
Lees Gen 4:1-8; Neh. 8:1-12; Fil. 4:1-9
Teks Neh. 8:10(b) Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE … dit is julle beskutting.
Tema: Blydskap as beskutting
Prediker: Ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Psalms: 100:1,2, 100:3,4; 66:7,8; 31:5,15,16; 31:17,18,19
Geliefdes van die HERE,
Die Gees van God het ons vandag weer hier byeen gebring
om sy boodskap te hoor,
dit wat bekend staan as “die blye boodskap”.
Ja, dis die opvallende van die Nuwe Testamentiese geskiedenis,
die opvallende in die boek Handelinge,
toe daardie Evangelie, daardie blye boodskap vir die eerste keer aan die mense verkondig is.
Toe daardie Evangelie in Samaria
onder die ellendige Samaritane verkondig was,
was daar groot blydskap in daardie stad
(so lees ons).
‘n Blydskap en ‘n vreugde wat hier uit die hart uit opborrel,
by die mond uit.
‘n Blydskap en ‘n vreugde
wat hier uit die hart uit skyn
wat deur my oë die wêreld om my verlig.
‘n Blydskap en ‘n vreugde
wat soos heerlike salfolie
my klere deurdrenk
my liggaam deurdrenk
en ‘n aangename geur versprei
waar ek my ook bevind.
Meer dikwels lyk dit nie so nie.
Nê, Broeders en Susters?
Meer dikwels sing ons hierdie wonderlike lofpsalms,
maar hier binne lê ‘n swaar klip in ons gemoed.
Miskien is ons harte swaar belaai met meer as een klip.
Wees dan nie bedroef nie,
sê die HERE vanaf Esra se preekstoel.
Wees nie bedroef nie,
sê die HERE vanaf hierdie preekstoel,
want die blydskap in die HERE …
dit is julle beskutting.
Waarom was die volk bedroef in Esra en Nehemia se tyd?
Daar kon baie redes aangegee word.
Dit was maar ‘n klein klompie van die volk wat teruggekeer het uit die ballingskap.
Daar was maar min
wat bereid was
om skouer aan die wiel te sit
om ‘n vervalle Jerusalem weer op te bou,
om moeisaam die rommel klip vir klip op te ruim
en weer die tempel van voor af te bou.
Groot moeite … baie groot moeite
en die hande was maar min.
Genoeg om enigiemand moedeloos te maak,
genoeg om die klompie getroues tot trane te dryf.
Voel u ook partykeer so, geliefde gemeente
diegene van u wat vandag die roeping voel
om te help bou aan Jerusalem se mure …
Voel u ook ietwat moedeloos?
Gedaan?
So baie werk … so min gewillige hande …
En dan was daar nog die teenstand van die Samaritane.
Hulle was openlik daarop ingestel
om die werk te saboteur, te ondermyn, te ondergrawe
sodat die min wat daar is
om te werk
sodat hulle uiteindelik moes werk met die troffel in die een hand
en die spies in die ander …
Hoe is dit moontlik om onder
om onder sulke omstandighede enigiets te vermag?
Ek dink u ken daardie gevoel in hierdie land ook, Broeders en Susters,
dat u moet werk …
daar is werk
om te doen …
maar om elke hoek en draai,
tuis by die huis …
op die pad, in die stad …
moet u paraat wees.
Enige tyd, enige dag kan die goddeloses toeslaan.
Die kommer is altyd daar.
Werk en waak,
die kommer is altyd daar.
Uiteindelik is die tempel fondamente weer gelê.
Ons lees dit in Esra 3.
Uiteindelik was daar rede
om te juig …
om die HERE te loof.
Maar baie van die oues,
baie van die oues wat die eerste tempel, Salomo se tempel gesien het,
hulle het hardop gehuil
toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë lê (Esra 3:12).
So klein, so pateties klein en afgeskaal teenoor die glorie
wat daar eens was.
Nog ‘n rede om te huil
(en ek is seker baie van u ken ook daardie rede)
Nog ‘n rede om te huil was oor die verbondsvolk se teleurstelling in hulle eie mense.
Volksgenote het mekaar uitgebuit,
het toegelaat dat broeders en susters in armoede verval,
het toegelaat
dat broeders en susters se kinders tot slawerny verneder word (Neh. 5:5).
Jou eie mense se optrede kan jou tot trane dryf.
Daar was priesters
wat kamers in die HERE se tempel vir die Samaritane ingerig het,
wat ‘n kamer vir Tobia, die Ammonitiese kneg ingerig het.
Geen wonder
dat baie uiteindelik maar met die Samaritane begin vermeng het nie,
dat baie met die goddeloses ondertrou het nie.
Dis ‘n groot hartseer,
dis ‘n baie groot hartseer, Geliefdes
wanneer die kinders van die verbond,
dalk jou eie kinders, dalk jou kleinkinders,
wanneer hulle onder die Samaritane verval,
wanneer hulle saam met die goddeloses in die juk sak.
O die pyngedagte,
het die digter Totius geskryf,
my kind is dood.
O, die pyngedagte
my kind is geestelik dood,
‘n drenkeling in die diep en donker en breë stroom van hierdie wêreld.
Ja, Geliefdes, daar is baie redes tot droefheid.
In Nehemia se tyd was daar
en in ons tyd is daar baie … baie rede tot droefheid.
En toe die sewende maand aankom,
het die hele volk soos een man bymekaargekom
en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê
om die boek van die wet van Moses,
te bring.
En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring,
manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister,
en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig.
En hy het op ‘n houtverhoog gestaan
wat die volk vir die geleentheid gemaak het.
Dominee Esra op die preekstoel,
leer ons die HERE se wet,
sy heilige, sy absoluut heilige wet …
en laat dit ons ontbloot in ons naaktheid.
Waarom het die volk die dag gehuil, Broeders en Susters?
Van al die redes wat ons reeds van weet
wat was die rede vir hulle droefheid … op daardie dag?
Dis die HERE se wet.
Daar’s geen groter oorsaak van droefheid in hierdie lewe as die HERE se wet nie.
En as u my nie wil glo nie, Geliefdes,
gaan lees die apostel Paulus se brief aan die Romeine.
Die HERE se wet kan my baie vertel
oor die diep donker stroom van die wêreld
en sekerlik ook van die goddelose Samaritane in hierdie land,
maar eerstens vertel dit my alles … alles oor myself.
Die Wet vertel my alles van my patetiese afgodjies,
al my verslawings … mense en dinge wat ek naas die HERE
of selfs bo die HERE verkies.
Dit vertel my alles van nou die dag in die fliek
toe die HERE se naam ydellik gebruik was
en ek maar net bly sit het.
Vertel dit my alles van my hunkering na die vreemde vlees
en hoe my oog hierdie of daardie vrou of man gestreel het.
Dit vertel my alles van die haat teenoor ander mense
haat wat ek dag vir dag in my gemoed ronddra.
Die eintlike klip in my gemoed is my sonde.
Sondag drie van die Heidelbergse Kategismus vra
Waaruit ken jy jou ellende?
en dan staan daar die eenvoudige verskriklike antwoord
Ek ken my ellende uit die wet van God.
En nou roep ek saam met Dawid uit:
Ontferm, o God, ontferm U tog oor my!
Ontsluit die bron van u barmhartighede;
wis uit die smet wat kleef aan al my lede,
en maak my siel van sondeskuld weer vry!
Esra hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees
en dit verklaar,
sodat die volk verstaan het
sodat hulle dit wat voorgelees was, verstaan het.
en die hele volk het geween
hulle het geween toe hulle die woorde van die wet hoor.
Mea Culpa … o mea culpa …
my skuld … my skuld …
Maar nou …
ja, dis twee belangrike woorde,
wat saam met elke preek moet gaan …
Maar nou, sê die HERE …
Wees dan nie bedroef nie,
want die blydskap in die HERE …
dit is julle beskutting.
Hoekom mag ons dan nie bedroef wees nie?
As ons soveel sonde het,
dan moet ons bedroef wees,
dan behoort ons die heel dag in sak en as sit.
Dominee Esra se woord is ook ‘n woord te midde van die volk se nood
en as hy vir ons lees uit Moses se boeke:.
Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium,
dan hoor ons nie net die wet nie,
maar dan hoor ons ook van die HERE se neerbuigende neerdalende genade
en hoe Hy sy volk in hulle ellende raakgesien het
en hulle innig jammer gekry het.
Ons hoor dan ook van die HERE
wat sy volk uit Egipteland gelei,
uit die slawehuis uitgelei het.
Ons hoor ook van die bloed van die Paaslam,
die bloed wat die verskriklike toorn van die almagtige God afgeweer het.
En ons, Geliefdes, ons wat die volle Bybel besit,
ons wat al die boeke van God se Woord besit …
ons hoor die Evangelie.
En ons sien God se Lam bloeiend aan die kruis,
daar by Jerusalem,
die Jerusalem wat Nehemia en sy mense weer opgebou het ….
God se Lam bloeiend aan die kruis …
ter wille van ons,
ter wille van my
om met sy bloed my skuld te bedek …
Dominee Esra op die preekstoel,
leer ons die HERE se Wet,
sy heilige, sy absoluut heilige Wet.
Ontbloot ons in ons naaktheid
sodat die HERE ons weer kan beklee met sy hemelse heerlikheid.
Nou kan ek saam met die profeet Jeremia uitroep:
Toe u woorde gevind is,
het ek hulle opgeëet,
en u woord was vir my vreugde
en vrolikheid vir my hart;
want u Naam is oor my uitgeroep,
HERE, God van die leërskare! (Jer. 15:16).
Wees dan nie bedroef nie,
maar wees bly.
Wees bly op hierdie dag.
Dis die dag deur God verkore
die feesdag aan Hom toegewy.
Kom ons sing ons Psalms uit vreug gebore.
Laat ons ons in die God van heil verbly (Ps. 118:12).
Hy het ons op hierdie Sondagsabbat geseën,
soos Hy destyds daardie klompie moedeloses daar in Esra se tyd geseën het.
Trouens, ons mag nie bedroef wees nie …
want ons blydskap in die HERE …
dit is nou ons beskutting.
Die Hebreeuse woord beskutting kan ook vertaal word met vesting
of ‘n woord soos bolwerk.
Vesting teen wat?
Beskutting teen wie?
Teen die moedeloosheid, Geliefdes,
teen die vrees wat die Samaritane ons wil inboesem,
teen die teleurstelling van ons eie mense,
wat ons so lelik in die steek laat,
teen die depressie wat lê en loer,
wie se begeerte na ons is
hy wat oor ons wil heers.
Onthou u nog, dis hoe die HERE destyds vir Kain gewaarsku het?
Kain, die eerste mens wat sy hoof laat hang het,
Kain, die eerste mens wat onvergenoegd was.
Kain was die eerste mens
wat ooglopend geen blydskap in die HERE gevind het nie.
Sonder die blydskap in die HERE se wonderlike genade,
sonder daardie blydskap stel ons onsself wawyd oop vir die vyand.
Trouens, dit staan in soveel woorde in die vyfde boek van die HERE se wet, Deu 28:
Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart
weens die oorvloed van alles gedien het nie,
sal jy jou vyand dien … in honger en in dors en in naaktheid
en in gebrek aan alles (De. 28:47ev.).
Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart
weens die oorvloed van alles gedien het nie,
sal jy jou vyand dien.
Die blydskap in die HERE … dit is julle beskutting.
Verbly julle in die Here,
so skryf die apostel Paulus aan die Filippense,
verbly julle altyd in die Here!
Dis ‘n ou man wat hierdie woorde geskryf het, Geliefdes,
‘n verhoorafwagtende gevangene van keiser Nero.
Die swaard van die Romeinse soldaat hang oor sy nek,
een flits … en dit was alles verby …
en dis ook inderdaad hoe dit gebeur het.
Maar eers moes hy skryf,
eers moes sy laaste opdrag aan die Filippense rig:
Verbly julle altyd in die Here!
ek herhaal: verbly julle! (Fil. 4:4 ev)
Ons is verlostes, Geliefdes.
Ons is die bevrydes.
Ons is saam met Esra en Nehemia bevry uit ballingskap …
en ons waardig bevind
om Jerusalem se mure te herbou
om saam met Paulus in die Koning se diens te wees.
Verbly julle in die Here.
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word
(so gaan die apostel se brief verder).
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word
met ‘n blydskap en ‘n vreugde …
wat hier uit die hart uit skyn
wat deur julle oë die wêreld om hulle verlig
te midde van ‘n krom en verdraaide geslag
onder wie julle skyn …
skyn soos ligte in die wêreld.
Verbly julle altyd in die Here!
En die vrede van God …
daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan,
sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus …
Die blydskap in die HERE …
dit is julle beskutting!
Amen.
Dankie vir hierdie stukkie bemoediging!