dat ons nie wil rus op die dag wat God vir ons gee om te rus nie. Ons moet een ding besef, alhoewel die sabbat ‘n genadegawe van God is, bly dit primêr ‘n gebod. Dis nie ‘n keuse nie, dit is ‘n opdrag, want God is alwetend, Hy weet ons kan nie 24/7 aanhou werk nie, ons het rus nodig, maar soos Adam en Eva in die paradys dink ons gedurig dat ons beter weet as God. Dan vind ons met ‘n skok uit, ons is nie gemaak vir 24/7 se werk nie. Ons het maagsere, ons het bloeddrukprobleme, ons lei aan stresverwante siektes ons probeer hierdie probleme bedek met ons klere van vyeblare.
Tog is ons pogings om die druk te verlig onsuksesvol en vrugteloos. Wil ons nie tog maar Sy genade aangryp en die rokke van vel uit Sy hand neem en dra nie. God gee vir ons die oplossing, gebruik tog die rusdag wat Hy vir ons gegee het!
3. Mag die lengte van die erediens konformeer na mense se voorkeure? Nee nooit nie! Want dan staan die mens in die middelpunt en nie God nie. Net omdat mense nie lank genoeg kan sit nie, of lank genoeg kan konsentreer nie, of lank genoeg kan wakker bly nie, of ‘n kalkoen in die oond het nie, beteken dit nie dat God moet inval daarby en Sy erediens korter maak nie. As iemand nie meer kan sit nie, is dit sy/haar volste reg om op te staan en ‘n draai te loop. Ek verstaan daar is mense wat om mediese redes net vir ‘n sekere tyd lank kan sit, ek het ten volle begrip vir sulke mense, ons ken almal mense wat allerhande kwale en probleme het, maar as ons by iemand se huis kuier en die gesit raak te lank, dan neem niemand aanstoot as jy ‘n draai loop of bietjie opstaan om bene te rek nie.
Natuurlik is dit nie iets wat nou moet kop uitsteek dat almal kan opstaan en bene rek na ‘n half-uur se prediking nie, ons is mos almal mense met gesonde verstand en gun mense hierdie vryheid wat werklik nie vir ‘n uur aaneen kan sit nie. Maar in dieselfde asem gesê is daar mense wat werklikwaar baie swaarkry om lank te sit, tog bly hulle sit vir die volle erediens. Hulle mag dalk ‘n opmerking maak dat dit vir hulle swaar was om so lank te sit, maar hulle dring nie daarop aan dat die erediens verkort moet word nie, want hulle plaas hul voorkeure op die agtergrond en stel hul diens aan God eerste. Beteken dit, dat as ek ouer word en allerhande kwale ontwikkel, ek nou kan begin aandring daarop dat die erediens korter gemaak moet word? Is dit ‘n voorreg wat jy ontvang as ‘n bejaarde lidmaat? Is ek dalk bevooroordeeld teenoor ons bejaardes omdat ek nog jonk en gesond is?
Nee glad nie, inteendeel, soos ek alreeds gesê het, ek het totale begrip vir ons ouer lidmate wat om mediese redes nie meer so lank kan sit nie ek staan ook met respek en eerbied teenoor my bejaarde broeders en susters, want God eis dit van my in 1 Tim 5:1+2 om dieselfde respek aan my bejaarde broers en susters te toon as wat ek teenoor my eie ouers toon. Maar hierdie eise wat gestel word van ‘n korter erediens kom nie net van ons bejaarde lidmate nie, ons jonger lidmate wat bv. getroud is en kinders het, kla weer dat dit moeilik is om die kinders stil te hou vir die volle duur van die erediens. Jonk en oud het redes vir ‘n korter erediens, maar dit bring ons by die 4de punt, is hierdie redes almal geldig?
4. Is die besware oor die lengte van die erediens geldig?
Daar is verseker meriete in die mediese redes wat mense aanvoer waarom hulle nie so lank kan sit nie en ons moet ook luister na hierdie redes en nie net sommer hard staan teenoor hierdie lidmate en hulle afmaak as mense wat die heeltyd net kla nie. Ons moet ag slaan op die las wat sommige van ons lidmate moet dra en ook aan hulle dink in ons gebede, maar is hierdie redes genoeg dat God se Woordverkondiging ingekort moet word? Is daar ‘n oplossing vir hierdie lidmate se probleme sonder om die lengte van die erediens te verkort. Wel, met al die redes wat ek al gehoor het waarom mense nie vir die volle duur van die erediens kan sit nie, het ek nog nie een rede gehoor waarvoor daar nie ‘n maklike oplossing is nie.
As mense te skaam is om op te staan en bene te rek, dan moet ons ons skaamheid laat staan want ons is mos broers en susters van mekaar. Ons is moes nie skaam om in ons eie huise op te staan en ‘n draai te loop nie, ons familie byt mos nie ons koppe af as ons nie vir ‘n volle uur in geselskap kan sit nie, so waarom sal ons dan veroordelend staan teenoor lidmate wat regtig nodig het om op op te staan en ‘n draai te loop. Nie eens die hek wat gesluit is, behoort ‘n verskoning te wees nie, as jy moet ry, dan sal daar iemand wees wat vir jou kan oopsluit, niemand word gedwing om vir die volle tydsduur van die erediens daar te bly nie. So as ons na alles kyk wat alreeds bespreek is, kom ons nou by die 5de punt, waarom bly die lengte van die erediens ‘n probleem vir van ons lidmate?
5. Waarom bly hierdie kwessie ‘n probleem vir lidmate?
Ek dink ek het die antwoord op hierdie vraag alreeds vooruit geloop in die laaste paragraaf van punt 2. Dit bly ‘n probleem want ons wil ons nie bekeer van ons sonde van sabbatsontheiliging nie. Ek glo die meeste van ons besware kan opgelos word as ons die sabbat begin deurbring soos wat God dit bedoel het. As ons afskakel van die week se werk en probleme en ons aandag op God vestig, ja die oog gevestig hou op Christus (Heb 12:1-2) dan sal ons dit makliker vind om meer tyd af te staan vir God en Sy Woord op SY heilige sabbatdag!
6. Indien mens ‘n RIGLYN van een uur op ‘n erediens plaas, is die huidige oorskryding in tyd wesenlik?
Ek wil die woord RIGLYN beklemtoon. Nêrens vind ons ‘n vaste reël in God se Woord van hoe lank ‘n erediens moet wees nie. Tog moet ons ook nie hard en koud staan teenoor die kwale en probleme van ons lidmate nie, MAAR…. as die erediens 10:00 moet klaarmaak en ons maak eers teen 10:20 klaar, “oorskrei” ons die tyd met ‘n derde van ‘n 1-uur erediens. D.w.s. ons erediens is dan 30% langer as ‘n ‘normale’ 1-uur erediens. In daardie lig gesien is dit nogal ‘n wesenlike aantal minute, maar hoeveel is 20 minute teenoor die 24 uur se rus wat God ons gee op ‘n sabbatdag? Onthou dit is Sy tyd wat Hy vir ons gee, waartydens ons kan rus. Daardie 20 minute behoort nie aan ons nie, dit behoort aan God. So dit is slegs 1.38% van jou dag wat jy ekstra afstaan aan die erediens.
Is dit regtig so baie gevra, nadat God ‘n hele dag vir jou gegee het om op te rus? Jy het in elk geval 24 uur gratis uit Sy hand ontvang, wat verloor jy dan? Gaan jy 20 minute later moet eet? Gaan jy 20 minute minder hê om te slaap op ‘n Sondagmiddag? As ons somtyds 10:05 klaar maak met ‘n erediens en ander kere 10:15 en ander kere 10:25, waarom is dit dan so ‘n groot probleem om tyd af te staan vir die erediens tot 10:30? Ek kan regtig nie sê tot hoe laat ons gewoonlik erediens hou nie, want ek kyk selde op my horlosie as die erediens klaar is, want dit maak net doodeenvoudig nie vir my saak nie en hierin is ek doodeerlik. Daarna is dit katkisasie vir ‘n half-uur of so en dan kan mense huiswaarts keer vir middagete. Intussen kan mens mos kuier na die erediens, maar ons kan gewoonlik nie vinnig genoeg by ons karre kom om huis toe te gaan nie.
Ek is self skuldig aan baie van die dinge wat ek hier genoem het. Ek is ook geneig om te vinnig in my kar te spring en huiswaarts te keer na die erediens. My gedagtes dwaal ook onder die preek, ek raak ook soms aan die slaap onder die erediens, dit voel ook soms asof die sit te lank raak. Die rede waarom ek vinnig in my kar spring is omdat daar dikwels iets is wat my jaag na kerk, die rede waarom my gedagtes dwaal onder die erediens is omdat ek sukkel om af te skakel van al die werk wat deur die week gedoen is of wat gedoen moet word in die komende week, of dis iets onder die preek wat ‘n sekere gedagte aan die gang sit juis omdat die week se werk, of selfs my ontspanning nog in my kop rondmaal.
Ek raak aan die slaap onder die erediens as ek te min geslaap het deur die week en nie my patroon probeer breek het oor die naweek nie, of net ten minste probeer het om Saterdag-aand vroeg in die bed te kom. Ek dink ons almal kan redes opnoem waarom die erediens vir ons al op ‘n tyd te lank geword het, maar nie een van my redes dra naastenby genoeg gewig om die erediens korter te maak nie, die oplossing vir my probleem is, ek moet my van my sondes bekeer!
Ek wil glad nie veroordelend staan teenoor enigiemand nie en dit is ook nie die bedoeling van my skrywe nie, ek is van harte oortuig dat ons nie moet beperkings instel op die tydsduur van ons eredienste nie. Ek glo die predikant hou by ‘n redelike riglyn as dit kom by die lengte van sy preke, dit kom ook duidelik na vore tydens die prediking as hy noem hoe hy die preek korter gemaak het, of as hy agtergekom het die preek raak te lank en dus ‘n gedeelte van die teksgedeelte laat oorstaan het na ‘n volgende preek. Daar word duidelik moeite gedoen om die preke nie te lank te maak nie en as ons verdere beperkings op die prediking plaas is ek bevrees gaan ons skade doen aan die Woordverkondiging en dit moet ons ten alle koste vermy.
Ek wil graag my e-pos afsluit met die woorde van 2 Tim 4:2-4
Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
Leave a Reply