Ons Nood
Lees: Openb. 13:1-10
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo…” (Joh. 14:1)
Waarom sou die dissipels ontsteld wees? Dink aan wat verby is. ‘n Verraaier in hulle kring… Jesus self sê dat Hy weggaan… Simon Petrus sou Hom driemaal verloën voordat die haan kraai…
‘n Mens sien die skrik en ontsteltenis op hulle gesigte. Hulle eie swakheid is aan die kaak gestel. Hulle rustige samesyn met hul Meester is versteur… Hy gaan weg… Hulle sal na Hom soek en Hom nie kry nie. En hulle het alles verlaat en Hom gevolg… Daar is vir hulle geen teruggang moontlik nie… Wat wag? Wat is hulle vooruitsigte… Terug na die owerpriesters en Fariseërs…? Terug na die sinagoge en Joodse wette en voorskrifte? Dit is onmoontlik … En sonder hulle Meester? Nooit!
En as Petrus Hom sou verloën, wat dan van die ander? Hulle sien op na Petrus. Hy is onder hulle die leidende persoon en… die sterk man.
Ja, alle vastigheid is onder hulle voete uitgeslaan. Hulle hart – hulle diepste innerlike – is ontsteld. Dit is uit sy voeë geruk… Voor hulle is nie meer die ligtende en lokkende uitsig van die Messiasryk nie… Hulle sit nie meer op trone saam met hulle Meester om oor die stamme van Israel te regeer nie… Hulle ideale lê in skerwe… Hulle lugkastele het in die niet verdwyn…
En ons? Ons is in die wêreld. Ons sien hoe die kerk van die Here afgetakel word. Ons het al gewoon geraak aan die idee dat daar nie meer groei nie, maar verval is. Uit ons eie kring, in ons eie familie – soms ons eie kinders en kleinkinders – het die juk van die Here afgewerp… Ja, ons sien hoe die Satan mensekinders in die modder werp… Ons kan nie meer lag en spottend verwys na hippies en dwelmslawe en terroriste en kommuniste nie… Die dreiging lê aan ons eie deure . ..
En wie is onsself altemit? Ons eie lafheid en ontrou het grootliks daartoe bygedra dat doodsheid en verval allerweë insluip. Ons eie kringetjie is besig om te krimp…
Die kerk staan in die branding… Rook en puin lê op die pad van die rewolusie van die twintigste eeu… Die vyand lag… Die kommunis spog!
Het ons op al hierdie ontstellende omstandighede ‘n antwoord?
Die enigste antwoord is: “Glo!” Dit is die een ding wat ons vyande nooit begryp nie… Ook ons staan voor die wonder dat ons nog glo, al kan ons nie sien nie. Ons glo nog, al loop ons teen ‘n muur vas. Waarom? Omdat God ons die geloof gee. Hy hou ons vas.
Ons Anker
Lees: Hebr. 11:1-13
“Glo!” (Joh. 14:1)
“Laat julle harte nie ontsteld word nie; glo…”
Die antwoord op die ontsteltenis van die dissipels is: “Glo…” Ons kan selfs sê dat hulle ontsteld is, omdat hulle nie reg glo nie.
Ons is gelowiges. Ons glo. Dit is vir ons die een antwoord op alles wat ons harte kan ontstel. Waarom is die geloof dan so besonders? Hou die geloof nie ‘n element van onsekerheid in nie? Wanneer ‘n mens bv. sê: “Ek glo dat dit gaan reën”, dan is dit duidelik dat jy nie seker daarvan is nie. Mense maak selfs die stelling: “In die wetenskap weet ‘n mens, maar in die kerk glo ‘n mens.” Hulle wil daarmee te kenne gee dat die wetenskap sekerder van sy saak is as die kerk.
Hoe kan die Here dan vir ons as antwoord op ons diepste nood alleen maar sê: “Glo”? Dit moet ons van harte erken dat ‘n mens die dinge wat jy glo i.v.m. God en Christus nooit met jou sintuie kan bewys nie. Dit wil egter hoegenaamd nie sê dat die dinge wat jy met jou sintuie kan waarneem en proefondervindelik kan bewys, alleen seker en vas is nie.
“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr. 11:1). Só omskryf die Bybel die woordjie: “glo”. Dit is ‘n vaste vertroue en ‘n bewys van die onsienlike dinge. Dit is selfs sekerder as enigiets op aarde. Die mens is beperk van vermoë en insig. Sy eie sintuie kan hom bedrieg. Vanweë die sonde is hy selfs verduister in sy verstand. Ondanks al sy tegniese prestasies, mis hy nog die wesenlike – naamlik die wysheid – om in vrede en geluk op aarde te woon. Met die wetenskap is dit selfs so dat elke nuwe ontdekking ons weer stel voor duisend vrae wat om beantwoording roep.
Waarom is die geloof so seker?
Luister hoe stel die apostel Paulus dit: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit is nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Ef. 2). Geloof is die gawe van God. Waar kan jy iets kry wat sekerder as dit is? Hy gee die geloof deur die werking van die Heilige Gees. Daarmee gryp Hy ons vas in sy almagtige hand. In sy diepste wese beteken “glo” dat God my vashou en nie dat ek aan Hom vashou nie.
Bron: ds. MJ Booyens, Elke dag in die Lig, dagstukkies uit die Evangelie volgens Johannes
Leave a Reply